Opgerolde duisendpoot
Duisendpoot
Opgerolde duisendpoot   

Potige pantsers en spoggerige spirale

Duisendpoot

— ’n diertjie duisend!

Die duisendpoot! Die duisendpoot! As hy jou byt, lag jy jou dood!

Tien teen een het jy ook al hierdie waarskuwing gehoor, maar dis natuurlik ’n yslike wolhaarstorie wat al geslagte lank die rondte doen. Die waarheid is dat die duisendpoot se kake heeltemal te swak is om jou vel te deurboor, wat nog te sê dat sy gewaande "gif" jou arme, willose lagspiere met noodlottige gevolge sal prikkel. Wat wel ’n bewese feit is, is dat duisendpote’n nuttige funksie in die natuur kan vervul deur die grond met humus te verryk, soos erdwurms ook doen. En geweet dat hierdie suksesvolle blinkdop-skepseltjies tot sewe jaar lank kan lewe?

Foto links bo: MasterClips; regs heel bo: U.S. National Park Service;
regs bo: David B. Richman /  New Mexico State University,  Las Cruces / USDA

Teks en grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com. Hoofbron vir teks: Afrikaanse Kinderensiklopedie (met sekere opdaterings 2006)

D

AAR is twee dinge wat omtrent duisendpote vertel word (en veral vroeër nogal wyd geglo is) wat nou rêrig snert in die oortreffende trap is. Die een is dat ’n mens jou morsdood sal lag as ’n duisendpoot jou byt.

Dis die grootste onsin. Duisendpote is plantvretend en daar is geen sprake daarvan dat hulle met betreklik klein kake deur ’n mens se vel sal kan boor nie. Hulle het boonop geen gifkake nie.

Die tweede groot onwaarheid oor die duisendpoot lê opgesluit in sy naam. Nooit gesien dat ’n duisendpoot duisend pote kan hê nie—nie eens die langste bielies onder hulle nie. Selfs dié met die heel meeste pote het nie meer as nagenoeg vierhonderd nie. Die minste pote wat by duisendpote gevind word, is iets onder die honderd.

Maar tot hul krediet kan darem gesê word dat geen ander dier in die diereryk meer pote as duisendpote het nie.

Die liggaam van die duisendpoot bestaan uit talle ringe van chitien wat ook ryk aan kalsium is. Chitien is daardie blink, horingagtige buitedeel van die lywe van byvoorbeeld ook die insekte. By die duisendpote wissel die getal chitien-ringetjies van soort tot soort, maar die groot en lang kreature het sestig of meer sulke rompsegmente. Aan elk van verreweg die meeste van dié segmente vind ons twee pare gelede pote.

Weliswaar het die eerste paar segmente net een paar pote elk, terwyl die segment tweede van agter af geen pote het nie. Die laaste segment word die anale segment genoem; dit is waar die uitwerpsels die liggaam verlaat. Maar ’n mens kan ten minste naastenby bereken hoeveel pote ’n duisendpoot het bloot deur sy ringe te tel en dit met vier te vermenigvuldig.

’n Mens kan jou kwalik indink hoe hierdie skepseltjie dit regkry om met so baie pote te loop. Ek en jy sou immers hopeloos deurmekaar geraak het met soveel ledemate of hoe? Dalk of dalk nie. Loop is mos darem ’n instinktiewe handeling, en die duisendpoot "dink" net so min aan hoe om dit te doen as wat ons eers sou dink voordat ons ons hand van ’n warm stoofplaat af wegruk.

Wanneer ’n mens ’n lopende duisendpoot van die kant af bekyk, is dit duidelik dat sy pote nie almal tegelyk vorentoe beweeg nie. Daar is klompies pote was saam en tegelyk voorwaarts aanskuif—gelyke bewegings wat heel gepas met golwe vergelyk kan word.

Daar is inderdaad ’n duidelik waarnemende, egalige golfbeweging wat aan elke kant van die liggaam skynbaar van agter na voor gaan. Trouens, een kenner vertel grafies dat die pote van duisendpote op dieselfde manier beweeg as die hamers van ’n klavier wanneer jy jou vinger vinnig oor die klawerbord trek—met dié verskil dat elke poot ’n treetjie vorentoe neergesit word.

Maar presies wat is duisendpote?

Duisendpote is nie insekte of wurms nie—en hulle verskil selfs opmerklik van die honderdpote

HOEWEL baie mense so dink—en selfs verklarende woordeboeke in dié verband struikel—is duisendpote NIE insekte nie. Hulle behoort ook NIE eens naastenby tot die wurms, soos baie ander mense stellig weer reken nie. Duisend- en honderdpote vorm elk ’n klas van die phylum Arthropoda of Geleedpotige Diere, wat ook die insekte, spinnekoppe, skerpioene, skaaldiere en weekdiere insluit.

Duisendpote vorm die klas Diplopoda en honderdpote die klas Chilopoda. Honderdpote word baiemaal "oorkruipers" genoem.

HonderdpootLINKS: ’n Honderdpoot of "oorkruiper".

Foto: U.S. National Park Service

’n Mens sou geneig wees om te dink hulle is taamlik naby verwant, maar tog is daar groot verskille tussen duisend- en honderdpote; om die waarheid te sê, al wat hulle basies gemeen het, is ’n lang lyf en baie pote. Die opvallendste verskil is die getal pote aan elke rompsegment. Duisendpote het, soos ons gesien het, twee pare pote per segment, terwyl honderdpote slegs een paar aan elke rompsegment het.

Sindelike blaarvreters... maar pas op vir die stank!

DIE kop van die duisendpoot is, soos dié van ’n insek, nie met die borsstuk verenig nie. Die liggaam is in twee dele verdeel, te wete die kop en die gesegmenteerde romp.

Aan die kop is ’n bolip, ’n paar getande kake en ’n groot plaat wat die bodem van die mond vorm. Ook twee kort voelhorings pryk aan die kop—die vernaamste sintuiglike organe van hierdie diertjie. Hiermee betas die duisendpoot sy omgewing asook sy kos.

Fyngevoelige haartjies wat as tasorgane dien, kom aan die litte van die voelhorings voor. Aan die punte van die voelhorings is voorts vier reuksintuiglike keëls vir die waarneming van reuke, hoewel kenners meen dat hierdie reukwaarneming net deur regstreekse aanraking met voorwerpe kan geskied. Die aard van klam of vogtige stowwe word hiermee makliker vasgestel.

Geleerdes reken duisendpote kan nie hoor soos ons nie, met die uitsondering van die krimpduisendpote wat wel gehoor het. Duisendpote sien ook baie sleg, of is heeltemal blind en oogloos. Selfs die soorte met baie ogies, word gemeen, kan daarmee slegs tussen lig en donker onderskei.

Daar word egter vermoed dat duisendpote sintuie het waarvan ons geen benul kan hê nie, waarmee hulle veranderings in temperatuur en vogtigheid in die omgewing kan registreer.

Duisendpote se kos bestaan in die reël uit verrotte plantweefsels, blare, blaarpuin en klam, verrotte hout, wat hulle met hul getande kake fynkerf. Hulle verkies dan ook klam en vogtige plekke, soos om te skuil onder klippe en stompe en tussen los stukke boombas en blaarpuin, weg van die sonlig.

In dié opsig vervul hulle ’n nuttige funksie deur, soos erdwurms, vrugbare humus en teelaarde in die vorm van uitwerpsels tot die grondbodem by te dra.

En praat van sindelik! Telkens is hulle maar weer besig om hulself te reinig. Die voelhorings en pote word netjies deur die mond geryg om dit met speeksel skoon te was. Amper soos ’n kat wat homself gedurig skoonlek. Dit is moontlik dat hierdie spoeg selfs ’n ontsmettingsfunksie het deur skadelike bakterieë en swamme te dood wat die duisendpoot in sy omswerwinge op die lyf geloop het.

Weens die betreklike slakkegang waarmee die duisendpoot beweeg, kan hy nie vir sy roofvyande weghardloop nie, maar om te vergoed is hy met ’n paar ander nuttige verdedigingsmeganismes toegerus.

Feitlik al die soorte rol hulle in ’n spiraal op wanneer hulle skrik, met hul gladde, harde dop aan die buitekant en die weekdele en pote goed beskerm aan die binnekant.

Op die koop toe is daar by die meeste duisendpote ’n piepklein gaatjie naby die agterrand van byna al die rompsegmente, waardeur hulle ’n baie onaangename vloeistof kan uitskei. Hierdie uitskeiding, hidrosiaansuur, word deur stinkkliere verskaf en ruik werklik waglik. Dit kan die mens se vingers vlek en brand erg as dit in die mond of oë van ’n roofvyand beland.

Liefde ná die reën

BAIE van ons ken die toneel van groot duisendpote wat die wêreld vol ronddwaal nadat dit goed gereën het. Nou is hulle in hul element, want die wêreld is vogtig en klam.

Soms soek hulle nuwe houplekke, maar meestal is dit die romantiese doolgange van hoopvolle mannetjies en wyfies wat mekaar probeer opsoek. Dis paartyd in die land van die veelpotige skepseltjies. En geen op en wakker duisendpoot sal mos in hierdie tyd sy pote kan tuis hou nie!

Al is hulle ook in die gewone gang van sake geswore kluisenaars, kan die mannetjies en wyfies hulle nou selfs ’n paar uur se samesyn veroorloof vir die paringsdaad. Die bruidegom krul hom om sy bruid en hou haar met sy voorpote vas. Bevrugting vind binne die wyfie se liggaam plaas.

Ná die paring gaan elk weer sy en haar eie gang. Die verwagtende mammatjie soek nou ’n plekkie om stoksielalleen nes te maak en die voortbestaan van haar spesie te verseker deur eiers te lê.

Verskeie honderde piepklein eiertjies, elk omtrent so groot as ’n speldekop, word op ’n slag deur die wyfie voortgebring, maar nie sommerso onbeskermd nie. Die wyfies van baie soorte maak naamlik kapsels of nessies waarin hulle hul eiertjies deponeer. Hierdie eierkapsels word in die reël van klam grond of klei gemaak wat eers deur die duisendpootwyfie gevreet en toe weer uitgeskei is.

Twee eiertjies word op een slag in die klein bakkie gelê, waarna die kante van die bakkie eers hoër gemaak en nog meer klei bygevoeg word voordat sy nogmaals twee eiertjies lê. Wanneer die eiertjies in die eierkapsel voltallig is, is die nessie naastenby koepelvormig en is daar ’n gaatjie bo in, waardeur lug kan inkom.

Duisendpoot se lewensiklus

Lewensiklus

BO: Die lewensiklus van die duisendpoot soos in die artikel hiernaas beskryf—met voorstellings van die eier, eierkapsel, kleintjie en volwasse duisendpoot. By a is ’n effense vergroting van die eiertjie, wat in werklikheid weinig groter as ’n speld se kop is, indien enigsins. By b1 sien ons die eierkapseltjie van voor, by b2 van die kant en by b3 van agter. Die klein diertjie by c is ’n pas uitgebroeide klein duisendpootjie. Die kleintjies van alle duisendpote lyk baie na insekte en het aanvanklik slegs ses pootjies. Ná elke vervelling word hulle groter en ontwikkel ál meer pootjies en liggaamsegmente. Uiteindelik is hulle volwasse—soos by d.

Aanpassing van illustrasie in Afrikaanse Kinderensiklopedie

Party soorte plaas stukkies grond en vullis bo-op hul eierkapsels om dit te kamoefleer sodat roofvyande dit nie moet raaksien nie. Ander soorte maak egter minder ingewikkelde eierkapsels, soos die een op die illustrasie hierby. Nog ander soorte rol hulself om hul eierkapsels om dit op te pas en te beskerm.

Sekere Suid-Afrikaanse soorte maak egter nie kleikapsels nie, maar maak hol plekkies in verrotte hout waarin hulle hul eiertjies lê. Sommige duisendpoot-soorte omhul hulle eiertjies met voedselstowwe wat uit ’n pap van fyngekoude blare of hout bestaan en wat deur die kleintjies gevreet word nadat hulle uitgebroei het. Soos die misballetjie van die miskruier is hierdie omhulsel nie net ’n bron van kos vir die kleintjie nie, maar dit beskerm hom ook.

Van sespootjie tot volwaardige duisendpoot

WANNEER ’n duisendpootjie sy opwagting uit die eier maak, lyk hy baie soos ’n klein insekkie. Trouens, as jy nie weet waarna jy kyk nie, sal so nooit as te nimmer besef dat hierdie goggatjie ’n duisendpoot in wording is nie. Hy het dan net drie pare pootjies, presies soos ’n insek.

In die reël vreet so ’n klein goggabie glad nie. En gou-gou begin hy vervel en ná elke vervelling het die kleintjie meer pootjies en meer rompsegmente. Hy raak aktiewer, ontwikkel ’n lus vir kos en begin vreet.  Hierna is die groei nie meer heeltemal so vinnig nie, maar hy vervel steeds gereeld van tyd tot tyd.

Uiteindelik is hy ’n volwaardige duisendpoot met al die nodige pote—al het dit twee tot vyf jaar geduur om volwassenheid te bereik. Hierna sal hy nog etlike jare lank kan lewe. Party duisendpote word tot sewe jaar oud.

Interessant genoeg hou die vervelling ook nie op nadat die duisendpoot volwasse geraak het nie, en selfs in sy ryper jare sal hy af en toe nog sy ou harnas afskud om met ’n blinkvars een te pronk.

Volwasse duisendpote oorwinter in die grond.

Duisendpote—’n bonte menigte

DAAR is, sover bekend, nagenoeg 8000 verskillende soorte duisendpote op aarde. Die jongste telling van soorte in Suid-Afrika kon nie met die samestelling van hierdie artikel verkry word nie, maar daar is minstens ’n paar honderd.

Wêreldwyd verskil hierdie diertjies baie in grootte en lengte—van reuse van sowat dertig sentimeter lank tot petieterige dwergies van skaars vyf millimeter.

Die meeste duisendpote is swart of donkerbruin, maar ’n paar Suid-Afrikaanse soorte is helder gekleur. Een plaaslike soort (Gymnostreptus pyrrocephalus), wat ’n rooi kop het, is taamlik volop in die noorde­like dele van ons land en teel in beesmis en perdemis aan.

Party soorte wat in bosryke streke in die verre suide van Suid-Afrika voorkom, is baie mooi. Een van hierdie soorte (Cherastus) is skitterend rooi gekleur soos rooi seëllak. Ander soorte het rye swart en geel vlekke. En in Namakwaland is ’n flambojante donkerblou kalant, wat nie net groen, geelgroen en oranje skakerings het nie, maar boonop ook ’n  amberkleurige of rooibruin streep op sy rug. Hy is een van die mooiste soorte in Afrika.

Blink van dop en aanskoulik, baiemaal nuttig (al is daar ook die skadelikes wat byvoorbeeld knolgroente soos aartappels kan verrinneweer)—die duisendpoot het wyd en syd ’n stewige vasstrapplek in die ekologie gekry en skop vas met al die baie pote tot sy beskikking.

Ja-nee, hier is nou werklik ’n diertjie duisend… suksesvol, stewig op sy pote en glad nie in sy dop gekruip nie!


SkaalwurmREGS: En dié? ’n Mens sou hierdie veelpoot maklik vir ’n nabye familielid van die duisendpoot kon aansien, of dan ten minste van die honderdpoot of oorkruiper. Maar hy is glad nie eens ’n landdier nie. Hy is êrens in die see afgeneem en word ’n skaalwurm genoem.

Foto van skaalwurm: NOAA /  PMEL Vents Program NeMO Project

Voorwêreldlike duisendpote wat in amber bewaar gebly hetLINKS: Ou kalant, lank in die land. Hier is duisendpote uit ’n tydperk lank, lank verby wat in versteende boomgom (amber) behoue gebly het.

Die foto’s van die voorwêreldlike duisendpote in amber is met dank oorgeneem uit die volgende werwe op die web: www.ambericawest.com en amberforsale.com wat klaarblyklik nie kopieregstipulasies het nie. Daar word te goedertrou aanvaar dat daar nie beswaar sal wees teen beperkte oornames soos dié vir opvoedkundige doeleindes nie, mits dit gepaard gaan met duidelike skakels terug na die bronne.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad