Demokrasie

“ ’n Regering deur dié wat
geregeer word”

 Vryheidstandbeeld

BO: Die Vryheidstandbeeld in New York, Amerika... stellig die beroemdste simbool van vryheid, en demokrasie, op aarde.

Foto: BigFoto.com (free pictures download)

 Ons hoor en lees dikwels die woord “demokrasie”, maar hoeveel van ons besef werklik waar die begrip vandaan kom en wat dit alles behels? Hier is ’n interessante vertelling oor die ontwikkeling van volks­regerings in die geskiedenis van die mens...


I

N die ou dae was die koning se woord wet. Met die swaai van ’n duim of die wys van ’n voorvinger kon hy enigeen van sy onderdane na die pynbank, galg of brandstapel stuur, of tot watter wrede straf of pyniging ook al verdoem.

In die Nuwe Testament lees ons byvoorbeeld hoe koning Herodes op die wens van ’n dansende meisie gereageer het deur haar die kop van die onthoofde Johannes die Doper in ’n skottel te laat kry.

As sulke regeerders gespreek het, moes die volk spring, teen wil en dank. “Die staat, dit is ek,” sou Frankryk se sogenaamde Sonkoning, Lodewyk XIV (1638–1715), nie so baie eeue gelede nie nog gesê het.

En in Afrika sou die Zoeloe-koning Shaka nog in die negentiende eeu so verpletter gewees het deur die dood van sy ma dat hy sy volk feitlik tot ’n hongerdood veroordeel het. Hy het naamlik vir die volle routyd, wat hy op ’n jaar vasgestel het, ’n verbod op landbou geplaas. Boonop het hy intimiteit verbied en is swanger vroue saam met hul mans doodgemaak.

Eintlik het Shaka van die begin af met ’n ysterhand geregeer en die geringste teenkanting onmiddellik met die doodstraf beantwoord. Daar is vertel dat hy eenkeer 170 jong mans en vroue laat doodmaak het net omdat hy gedroom het dat hulle intiem verkeer het met sy “susters” (vroue wat die koning moes vermaak).

Lynreg teenoor hierdie tirannie of dwingelandy van die alleenheersers staan die praktyk van die moderne demokrasie—’n “regering van die volk, deur die volk, vir die volk,” soos die beroemde Amerikaanse president Abraham Lincoln (1809 –1865) dit gestel het.

In teorie beteken die moderne demokrasie dat die regeerders slegs regeer op grond van ’n mandaat wat hulle van die nasie ontvang het om dié in die regeringsgestoeltes te verteenwoordig.

En al is daar geen definisie van “die moderne demokrasie” wat oral ter wêreld aanvaar word nie, is daar twee beginsels wat in enige omskrywing daarvan vervat word:
•   Al die lede van die gemeenskap het gelyke toegang tot mag.
•   Al die lede van die gemeenskap geniet universeel aanvaarde vryhede.

 Beeld van Athena

BO: ’n Beeld van Athena, godin van die ou Griekse stadstaat Athene, een van die plekke waar sekere van die vroegste beginsels van die demokrasie in die Oudheid ontstaan het.

Foto: Marie-Lan Nguyen (Jastrow),
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

DIE konsep van die demokrasie het in die Oudheid in onder meer Griekeland ontstaan—en die woord stam dan ook af van die Griekse woorde dèmos (“volk”) en krateo (“heers, regeer”).  Maar daardie Griekse demokrasie van baie eeue gelede was nog lank nie ’n volksregering soos ons dit vandag ken nie.

Dit was weliswaar die ou Griekse filosoof Plato (nagenoeg 427 v.C. tot omstreeks 347 v.C.), wat die onderskeid getref het tussen demokrasie (met die stelsel van “heerskappy van hulle oor wie daar geheers word”) en die alternatiewe stelsels van monargie (heerskappy deur ’n enkeling), oligargie (regering deur ’n klein elite-klas) en timokrasie (’n staatsvorm waar burgers met ’n bepaalde vermoë die reg op staats- en ereampte het).

Dog in die “demokrasie” van byvoorbeeld die Griekse stadstaat Athene het gewone burgers poste in die regering en howe deur loting ontvang en kon slegs mans op burgerskap aanspraak maak, maar vroue en slawe glad nie. Daar was wel ’n soort volksraad wat die wette opgestel het en waarin al die burgers kon stem, maar van die ongeveer 250 000 Atheense inwoners het gemiddeld net sowat 30 000 burgerskap gehad, van wie miskien slegs 5000 gereeld die sittings van die volksraad sou bygewoon het. Die meeste offisiere en magistrate van die Atheense regering is deur loting aangewys. Slegs die generaals en ’n paar ander offisiere is verkies.

Selfs die ou Romeinse Republiek, wat tog ’n beduidende bydrae tot die ontwikkeling van demokratiese beginsels gelewer het, het nooit ’n demokrasie in die huidige sin die woord geword nie. Verteenwoordigers is wel verkies, maar ook hier kon vroue, slawe en die groot getal vreemdelinge in die staat nie stem nie. Op die koop toe het die stemme van die rykes groter gewig gedra en het byna al die hoë amptenare, soos die lede van die senaat, uit ’n paar ryk en adellike families gekom.

In die Middeleeue is die meeste Europese gebiede deur geestelikes of feodale here bestuur. Ofskoon Engeland in 1265 sy eerste parlement gekry het, kon net ’n haas onbeduidende minderheid van die bevolking aanvanklik stem, terwyl die koning of koningin die parlement kon byeenroep net soos dit hom of haar behaag het—gewoonlik wanneer die monarg geld nodig gehad het.

 
 

KONSERWATIEF

VERSKILLENDE woordeboeke het uiteenlopende verklarings vir die woorde konserwatief en konserwatisme. Maar as ’n mens dit mooi ontleed, vind jy dat dit alles maar min of meer op dieselfde dinge neerkom.

Ons konserwatief te wees, beteken om behoudend te wees. Die konserwatiewe mens bly verknog aan die sedes en gebruike van die voorgeslagte en is behoudend in sy uitkyk op die lewe en in sy handelinge.

Konserwatief hou immers verband met die woorde konserveer (om te bewaar) en konservasie (bewaring).

’n Konserwatiewe mens sal goed wil nadink voordat hy vernuwings sal aanvaar, teenoor die liberale persoon wat sonder veel wroegings die dinge van die verlede sal verwerp as hy dink dat hulle oudmodies geraak het.

Anders gestel, is konserwatisme ’n algemene lewensbenadering wat afkerig is van vinnige veranderings en innoverings en ’n strewe na ewewigtigheid en orde, terwyl uiterstes vermy word.

Waar politieke partye hulself in die verlede konserwatief genoem het (en selfs die naam Konserwatiewe Party aangeneem het) het dit egter nie altyd beteken dat hulle strak en onbuigsaam was sover dit sinvolle veranderings aangaan nie.

Die Konserwatiewe Party van Brittanje steun byvoorbeeld die verdere uitbreiding van die Europese Unie, wat beslis nie op ’n blindelingse verknogdheid aan die ou weë dui nie. Tog veg hy vir die behoud van die Britse parlement as die oppergesag in die Verenigde Koninkryk en sal hy dit nie duld dat Europa Brittanje insluk nie.

Wat meer sê, die “ystervrou” Margaret Thatcher, die Konserwatiewe Britse premier van 1979 tot 1990, was ’n radikale hervormer van Brittanje.
 

Dit is egter veelseggend dat die Engelse parlement geleidelik meer mag gekry het tot die punt waar die koning(in) weinig meer as ’n simbool van die staatsgesag geword het. Vandag troon die Britse parlementsgebou oor die Teems in Londen as ’n kennelike bastion van die demokrasie.

Die moderne demokrasie is ook deur twee belangrike revolusies gevorm, te wete dié in Amerika en Frankryk. Die Amerikaanse Revolusie van 1775 tot 1783, toe dertien Britse kolonies daarin kon slaag om hulle van hul moederland los te maak, het meegehelp om die Franse volk tot verset aan te spoor teen hul onderdrukking deur die vorstehuis, die adel en hooggeplaaste geestelikes.

Op sy beurt het die Franse Revolusie (1789–1799), ondanks al die buitensporighede wat daarmee saamgegaan het, die begrippe vryheid en gelykheid regdeur Europa laat versprei. Die Westerse wêreld sou daarna nooit weer dieselfde wees nie.

In die twintigste eeu sou die diktature van Josef Stalin in die gewese Kommunistiese Sowjet-unie en Adolf Hitler in Nazi-Duitsland tot die verdere aansporing van mense oor die wêreld heen lei om die demokrasie met alle moontlike middele te koester. Die tragiese eksperiment met apartheid in Suid-Afrika—toe gepoog is om afsonderlike demokratiese state op grond van ras uit een land te kerf—het op sy beurt ons eie enkele nie-rassige demokrasie laat ontstaan wat lank nie meer die verstote muishond van die wêreld is nie.

Nie dat mense oral dink dat demokrasie die menseras die spreekwoordelike hemel op aarde waarborg nie. Daar is altyd probleme waar verkose verteenwoordigers nie in staat is om te lewer wat hulle in verkiesings belowe het nie. Die gewone kieser het ook dikwels min mag om regeerders uit die kussings te lig in die jare tussen algemene verkiesings. Om nie te praat nie van ’n militante regering soos dié van pres. Robert Mugabe in Zimbabwe wat botweg geweier het om die uitslag te aanvaar van ’n verkiesing waarin hy verslaan is.

DAAR is verskeie soorte moderne demokrasieë en verskillende waarnemers doen boonop nie dieselfde indelings daarvan nie. Soos een geleerde dit al gestel het: “Demokrasie is die mees gewaardeerde en ook die vaagste politieke term in die moderne wêreld.” Dit is duidelik dat die woord net iets wesenliks begin raak wanneer dit deur sekere ander politieke woorde voorafgegaan word—soos regstreekse, verteenwoordigende en liberale.

In ’n regstreekse demokrasie neem die burgers direk deel aan die besluitneming, sonder om hulle op tussengangers of verteenwoordigers te verlaat. In ’n sekere sin sou ’n mens dit egter as onprakties moet beskou, buiten by klein gemeenskappe waar oor plaaslike sake besluit moet word. Elkeen in ’n land kan tog nie met ’n selfoon in die hand staan en die parlement opbel elke keer wanneer oor ’n wetsontwerp gestem moet word nie! Aan die ander kant verkondig die Marxiste ’n regstreekse demokrasie wat deur ’n stelsel van kommunes toegepas word.

In ’n verteenwoordigende demokrasie, daarenteen, word regeringsamptenare gekies deur die mense wat hulle verteenwoordig. Die kandidaat wat die meeste stemme kry, word die verteenwoordiger van die mense in die betrokke kiesafdeling, of verteenwoordigers kan proporsioneel deur politieke partye aangestel word op grond van die persentasie stemme wat die verskillende partye ontvang het. ’n Kenmerk van verteenwoordigende demokrasie is dat, hoewel die verteenwoordigers deur die kiesers verkies word om hul belange te dien, hulle ook na goeddunke kan handel om dit op die beste manier te probeer doen.

’n Liberale demokrasie is ’n verteenwoordigende demokrasie waarin die vermoë van die verkose verteenwoordigers om besluite te neem onderworpe is aan oppergesag van die reg. Dit beteken dat besluitnemers hulle moet hou by die beginsels van natuurlike geregtigheid en nie mag maak en breek soos hulle wil nie. Indien hulle dit nie doen nie, kan die howe hul besluite ongedaan maak of hulle gelas om weer daaroor te besin. Kortom, regsoewereiniteit is die leer waarvolgens die gesag van die reg onafhanklik van dié van die staat bestaan.

Die beginsel van regsoewereiniteit word gewoonlik vervat in ’n grondwet waarin die regte en vryhede van individue benadruk word en beperkings geplaas word op die mate waarin leiers die wil van die meerderheid op minderhede kan afdwing.

Die onderhandelaars wat aan die einde van die apartheid die staatsmasjien vir die nuwe Suid-Afrika gemonteer het, het duidelik gesorg dat ons land só ’n liberale demokrasie kry.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad