|
IE getrommel, getokkel en gefluit van die tradisionele instrumente
is aan die verstil en die ritmiese voetegestamp op die
Afrika-patroon word al hoe minder gesien... in ’n nuwe tyd waarin
die eentonige geronk van die vuvuzela besig is om die norm te
word...
Musiek en dans in Suid-Afrika is boonop reeds soveel deur veral
Westerse invloede binnegedring dat dit al hoe moeiliker raak om nog
die suiwer tradisionele beoefening daarvan te vind. Tog is musiek
steeds ’n integrerende deel van die swartmense se lewe—en is dit
nodig dat mense van ander kulture in ons land dit altyd sal
verstaan.
Van die wieg tot die graf sing hulle hul liedere, van slaapliedjies
tot liefdesliedere, en van lofliedere tot werksliedere. Die
veewagters se sober veldliedjies of die byna uitdagende dreunsang
van die padmakers met hul pikke is alles deel van hul menswees. In
omstandighede soos die laasgenoemde werk die lyf saam om groter
meelewing met die musiek te bewerkstellig. Net soos by die dans.

BO: Jy sou nie dink dat iets melodieus uit só ’n skedonk van ’n
eiegemaakte ghitaar kan voortkom nie, maar hierdie Pedi-seun reken
blykbaar nie so nie. In sy leefwêreld, soos in dié van die res van
sy mense, beklee musiek immers ’n baie belangrike plek.
Foto:
Kopiereg © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Om breedvoerig te vertel van al die verskillende tradisionele
liedere, danse en musiekinstrumente van al die volkere en stamme in
Suid-Afrika, is ’n onbegonne taak in ’n artikel soos hierdie, want
hele boeke is al daaroor geskryf. Dit sou ook nie deug om net
oorsigtelik daarvan te vertel nie, want dan sou dit nie veel meer as
’n katalogus wees nie. Dit is gevolglik veel beter om een volk te
kies en dié se tradisionele musiek te bespreek.
Baie interessant—maar geensins interessanter as dié van die Zoeloe,
Xhosa, Suid-Sotho of wie ook al nie—is die musiekwêreld van die Pedi
of baPedi (Noord-Sotho).
Die kiba is ’n ou musiekstyl by die Pedi, wat letterlik
vertaal word as “om tyd te hou of te stamp”, soos vertel word in
The Drumcafé’s traditional music of South Africa deur Laurie
Levine. En dinaka, die manlike weergawe van die kiba,
is nie net die oudste tradisionele dansvorm by die Pedi nie, maar
word ook as hul volksdans beskou.
Volgens Laurie Levine se boek vorm groepe dinaka-spelers
orkeste waarin nie minder nie as twaalf instrumente bespeel word.
Soos gesê, bestaan die dinaka-groepe slegs uit mans. Hulle
speel op sogenaamde naka-fluite, terwyl drie van hulle op
vier verskillende soorte tromme speel. Die tromme is óf die
tradisionele maropa óf dié se moderne plaasvervanger die
kiba.

LINKS: ’n Pedi-vrou met ’n maropa-trom. Die dinaka, waarvoor die
maropa ook gebruik word, word egter net deur mans gedans.
Foto
(effens deur ons gewysig) deur W.P. Paff, uit die historiese boek The
Musical Instruments of the Native Races of South Africa deur
Precival R. Kirbey, soos dit met vergunning van die skrywer
oorgedruk is in die Afrikaanse Kinderensiklopedie
Dinaka-groepe
is ensembles wie se bedrewenhede van die een geslag na die volgende
oorgedra word. Kinders ontvang kleintyd reeds ’n naka-fluit
wat hulle leer bespeel terwyl hulle ook die moeilike danspassies
leer bemeester deur eenvoudig die ouer mense na te boots.
Die Pedi se naka-fluite —tradisioneel van riet, maar deesdae
dikwels van metaal—is bes moontlik van die Venda oorgeneem. Volgens
Precival R. Kirbey, skrywer van die ou boek The Musical
Instruments of the Native Races of South Africa, word die
Venda-fluite van bamboes gemaak en die een ent daarvan is dig
verseël
deur ’n natuurlike “lit” van die bamboes. Die eerste witman wat
hierdie soort fluitspel gehoor of ten minste beskryf het, was die
Voortrekkerleier Louis Trichardt.
Op ’n dag in April 1837 is hy met dié soort fluitspel begroet,
feitlik op dieselfde plek waar die dorp Louis Trichardt (Makhado) later
aangelê sou word. Trichardt het sy ervaring van daardie dag in sy
bekende Dagboek opgeteken.
REGS: ’n Jong Pedi-seun blaas op ’n naka ya lethlaka, ’n
rietfluit.
Foto
(effens deur ons gewysig) deur W.P. Paff, uit die historiese boek The
Musical Instruments of the Native Races of South Africa deur
Precival R. Kirbey, soos dit met vergunning van die skrywer
oorgedruk is in die Afrikaanse Kinderensiklopedie
Maar wanneer voer die Pedi dan nou eintlik hul dinaka uit?
Dit gebeur by baie feestelike geleenthede, vertel Laurie Levine, en
daar is selfs sekere groepe wat ’n beroep van hul musiek maak deur
by troues en ander plegtighede op te tree. In die meeste landelike
omgewings waar die baPedi woon, is daar elke week dinaka-byeenkomste,
gewoonlik Sondagoggende naby die hoofman se kraal. Kompetisies word
ook in stedelike gebiede gehou waar mense van die baPedi saamgetrek
is.

BO: Rustig en pastoraal... ’n ou foto van ’n Pedi-kraal.
Foto
uit die ou boek The Bantu Tribes of Southern Africa deur A.M.
Duggin-Cronin
Kleredrag van die dinaka-dansers
DIE
kleredrag van die dinaka-voordragkunstenaars is baie
interessant—des te meer omdat dit, van alle dinge, ’n Skotse invloed
verraai! In die jare veertig en vyftig van die twintigste eeu is
sekeres van die
baPedi so geïmponeer deur die rokkies wat hulle die
doedelsak-spelende Skotse mans sien dra het, dat hulle besluit het
die Skotse rokkie deug ewe goed by hul eie soort fluite. Voor dit
het hulle ’n soort kledingstuk gedra wat hul beenbewegings belemmer
het, en die “kilt” (’n rokkie van geruite materiaal) was die ware
Jakob om dit te vervang.
Die Skotse rokkie word in die dans kenmerkend oor die heupe en boude
rondgeswaai en word selfs stuitig aangewend wanneer hulle met ’n wip
van die bekken verraai dat hulle wel iets onder die rokkie aanhet.
Ander dansdrag van die dinaka-voordragkunstenaars is
allerhande kleurryke dasse, serpe, handdoeke en dies meer om hul
middels. Party dra gekraalde voorskote en ander het kopbande met
volstruisvere.
Hoe
die dinaka gedans word
LAURIE
LEVIN beskryf die dinaka-dansuitvoering as drie of vier
sekwensies met ’n soortgelyke formaat. Die mans vorm rye en begin
eers op hul fluite speel wanneer die leier met sy naka
aandui dat die dans nou begin. Die uitvoerders staan in ’n ry en
beweeg dan ná etlike minute in ’n kring.
Regdeur die dans verander hulle van rigting. Eers dans hulle teen
die gang van die horlosiewysers om die tromme in die middel en kyk
binnewaarts. Dan spring hulle om en kyk uitwaarts om nou weer saam
met die horlosiewysers te dans. Hierna tol hulle weer om met die
gesigte gekeer na die middel van die kring. Die dans eindig wanneer
hulle nader na die tromme beweeg terwyl hul rûe na die tromme
gedraai is.
Tydens die uitvoering breek soliste uit die kring weg om met
lewendige liggaamsbewegings in die middel van die kring te dans.

BO: ’n Vrolike vrou van die Noord-Sotho.
Foto:
Kopiereg © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Die
dans van die vroue
en wat die woord dinaka beteken
WAAR
die dinaka die manlike vorm van die baPedi se ou musiekstyl
die kiba is, is daar volgens die webwerf
Reference.com ook ’n vroulike vorm. ’n Groep vroue sing liedere
(koša, meervoud dikoša), terwyl enkelinge op ouer
lirieke sal improviseer. Hulle word begelei deur tromme (meropa),
wat vroeër van hout was maar tans van olietromme en melkkruike
gemaak word.
Uiteindelik kan ’n mens wonder wat die woord dinaka nou
eintlik beteken. Dit is stellig slegs die meervoudsvorm van naka,
die naam van die fluit. En om die herkoms van die woordjie naka
te vind, is miskien baie moeiliker as om vas te stel waar ons eie
woord fluit vandaan kom! Volgens minstens een bron is
dinaka egter niks anders as bokhorings (die horings van
wildsbokke) nie. Waar voorheen op horings geblaas is, sou dit dus
later seker deur gefabriseerde fluite vervang gewees het.
LINKS: ’n Pedi blaas op ’n sinjaalhoring (phalaphala). Kon so
’n ruwe beuel ’n voorloper gewees het van die naka-fluit?
Die horing lyk eerder na iets soos die oupa van die vuvuzela!
Foto
(effens gewysig) deur W.P. Paff, uit die historiese boek The
Musical Instruments of the Native Races of South Africa deur
Precival R. Kirbey, soos dit met vergunning van die skrywer
oorgedruk is in die Afrikaanse Kinderensiklopedie
Om tot die onsekerheid by te dra, bied die webwerf
Africa.Eduprojects.net weer die volgende verduideliking oor die
herkoms van die woord dinaka: Hierdie
soort musiek sou volgens oorlewering glo ontstaan het by ’n man wat
baie lank gelede gelewe het en wie se naam Dinaka was. Hierdie
Dinaka het baie van dans en sing gehou en instrumente gemaak wat
spesiaal vir sy musiek ontwerp is. Daar word vertel dat wanneer hy
sy musiek gedans en gesing het, die mense van sy dorpie om hom
saamgedrom het om te kyk en te luister. En toe Dinaka sterf, het hy
as ’t ware in sy musiek bly voortlewe.
Nou ja, al wat ons vir seker weet, is dat dinaka niks te doen
het met dié Naka wat tot ’n aantal jare gelede ’n beroemde
Vrystaatse rugby-Springbok was en daarna die Cheetahs se afrigter
geword het nie! |