|
Die verhaal van deure, die verskillende soorte en hul gebruike
Deur en deur dienlik
Swaaideure, draaideure, voudeure, skoudeure, gladde deure, paneeldeure, glasdeure, bronsdeure... hoe anders sou ons argitektuur nie sonder toemaakbare deure gewees het nie! En as ons nooit enige deur agter ons kon toetrek nie, hoe sou ons ooit veilig en privaat genoeg in ons huise kon gevoel het?
REGS: Dubbeldeure met glaspanele kan ’n geweldige verskil aan die
vooraansig van ’n huis maak.
Dit is haas onsinnig om vir enigiemand te verduidelik wat ’n deur is. Almal ken dit tog. As ’n mens egter ’n definisie daarvoor moet gee, kan ons sê dit is ’n verskuifbare bedekking of sluitstuk voor ’n opening in ’n muur, kas of ander versperring.
Deure hang gewoonlik aan skarniere, maar ander kan weer dwars of loodreg oop en toe gly, konsertina-vou of in die rondte draai. ’n Deur in ’n gebou word oopgemaak om mense of dinge en soms diere in en uit te laat of om ventilasie te verskaf. Só ’n deur sluit min of meer stewig, meestal vanweë ’n knip by die deurknop en ’n slot of grendel. Ons praat dikwels ook van ’n deuropening as ’n deur, terwyl ons eintlik ’n deurgang bedoel.
Die deur is ’n integrerende voorwerp in ons alledaagse bestaan. Deur dit toe te trek en te sluit, verkry ons privaatheid en beveiliging. Deure verskil van hekke deurdat hulle nagenoeg solied is, of solied lyk, en gewoonlik in strukture met dakke of in kaste aangebring word. Hekke is in die reël metaal- of houtraamwerke wat as afskutsels dien, en oop en toe gemaak kan word, in omheinings, veekrale, ensovoorts. ’n Hek verleen meestal toegang tot ’n afgeslote gebied sonder ’n dak.
Deure word binne-in sogenaamde kosyne aangebring. ’n Kosyn is gewoonlik ’n hout- of metaalraam wat stewig in die reghoekige opening in die bouwerk bevestig word en waarbinne die deur aan skarniere hang. As die kosyn nie rotsvas in die bouwerk sit nie, sal dit die swaar deur nie kan dra nie, met ongelukkige gevolge, soos ’n mens jou dit kan voorstel.
Die balk teen die vloer onderaan die kosyn is die drumpel. Baiemaal word die drumpel egter weggelaat, veral by binnedeure. Dan is daar slegs die kosyn met sy twee vertikale deurposte en die kopbalk bo-aan: ╔╗.
REGS: Die kosyn vir ’n binnedeur, met bo die kopbalk (die bodrumpel genoem) en die vertikale deurposte aan weerskante. Onderaan is daar in hierdie geval wel ’n minder opsigtelike drumpelstaaf, wat die konstruksie steeds sy ononderbroke reghoekige raamvorm gee.
Bokant die kosyn in die bouwerk self is ’n dwarsbalk, meestal van beton, wat die latei genoem word. Die doel van hierdie drastuk is om die deuropening te verstewig.
Deure word vandag van allerhande soorte materiaal en in ’n menigte vorms en groottes gemaak. Dié wat nie aan skarniere hang nie, kan horisontaal of vertikaal teen mure langs beweeg of selfs binne-in die mure ingly óf—soos die draaideure in openbare geboue—om ’n sentrale as rondomtalie draai.
’n Tipiese draaideur bestaan eintlik uit drie of vier deure wat binne-in ’n ronde omhulsel om hul sentrale as roteer. Draaideure kan tegelykertyd twee of meer mense by ’n gebou in- of uitlaat. Hulle is gewild omdat hulle as lugsluiting gebruik kan word om te keer dat te veel lug vanuit ’n gebou met lugversorging na buite ontsnap en onversorgde lug die gebou binnekom.
Voudeure kan inmekaarvou soos die pens van ’n trekklavier of konsertina. Glydeure kan soms outomaties oopgaan wanneer ’n elektroniese oog gewaar dat iemand ’n gebou wil binnekom of verlaat, net om weer toe te gaan as die persoon “buite sig” is.
Swaaideure, wat partymaal gebruik word om kombuise en eetkamers te verbind, kan vorentoe sowel as agtertoe oopmaak. In die ou cowboy-films sien ’n mens ook baiemaal die swaaideure voor kroeë, waardeur die held miskien ewe dramaties bars om die boef by die pokertafel met een vuishou plat te slaan.
Dubbeldeure bestaan uit twee deure langs mekaar. Waterdigte deure op skepe kan verseël word om te keer dat meer as een kajuit oorstroom raak
’n Bo-en-onderdeur sou op ’n manier ook ’n dubbeldeur genoem kan word, maar is vanselfsprekend nie dieselfde nie. ’n Bo-en-onderdeur word soms ook ’n staldeur genoem. Dit is oorspronklik in Europa ontwerp om diere uit plaashuise te hou, terwyl die plaasmense steeds na buite kon kyk en lig en lug in die huise kon inlaat. Die deur is as ’t ware in twee dele “gesplits” sodat die onderste deel toe kan bly terwyl die bodeel oopgemaak word.
Ons voorouers was so vertroud met hierdie soort deur dat dit in ’n spreekwoord in ons taal opgeneem is. Wanneer ’n tienermeisie “oor die onderdeur loer”, word bedoel dat sy na kêrels begin kyk.
Van al die materiale wat vir die maak van deure gebruik word, is glas van die kosbaarste. Dit verleen ’n luuksieuse voorkoms aan die buite-aansig van ’n gebou.
In die kunste en letterkunde kan die deur ’n simbool van uitsluiting, toegang, beskerming of beveiliging wees. Omdat argitekte besef dat ’n buitedeur ’n brandpunt van belangstelling vir ’n gebou is, doen hulle baie moeite om die korrekte ontwerp te kies. Sekere deure word in der waarheid as belangrike kunswerke beskou. Hieronder tel die bronsdeure van die Pantheon in Rome (Romeins), dié van die Hagia Sophia in Istanbul (Bisantyns), die bronsdeure van Sint Michael se katedraal by Hildesheim in Duitsland (Middeleeus) en Lorenzo Ghiberti se bronsdeure vir die Baptisterium van die katedraal in Florence (Renaissance).
LINKS BO: Die bronsdeure van die Pantheon in Rome en (REGS BO) die Italiaanse kunstenaar Lorenzo Ghiberti se deure vir die Baptisterium van die katedraal in Florence. Die Pantheon is oorspronklik gebou as ’n tempel vir al die gode van die antieke Romeine en is die bes bewaarde van al die Romeinse geboue. Die deure van Ghiberti (1378–1455) dateer weer uit die vroeë Renaissance.
DIE ontwikkeling van die deur van ’n blote sluitstuk voor ’n huis tot die oorlade swierighede van meer romantiese tye en die dikwels fraai en funksionele ingeboude meublemente van vandag, is ’n studie op sigself. Regoor die wêreld is daar boonop baie maatskappye wat hulle op die vervaardiging van deure toespits. Daar is soveel ontwerpe, kleure en materiale om van te kies dat ’n mens daarvan kan duisel.
Basies is daar egter steeds gladde deure (“flush doors”) en paneeldeure (“panel doors”)—twee soorte waarby ons vlugtig hieronder stilstaan.
Die nadeel van sulke hol deure is dat hulle maklik beskadig raak. Soos iemand vertel: “Ek was eenmaal in ’n groot verleentheid in ’n hotel toe ek in my kamer wou inkom, maar die slot van die deur blykbaar gelol het. Toe ek my kom kry, trap ek ’n gat in die deur in my gespook om dit oop te kry. Hoe kon ek aan die hotelbestuur verduidelik dat ek hul eiendom nie opsetlik wou beskadig nie?”
• Paneeldeure: ’n Paneel word beskryf as ’n reghoekige, plat in- of uitstaande iets in ’n raam. ’n Paneeldeur bestaan dan ook uit ’n raamwerk van dwarshoute en vertikale style wat plat of verhewe houtpanele, of soms glaspanele, omraam. Die beste soorte word gebou met dele wat presies inmekaarsluit en hulle is beduidend duurder as gladde deure.
Ook hulle moet vernis of gekleur word. Baiemaal, veral vroeër, is buitedeure met dik lae olieverf bedek om hulle behoorlik teen die elemente te beskerm. Deesdae word gevoel dat die hout nie verdoesel moet word nie, maar dat die mooiheid daarvan nie net sigbaar moet wees nie, maar juis versterk behoort te word.
ONDER: Dele van ’n paneeldeur.
Etikette deur ons aangebring op ’n foto wat
tot openbare besit verklaar is deur “Man vyi” in die Wikipedia-ensiklopedie
op die wêreldwye web (“public domain”)
Mooi paneeldeure word dikwels as voordeure verkies, veral as hulle met glaspanele toegerus is. Die voordeur is immers die eerste “stelling” wat ’n huis maak vir ’n besoeker wat die huis nader. Aantreklike deure wat by die styl en kleur van jou huis en werf pas, maak ’n positiewe indruk en kan selfs die waarde van jou woning verhoog.
Ten slotte kan ’n mens seker wonder oor die posisie van deure in mure. Hulle kan oral in mure aangebring word, maar as ’n mens mooi daaraan dink, sit hulle mos meestal in die hoeke van kamers. Eeue van ondervinding met die bou van die binnekant van huise het die mens geleer dat dit wenslik is om die dele by die hoeke as deuropeninge te benut. Die eenvoudige rede is dat dit ’n breër stuk muur ooplaat vir die rangskikking van die meubels. |
|||||||