Teks van
hierdie artikel met dank
verwerk uit passasies oor dagga en verdowingsmiddels in die
gesaghebbende boek DOKTER IN DIE HUIS deur dr. Jan van Elfen, volledig
hersien deur dr. Don du Toit. Uitgegee deur Tafelberg-Uitgewers, tweede
uitgawe, eerste druk 2001. ISBN 0 624 039 633.

IEMAND het dit snaaks gevind dat
Willempie “snaaks” begin raak het nie. Die eens voorbeeldigste seun
in die woonbuurt het skielik verslons in die strate begin rondhang—sy
rooi oë en verdwaasde uitdrukking die sprekende tekens dat alles nie
meer pluis met hom was nie.
Willempie was
dikwels in ’n dwaal. Ongelukkig was sy ouers so besig met hul eie
dinge—om hul stand in die gemeenskap blink te poets en met hul rykdom
te spog—dat hulle nie hul seun se geleidelike verval tot in die
rioolputte van die samelewing raakgesien het nie. Toe hulle wakker
skrik, was dit te laat. Nie eens ’n inrigting vir dwelmverslaafdes kon
Willempie blywend van sy verslawing genees nie en hy is mettertyd
oorlede.
Die sogenaamde
“harde dwelms” het tot die jong kind se ondergang gelei. En alles
het so “onskuldig” begin met ’n bietjie dagga wat hy op ’n keer
saam met sy maats beproef het...
Willempie se verhaal
is natuurlik nie uniek nie. Trouens, daar is baie Willempies in die lewe
en dalk ken jy ook ’n dwelmverslaafde. Die tragedie by die tragedie is
dat dwelmmisbruik steeds nie altyd genoeg deur die samelewing verguis
word nie en dat te veel mense onbetrokke anderpad kyk as dit by die
bestryding van die probleem kom.
Onkunde bly ook ’n
kwessie. Baie mense weet nie werklik hoe dwelms ander siele vertroebel
nie en baiemaal verkies hulle om nie te weet nie. Tog is ’n ingeligte
gemeenskap een van die beste wapens teen hierdie moderne euwel.
Die doel met hierdie
artikel is dan ook om inligting te versprei sodat steeds meer mense sal
weet hoe die dwelmvyand lyk. Daar word eers na dagga gekyk en dan na
dwelmmiddels in die breë.
Lees ook die Mieliestronk-artikel oor die
dwelm tik.
Dagga
CANNABIS
SATIVA,
algemeen bekend as dagga, is ’n plant wat wild groei, maar natuurlik
ook dikwels aangeplant word. Dit is hierdie plant se blompunte of
uitloopsels wat wêreldwyd as dwelmmiddel gerook word—in ’n pyp of
as ’n gerolde sigaret. Die aktiewe bestanddeel is
tetrahidro-cannabinole.
Dagga
het ook baie ander name: marijuana, boom, ghagia, gras, green
gunston, hash, rhoonig, stop, pot en zoni. In Suid-Afrika
praat gebruikers van hul daggasigarette as joints, reefers, slow
boats sticks en zolle.
Foto:
PD
As
een van die oudste bekende dwelmmiddels is dagga voorheen in operasies
gebruik om lomerigheid en euforie te veroorsaak. Op die oomblik word dit
min in die hoofstroom van die Westerse mediese wetenskap gebruik, maar
in die alternatiewe geneeskunde en in tradisionele medisyne kan dit wel
nog aangewend word. In party kringe word dit selfs aanbeveel om die
simptome van terminale kanker te verlig.
Illustrasie
van daggablaar: U.S. Drug Enforcement Administration
Westerse
wetenskaplikes stem nie saam oor presies hoe geestesversteurend en
verslawend dagga werklik is nie. In Suid-Afrika is dit nietemin onwettig
om dagga te kweek of te rook. Net om dit te besit kan ’n mens in die
tronk laat beland.

BO:
Dwelms waarop beslag gelê is, word verbrand.
Foto: U.S.
Drug Enforcement Administration (swart-wit foto digitaal
verkleur)
Wat
daggarook aan ’n mens doen
NET
een daggasigaret kan genoeg wees om verskillende erg negatiewe
uitwerkings op die roker te hê. Behalwe dat hy hartkloppings en
’n verlies aan spierkoördinasie kan ondervind, kan sy oë
bloedbelope en sy gevoel van tyd en ruimte versteur wees. In sy
verwarde denke kan hy miskien nie eens onlangse gebeurtenisse
onthou nie. Sy vermoë om motor te bestuur of masjinerie te
hanteer, is aangetas. Boonop kan hy hallusineer en rare en
skrikwekkende dinge in sy gedagtewêreld optower, waarop hy
vreesagtig of paniekbevange reageer. Daggarook kan selfs tot
ernstige geestesversteurings lei.
Almal
reageer weliswaar nie dieselfde op die gebruik van dagga nie,
net soos mense se reaksies verskil wanneer hulle alkohol
gebruik. Dagga se uitwerking is nietemin hewiger wanneer dit
saam met alkohol gebruik word. Dieselfde geld waar dagga gerook
word saam met verpoeierde pille van Mandrax, wat ook ’n
verbode dwelm is.
Waar
dagga gereeld gebruik word, lei dit tot baie sosio-ekonomiese en
gesondheidsprobleme, soos dit ook met die gebruik van ander
dwelmmiddels gebeur. Onverskilligheid, lusteloosheid, swak
motivering en min belangstelling in die dag van môre—selfs
die geneigdheid om kriminele dade te pleeg—dui op die
afgestompte en verworde geesteslewe van "ou"
daggarokers. Die afhanklikheid van dagga kan al hul gedagtes en
handelinge oorheers.
Fisiek kan
daar longskade wees. Daggasigarette
het tot 50 persent meer teer as tabaksigarette. Nog ’n
liggaamlike nadeel is verlaagde weerstand teen infeksies. Dit
kan ook toenemende onvrugbaarheid en beskadiging van die
voortplantingselle in die hand werk, wat ’n invloed tot selfs
in die derde geslag kan hê. By swanger vroue kan dit tot
beskadiging van die fetus, doodgebore babas en gestremde kinders
lei. |
Wat
dwelms is en hoe die misbruik daarvan ontstaan
MIDDELS
wat die mens in sy liggaam en gees "aantas"—die normale
werking van die liggaam en brein verander—word verdowingsmiddels
genoem. Dit
word in die geneeskunde as opkikkers gebruik of om pyn te verlig, angs
te verminder of om mense te laat slaap as hulle aan slaaploosheid ly.
Sekere verdowingsmiddels kan egter verslawend wees en dan word daarvan
as dwelmmiddels, of kortweg dwelms, gepraat.
Selfs
die ligter pynverdowers, soos aspirien en parasetamol, en stimulante
soos kafeïen, kan naderhand onnodig uit gewoonte gesluk word. Alkohol
en nikotien is in sekere opsigte ook
dwelmmiddels.
Baie
mense trap in die strik om medisyne uit gewoonte te gebruik sonder dat
hulle ooit bedoel het om daardeur verkneg te word. Medisyne word gesluk
by die geringste teken van pyn, verkoue, moegheid, hoofpyn,
hardlywigheid of watter kwaaltjie ook al. Ook hul kinders word vir die
geringste skeet handevol pille gevoer.
In
die meeste gevalle is sulke medikamente glad nie nodig nie. Die natuur
bewerk baiemaal juis só 'n toestand in die liggaam om ’n bepaalde tekortkoming
in die daaglikse leefwyse of roetine uit te wys. Mense wat so maklik
medisyne sluk of dit vir hul kinders gee, stel ’n gevaarlike
voorbeeld.
Deur
’n sterk afhanklikheid van medisyne te bevorder, word potensiële
dwelmslawe gekweek.
Dokters
kan ’n aandeel hierin hê deur medisyne voor te skryf wat nie
noodsaaklik is nie sonder dat hulle eers behoorlik daaroor nadink. Baie
dwelmslawe sê juis dat hul dwelmmisbruik by die ongedissiplineerde
gebruik van huishoudelike geneesmiddels begin het.
REGS:
Vroeër is die gevaar van dwelms selfs nie eens deur baie medici besef
nie. Só
is kokaïen byvoorbeeld ’n pynstillende middel wat uit die kokaplant in
Suid- en Sentraal-Amerika vervaardig word, maar dit is ook ’n gevaarlike
dwelm. Tog het die vervaardigers van die tandpynstiller wat hier
geadverteer word, dit omstreeks 1885 goedgedink om dit vir kinders aan te
beveel. Dit sou onmiddellik help teen tandpyn, is gesê.
Ja goed, sê kenners vandag, maar aan die verskriklik nadelige gevolge is bes moontlik
weinig gedink.
Krediet:
U.S. National Library of Medicine / NIH
Waarom
dwelms gebruik word en die onnoemlike gevare van dwelmmisbruik
DWELMS
word regoor die wêreld deur kinders en jong mense misbruik—en
glad nie net deur jeugdiges uit "swak" huise in die
onderste lae van die samelewing nie. Baie eksperimenteer met
dagga en ander meer verslawende middels omdat hulle nie
"uit" wil voel by hul maats nie of hulle doen dit
onder die invloed van anti-sosiale of kriminele elemente in die
gemeenskap waar hulle woon.
Dit lyk of daar veral drie
redes is waarom mense dwelms gebruik:
Maatskaplike
druk.
Dit kan dalk vir mense lyk asof dwelms in die media verheerlik
word, of deur musikante, toneelspelers en sportlui wat kwalik
’n geheim daarvan maak dat hulle dwelms gebruik.
Groepdruk.
Veral tieners sal omtrent alles doen om tog net ’n deel van
hul portuurgroep te wees—al beteken dit ook om dwelms te
beproef.
Ontvlugting.
Mense wat van die werklikheid en hul verantwoordelikhede wil
wegkom, kan aan dwelms verslaaf raak.
Maar
sulke dwelmgebruikers dobbel met hul eie veiligheid, hul
liggaamlike gesondheid en hul geestesgesondheid—trouens met
hul lewe. Daarmee is nog niks gesê van die ontwrigting en
hartseer wat dit in die lewens van hul dierbares bring nie.
REGS:
Op verskillende plekke in die wêreld is daar gewetenlose mense
wat skatryk word deur jeugdiges en ander mense se afhanklikheid
van dwelms. Hier is ’n dwelmbaas van die Republiek van Colombia
in Suid-Amerika wat deur die polisie aangekeer is.
Foto: U.S.
Drug Enforcement Administration
|
Identifisering
van en hulp vir die dwelmmisbruiker
DIE
ouers van tieners en ander mense na aan hulle vra dikwels hoe hulle
kan vasstel of die kinders dwelms gebruik. Een ligpuntjie is darem dat
tagtig persent van die tieners wat met dwelms in aanraking kom (dit wil
sê vier uit vyf) dit nie gebruik nie. Die meeste van dié wat dit wel
doen, eksperimenteer ’n kort rukkie daarmee en laat dit dan staan.
Tog
is daar diegene wat dit gereeld begin gebruik—tieners wat eers voorgee
dat hulle geen probleem het nie, maar algaande in die aaklige web van
verslawing verstrik raak. Dit is wanneer hulle hulp nodig het.
Ouers
en ander mense na aan hulle moet dus die tekens ken wat op dwelmmisbruik
dui... en besef dat dit nie einde van die wêreld is indien hulle
agterkom dat só 'n kind in die greep van dwelms is nie. Soos ’n
dokter sê: “Die heel belangrikste die wete dat jy wel iets kan doen.
Dit is byna altyd moontlik om kinders van dwelmmiddels te laat
afsien.”
