|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
Wêreld
van die
|
|
|
REGS:
Don Quichot en Sancho Panza ná ’n mislukte aanval op ’n windmeul,
soos geïllustreer deur Gustave Doré (1832-1883).
DIE
ROMAN Don Quichot—waarin ’n maer, middeljarige landheer van
die platteland hom verbeel dat hy ’n ridder is en met sy skildknaap,
Sancho Panza, talle vermaaklike avonture beleef—is reeds in 1605
uitgegee, maar ná al die jare is dit steeds een van die wêreld se
beste romanwerke.
Dit
is oorspronklik bedoel om die spot te dryf met die ligsinnige
ridderromans wat destyds so gewild was, maar namate die verhaal ontvou
het, het die skrywer ook vir ’n meesterlike uitbeelding van menslike
gebreke soos selfverheerliking en waanvoorstellings gesorg.
Die
skrywer van Don Quichot, Miguel de Cervantes Saavedra, is
omstreeks 29 September 1547 in Alcala de Henares naby Madrid gebore. Sy
gesin was arm, hoewel hy darem ’n bietjie skoolonderrig ontvang het.
Ondanks
hierdie gebrekkige skoolopvoeding het hy egter baie gelees. En die lewe
was eintlik sy leerskool. Hy was in sy vroeë twintigs toe hy hom by die
Italiaanse leër aansluit en aan die bekende vlootslag van Lepanto teen
die Turke deelneem. Tienduisende soldate sneuwel en die een skip ná die
ander sink. Cervantes word beseer en verloor die gebruik van sy
linkerarm.
In
1575 vaar hy huiswaarts, met in sy sak ’n aanbevelingsbrief gerig aan
sy koning wat hom ’n goeie pos in die staatsdiens waarborg. Maar die
skip word deur Moorse seerowers aangeval en Cervantes en sy kamerade
word as slawe na Algiers weggevoer. Toe die slawebaas die brief in sy
sak ontdek, kom hy tot die gevolgtrekking dat Cervantes ’n vermoënde
man moet wees en eis hy ’n losprys.
Cervantes
se arm gesin werk byna vyf jaar lank om genoeg geld in te samel om hom
vry te koop. In dié tyd sien Cervantes die verskriklikste dinge om hom
gebeur, van geselings tot openbare moorde. Van dié voorvalle sou hy ook
in Don Quichot weergee. Cervantes word uiteindelik vrygelaat—met ’n
brief van sy gevangenemers waarin hulle sy dapperheid en sterk karakter
loof.
In die daaropvolgende jare probeer Cervantes vrugteloos om dramas te skryf en word hy ’n belastinggaarder. Twee keer beland hy in die tronk sonder dat hy dit eintlik kan verhelp. Hy leer hoe dronkaards, diewe en moordenaars optree—wat alles sy skryfwerk sou verryk. Toe hy die tweede keer vrygelaat word, is hy gereed om weer te begin skryf.
Met
die verskyning van Don Quichot in die vroeë 1600’s raak
Cervantes oornag beroemd. Die publiek vra nog en Cervantes word versoek
om ’n opvolg te skryf. Maar terwyl hy nog daaraan werk, hoor hy dat
daar reeds ’n opvolg op die rakke is... ’n swendelaar het hom
voorgespring.
Tien
jaar sou verloop voordat die tweede deel van Don Quichot uitgegee
is. Dit was net so geslaag as die eerste deel. Vandag word die twee dele
saam uitgegee.
Cervantes
het daarna verskeie eenbedryf-komedies en satires geskryf wat ook
geslaag het. Ondanks sy nuutgevonde roem is Cervantes in April 1616 as ’n
arme en eensame man oorlede. Niemand weet selfs eens meer waar hy
begrawe is nie. Tog het hy ’n letterkundige werk nagelaat wat die
roman as letterkundige vorm nog eeue later sou beïnvloed.
En
vandag sê ons nog iemand veg teen windmeulens wanneer hy denkbeeldige
gevare bestry.
Klik
hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser