| HY'S
byna vyf sentimeter breed en is in die vroeë jare negentig in die
destydse Zaďre (Demokratiese Republiek van die Kongo) in Midde-Afrika
gevind... ’n klont van ’n diamant wat jou asem kan wegslaan.
Die internasionale
diamantgroep De Beers het die ongeslypte steen op die ope mark gekoop, vyf
vakmanne het daaraan gewerk en net voor die eeuwisseling is die steen as
die Millennium Star in Londen onthul—’n skitterende pragstuk van 203
karaat en van onskatbare waarde.
Dit is in die Londense
Millenniumkoepel vertoon, en daar was teen die einde van 2000 selfs ’n
gewaagde poging om dit te steel! Maar die Britse polisie het hierdie
poging netjies gefnuik. ’n Astrante bende is vinnig vasgevat, wat
met grondverskuiwingstoerusting in die koepel wou inbreek om die Star saam
met ander diamante vas te lę.
Niemand minder nie as
Harry Oppenheimer, afgetrede voorsitter van De Beers, het die Millennium
Star al bestempel as die pragtigste diamant wat hy nog ooit gesien het. As
die juweel werklik gesteel was, kan ’n mens wonder hoe die diewe ooit daarvan
ontslae sou raak. Om só ’n onbetaalbaar duur steen van die hand te sit,
is selfs in die sluikhandel omtrent onmoontlik, tensy ’n mens dit opsny
in kleiner steentjies, wat nie naastenby saam so waardevol sal wees nie.
Die aanvanklike
luisterryke onthulling van die Millennium Star was nogtans nie sonder kritiek nie. Een
invloedryke Britse koerant het geskryf die diamant versinnebeeld die
“Hollandse siekte”—ryk lande se plundering van arm lande se minerale
hulpbronne.
Wat ook al oor hierdie
beskuldiging gesę kan word, dit bly natuurlik ’n feit dat diamante die
moderne mens bly bekoor net soos in die vroegste tye. Ander juwele kan
verblindend skitter en selfs glas en kwarts kan geslyp word om verstommend
baie na diamante te lyk, maar die kosbare edelgesteente van suiwer
gekristalliseerde koolstof bly steeds die koning van minerale.
Die Millennium Star
dwing ’n mens dan ook eintlik om na ander beroemde diamante te kyk, na die
węreldbekende mense wat hulle gedra of besit het, na die geskiedenis van
die diamantbedryf en hoe diamante ontstaan het en gedelf en geslyp word. Die
verhaal van diamante is immers een van die fassinerendste stories van
mineraalvorming, maar ook van menslike praalsug...
 |
LINKS:
Die legendariese aktrise Marilyn Monroe met die Moon of Baroda,
wat sy in die rolprent Gentlemen Prefer Blondes gedra het. In dié
musiekprent is die lied Diamonds Are A Girl's Best Friend gesing. |
|
REGS:
Elizabeth Taylor as ’n jong aktrise met die Taylor-Burton-diamant,
wat die akteur Richard
Burton
in 1972 vir haar gegee het ten tyde van hul onstuimige en veelbesproke
verhoudings (hulle is twee keer getroud) van ’n dekade of vier gelede.
Die
Taylor-Burton is geslyp uit ’n ruwe diamant wat in 1966 in
Suid-Afrika se Premier-myn gevind is en is eers die Cartier
genoem.
|
 |
Diamant—die boetie
van roet
’N
MENS
kan—as jy skatte het om te verbrand—jou diamante in ’n baie warm oond
steek en dan kyk wat gebeur. Teen 763ş C begin jou blinkes in ’n helder
gloed vergaan. Klaar gebrand, bly daar nie eens ’n hopie as van hulle
oor nie; daar's net ’n klein bietjie meer koolsuurgas in die lug.
Of, as jy jou duur en
onsinnige proefneming ’n bietjie verder wil voer, kry vir jou ’n oond wat
vyf keer warmer kan word en ’n groot drukking binne-in kan weerstaan.
Onttrek nou al die suurstof uit die lug in die oond. Verhit die diamante
onder druk tot ’n siedend warm 3563ş C (onthou, water kook reeds by 100
grade).
Jou diamante verkrummel
tot grafiet—wat jy hierna met ’n bietjie klei kan meng. Dan sit jy dit
in die middel van ’n houtstafie en maak vir jou ’n potlood om ’n boek te
skryf oor jy so simpel was om jou sierjuwele weg te rooster. Wat ’n uitspattige braai ter wille van die wetenskap!
REGS:
Sagte grafiet... soos die harde
diamant is dit maar net nog
’n vorm van koolstof.
Al wat jy eintlik
proefondervindelik bewys het, is dat diamante niks anders as koolstof is
nie—die koolstof wat in ’n verbinding met suurstof as koolsuurgas in
die lug voorkom; die koolstof wat ook in ’n ander vorm as sagte grafiet
kan uitkristalliseer. Maar daar is ’n derde vorm van koolstof en dis
doodgewone roet; dit is weer dieselfde koolstof wat ons in houtskool,
steenkool en selfs die swartsel van aangebrande kos sien.
Diamante is die hardste
stof wat aan die mens bekend is. Grafiet is van die sagste. ’n Geslypte
diamant is ’n sieraad van verblindende glans, maar roet is ’n pikswart
smerigheid...
Die
ontstaan van diamante
HOE
word diamante in die natuur gevorm? Diep, diep onder die aarde, dalk tot
200 km diep in die gloeiend warm binnekant, is die drukking so ontsaglik
dat dit genoeg is om ’n juweel uit gewone swartsel te pers. Eers as dit
Moeder Aarde behaag om haar skitterblink rykdom met ons te deel, stoot
sy dit boontoe in die sogenaamde kimberlietpype. Hiervandaan vind
sommige diamante ook hul pad tot in die beddings van riviere en die see.
En wat ’n
kleurespel kry ’n mens nie in daardie gesogte blink klippies nie. Want alle diamante is
natuurlik nie wit nie. Weens onsuiwerhede kan daar skakerings wees van
blou, rooi en groen (die skaarsste), asook oranje, geel, violet en
geelgroen (minder skaars). Daar is selfs ’n swart diamant wat ’n karbonado
genoem word.

BO: Diamante
van allerhande kleure.
REGS:
Wat hier na niks meer as ’n stukkie gebrande steenkool lyk nie, is in der
waarheid ’n swart diamant of karbonado. In sy geslypte vorm kan ’n
karbonado egter baie indrukwekkend wees,
soos op
die
afbeelding LINKS gesien kan word. Tipiese karbonado’s is swart of
donkergrys en so groot as ertjies of groter—samestellings van piepklein
swart kristalletjies. Hulle is meer poreus as juweeldiamante. Die
kenmerkendste karbonado’s is afkomstig van alluviale afsettings in die
Sentraal-Afrikaanse Republiek in Afrika en Brasilië in Suid-Amerika. Hulle
word ook aangetref in die vulkaan Kozelski op die skiereiland Kamtsjatka, in
die ooste van die Russiese Verre-Ooste. Daar is verskillende teorieë oor hoe
karbonado’s kon ontstaan het, onder meer dat hulle buite-aardse indringers
is wat in meteoorstene (“verskieende sterre”) op die aarde geval het.
Voorstanders van die laasgenoemde teorie reken naamlik dat hulle verwant kan
wees aan koolstofryke interstellęre stof wat in die omgewing van
koolstof-sterre gevorm sou word. Lees ook ondertoe oor sterrekundiges se
verbasende vonds van wat hulle reken iets soos ’n reuse-diamant in die ruimte is.
Foto van ongeslypte karbonado: Steve Haggerty, Florida
International University /
Office of Science
of the U.S. Department of
Engergy
Mense
het al vroeg-vroeg probeer om diamante na te maak—en dit uiteindelik
reggekry—al kom hul heel beste produkte nie naby aan die natuur se
beste nie. Só was daar die Skotse skeikundige James Ballantyne wat ’n eeu
of wat gelede die seldsame metaal litium met paraffien en beenolie gemeng
het.
Hy het dié mengsel in
verseëlde ysterbuise tot rooiwarm verhit, en toe daarop aanspraak gemaak
dat hy diamante gemaak het. Sy diamantjies is bewaar en die egtheid
daarvan kon, wonder bo wonder, later bewys word. Maar die maak van
sintetiese diamante is vandag natuurlik veel meer gesofistikeerd as
Ballantyne se konkoksie.

BO:
’n Moderne sintetiese diamant van sowat 2,5 mm hoog, geslyp van ’n
kristal wat in nagenoeg een enkele dag kunsmatig gekweek is.
Krediet: Physica
Status Solidi / via U.S. National Science Foundation
Slyping van die
hardste mineraal
HOE
hard is ’n diamant werklik? Altesame 58 keer harder as die volgende
hardste mineraal, korundum, die stof waarvan robyne en saffiere gevorm
is. Tog kan jy, soos ons gesien het, ’n diamant met groot hitte verwoes.
En moet ook nie dink dat jy sy egtheid kan toets deur hom met ’n hamer
by te kom nie. Hard of nie, ’n diamant is bros en kan maklik
versplinter.
Maar dit was in der
waarheid diamante se hardheid wat honderde, miskien duisende jare lank
daarvoor gesorg het dat hulle nie so hoog geag is as robyne en smaragde
nie. Niemand het naamlik geweet hoe om diamante te slyp nie. Dit was eers
omstreeks die vyftiende eeu nC dat iemand agtergekom het ’n mens het
doodeenvoudig ’n ander diamant nodig om dit te doen.
Vandag word draaiskywe
met diamantstof ook hiervoor gebruik. Met só ’n slypery verloor ’n diamant weliswaar heelwat van sy massa, maar die groot kuns is om die
beste moontlike snit vir elke ruwe edelsteen te vind.
Karaat en
diamantkoors
DIAMANTE
se massa word in karaat aangedui. Dit is egter belangrik om dit nie te
verwar met die karaat van goud nie, waar dit ’n aanduiding van die goud
se suiwerheid en nie ’n massa-eenheid is nie. Suiwer goud is 24 karaat;
as goud 9 karaat is, bevat dit 9 dele goud gemeng met 15 dele van ’n
ander metaal.
By diamante staan karaat
gelyk aan 200 milligram. Dié massa-eenheid is vandag gemetriseer, maar
die woord het glo ’n interessante oorsprong. Daar word vertel dat
juweelhandelaars in die ou tyd hul skale met die bone van die karobboom
gebalanseer het. Die meeste van die boom se sade het feitlik dieselfde
massa, met die gevolg dat meting baie maklik was. Uit ''karob'' sou die
woord ''karaat'' toe ontstaan het.
Nie dat daar in die ou
dae ’n oorvloed diamante kon gewees het nie, want baie eeue lank was die
enigste bekende bron die stroombeddings van die antieke Indië. Om die
waarheid te sę, diamantkoors het eintlik eers ręrig ontstaan met die
ontdekking van diamante in Suid-Afrika in die laat jare sewentig van die
negentiende eeu.
Die verhaal is bekend:
hoe ’n seun by die Oranjerivier ’n mooi klippie opgetel het en hoe sy ma
dit agterna sommerso aan ’n buurman gegee het sonder dat sy reg besef het
wat dit was. Die klippie was ’n diamant, wat later
paslik Eureka (“ek het dit gevind!”) genoem is—die voorloper van
hoeveel ander fantastiese vondste en die aanstigter van ’n geweldige
stormloop wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis verander het.
Vandag bly Suid-Afrika
onder die węreld se voorstes met die lewering van diamante! En aan die
betowering van die blink klippies is daar geen einde nie. Die brute krag van die natuur en die
menslike hand span saam om produkte te lewer wat veral as liefdespande
bekend is. Diamante is stellig nie vir ewig nie (jy kan hulle uitbrand,
onthou?), maar hulle bly in ’n sekere sin vandag nog ’n vrou se beste
vriend.
|