Moontlike
tekens dat ’n
kind dwelms misbruik
LET
op die volgende as jy vermoed dat ’n kind dwelms gebruik:
Die
kind se gedrag het verander.
Hy (of sy natuurlik) kan op vreemde tye weg van die huis
wees, homself vir lang tye afsonder, sonder klaarblyklike
rede buierig of senuagtig wees, onverklaarbaar aan die
giggel gaan of gedurig doelloos rondsit en lyk of hy in sy
gedagtes versonke is.
- Hy
doen dinge anders as voorheen.
Hy vaar swakker op skool en stel nie meer soveel belang in
sport en stokperdjies as eers nie. Hy is vaag en ontwykend
wanneer hy oor sy vriende praat—wie hulle is en waarnatoe
hulle gaan wanneer hy hulle vergesel. Hy gee ongeërg geld
uit en jy kom agter dat hy suutjies jou of die ander
huisgenote se geld vir homself neem.
- Daar
is tye wanneer hy bedweld lyk.
Dan praat hy onduidelik en kan boonop nie goed kommunikeer
nie. Hy is rusteloos, loop waggelend en sy konsentrasie is
swak. Dit lyk inderdaad of hy dagdroom of in ’n dwaal is.
Partykeer kan sy gedrag selfs bisar wees, wanneer hy, sê
maar, dinge hoor of sien wat nie bestaan nie.
- Jy
ontdek pille of ander middels wat erg verdag lyk in die kind
se kamer of elders.
- Middels
kry voete uit die gesin se medisynekassie.
Let veral op as dit kalmeermiddels, slaaptablette of
eetlusdempers is wat só verdwyn.
- Daar
is spesifieke aanduidings dat bepaalde soorte dwelms gebruik
word. Hieronder
is die aanduidings vir dagga, stimulante, kalmeermiddels,
inasemingsmiddels en hallusinasiemiddels:
*
Dagga: bloedbelope oë (soms ongewone vlekke aan die vingers
of handpalms, giggel-episodes, buitengewone honger (veral ’n
lus vir soetighede) of dors, dromerigheid, ’n reuk soortgelyk
aan brandende onkruid in die kind se kamer of aan sy klere.
*
Stimulante (bv. verslankingstablette): Om
"hoog" te wees, afwisselend uitgelate en neerslagtig,
slaaploosheid, verminderde eetlus, afname in massa.
*
Kalmeermiddels (bv. slaaptablette, bedaarmiddels, sommige
pynstillers en hoesmedisyne): Lomerigheid, oormatige slaap,
ongekoördineerde bewegings, swak konsentrasie, dronk
voorkoms, verlies aan inhibisies, leë bottels in die
vullisblik.
*
Inasemingsmiddels (bv. gom, verfverdunners,
naellakverwyderaars, aërosolprodukte, petrol):
Onduidelike spraak, verwarring, buitengewone aggressie en
prikkelbaarheid, hallusinasies en waggelende treë. Dit is
’n besonder gevaarlike vorm van dwelmmisbruik omdat dit tot
breinskade kan lei. Buitengewone hoeveelhede van hierdie stowwe
sal dalk gevind word.
*
Hallusinasiemiddels (bv. LSD):
Uiters abnormale gedrag, soos verwardheid, opgewondenheid,
rusteloosheid, hallusinasies, gesprekke met homself,
deurmekaarpratery. Hy kan meen dat hy deur ander vervolg word;
"terugflitse" (skielike onverklaarbare tye van
abnormale emosies, waarnemings of gedrag, veral ’n gevoel van
veranderde realiteit en paniek).
Onthou!
- Al
die verskynsels wat hierbo genoem is, kan ook ander en soms
ernstiger oorsake hê. Vra jou huisdokter om raad; moenie
oorreageer nie.
- Bes
moontlik sal al die tekens nie tegelykertyd teenwoordig wees
nie.
- Buie
wat vinnig verander, onverklaarbare angs, paniek en
abnormale gedrag kan by elke vorm van dwelmmisbruik voorkom.
- ’n
Mens moet verwag dat die adolessent aanvanklik die gebruik
van dwelmmiddels sal ontken of ontwykend daaroor sal wees.
|
Wat
’n ouer of ander mense naby aan hom moet doen nadat vasgestel is dat ’n
kind beslis dwelms gebruik
- Bly
kalm. Weer eens: moenie oorreageer nie. Moenie aan die huil gaan en
deur jou trane deur verwyte rondslinger nie.
- Vra
die kind mooi om jou soveel moontlik te vertel oor hoe lank hy reeds
die dwelms gebruik en hoeveel hy daarvan gebruik.
- As
die kind aanvaar dat hy hulp nodig het, help waar jy kan en reël
vir die nodige professionele hulp.
- Vergeet
van ander huislike onenighede en vorm ’n verenigde front in die
gesin en huwelik om hierdie probleem die hoof te bied.
- Voer
openhartige gesprekke binne die gesin om doodseker te maak dat die
kind se dwelmmisbruik permanent beëindig word.
- Wees
bewus daarvan dat ’n konfrontasie kan ontwikkel. Moenie toegee
nie, maar kry dit agter die rug. Baie jong mense willig eers ná
’n konfrontasie in om behandeling te ondergaan.
Dwelmmisbruik: Is daar ’n oplossing?
OMDAT die oorsake van delmmisbruik
so veelvuldig is, geld ’n oplossing vir een geval dikwels
nie vir ’n ander nie.
Maar in die breë
gesien, sal die beste oplossing vir die probleem natuurlik
voorkoming wees. Kinders en jong mense moet betyds baie
deeglik kennis dra van die werklike gevare van dwelmmisbruik
sodat hulle die waarskuwings nie maar net sal beskou as
bangmaakpraatjies van die ouer geslag nie.
Verskerpte
inligtingsveldtogte van owerheidweë en deur
welsynsorganisasies moet potentensiële slagoffers oral
bereik,
nie slegs tot in die verste uithoeke van die misdaadhole
nie, maar ook in die rykmanshuise waar kinders baiemaal meer
geld as liefde kry.
Iemand het al
voorgestel dat daar naas lewensoriëntering op skool ’n
afsonderlike vak geskep behoort te word waarin die
dwelmgevaar vroeg-vroeg onder alle kinders se aandag gebring
word.Uitstappies na
rehabiltasie-inrigtings waar leerders met hul eie oë sal kan
sien hoe dwelms die lewens van jong mense van hul eie
portuur verwoes het, behoort baie te doen om die probleem
daadwerklik aan te spreek.
Hoekom sal ’n mens ’n lewe van
onnoemlike ellende oor jouself bring net om ’n klompie ure
lank te voel dat jy die koning van die wêreld is? Dis mos
onnoselheid in die heel ergste graad, as 'n mens doodnugter
daaraan dink.
|
Professionele
hulp
TALLE
geliefdes van dwelmmisbruikers besef gou hulle dat hulle
deskundige raad moet kry... en daar is werklik genoeg meelewende
mense en instansies wat hulle kan laat voel dat hulle nie alleen
in hierdie beproewing is nie.
Benewens
die dienste wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad insake
Alkoholisme en die Afhanklikheid van Verdowingsmiddels (SANRA)
gebied word, asook deur verskeie ander private
welsynorganisasies, staatshospitale en provinsiale hospitale, is
dokters, kliniese sielkundiges en maatskaplike werkers toegerus
om sowel adolessente as hul ouers by te staan.
Dwelmmisbruik
is ’n massiewe probleem. Altyd. Maar waar dit kop uitsteek,
kan dit met ’n spanpoging in die kiem gesmoor word. Soos ons
hierbo reeds gesê het, maar graag wil herhaal: Die
kinders van Suid-Afrika het nie hierdie monster ook nog in hul
midde nodig nie. |
|