DIARREE

Die vele fasette van
maagpyn

 

 

BO: ’n Beeld wat deur middel van die skandeer-elektron­mikroskoop verkry is, en met kleur versterk is, van die organisme Salmonella typhimurium (rooi) wat gekweekte menslike selle binnedring. Bakterieë van die Salmonella-groep is meestal die groot sondaars sover dit die verwek­king van diarree aangaan.

 

Krediet: Rocky Mountain Laboratories NIAID / U.S. National Institutes of Health

Miskien is jy ook iemand met wie dit gereeld in die lente gebeur—die appelkose hang nog groen aan die bome, maar jy kan nie wag totdat hulle sappig, blosend en volryp raak nie. Omdat jy jou lus eenvoudig nie kan bedwing nie, pluk jy ’n paar groen vrug­gies af en eet hulle. Kort voor lank draf jy  in die hoogste ver­snelling rond weens ’n omgekrapte maag. Jy het diarree en dink dalk dis “appelkoos­maag”. Maar nee, jy moenie nood­wendig die groen appelkose blameer nie. Tien teen een moet jy liewer te velde trek teen die verpestelike huisvlieë, wat uit hul winterslaap ontwaak het en ongevraagd besig is om hul Salmonella-kieme te strooi. Of dalk is dit ook nie die vlieë nie—want diarree het immers ’n swet­terjoel verskillende oorsake...

 

DIE woord diarree kom van ’n samevoeging van die Griekse woorde dia (deur) en rheo (stroom). Voeg daarby die woorde buikloop of sommer platweg maagwerking—die ou mense se name vir diarree—en jy het reeds ’n goeie begrip van wat dit in der waarheid is: ’n maag wat hewig aan die “loop” is, met ander woorde ’n oorvloedige, wateragtige ontlasting wat meebring dat die lyer kort-kort die badkamer moet opsoek.

 

Diarree is nie een spesifieke siekte nie, maar word deur baie verskillende dinge veroorsaak. Dit is nietemin raadsaam dat ons sal onderskei tussen diarree wat akuut is en chroniese diarree.

 

In alle gevalle is dit geen aandoening wat ligtelik opgeneem of weggelag behoort te word deur die mense naby aan die lyer nie. Diarree kan selfs lewensgevaarlik wees.

 

Akute diarree

AKUTE diarree word opgedoen by die eet van kosse wat gifstowwe bevat of weens skadelike organismes in die kos. Organismes van die Salmonella-groep is meestal die groot sondaars.

 

REGS: Selle van die bakterie Salmonella enterica , wat in eiers voorkom en ’n mens kan siek maak as die eiers rou of halfgaar geët word. Die meeste gevalle van Salmonella-vergiftiging is as gevolg van kos wat met S. enterica besmet is.

 

Foto: PJ Guard-Petter / ARS / USDA

 

 

Die besmetting kan plaasvind by partytjies, onthale en in inrigtings waar nie alte skoon met kos gewerk word nie. Mense wat in die buiteland toer en daar blootgestel word aan vreemde organismes waarmee hul gestelle nie vertroud is nie, kry weer maklik die sogenaamde “reisigersdiarree”.

 

Waar akute diarree weens voedselvergiftiging opgedoen word, begin die buiklopery gewoonlik binne ’n halfuur tot drie uur nadat die besmette kos of vloeistof ingeneem is. Dit gaan gepaard met maagpyn en die lyer kan ook braak.

 

’n Vinnige verswakking kan ook intree omdat die lyer se liggaam ontwater en ontsout.

 

Vergiftiging in ’n ernstige graad deur slegte vleis, vis, vrugte, ensovoorts kan senuverlamming veroorsaak en dit word botulisme genoem. Die simptome van diarree verskyn nie altyd binne slegs drie uur nie. Trouens, sogenaamde basillêre disenterie, wat deur organismes van die Shigella-groepe verwek word, kan eers sy kop uitsteek 12 tot 72 uur nadat die lyer besmet is.

 

LINKS: Sindelikheid is die wagwoord sover dit die voorkoming van diarree aangaan. Was jou hande gereeld, veral as jy met kos werk en ook voordat jy gaan eet.

 

Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention

 

Diarree is ’n laat simptoom by ernstige siektes soos maagkoors, tering of kanker van die dermkanaal. Dit is prominent by ’n siekte soos cholera.

 

Mense met ’n sogenaamde spastiese kolon kan om die beurt hardlywig wees en dan weer diarree hê. Sekere mense se mae kan ook nie juis breëspektrum-antibiotika duld nie en hulle reageer dan daarop met maagpyn en diarree.

REGS: Salmonella-organismes maak hulle ook tuis in diere. Salmonella enterica subspesie enterica serovar Infantis (waarna verwys word as S. Infantis) kom plek-plek by plaasdiere voor.

 

Krediet: PHIL / U.S. Centers for Disease Control and Prevention

 

Die behandeling van akute diarree

VIR lyers aan voedselvergiftiging en reisigersdiarree kan die dokter medisyne teen naarheid en dermkrampe en middels vir die vermindering van die dermsametrekkings voorskryf. Vloeistof en elektroliete (kyk later in hierdie artikel) kan mondelings aangevul word, maar dit kan ook binneaars gedoen word, indien nodig.

 

Die pasiënt sal aangesê word om weg te bly van enige voedsel wat sterk gegeur en vetterig is.

 

Dit kan partymaal bloot nodig wees om die maag enkele dae lank ’n ruskansie te gee—om dit so te stel—en in dié tyd van die spreekwoordelike liefde en koue water te lewe! Goed, miskien is hierdie voorskrif ’n rapsie te ligsinnnig, maar ’n inname vir ’n tydjie van slegs water, koeldrank en vrugtedrankies kan dalk net die ware Jakob wees om die maag weer doodreg te laat funksioneer.

 

Moenie melk aan ’n baba gee as die suigeling diarree het nie. Gooi net gekookte water in sy melkbottel en hoor eers wat sê die dokter. Onthou dat akute diarree babas, jong kinders, verswakte mense en grysaards baie gou kan laat ontwater en moet dus nie talm om hulle by ’n dokter te kry nie.

 

As die ontlasting baie is en deur ongevormde, waterige, groen en slymerige of bloederige stoelgange gekenmerk word, is dit ’n besliste rede tot kommer en moet die hulp van ’n mediese kenner onverwyld ingeroep word. Dit is dikwels nodig om ontwatering met binneaarse toedienings teen te werk.

 

Chroniese diarree

DAAR is talle toestande wat aanhoudende waterige ontlasting veroorsaak en die kern van die probleem lê nie noodwendig altyd in die spysverteringskanaal nie. Enkele voorbeelde van die aanstigters van chroniese diarree is dikdermkanker, wurmbesmetting, arseen- en ander vergiftigings, tering van die dermkanaal, voedsel-onverdraagsaamheid en dermprikkelbaarheid. Tot senuspanning kan ’n oorsaak wees, of selfs langafstandshardloop. Dit is dan nodig om die kwaal by sy wortel te behandel.

 

Hier moet ’n ernstige waarskuwing gerig word aan fanatieke gesondheidsbewustes wat glo dat hulle gereeld hul liggame met purgeermiddels moet suiwer. Die uiteinde van die saak kan wees dat hulle aan die purgeermiddels verslaaf raak—met al die vanselfsprekende nadele wat hieraan verbonde is. Hou die liggaamswerkinge gereeld met baie water en veselryke kosse, maar gebruik purgeermiddels uiters spaarsaam.

 

Moderne medici frons vandag ook diep oor die gewoonte van ons voorgeslagte om die kinders kort-kort ’n lepel kasterolie uit die “bloubottel” in te jaag, baiekeer selfs op die nugter maag. Kasterolie is ’n gif, sê hulle. En dit kon ernstiger skade aan die kinders gedoen het as die “appelkoosiekte” wat hulle taks in die lente, weens die herontwaking van die morsige huisvlieë, op ’n streep na die “gemakshuisies” laat aantou het.

   

In ’n neutedop—’n paar algemene
oorsake van diarree


Bron: Digestive Diseases / U.S. National Institutes of Health

 

•   Bakteriese infeksies. Verskeie soorte bakterieë wat deur besmette kos of water ingeneem word, kan diarree veroorsaak. Onder die groot sondaars is onder meer Campylobacter, Salmonella, Shigella en Escherichia coli (E. coli).

 

REGS: Shigella-bakterieë. Sogenaamde basillêre disenterie, wat deur organismes van die Shigella-groepe verwek word, kan tot 72 uur nadat die lyer besmet geraak het eers sy kop uitsteek.

 

Foto: PHIL / U.S. Centers for Disease Control and Prevention

 

 

•   Virusinfeksies. Talle virusse veroorsaak diarree, waaronder rotavirus, Norwalk-virus, cytomegalovirus, herpes simplex-virus en virale hepatitis.

 

•   Voedsel-onverdraagsaamhede. Party mense is nie in staat om sekere bestanddele van kosse soos kunsmatige versoeters en laktose te verteer nie. Laktose is die suiker wat in melk voorkom.

 

•   Parasiete. Parasiete kan die liggaam binnedring by wyse van kos of water en hulle in die spysverteringstelsel tuis maak. Parasiete wat diarree veroorsaak, sluit in Giardia lamblia, Entamoeba histolytica en Cryptosporidium.

 

•   Reaksie teenoor sekere soorte medisyne. Antibiotika, middels teen bloeddruk, kankermiddels en teensuurmiddels wat magnesium bevat, kan almal diarree by sekere mense verwek.

 

•   Siektes van die ingewande. Inflammatoriese ingewandsiekte, colitis, Crohn se siekte en seliaksiekte lei dikwels tot diarree.

 

•  Funksionele ingewandskwale. Diarree kan ’n simptoom van prikkelbaredermsindroom (PDS) wees.

 

Tekens van ontwatering (dehidrasie)

DIARREE kan, soos ons hoër op in hierdie artikel gesien het,  dehidrasie oftewel ontwatering meebring. Dit beteken dat die liggaam te veel vog en elektroliete verloor het en nie meer behoorlik kan funksioneer nie. Ontwatering is veral gevaarlik by kinders en bejaardes en moet dadelik behandel word om ernstige gesondheidsprobleme te voorkom.

 

Tekens van ontwatering sluit in:

  • dors

  • minder dikwelse urinering

  • ’n droë vel

  • tamheid

  • lighoofdigheid

  • donkerkleurige urine

Tekens van ontwatering by kinders sluit in:

  • droë mond en tong
  • geen trane wanneer die kind huil nie
  • drie uur of langer geen nat babadoek nie
  • versonke buik, oë of wange
  • hoë koors
  • lusteloosheid of prikkelbaarheid
  • vel wat nie plat word wanneer dit geknyp en laat los word nie

Ontbied dadelik die dokter wanneer ontwatering by ’n kind vermoed word. By erge dehidrasie kan dit dalk nodig wees om die pasiënt in die hospitaal te laat opneem.

Die voorkoming van ontwatering

DIE vog en elektroliete wat weens diarree verlore gaan, moet onverwyld vervang word omdat die liggaam nie daarsonder kan funksioneer nie. Elektroliete is die soute en minerale wat verband hou met die hoeveelheid water in jou liggaam, spierwerking en ander belangrike werkinge.

Hoewel water uiters belangrik is vir die voorkoming van dehidrasie, bevat dit nie elektroliete nie. Kragsop en ander soorte sop wat natrium bevat, en vrugtesappe, sagte vrugte of groente wat kalium bevat, help om die elektrolietvlakke te herstel. Oplossings teen ontwatering wat oor die toonbank gekoop kan word, is ook goeie elektrolietbronne en word veral vir kinders aanbeveel.


 

Belangrik: Hierdie artikel is slegs bedoel om toeligtend te wees en kan nie ’n besoek aan jou dokter of ’n ander mediese kundige vervang nie. Mieliestronk.com kan ook nie verantwoordelik gehou word vir enige benadeling van enigiemand, gewaand of werklik, wat miskien kan spruit uit die navolging van raad wat in hierdie artikel vervat is nie.

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad