Die donkie
... wat ’n wonderlike ding!

'n Donkie staan en dink waar die muishond stink!“O, DIE donkie, o, die donkie,
die donkie is ’n wonderlike ding.
Hy staan en dink
waar die muishond stink.
Ja, die donkie is ’n wonderlike ding...”
• 

KEN jy die liedjie waarvan die woorde hierbo verskyn? Maar natuurlik! Die Donkie moet immers een van die bekendste Afrikaanse moppies (grappige liedjies) wees wat ooit geskryf is. ’n Beter beskrywing van hierdie arme vierpotige lasdier en sy gewaande dom-onnoselheid sal jy nêrens kry nie, reken baie mense.

Vreemd, maar mense het nie altyd die donkie, of esel, in hierdie lig beskou nie. In ou geskrifte word hy selfs as ’n edele dier uitgebeeld—met vermeldings in meer as 150 verse in die Bybel. Een van die onvergeetlikste Bybelverhale is dié van Bileam se donkie wat deur die Here in staat gestel is om te praat (Num. 22:22-35).

Dan is daar ook Jesus se intog in Jerusalem op die rug van ’n donkie, wat so treffend in Matteus 21 en ander Evangelieboeke in die Bybel beskryf word.

Die waarde wat in die ou Israelitiese kultuur aan die donkie geheg is, blyk voorts uit God se bevel in die Tien Gebooie dat ’n mens nie jou medemens se besittings mag begeer nie—nie sy slaaf of slavin, sy bees of sy donkie nie. En die getal eselinne wat ’n man in die Ou-Testamentiese tye besit het, het boonop sy stand in die gemeenskap bepaal.

Daarby het groot heersers dikwels esels bo enige ander diere verkies wanneer hulle ver moes reis. Die redes is dat donkies langer as perde kan aanhou sonder om te rus en vasvoetiger op ongelyk grond en bergpaadjies is.


•  • 

MAK DONKIES was al duisende jare lank ons getroue dienaars. Hulle is—en word steeds in sommige lande—gebruik om landerye om te ploeg, waterwiele te laat draai, dorsmasjiene te laat werk, donkiekarre te trek en vragte (en mense) op hul rûe te dra.

Donkie Dis wel waar dat hulle steeks of halsstarrig is—maar dan ook net as hulle oorwerk en ondervoed is en ’n mens hulle wreed behandel.

REGS: Onnosel? Wat wou!

Foto: DAVID BEART/FREEPIC

Maar is ’n donkie werklik so dom soos... nou ja, die spreekwoordelike esel? Nie regtig nie. Die rede vir die esel se legendariese ''onnoselheid'' moet waarskynlik gesoek word by die feit dat, wanneer ’n trop donkies aangeval word, die leier agterbly terwyl die res van die trop spore maak. Al wat die leier egter doen, is om sy gebied te beskerm.

Geleerdes reken dat die mak donkie afstam van die wilde-esel van Afrika, wat eenmaal die woestynvlaktes van Ethiopië en Somalië bewoon het. Hy is ’n nabye familielid van die Asiatiese wilde-esel, wat steeds in troppe in die woestyngebiede van Midde-Asië rondswerf.

Dis te betwyfel of enige suiwer wilde-esels van Afrika nog bestaan. Daar is wel nog seker wilde donkies in die woestyngebiede van Noord-Afrika, maar hulle is vermoedelik die nasate van mak donkies wat ontsnap en weer wild geword het. Die Asiatiese wilde-esel is uiters skaars, maar kom steeds in sy suiwer vorm voor.

Daar is vandag baie mak donkierasse, wat wissel van ligte, vinnige donkies wat as rydiere gebruik word tot sterk, swaargeboude trek- of pakesels. Daar is ’n groot verskeidenheid wat kleur, merke en die lengte van die hare aanbetref.

Maar donkies was in die verlede nie net gesog omdat hulle hardwerkend is nie. Donkiemelk is ook baie voedsaam en is ongetwyfeld deur die eeue heen deur baie stamme en volkere gedrink. Vreemd genoeg is die melk egter meer weens sy kastige genesende eienskappe gebruik—die rede waarom koningin Cleopatra glo daarin gebad het.

Die donkie self sou boonop ook magiese genesingskrag gehad het. In Engeland is geglo dat ’n mens kon keer dat ’n kind kinkhoes kry deur hom op ’n donkie te sit. As ’n skerpioen jou gesteek het, moes jy in ’n donkie se oor kyk om gesond te word. Nog ’n raat teen vergifting was om sop te drink wat gemaak is van gekneusde donkiebeendere wat in water geweek is.

Hare wat van ’n donkie se skof afgeknip en in ’n sak om ’n kind se nek gehang is, kon glo keer dat die kind stuipe kry. En jy kon ’n bang kind kalmeer deur hom in donkievel toe te draai. Kyk dan net so, is die donkie nou nie inderdaad ’n wonderlike ding nie!

Donkie-dinge

•  Die gebalk van ’n donkie—daardie onaardse ''gehieha''—word gemaak deurdat hy sy asem kort en vinnig intrek en dit dan dadelik uitblaas.
•  Wanneer donkies en perde kruis, is hul vulletjies muile, wat nie kan aanteel nie. 
•  Die muil is meestal ’n kruising tussen ’n perdemerrie en ’n donkiehings, wat baie van albei sy ouers se eienskappe het—die vermoë om swaar laste te dra soos sy ma en die bou en taaiheid van sy pa.
•  Kruisings tussen ’n perdehings en ’n donkiemerrie is nie so algemeen nie. In Afrikaans word dié kruising ’n botterkopmuil (Engels: hinny) genoem. Die botterkopmuil is kleiner as die gewone muil en nie so sterk nie.
•  Donkies en muile kan hul ewewig behou selfs wanneer hulle tussen klippe en rotse op die randjie van ’n afgrond loop en is in dié opsig beter as perde. 
•  Asiatiese wilde-esels is uitstekende hardlopers. Snelhede van sowat 65 km/h is al by hulle aangeteken. Afhangende van waar hulle voorkom, staan hulle ook bekend as onagers, kiangs en ghorkars.
•  Die antieke Egiptenare het donkies al minstens 5 000 jaar gelede vir hulle laat werk.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad