|
Teks
en grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com. Hoofbron vir teks:
Afrikaanse Kinderensiklopedie (met sekere opdaterings 2006)
AAR
is twee dinge wat omtrent duisendpote vertel word (en veral vroeër
nogal wyd geglo is) wat nou rêrig snert in die oortreffende
trap is. Die een is dat ’n mens jou morsdood sal lag as ’n
duisendpoot jou byt.
Dis
die grootste onsin. Duisendpote is plantvretend en daar is geen
sprake daarvan dat hulle met betreklik
klein kake deur ’n mens se vel sal kan boor nie. Hulle het
boonop geen gifkake nie.
Die
tweede groot onwaarheid oor die duisendpoot lê opgesluit in sy
naam. Nooit gesien dat ’n duisendpoot duisend pote kan hê
nie—nie eens die langste bielies onder hulle nie. Selfs dié
met die heel meeste pote het nie meer as nagenoeg vierhonderd
nie. Die minste pote wat by duisendpote gevind word, is iets
onder die honderd.
Maar
tot hul krediet kan darem gesê word dat geen ander dier in die
diereryk meer pote as duisendpote het nie.
Die
liggaam van die duisendpoot bestaan uit talle ringe van chitien
wat ook ryk aan kalsium is. Chitien is daardie blink,
horingagtige buitedeel van die lywe van byvoorbeeld ook die
insekte. By die duisendpote wissel die getal chitien-ringetjies
van soort tot soort, maar die groot en lang kreature het sestig
of meer sulke rompsegmente. Aan elk van verreweg die meeste van
dié segmente vind ons twee pare gelede pote.
Weliswaar het die eerste paar segmente net een
paar pote elk, terwyl die segment tweede van agter af geen pote
het nie. Die laaste segment word die anale segment genoem; dit
is waar die uitwerpsels die liggaam verlaat. Maar ’n mens kan ten minste naastenby bereken hoeveel pote
’n duisendpoot het bloot deur sy ringe te tel en dit met vier
te vermenigvuldig.
’n
Mens kan jou kwalik indink hoe hierdie skepseltjie dit regkry om
met so baie pote te loop. Ek en jy sou immers hopeloos
deurmekaar geraak het met soveel ledemate of hoe? Dalk of dalk
nie. Loop is mos darem ’n instinktiewe handeling, en die
duisendpoot "dink" net so min aan hoe om dit te doen
as wat ons eers sou dink voordat ons ons hand van ’n warm
stoofplaat af wegruk.
Wanneer
’n mens ’n lopende duisendpoot van die kant af bekyk, is dit
duidelik dat sy pote nie almal tegelyk vorentoe beweeg nie. Daar
is klompies pote was saam en tegelyk voorwaarts
aanskuif—gelyke bewegings wat heel gepas met golwe vergelyk
kan word.
Daar
is inderdaad ’n duidelik waarnemende, egalige golfbeweging wat
aan elke kant van die liggaam skynbaar van agter na voor gaan.
Trouens, een kenner vertel grafies dat die pote van duisendpote
op dieselfde manier beweeg as die hamers van ’n klavier
wanneer jy jou vinger vinnig oor die klawerbord trek—met dié
verskil dat elke poot ’n treetjie vorentoe neergesit word.
Maar
presies wat is duisendpote?
Duisendpote
is nie insekte of wurms nie—en hulle verskil selfs opmerklik
van die honderdpote
HOEWEL
baie mense so dink—en selfs verklarende woordeboeke in dié
verband struikel—is duisendpote NIE insekte nie. Hulle behoort
ook NIE eens naastenby tot die wurms, soos baie ander mense
stellig weer reken nie. Duisend- en honderdpote vorm elk ’n
klas van die phylum Arthropoda of Geleedpotige Diere, wat
ook die insekte, spinnekoppe, skerpioene, skaaldiere en
weekdiere insluit.
Duisendpote
vorm die klas Diplopoda en honderdpote die klas Chilopoda.
Honderdpote word baiemaal "oorkruipers" genoem.
LINKS:
’n Honderdpoot of "oorkruiper".
Foto:
U.S. National Park Service
’n
Mens sou geneig wees om te dink hulle is taamlik naby verwant,
maar tog is daar groot verskille tussen duisend- en honderdpote;
om die waarheid te sê, al wat hulle basies gemeen het, is ’n lang lyf en baie pote.
Die opvallendste verskil is die getal pote aan elke rompsegment.
Duisendpote het, soos ons gesien het, twee pare pote per
segment, terwyl honderdpote slegs een paar aan elke rompsegment
het.
Sindelike
blaarvreters... maar pas op vir die stank!
DIE
kop van die duisendpoot is, soos dié van ’n insek, nie met
die borsstuk verenig nie. Die liggaam is in twee dele verdeel,
te wete die kop en die gesegmenteerde romp.
Aan
die kop is ’n bolip, ’n paar getande kake en ’n groot
plaat wat die bodem van die mond vorm. Ook twee kort voelhorings
pryk aan die kop—die vernaamste sintuiglike organe van hierdie
diertjie. Hiermee betas die duisendpoot sy omgewing asook sy
kos.
Fyngevoelige
haartjies wat as tasorgane dien, kom aan die litte van die
voelhorings voor. Aan die punte van die voelhorings is voorts
vier reuksintuiglike keëls vir die waarneming van reuke, hoewel
kenners meen dat hierdie reukwaarneming net deur regstreekse
aanraking met voorwerpe kan geskied. Die aard van klam of
vogtige stowwe word hiermee makliker vasgestel.
Geleerdes
reken duisendpote kan nie hoor soos ons nie, met die
uitsondering van die krimpduisendpote wat wel gehoor het.
Duisendpote sien ook baie sleg, of is heeltemal blind en
oogloos. Selfs die soorte met baie ogies, word gemeen, kan
daarmee slegs tussen lig en donker onderskei.
Daar
word egter vermoed dat duisendpote sintuie het waarvan ons geen
benul kan hê nie, waarmee hulle veranderings in temperatuur en
vogtigheid in die omgewing kan registreer.
Duisendpote
se kos bestaan in die reël uit verrotte plantweefsels, blare,
blaarpuin en klam, verrotte hout, wat hulle met hul getande kake
fynkerf. Hulle verkies dan ook klam en vogtige plekke, soos om
te skuil onder klippe en stompe en tussen los stukke boombas en
blaarpuin, weg van die sonlig.
In
dié opsig vervul hulle ’n nuttige funksie deur, soos
erdwurms, vrugbare humus en teelaarde in die vorm van
uitwerpsels tot die grondbodem by te dra.
En
praat van sindelik! Telkens is hulle maar weer besig om hulself te reinig. Die voelhorings en pote word
netjies deur die mond geryg om dit met speeksel skoon te was.
Amper soos ’n kat wat homself gedurig skoonlek. Dit is
moontlik dat hierdie spoeg selfs ’n ontsmettingsfunksie het
deur skadelike bakterieë en swamme te dood wat die duisendpoot
in sy omswerwinge op die lyf geloop het.
Weens die
betreklike slakkegang waarmee die duisendpoot beweeg, kan hy nie
vir sy roofvyande weghardloop nie, maar om te vergoed is hy met
’n paar ander nuttige verdedigingsmeganismes toegerus.
Feitlik al die
soorte rol hulle in ’n spiraal op wanneer hulle skrik, met hul
gladde, harde dop aan die buitekant en die weekdele en pote goed
beskerm aan die binnekant.
Op
die koop toe is daar by die meeste duisendpote ’n piepklein
gaatjie naby die agterrand van byna al die rompsegmente,
waardeur hulle ’n baie onaangename vloeistof kan uitskei.
Hierdie uitskeiding, hidrosiaansuur, word deur stinkkliere
verskaf en ruik werklik waglik. Dit kan die mens se vingers vlek en brand erg as dit in die mond of oë
van ’n roofvyand beland.
Liefde
ná die reën
BAIE
van ons ken die toneel van groot duisendpote wat die wêreld vol
ronddwaal nadat dit goed gereën het. Nou is hulle in hul
element, want die wêreld is vogtig en klam.
Soms
soek hulle nuwe houplekke, maar meestal is dit die romantiese
doolgange van hoopvolle mannetjies en wyfies wat mekaar probeer
opsoek. Dis paartyd in die land van die veelpotige skepseltjies.
En geen op en wakker duisendpoot sal mos in hierdie tyd sy pote kan
tuis hou nie!
Al
is hulle ook in die gewone gang van sake geswore kluisenaars,
kan die mannetjies en wyfies hulle nou selfs ’n paar uur se
samesyn veroorloof vir die paringsdaad. Die
bruidegom krul hom om sy bruid en hou haar met sy voorpote vas.
Bevrugting vind binne die wyfie se liggaam plaas.
Ná
die paring gaan elk weer sy en haar eie gang. Die verwagtende
mammatjie soek nou ’n plekkie om stoksielalleen nes te maak en
die voortbestaan van haar spesie te verseker deur eiers te lê.
Verskeie
honderde piepklein eiertjies, elk omtrent so groot as ’n
speldekop, word op ’n slag deur die wyfie voortgebring, maar
nie sommerso onbeskermd nie. Die wyfies van baie soorte maak
naamlik kapsels of nessies waarin hulle hul eiertjies deponeer.
Hierdie eierkapsels word in die reël van klam grond of klei
gemaak wat eers deur die duisendpootwyfie gevreet en toe weer
uitgeskei is.
Twee
eiertjies word op een slag in die klein bakkie gelê, waarna die
kante van die bakkie eers hoër gemaak en nog meer klei bygevoeg
word voordat sy nogmaals twee eiertjies lê. Wanneer die
eiertjies in die eierkapsel voltallig is, is die nessie
naastenby koepelvormig en is daar ’n gaatjie bo in, waardeur
lug kan inkom.
|

Lewensiklus
BO:
Die lewensiklus van die duisendpoot soos in die artikel
hiernaas beskryf—met voorstellings van die eier,
eierkapsel, kleintjie en volwasse duisendpoot. By a
is ’n effense vergroting van die eiertjie, wat in
werklikheid weinig groter as ’n speld se kop is,
indien enigsins. By b1
sien ons die eierkapseltjie van voor, by b2
van die kant en by b3
van agter. Die klein diertjie by c
is ’n pas uitgebroeide klein duisendpootjie. Die
kleintjies van alle duisendpote lyk baie na insekte en
het aanvanklik slegs ses pootjies. Ná elke vervelling
word hulle groter en ontwikkel ál meer pootjies en
liggaamsegmente. Uiteindelik is hulle volwasse—soos by
d.
Aanpassing
van illustrasie in Afrikaanse Kinderensiklopedie |
Party
soorte plaas stukkies grond en vullis bo-op hul eierkapsels om
dit te kamoefleer sodat roofvyande dit nie moet raaksien nie.
Ander soorte maak egter minder ingewikkelde eierkapsels, soos
die een op die illustrasie hierby. Nog ander soorte rol hulself
om hul eierkapsels om dit op te pas en te beskerm.
Sekere
Suid-Afrikaanse soorte maak egter nie kleikapsels nie, maar maak
hol plekkies in verrotte hout waarin hulle hul eiertjies lê.
Sommige duisendpoot-soorte omhul hulle eiertjies met
voedselstowwe wat uit ’n pap van fyngekoude blare of hout
bestaan en wat deur die kleintjies gevreet word nadat hulle
uitgebroei het. Soos die misballetjie van die miskruier is
hierdie omhulsel nie net ’n bron van kos vir die kleintjie
nie, maar dit beskerm hom ook.
Van
sespootjie tot volwaardige duisendpoot
WANNEER
’n duisendpootjie sy opwagting uit die eier maak, lyk hy baie
soos ’n klein insekkie. Trouens, as jy nie weet waarna jy kyk
nie, sal so nooit as te nimmer besef dat hierdie goggatjie ’n
duisendpoot in wording is nie. Hy het dan net drie pare
pootjies, presies soos ’n insek.
In
die reël vreet so ’n klein goggabie glad nie. En gou-gou
begin hy vervel en ná elke vervelling het die kleintjie meer
pootjies en meer rompsegmente. Hy raak aktiewer, ontwikkel ’n
lus vir kos en begin vreet.
Hierna is die groei nie meer heeltemal so vinnig nie,
maar hy vervel steeds gereeld van tyd tot tyd.
Uiteindelik
is hy ’n volwaardige duisendpoot met al die nodige pote—al
het dit twee tot vyf jaar geduur om volwassenheid te bereik. Hierna
sal hy nog etlike jare lank kan lewe. Party duisendpote word tot
sewe jaar oud.
Interessant
genoeg hou die vervelling ook nie op nadat die duisendpoot
volwasse geraak het nie, en selfs in sy ryper jare sal hy af en
toe nog sy ou harnas afskud om met ’n blinkvars een te pronk.
Volwasse duisendpote oorwinter in
die grond.
Duisendpote—’n
bonte menigte
DAAR
is, sover bekend, nagenoeg 8000 verskillende soorte duisendpote
op aarde. Die jongste telling van soorte in Suid-Afrika kon nie
met die samestelling van hierdie artikel verkry word nie, maar
daar is minstens ’n paar honderd.
Wêreldwyd
verskil hierdie diertjies baie in grootte en lengte—van reuse
van sowat dertig sentimeter lank tot petieterige dwergies van
skaars vyf millimeter.
Die
meeste duisendpote is swart of donkerbruin, maar ’n paar
Suid-Afrikaanse soorte is helder gekleur. Een plaaslike soort (Gymnostreptus
pyrrocephalus), wat ’n rooi kop het, is taamlik volop in
die noordelike dele van ons land en teel in beesmis en
perdemis aan.
Party
soorte wat in bosryke streke in die verre suide van Suid-Afrika
voorkom, is baie mooi. Een van hierdie soorte (Cherastus)
is skitterend rooi gekleur soos rooi seëllak. Ander soorte het
rye swart en geel vlekke. En in Namakwaland is ’n flambojante
donkerblou kalant, wat nie net groen, geelgroen en oranje
skakerings het nie, maar boonop ook ’n
amberkleurige of rooibruin streep op sy rug. Hy is een
van die mooiste soorte in Afrika.
Blink
van dop en aanskoulik, baiemaal nuttig (al is daar ook die
skadelikes wat byvoorbeeld knolgroente soos aartappels kan
verrinneweer)—die duisendpoot het wyd en syd ’n stewige
vasstrapplek in die ekologie gekry en skop vas met al die baie
pote tot sy beskikking.
Ja-nee, hier is
nou werklik ’n diertjie duisend… suksesvol, stewig op sy
pote en glad nie in sy dop gekruip nie!
REGS:
En dié? ’n Mens sou hierdie veelpoot maklik vir ’n nabye
familielid van die duisendpoot kon aansien, of dan ten minste
van die honderdpoot of oorkruiper. Maar hy is glad nie eens ’n
landdier nie. Hy is êrens in die see afgeneem en word ’n skaalwurm
genoem.
Foto van skaalwurm: NOAA
/ PMEL Vents Program NeMO Project
LINKS:
Ou kalant, lank in die land. Hier is duisendpote uit ’n
tydperk lank, lank verby wat in versteende boomgom (amber)
behoue gebly het.
Die
foto’s van die voorwêreldlike duisendpote in amber is met
dank oorgeneem uit die volgende werwe op die web:
www.ambericawest.com
en amberforsale.com
wat klaarblyklik nie kopieregstipulasies het nie.
Daar word te goedertrou aanvaar dat daar nie beswaar sal wees
teen beperkte oornames soos dié vir opvoedkundige doeleindes
nie, mits dit gepaard gaan met duidelike skakels terug na die
bronne. |