’n Laslappie van Mieliestronk

DAVY, SIR HUMPHRY:

Genie van die veiligheidslamp

 

Illustrasies kopieregvry vanweë verjaring

 
BO: Sir Humphry Davy (1778-1829), beroemde Britse skeikundige.
LINKS: Die Davy-veiligheidslamp.

 

Tienduisende lewens is oor die afgelope sowat 190 jaar gered deur ’n enkele eenvoudige uitvindsel—die veiligheidslamp wat mynwerkers teen brandbare gasse beveilig. Verstommend genoeg het die uitvinder—die Engelse skeikundige sir Humphry Davy—geweier om ’n patent daarop uit te neem of ’n wins daaruit te maak...

 

IN 1942 het ’n geweldige ontploffing ’n klein steenkoolmyndorpie in China geruk en die lewens van 1500 mynwerkers geëis. Dit was die ergste steenkoolstof-ontploffing wat die wêreld nog belewe het.

 

Voorsorgmaatreëls maak die ontginning van steenkool vandag baie veiliger as in die verlede en enorme ontploffings soos dié van die 1942-ramp is betreklik skaars. Een van die baanbrekers wat steenkoolontginning minder gevaarlik gemaak het, was sir Humphry Davy, die Engelse skeikundige wat die veiligheidslamp vir mynwerkers uitgevind het.

 

Gasse wat in ondergrondse myne ophoop, skep ’n groot gevaar. Die sogenaamde myngas, wat hoofsaaklik uit ’n mengsel van metaangas en lug bestaan, is veral berug. Metaangas word in die natuur gevorm wanneer plante verrot en steenkool vorm. In klein hoeveelhede is dit onskadelik, maar vyf tot vyftien persent daarvan in die lug is hoogs plofbaar.

 

As steenkoolstof in die lug ontvlam, kan dit eweneens verskriklike ontploffings tot gevolg hê. Tot met Davy se uitvindsel het steenkoolgrawers lampe met oop vlamme gebruik om die plek te verlig waar hulle gewerk het. Maar dit was gevaarlik, omdat die vlamme partykeer die myngas aan die brand gesteek het—met noodlottige ontploffings daarna.

 

In 1815-16 het Davy ’n paraffienlamp vervolmaak waarin die vlam in ’n draadgaas-silinder gehul was. Die gaas het lug in die lamp ingelaat, maar gekeer dat die hitte van die vlam ontsnap en die myngas laat ontvlam. Met hierdie eenvoudige uitvindsel kon die werkers in steenkoolmyne nou sonder vrees vir ontploffings met hul werk voortgaan.

 

Mynwerkers gebruik deesdae elektriese lampe, maar Davy se lamp word steeds gebruik om vir die aanwesigheid van metaangas te toets. As die gas wel aanwesig is, raak die vlam binne-in die gaas groter—en die mynwerkers weet dat hulle vinnig uit daardie gebied moet padgee.

 

Wat leer Davy se lamp ons omtrent die geleiding van warmte?

 

NIE alle stowwe kan warmte ewe goed gelei nie. So gelei silwer en koper byvoorbeeld warmte duisend of meer keer beter as hout. ’n Houthandvatsel van ’n metaalpan gelei dan ook die warmte soveel swakker as die metaal dat ’n mens maklik aan die handvatsel kan raak wanneer die pan op die stoof is.

 

In Davy se veiligheidslamp is die vlam heeltemal omring deur fyn koper- of geelkoper-draadgaas. Die kopergaas—’n goeie geleier van warmte—versprei die warmte so vinnig dat die verbrandingsgasse van die vlam wat deur die gaas dring, in so ’n mate afgekoel word dat hulle nie meer buite die gaas kan brand nie.

 

Gasse is swak geleiers van warmte. Een voorbeeld wat die swak geleidingsvermoë van gasse toon, is dié van die waterdruppel wat ’n hele tydjie op ’n warm stoomplaat ronddans voordat dit uiteindelik heeltemal verdamp. Waarom verdamp die druppeltjie dan nie dadelik nie? Die oomblik wanneer die druppel met die verhitte stoomplaat in aanraking kom, word ’n isolerende stoommantel daarom gevorm. Dit vertraag die verdere verdamping van die vloeistof binne die stoommantel.

 

Meer omtrent sir Humphry Davy

 

DAVY word vandag waarskynlik die beste onthou vanweë sy veiligheidslamp. Maar dié groot wetenskaplike het hom ook met ander ontdekkings onderskei.

 

Hy is onder meer beroemd vir sy proefnemings met distikstofmonokside (laggas) as ’n narkosemiddel, sy isolering van die elemente kalium en natrium, die ontdekking van boor en die feit dat diamante ’n vorm van koolstof is.

 

Hy is in 1802 as professor in skeikunde aan die Royal Institution in Londen aangestel. In 1812 is hy tot ridder geslaan en ses jaar later ’n baronet gemaak. Hy het in 1820 voorsitter van die Royal Society geword.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad