Baie net soos
mense-babas

— Suid-Afrika se bloedjong dinosourusse!

Hulle het waarskynlik handeviervoet gekruip voordat hulle kon loop—en boonop tandeloos in die wêreld gekom net soos menslike babas. Dit dui alles daarop dat hul ma’s hulle moontlik liefderyk versorg het. Wel, ten minste totdat hulle regop op hul eie agterpootjies kon staan en tande gekry het om mee te kou…

D

IS amptelik: die oudste dinosourus-eiers wat nog ooit in ons tyd gevind is, is in die jong dae van die aarde in Suid-Afrika gelê.

En dis nie al verbasende nuus nie. Geleerdes sê die baba-dinosourusse wat uit daardie eiers sou gebroei het, sou bes moontlik baie soos menslike babas gewees het. Hulle sou aanvanklik tandeloos gewees en baie waarskynlik eers handeviervoet gekruip het voordat hulle sou geleer het om soos hul ouers op hul twee agterpote rond te skarrel.

Dit alles dui daarop dat ouerlike sorg nodig was om hulle groot te kry—dat Ma hulle nie sommer maar net soos klein akkedissies aan hul eie genade oorgelaat het nie.

Ses gefossileerde dinosourus-embrio’s is reeds in 1978 in Suid-Afrika ontdek—onder die, volgens wetenskaplikes, 183 miljoen jaar oue Drakensberg-lawavloei. Dit was tydens padbouwerke in die Golden Gate Hoogland Nasionale Park in die Oos-Vrystaat. Die fossiele is egter so broos dat argeoloë lank huiwerig was om die eiers oop te kap, wat by die Universiteit van Witwatersrand in Johannesburg uitgestal is.

Maar in die jongste tyd het ’n span tog besluit om twee van die ses dinosourus-eiers met die nuutste argeologiese gereedskap te kraak, waaronder miniatuur-hamerbore en fyn tandartsbore onder kragtige mikroskope. Hierna het hulle die wêreld met hul verstommende bevindings verras.

Navorsers van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg, die Universiteit van Toronto, Kanada, en die

BO: 'n Ontleding van die embrionale skelet van die Massospondylus onthul dat hy bes moontlik handeviervoet sou gekruip het nadat hy in die wêreld gekom het.
  
Foto: Robert Reisz, Universiteit van Toronto, Mississauga

  
BO: 'n Illustrasie van hoe die klein ongebore dinosourus in sy eier kon gelyk het. Dit lyk of hy maar bra lomp kon gewees het, terwyl daar min aanduidings van enige tande is.
  
Illustrasie: K. Dupuis, Universiteit van Toronto, Mississauga

 

Smithsonian Institution in die Amerikaanse hoofstad Washington het twee volmaak gevormde embrio’tjies van die dinosourus-spesie Massospondylus carinatus ontbloot. Dié was ’n langnek-plantevreter wat in die laat Trias-tydperk en vroeë Jurassiese era op sy twee groot agterpote rondgedool het om sy kos van die destydse gewasse af te knabbel.

Hy was sowat 4 meter lank van sy stert se punt tot by sy snoet en het omtrent 230 kilogram geweeg. Maar sy kleintjies was aanvanklik baie kleiner—trouens, elk van die ses witterige eiers, wat ietwat ronder as hoendereiers is, is slegs ongeveer 5 sentimeter lank.

En die navorsers vermoed dat die kleintjies se groot koppe te swaar aan die lang nekke kon gewees het vir hulle om sommerso regop te staan pas nadat hulle uitgebroei het. Daarom het hulle allig eers rondgekruip. Robert Reisz van Universiteit van Toronto, wat die navorsingspan gelei het, sê hy kan aan geen ander gewerwelde skepsel dink wat dit doen nie—"buiten miskien ons (mense) en ons is verskriklik onbeholpe nadat ons 'uitgebroei' het!"

Dit lyk voorts of die eierdoppe nie hard was soos latere dinosourus-eiers nie, maar sag en leeragtig soos moderne reptiel-eiers.

Geld vir hierdie navorsingsprojek is bewillig deur die Universiteit van Toronto, die Natural Sciences and Engineering Council van Kanada, die National Geographic Society en die Paleo-Antropologiese Wetenskapstrust van Suid-Afrika.

BO: Twee voorstellings deur kunstenaars van hoe 'n volwasse Massospondylus carinatus kon gelyk het. Die boonste illustrasie is deur Gabriel Lio van die Universiteit van Toronto by Mississauga. Dit is onbekend wie die onderste illustrasie gedoen het.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad