’n Laslappie van Mieliestronk

D-DAG:

Die inval in Normandië

 

Dit was die grootste inval vanuit die see van alle tye—tweehonderdduisend Geallieerde soldate se oorname van die Normandiese strande. Daarmee is ’n vasstrapplek gekry op die Nazi-besette Europa, wat uiteindelik tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog gelei het...

 

D-Dag

BO: D-Dag... Troepe verlaat ’n landingsvaartuig van die Amerikaanse vloot vir "Operation Overlord".

Kopieregvrye historiese foto deur Robert F. Sargent

 

DIS vroegoggend, 6 Junie 1944. Duisende Geallieerde soldate plons uit hul landingsvaartuie in die vlaksee, storm na die strande van die Normandiese kus van Frankryk. Hulle is almal deel van die grootste inval vanuit die see van alle tye.

 

Binne ure is hordes van hierdie dapper troepe dood.

 

Toe hierdie artikel laas in 2006 hersien is, was dit reeds meer as sestig jaar sedert die mees ambisieuse operasie van die hele Tweede Wêreldoorlog geloods is: die sogenaamde "Operation Overlord" in die deur Duitsland besette Europa.

 

Vanoor die Engelse Kanaal is die Nazi-besette Frankryk by Normandië binnegeval met ’n taakmag groter as enigiets in die geskiedenis. Sowat 4000 skepe, 11 000 vliegtuie, die grootste deel van die Britse vloot en duisende valskermtroepe het aan die reuse-inval deelgeneem.

 

Die doel van die operasie was om Europa te bevry en uiteindelik na die hart van Duitsland self op te ruk. As dit sou misluk, sou dit beteken dat die oorlog nog jare kon voortwoed, met miljoene wat nog sou sterf ná die massas mense wat reeds dood was.

 

Waar "Operation Overlord" die kodenaam van die inval was, was "D-Day" die kodenaam van die geheime dag waarop dit sou begin. Dit was aanvanklik beplan vir 5 Junie 1944. Die "D" in "D-Day" staan eevoudig vir "the day of the attack."

 

Brittanje en Amerika het reeds van ’n inval begin praat van die oomblik toe Amerika in Desember 1941 tot die oorlog toegetree het. Die VSA het geglo dat die oorlog net gewen kon word met ’n inval oor die Kanaal en daarna ’n intog in Duitsland. Genl. Dwight D. Eisenhower is as opperbevelhebber van die operasie aangestel.

 

Die Duitsers het geweet ’n inval is onvermydelik, maar het geen benul gehad waar dit sou gebeur nie, en die Britte het hulle ook nog doelbewus op ’n dwaalspoor gebring met kamma-voorbereidsels aan die kus oorkant Calais. Intussen was die Duitse veldmaarskalk Erwin Rommel egter besig om sy "Atlantiese Muur" aan die Franse kus te bou.

 

Die weer was stormagtig op 5 Junie en Eisenhower is genoodsaak om die inval uit te stel. Uiteindelik het die lugvloot en armada in die donker op die Normandiese kus toegesak, waar die lugsoldate eerste geland en die Duitsers teruggehou het. Teen dagbreek van 6 Junie het oorlogskepe die strande gebombardeer. Toe, om 06h30, bestorm die eerste Britse, Amerikaanse, Kanadese en Franse aanvalstroepe en tenks die strande en neem dit oor.  

 

REGS: ’n Lugfoto van landingsvaartuie, spervuurballonne en Geallieerde troepe met die inval in Normandië op D-Dag.

 

Foto: U.S. Library of Congress

 

 

Die aanval het die Duitsers onvoorbereid betrap. Trouens, Hitler het daardie oggend laat geslaap en niemand het hom durf wakker maak nie. Teen die tyd dat hy sy bevele kon gee, het die Geallieerdes hulle reeds op die strande gevestig en is talle troepe en groot hoeveelhede ammunisie afgelaai.

 

Die Duitsers het verbete weerstand gebied en die Geallieerdes plek-plek hewig onder skoot gehad. Nogtans was die vyf vernaamste strande aan die einde van die lang, lang dag oorgeneem.

 

Die inval in Normandië het die volmaakte vastrapplek vir verdere militêre welslae geword. Teen 15 Augustus is Parys ontset, en teen die einde van September is die Duitsers uit Frankryk en België verdryf.

 

Met Japan aan die spartel en Russiese troepe wat in die ooste van Europa opgeruk het, was die einde van die oorlog in sig.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad