Die taal van die diere: die interessante maniere waarop die redelose skepsels met mekaar kommunikeer

 

Hond se gedagtes

(en hoe hy dié gedagtes met ander honde deel)

 

Hondjie

 

Foto: MED / US NAVY

 

Hierdie artikel is ’n nuttige samevatting van inligting oor  diere-kommunikasie wat in verskeie ander artikels op die Mieliestronk-werf verskyn. Verskillende skakels lei die leser na die ander bladsye waar meer oor bepaalde onderwerpe gelees kan word...

G

LO dit, diere “praat” met mekaar. Goed, hulle kommunikeer nie soos ons mense wat liggaamshoudings en -tekens sowel as gesproke woorde gebruik om ons gedagtes en gevoelens aan mekaar oor te dra nie.

 

Menslike tale is dan ook baie, baie ingewikkelder as enigiets wat ons by die diere sal vind. Daar is ’n beredeneerdheid en abstraktheid in menslike spraak wat hemelsbreed verskil van enige soort kommunikasie wat selfs by “slim” diere soos sjimpansees aangetref word.

 

Maar op verskillende vlakke ruil diere tog inligting onder mekaar uit, en op die vernuftigste maniere, veral waar hierdie soort gedrag noodsaaklik is vir voortplanting of om tot die ordelike samesyn binne ’n geslote groep of trop by te dra.

 

Dat selfs miere in staat is om ewe bedrewe te “gesels”, was die oortuiging van die Amerikaanse bioloog wyle Lewis Thomas (1913-1993). Hy het op ’n keer geskryf: “Miere is so baie soos mense dat dit eintlik ’n verleentheid is. Hulle … ruil onophoudelik inligting uit. Hulle doen alles buiten om televisie te kyk.”

 

Miere gebruik chemiese seine om vinnig groot getalle enkelinge vir sekere take op te roep, om papies te vervoer, kos op te berg of aanvallers af te weer. Lees alles hieroor in ons subartikel onderaan hierdie bladsy op die Mieliestronk-werf.

 

BAIE diere kommunikeer deur middel van reuk. Talle stel chemikalieë genaamd feromone vry in die lug waardeur hulle inligting aan ander diere van dieselfde soort verstrek. Feromone speel ’n belangrike rol in reproduksie en ander sosiale gedrag, en hulle word vry deur ten minste sekere insekte afgeskei. Daar word vertel dat byvoorbeeld wolwe, takbokke en,  ja, ook mense feromone vrystel vir ’n subtiele manier van kommunikasie.

 

Anders as by die skoenlappers (wat bedags rondvlieg en waarvan die mannetjies en wyfies mekaar aan die patrone en vorms van hul vlerke herken) is die naglewende motte besonderlik op reuk ingestel wanneer dit by paring kom. In die paartyd gee die wyfie ’n “parfuum” af wat die mannetjies na haar toe lok en met die reuk van ’n lemoen, sjokolade of sigaarbokshout vergelyk word. ’n Mannetjie kan ’n wyfie vind wat tot 2 km ver van hom af weg is, word gemeen, selfs in gebiede waar die lug erg besoedel is!

 

Trouens, die hofmakery van diere sorg vir die interessantste maniere van kommunikasie onder ons redelose vriende in die natuur. Daarvan word in besonderhede vertel in Die Mieliestronk-artikel by hierdie skakel.

 

Die mannetjie van die vioolspelerkrap, byvoorbeeld—met sy een, uiters vergrote klou—gebruik dit om ’n wyfie se aandag te trek en haar na sy gat te lok. Hy waai met sy klou om ander mannetjies te waarsku om uit sy gebied weg te bly, anders gebruik hy dit om hulle by te kom.

 

Maar die hofmakery van die voëls is die skouspelagtigste van dié van al die diere. Net een voorbeeld: Die gompou-mannetjies op die grasvlaktes van Afrika voer ’n indrukwekkende dans met trillende krete uit wanneer hulle kom vry. Die wyfies staan by om te kyk en te beoordeel. Wanneer hulle die beste danser gekies het, gaan sit hulle voor hom. Net hy sal ’n pa wees.

 

NOG ’n rede waarom diere dit nodig vind om boodskappe aan mekaar te gee, is om aan hul medediere te vertel waar kos of voedselbronne te vinde is. Die fassinerende manier waarop heuningbye met ’n dans in die vorm van die syfer 8 vir ander bye aandui waar ’n bron van nektar is, word volledig in die Mieliestronk-artikel oor heuningbye beskryf.

 

Voorts waarsku diere in troppe mekaar wanneer gevaar dreig. Wanneer die honde op ’n ry in die straat af begin blaf vir ’n aankomende fietsryer, kef hulle maar net saam in die koor omdat hulle mekaar aanhits.

 

Die kangaroes van Australië stamp byvoorbeeld weer met hul agterpote om ander kangaroes bedag te maak op ’n bedreiging. Bobbejane in ’n trop is op hul beurt baie afhanklik van hul brandwag, wat gedurig ’n wakende oog moet hou om sy onderdane te beveilig—iets waaroor meer gelees kan word in ons artikel oor die burgers van die berge. Die brandwag se skielike, vermanende bôgom sal die trop dadelik in veiligheid laat wegskarrel.

 

In einste die bobbejaantrop geld ook ’n ingewikkelde rangorde waarin dit kardinaal is om onderling te moet kommunikeer—al behels dit baiemaal net dat hulle mekaar knyp of bevoel of vertroetel of “vlooie vang” (eintlik die sout van mekaar se velle afknyp om te vreet).

 

In der waarheid kan die tropgenote uit ’n doodgewone “gesprek” tussen twee enkelinge aflei wie baas en wie Klaas in die bepaalde bobbejaan-verhouding is. Sodra ’n adoons van ’n lae klas ’n eerbiedwaardige kees uitdaag, toon die trop ’n buitengewone belangstelling in die onderonsie. As dit tot ’n geveg lei, kan ’n uitslag in die guns van verdrukte immers die rangorde ingrypend beïnvloed.

 

SOSIALE gedrag en onderlinge blyke van afkeer of toegeneentheid by diere neem ander interessante vorms aan. Soos mense raak sjimpansees aan mekaar se hande wanneer hulle mekaar groet. Perde speel neusie-neusie as hulle van mekaar hou. Kameelperde druk hul nekke teen mekaar. Olifante vleg hul slurpe saam. Prêriehonde ontbloot hul tande en druk hul bekke teen mekaar om vas te stel of hulle vriende of vyande is.

 

Honde strek hul voorpote voor hulle uit en laat hul lywe sak wanneer hulle wil speel. Gorillas steek hul tonge uit om te wys hulle is kwaad.

 

In die opvoeding van jong diere is kommunikasie met die ouers eweneens van lewensbelang waar die kleintjies nie dadelik op eie beentjies kan staan nie. Dink maar aan die voëls.

 

Wanneer een voëlouer byvoorbeeld met kos na die nes terugkeer, gaap die kuikens se bekkies wawyd oop. Hierdie reaksie word aangestig deur die geritsel van vere of vibrasies wat die volwasse voël op die nes maak. As die kuikens dalk slaap en nie hul bekke oopmaak nie, sal die ouer ’n roep gee om hulle wakker te maak. Meer oor hierdie soort dieregedrag word vertel in die Mieliestronk-artikel oor hoe jong voëls grootword.

 

DIERE “praat” boonop deur middel van kleure. ’n Boeiende voorbeeld is die mandril-mannetjie van Guinee, wat ook die woudduiwel genoem word. Wanneer die gewoonlik vaal Adoons verlief raak, verander hy in ’n Adonis, onweerstaanbaar vir die wyfies. Sy neus raak ál rooier en sy wange ál blouer, en flambojante rooi kolle slaan op sy gewrigte en enkels uit. Ook wanneer hy kwaad raak, kry die mandril-mannetjie kleur op kleur.


’n Klassieke verwisselaar van kleur is natuurlik die trapsuutjies. Sy ruwe vel is dikwels ’n dowwe bruingroen, maar die kleur kan verander wanneer hy skrik of in antwoord op honger of veranderings in die lig, temperatuur en ander dinge in sy omgewing. As hy dus kleur gebruik hom te kamoefleer, wil hy juis NIE kommunikeer nie!

 

Maar party natuurkenners reken dat die kleurveranderings op die koop toe help met die sosiale kommunikasie van trapsuutjiese van dieselfde spesie. Dié reptiele sou naamlik by tye opvallende kleurpatrone vir ander trapsuutjiese flits, terwyl hulle op ander tye weer gekamoefleer lyk.

 

Ja-nee, die dinge van die diere is beslis nie die dinge van mense nie.


Stuitige stertjie


Hond met keil op die kop “gesels” met leeu


 

Krediet: prent en foto van bronne waar dit as gratis of openbare besit aangedui word (“in the public domain”)

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad