Wêreld van die skubberige gedrogte 
Reptiel-rondomtalie

 Die vier reptielordes

Ons doen die rondte van vader Cloete by die vier reptiel-ordes*) wat nog in die wêreld oor isen ontdek dat hulle die nietige oorblyfsels is van ’n magtige werweldier-klas wat baie, baie eeue gelede in die aarde se prille jeug bestaan het...

*) Orde is in die dierkundige en plantkundige klassifikasie daardie groep wat onder ryk, stam en klas is en bokant familie, geslag en spesie.

E

ENMAAL, lank, lank gelede het hulle in hul grillerige menigtes oor die aarde geskarrel—die ongelooflik reusagtige en fantastiese dinosourusse, plesiosouriërs, igtiosouriërs, monosouriërs, plakodonte en al sulke afskuwelike “drake”.

In hul stomende hahitats het hulle oorlewe deur moerasplante te verslind of selfs deur mekaar te verskeur. Vandag praat die geleerdes van daardie tyd—die sogenaamde Mesosoïkum—as die “Eeu van die Reptiele”.

Ons hedendaagse reptiele is ’n nietige oorblyfsel van dié gruwelike glorieryk van weleer.

Die sestien ordes van die werweldier-klas Reptilia het gekrimp tot ’n skamele vier. Hierdie vier ordes is: Crocodilia (die krokodilagtiges), Chelonia (die skilpaaie), Squamata (die slange en akkedisse) en Rhynchocephalia (slegs verteenwoordig deur twee spesies tuatara-akkedisse van sekere Nieu-Seelandse eilande). Daar is vandag saam sowat 6.000 soorte reptiele op aarde, wat dalk nie min klink nie, maar ’n druppel aan die emmer is in vergelyking met al die hordes wat die aarde in ons planeet se prille jeug bewandel het.

Maar wat se ding is ’n reptiel werklik? Wel, vir eers is hy gewerweld, dit wil sê hy het ’n ruggraat soos ek en jy. Dog hierdie kruipende diere verskil van ander gewerweldes deurdat hul vel met ’n spesifieke horingagtige opperhuid van droë skubbe bedek is. Die stuktuur van die skubbe verskil van dié van visse en, anders as amfibieë, het reptiele min of geen kliere in hul vel nie.

Reptiele vervang hul skubbe regdeur hul lewe. Party soorte doen dit aanhoudend, terwyl ander dit met die wisseling van die jaargetye doen. ’n Slang werp met een slag al sy ou skubbe af wanneer hy “vervel”. Daarteenoor raak die krokodilagtiges, skilpaaie en akkedisse in die reël een-een of kol-kol van hul ou skubbe ontslae.

Geleerdes is ook betreklik seker dat reptiele regtig “nie veel tussen die spreekwoordelike ore het nie” (reptiele soos slange het in elk geval nie ore nie). As jy nog altyd gedink het ’n esel is darem lekker dom, moet jy ’n slag oplees oor die krokodil se “primitiewe” verstand. En het jy al ooit ’n skilpad probeer leer om jou hartlik met sy voorpoot te groet soos jou Malterserhondjie maak? Dis ’n onbegonne taak. Reptiele se breine is dan ook in verhouding baie kleiner as dié van soogdiere van dieselfde grootte.

Boonop is reptiele koudbloedig. Anders as die warmbloedige voëls en soogdiere, kan hulle nie hul eie liggaamstemperatuur reguleer nie en word hulle regstreeks beïnvloed deur die temperatuur van die omgewing. Daarom sal byvoorbeeld ’n koggelmander ná ’n koue nag eers in die oggendson op ’n klip lê en “ontdooi” voordat hy genoeg opgewarm het om sy dagtaak te vervul. Reptiele slaap ook meestal hul dae om wanneer dit koud is.

Reptiele het longe en haal asem soos ons. Oë is gewoonlik aanwesig, maar by grawende soorte is die oë baiemaal verberg. Maar ogies word wel behoorlik vir die wyfies gemaak wanneer sekere pronkerige mannetjies die teenoorgestelde geslag wil imponeer. Party akkedis-bruidegomme ontbloot hul helderkleurige liggaamsdele vir hul bruide, terwyl sekere nag-geitjies paringsroepe uiter.

Alligator-mannetjies brul, ’n gedrag wat vermoedelik met hofmakery en paring verband hou. By sekere waterskilpaaie tril die kloue aan die mannetjie se voorpote wanneer hy sy begeerde wyfie se kop streel, terwyl slangmannetjies met hul kenne oor hul wyfies stryk voordat hulle paar. Bevrugting geskied inwendig.

Die meeste reptiele lê eiers, hoewel daar sekere slange en akkedisse is wat hul kleintjies lewend in die wêreld bring. Reptieleiers verskil van dié van amfibieë (soos paddas) deurdat hulle spesiale vliese en ’n dop het wat help keer dat die embrio uitdroog in ’n droëland-omgewing waar daar moontlik min vog is. Die dooier (geel gedeelte) in ’n reptieleier is groot en verskaf voeding aan die embrio regdeur sy ontwikkelingstyd.

Reptiele gee gewoonlik geen snars om vir hul kleintjies nie. Nadat haar eiers gelê is, byvoorbeeld onder die sand waar die son dit moet warm bak, kry die wyfie sorgeloos koers sonder om ’n oomblik daaraan te dink of haar babas uiteindelik na haar of na hul pa gaan aard of dalk hul ouma se bekoorlike grynslag gaan erf!

’n Jong reptiel groei vinnig tot volwassenheid nadat hy uitgebroei het. By die meeste reptiele duur die grootwordtyd minstens ’n jaar, maar baie soorte skilpaaie ontgroei eers hul kinderskoene ná verskeie jare. Reptiele kan ook horingoud word, veral die skilpaaie, waarvan ouderdomme van meer as 150 jaar al opgeteken is.

MODERNE reptiele wissel in grootte van slangetjies en akkedissies kleiner as ’n mens se handbreeedte tot yslike krokodille en groot luislange van by die tien meter. ’n Leerskilpad kan langer word as ’n volwasse man en so swaar weeg soos ses of meer mense. Die grootste akkedis is die Komodo-draak, wat langer as drie meter kan word—beslis groot genoeg om ’n mens te beseer.

Die kop van ’n skilpadREGS: Hy lyk horingoud—en bes moontlik is hy. Die kop van ’n landskilpad, wat saam met sy verwante tel onder die groepie diere wat sommer baie somers kan oorlewe. Party spesies lewe langer as ’n eeu.

Foto: DLS / USFWS

Die reptiel se sintuie vir sig, reuk en gehoor stem ooreen met dié van ander gewerweldes, maar die vlakke waarop dit funksioneer, wissel by verskillende reptielgroepe. Slange het, soos ons gesien het, geen ore nie, en hulle kan slegs sekere trillings in die grond en lug aanvoel. Slange en akkedisse het wel ook ’n gespesialiseerde reukorgaan (die sogenaamde orgaan van Jacobson) in die verhemelte. Hulle lek-lek gedurig aan die lug en die grond, en wanneer die tong terug in die bek is, pas die gevurkte punte in die reukorgaan. Op hierdie wyse kan hulle hul uitkennings met slegs enkele mikroskopiese klein reukdeeltjies maak.

Reptiele beweeg op verskillende maniere, afhangende van onder meer hul habitat en die aan- of afwesigheid van sekere ledemate. Party slange en pootlose reptiele beweeg deur hul buikskubbe aan ruwe oppervlakke te heg en hulself vorentoe te trek. Ander soorte slange beweeg weer deur ander soorte aksies van die liggaam. Waterskilpaaie het webpote waarmee hulle swem. Geen moderne reptiel kan vlieg nie, maar sekere tropiese slange en akkedisse het ’n manier om hul lywe plat te maak en dan uit hoë bome te sweef.

Reptiele is meestal vleisvretend en vang lewende prooi of aas op dooie diere. Krokodille kan selfs mensvreters wees. Ander, soos ons eie bekende landskilpaaie, vreet bossies en ander soort plante.

Die jagters onder die reptiele het verskillende aanvalswapens, soos een soorte snapskilpad van Amerika wat ’n tong het wat soos ’n erdwurm lyk. Hy gebruik dit om mee te hengel en visse na sy wagtende bek te lok. Ons bekende trapsuutjies gebruik weer sy klewerige tong as aanvalswapen teen insekte—en sy vermoë om van kleur te verander as ’n verdedigingsmeganisme.

Die meeste reptiele byt wanneer hulle bedreig word. Skilpaaie kruip weer letterlik in hul dop. Party slange skei ’n nare reuk af om vyande af te skrik. Die mens het hoeka geleer dat jy nie sommer met die “drake” sukkel nie, want al spuug hulle nie rêrig vuur soos die drake van die sprokies nie, is en bly die reptiele maklik die venynigste gespuis wat daar is!


  DIE VIER ORDES 

Die krokodilagtigesCrocodilia

TOT die orde van die krokodilagtiges behoort die krokodille, alligators, Amerikaanse kaaimanne en die gaviale. Buiten die alligators, wat in China en die suidooste van die Verenigde State woon, lewe die krokodilagtiges in die wêreld se tropiese en subtropiese streke. Hulle is almal amfibies (lewe op land, sowel as in die water). ’n Omvattende artikel oor “ou Krok en sy neefs” verskyn elders op hierdie CD-ROM. Klik hier om dit te lees.


Chelonia

Die skilpaaieDAAR is vandag nagenoeg 250 skilpadspesies—in die orde Chelonia—en hulle behoort tot twee onderordes, naamlik die Cryptodira, met tien families, en die Pleurodira, met twee families. Die meeste—waaronder die seeskilpaaie, landskilpaaie en die meeste varswaterskilpaaie—behoort tot die onderorde Cryptodira. Die Pleurodira-skilpaaie word synek-skilpaaie genoem omdat hulle hul nek sywaarts buig om dit in die dop in te trek en nie agteruit soos die res nie. Ons bekende landskilpaaie is plantevreters, maar daar is ook vleisvreters en vleis-en-plantevreters onder die skilpaaie. Hulle is tandelose horingbek-reptiele en wissel in grootte van omtrent ’n handlengte tot langer as twee meter. Die praktyk van sekere mense om landskilpaaie langs ons paaie op te tel en saam met hul huis toe te neem, is nie net onwettig nie, maar sulke mense is ook besonder onbedagsaam. Skilpaaie word baiemaal só uit hul hougebied in die vrye natuur verwyder om in ’n totaal ander klimaat in ’n kampie in ’n agterplaas aangehou te word. Daar vrek hulle mettertyd weens die veranderde habitat... as die gesin se hond hulle nie voor dit reeds met dop en al opvreet nie.


Akkedisse en slangeSquamata

DIE meeste reptiele behoort tot die orde Squamata, wat meer as 2.500 slangspesies (onderorde Serpentes) en meer as 3.000 akkedissoorte (onderorde Sauria) insluit. Slangspesies is versprei oor meer as ’n dosyn families en sekeres is giftig. Trouens, talle mense—ook in Suid-Afrika—is reeds oor al die eeue heen van slangbyt dood. Die goeie nuus is darem dat, van die tientalle inheemse soorte wat al in ons land beskryf is, goed driekwart óf heeltemal onskadelik is óf so weinig giftig is dat hul byt ’n mens hoegenaamd nie kan doodmaak nie. Oor die aarde se slange kan jy meer lees in ’n omvattende artikel op hierdie CD-ROM deur hier te klik. Die akkedisse wat vandag nog op die aarde aangetref word, word in sestien families geplaas. Die enigste gifakkedisse op aarde is die sogenaamde Gila-monster van die suidweste van die VSA en ’n ander een van die noorde van Mexiko.


Die tuataras

Rhynchocephalia

DIE orde Rhynchocephalia bevat ’n enkele lewende familie met slegs twee spesies van die tuatara, die enigste oorlewendes van ’n orde wat volgens die wetenskaplikes in die sogenaamde Jurassiese tydperk op die aarde gefloreer het. Die tuataras is akkedisagtige alleenlopers wat tot ’n paar rotsagtige eilande in Nieu-Seeland beperk is. In die dag skuil hulle in ondergrondse gate en snags kom hulle uit om te vreet. Hulle verskil van die meeste reptiele deurdat hulle koue kan verduur. Die tuatara word nie baie groot nie—slegs omtrent sestig sentimeter lank—maar hy kan stokoud raak. Hy bereik gewoonlik eers oor vyftig, sestig jaar sy volwasse grootte en kan selfs nagenoeg ’n eeu lank lewe. Hy vreet voëleiers, insekte en ander klein diertjies soos akkedisse en slakke. Wyfies lê in die lente tot vyftien eiers. Daar is ’n pineale (derde) oog tussen die tuatara se twee normale oë.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad