Dans-illustrasie - Wikipedia (Engels)Die geskiedenis en betekenis van die dans

Dans-dans
deur die duisende jare...
 

Die geskiedenis van die dans kan so oud wees soos die geskiedenis van die mens. Maar het jy geweet dat ook sjimpansees in ’n kring dans? En het jy al ooit gehoor van die tyd in Europa toe mense freneties in begraafplase gedans het of van die danse van die slaapwandelaars tydens die Depressiejare in Amerika?
 

o
Die foto is openbare besit (“in the public domain”) en oorgeneem uit  die Engelstalige Wikipedia-ensiklopedie

A

S jy doodseker is dat jy in ’n eksamen gedruip het, maar dan hoor dat jy eintlik met vlieënde vaandels geslaag het, sal jy maklik opspring en begin rondtrippel van uitbundige ekstase.

As musiek met ’n lewendige ritme van êrens in jou omgewing opklink, kan jy só gekielie voel dat jy outomaties ’n paar wilde passies op die vloer maak.

En as die meisie of jong man van jou drome op die toneel verskyn, wil jy haar of hom in jou arms neem en wals tot in die hoogste wolke van geluk.

Soveel situasies, soveel danse, kan ’n mens byna sê, want om soms ritmiese bewegings met die liggaam te wil maak, is inherent aan die menslike aard. Selfs kleuters wat skaars kan praat, wieg op wankele beentjies op die maat van opgewekte musiek uit die radio, en iemand het al dans die huwelik van menslike beweging en musiek genoem.

Tog hoef musiek nie noodwendig deel te vorm van ’n dans nie, soos wanneer mense hul ritmiese kaperjolle op die maat van tromme of selfs handeklap doen.

Dans oorspan nagenoeg alle kulture, van die vreesaanjaende voetegestamp van begeesterde Zoeloe-krygsmanne tot die grasieuse gesweef van balletdanseresse op die verhoë van konsertsale. Dit is ’n vorm van ontspanning, maar ook van kommunikasie, en dit is miskien die oudste soort kuns, wat tog die minste bewaar gebly het van al die kunste.


Hoe, waar en wanneer die dans ontstaan het

DIE oorsprong van die dans het verlore geraak in die voorgeskiedenis van die mens. Maar as ons die handelinge bestudeer van ongekunstelde gemeenskappe soos byvoorbeeld die San (Boesmans), wat vandag nog naby die natuur lewe, besef ons dat mans sowel as vroue heel waarskynlik nog altyd gedans het.

Anders gestel: die geskiedenis van die dans kan so oud wees soos die geskiedenis van die mens. Tekeninge op grotwande in Frankryk en Spanje toon die rituele danse van gemaskerdes in die primitiewe samelewing van destyds. En toe die eerste Europeërs enkele eeue gelede in Suid-Afrika aangekom het, het hulle die Khoikhoi hier aangetref wat toe miskien reeds millenniums lank saans om vure gedans het.

Jy dans lekker, my dier…

DIT is nie net die mens wat dans nie, selfs party diere doen dit. Die sjimpansees in die tropiese Afrika-bosse stamp hul voete ritmies terwyl hulle in ’n kring beweeg, terwyl sekere voëls pronk en buig wanneer hulle mekaar die hof maak.

Dan sal ’n gevierde Suid-Afrikaanse rolprentmaker van vroeër, die geniale Jamie Uys, ook onder meer onthou word vir ’n kostelike toneeltjie in een van sy films waarin skerpioene ’n skouspelagtige paringsdans uitvoer op die maat van musiek—wat natuurlik later bygevoeg is.

Maar natuurlik is die primitiewe ritteldanse van diere op ’n veel meer instinktiewe vlak as die bewustelike liggaamswaaie van mense, al staan die mens se ingeskape drifte ook nie heeltemal los van die dans nie.

Weliswaar het die witman destyds die psige van hierdie natuurmense nie ten volle begryp nie en daar is selfs gedink dat die Khoikhoi besig was om met hul danse die maan te vereer. Sekere geleerdes sê vandag dat, as die Europese immigrante dieper in die sielelewe van die Khoikhoi-dansers kon ingekyk het, hulle sou besef het dat hul dansery niks met ’n maansverering te doen gehad het nie.

Die Khoisan, sê hulle, het eintlik om vure gedans het om in verbinding te kom met hul persepsie van die krag van God. Hulle moes Hom bedank vir die seëninge wat hulle in die afgelope maan-maand ontvang het en Hom vra om hulle in die komende maan-maand te beskerm. Maar, soos al so dikwels gebeur het wanneer mense met totaal verskillende kulture met mekaar in aanraking gekom het, het verkeerde gevolgtrekkings bly steek wat eeue later steeds nie werklik reggestel sou wees nie.

Hoe ook al, daar is ook duidelike argeologiese getuienisse van danse in sekere ander wêrelddele in die gryse verlede. Dikwels kan ons egter maar net net raai hoe verskillende volkere en groepe mense se danse in verskillende tydvakke daar uitgesien het.

Wat wel gesê kan word, is dat die danse in uiteenlopende gemeenskappe uiteenlopend ontwikkel en verander het. Dit het gepaard gegaan met die groei in eiesoortige godsdienstige en sosiale beskouings. Dit het ook saamgeloop met die geleidelike verfyning van allerhande unieke kulturele bedrywighede by die onderskeie nasies.


Danse van die Oudheid en daarna en hoe sekere van vandag se danse ontwikkel het

TEKENINGE en reliëfbeelde op mure toon dat daar in Ou Egipte twee hoofsoorte danse was, godsdienstig en akrobaties. Priesters het die godsdienstige danse uitgevoer, waarin ingewikkelde bewegings die verhale van die gode vertel het.

Singende danseresse was gedurig by die Egiptiese tempels om eer aan die gode te betoon. Egiptenare van die laer klasse en slawe het weer akrobatiese danse gedoen, wat dikwels met goëltoertjies en swaardslukkery gekombineer is.

In ou Griekeland was dans ’n vereiste deel van die opvoeding. Met die kragtige Pyrrhus-dans het seuns gevegstegnieke leer bemeester. Meisies het op hul beurt die grasie van sosiale danse geleer. Griekse vroue wat by feeste gedans het, het die skoonheid van vryvloeiende ritmiese bewegings ontwikkel, wat die grondslag vir die moderne ekspressionele danse gelê het.

Met hul godsdienstige feeste, veral met die bok-lied ter ere van die god Dionysus, het die Grieke die klassieke rondedans ontwikkel. Hierdie dans was belangrik in die ontwikkeling van die teater.

In Rome is grootliks gekonsentreer op vermaak deur beroepsdansers wat veral van patomimes gebruik gemaak het, dit wil sê voorstellings van handelings deur gebare, dans, ensovoorts, sonder woorde. Hul vertonings het nie die natuurlike grasie van die Griekse danse gehad nie en wulps en wellustig geword toe die Romeinse ryk aan die verval was.

In die vroeë Middeleeue het danse in Europa hoofsaaklik uit volksdanse en statige religieuse danse in die Christelike kerk bestaan. Christelike religieuse danse is in die sewende eeu verbied, maar het tog in sekere plekke bly voortbestaan.

In die latere Middeleeue het die kerk wel danse in mirakel- en passiespele toegelaat wat op kerkterreine uitgevoer is. Aanvanklik was die enigste dansende karakters Satan en sy volgelinge. Latere spele het ook ander dansers ingesluit.

’n Onverklaarde histerie, wat dansmanie genoem is, het Europa in die elfde eeu beetgepak. Op feeste en begrafnisse het mense freneties in begraafplase gedans om met die dooies te probeer kommunikeer. Wanneer dansers nie wou luister na ’n priester wat hulle beveel het om op te hou nie, sou hy hulle volgens oorlewering vervloek het om die hele jaar deur te dans.

Die sprokie van die Skone Slaapster of Doringsrosie ("Sleeping Beauty") spruit glo uit ’n Hongaarse begrafnisdans waarin iemand voorgee om te sterf en dan weer lewend gesoen word.

Teen die middel van die veertiende eeu het nog ’n dolle dansgier in Europa posgevat. Om onbekende redes het mans en vroue geswaai, gespring en geruk totdat hulle neergeslaan het.

Renaissance-danse word onderverdeel in danse haute (Frans vir "hoë dans"), die vrolike sprong- en warreldanse van die landvolk; en danse basse ("lae dans"), die statige danse van die hof, waar mans en vroue hul voete naby die vloer gehou het. Die adel het dansmeesters in diens geneem om hulle die stadige, ingewikkelde passies te leer.

Uit die hofdanse van Italië en Frankryk het die klassieke ballet en die teenswoordige baldanse ontwikkel.

Só het die dans dan gekom, gebloei en met verloop van tyd enigermate gekwyn. Uiteindelik is dit uitgerangeer tot ’n ondergeskikte rol in die moderne samelewing, waar dit vroeër by die natuurgebonde mens ’n betreklik sentrale plek ingeneem het.  


Die betekenis van die dans

Die dans van die slaapwandelaars

BO: Die dans van die slaapwandelaars in ou Amerika.

Foto: U.S. Library of Congress

Dans van die slaapwandelaars

PAARTJIES het gedans totdat hulle aan die slaap geval het. En partykeer selfs totdat een van die dansers dood neergeval het. Dit was ’n rare vorm van vermaak wat baie gewild was in die Depressiejare van die vroeëre 1930’s in Amerika.

Honger, daklose mense het hulle só laat misbruik om deur betalende toeskouers toegejuig of bespot te word ter wille van die gratis kos en huisvesting wat hulle ten tyde van die knellende Depressie by die dansplekke ontvang het. Die "vermaaklikheid" is "dans-marathons" genoem en deelnemers is boonop gelok deur die moontlikheid om vet kontantpryse te wen. In ’n tyd van groot werkloosheid sou baie mense immers omtrent enigiets vir ’n klompie dollars doen.

Allerhande foefies is bedink om die toeskouers by sulke danswedstryde genoeg waarde vir hul geld te gee, maar die algemene reël was dat die deelnemers op die dansbaan moes aanhou dans en dans sonder om te slaap. Partykeer kon ’n deelnemer wel slaap, solank sy of haar dansmaat net vir haar of hom regop gehou en aan die beweeg gebly het. Of hulle goeie of slegte dansers was, was nie eintlik ter sake nie.

Dit was die ekwivalent van vandag se werklikheidstelevisie waar ware lewensdramas onder die bittereinders van die bitter vaak dansers ontvou het.

Dans-marathons is egter uiteindelik in die meeste state van die VSA verbied omdat dit die deelnemers se gesondheid so erg benadeel het en dit selfs sommige "kanniedoods" hul lewe gekos het.
   
  

DIE betekenis van die dans hang natuurlik af van die soort dans wat ter sprake is en die waarde wat die beoefenaars van daardie spesifieke dansvorm daaraan heg.

In sy eenvoudigste vorm is dans bepaalde ritmiese en herhalende liggaamlike handelinge wat ten doel het om uiting aan die danser se gevoelens te gee of om gevoelens op te wek of om dit  aan andere oor te dra. Dit kan ook gedoen word om wat die danser as 'n meerdere of 'n goddelike wese beskou, te behaag.

 

Danse kan vandag in drie hoofgroepe ingedeel word, te wete danse vir ontspanning, danse op die verhoog of in die teater en rituele danse. Ontspanningsdanse, wat vir die pret gedoen word, is volks- en baldanse ("folk" en "ballroom", soos dit in Engels genoem word).

Verhoogdanse, wat  voor gehore uitgevoer word, sluit klopdanse, akrobatiese danse, ballet en ekspressionele danse in. Rituele danse is die liggaamsbewegings van natuurgebonde mensegroepe wat uitdrukking gee aan die idees of emosies van ’n hele gemeenskap, soos ’n stam of dalk al die inwoners van ’n kraal. By sulke mense is daar danse vir byna alle geleenthede en omstandighede, soos geboorte, sterfte, jag en die behoefte aan reën.

’n Etniese dans is ’n ontspannings-, verhoog- of rituele dans wat kenmerkend van ’n volk of ’n sekere streek is. Die Argentynse tango (’n baldans) en die rituele danse van stamgebonde Suid-Afrikaanse swartmense is voorbeelde van etniese danse.

Danse is dus betekenisvol op verskillende terreine, soos op sosiale gebied, op kulturele gebied en op die gebied van die geestelike. In die volgende aflewering word dit van naderby bekyk.


Die rol van die dans op die terreine van sosiale omgang, die kultuur, die geestelike lewe en die ekonomiese wêreld

OP die sosiale terrein, soos by die jong mense se "sokkies" en disko’s, het die dans ’n klaarblyklike rol te speel om die sug na vermaak te bevredig en baiemaal om te help om die opgebondelde jeugdige energie te ontlaai. Nie almal doen egter daaraan mee nie, veral nie die behoudende jongklomp wat soos baie ouers voel dat sulke byeenkomste maklik die teelaarde vir allerhande losbandighede kan word nie.

Op die gebied van die kulturele weerspieël die soort danse van ’n groep of volk dikwels baie van die aard of karakter van daardie besondere samelewing. Die volkspele wat vroeër byvoorbeeld as tradisioneel in baie Afrikanerkringe beskou is, is wêrelde verwyder van die geisja-danse van Japan, net soos die Boere-kultuur en dié van Japan min ooreenkomste toon. Die San dans ook nie soos die Eskimo’s nie en die Spanjaarde dans heeltemal anders as, sê, die Maori’s of selfs die Grieke.

En wat die geestelike aanbetref, word die dans van die vroegste tye af aangewend om uitdrukking te gee aan die emosies en die ontroeringe van die hart. In die Bybel lees ons in II Samuel 6 hoe Dawid “met alle mag gedans (het) voor die aangesig van die Here”. Soos ons vroeër in hierdie artikel gesien het, is danse ook tradisioneel by die Khoisan gebruik om die mense in kontak te bring met hul begrip van die krag van ’n Goddelike Opperwese.

Die ou Australiese inboorlinge, wat weer tradisioneel  geglo het dat hul wêreld in die “Tyd van Drome” geskep is deur singende geeste wat uit die grond gekom het, het op hul beurt met rituele danse, dreunsang en sang probeer om hul bande met daardie geeste te behou. Self vandag nog word in baie Christelike kerke van dansers gebruik gemaak om sekere waarhede of gedagtes by die kerkgangers tuis te bring.

Ook op ekonomiese gebied is die dans belangrik. Balletliefhebbers, byvoorbeeld, sal die hand diep in die sak sal steek om hul gunsteling-dansers in aksie te sien. Danse in rolprente, vernaamlik in musiekblyspele, is boonop ’n integrerende deel van ’n multimiljoendollar-bedryf. Die ekonomiese voorbeelde is legio.

Die dans is dus vir stemmige vermaak en aanbidding, vir gesonde pret en vir eerbetoon. Dit is ook vir wellus, soos toe die dogter van Heródus in die Mattheüs 14 in die Bybel voor Herodus gedans en hom behaag het. En vir uitspattige feesviering, soos vandag nog met die Mardi Gras-feestelikhede in verskillende lande, wat gepaard gaan met vlotte, swierige kostuums, gemaskerde balle en dansery in die strate. Om nie te praat van ons eie dansende en singende Kaapse Klopse wat jaarliks op "Tweede Nuwejaar" die Kaap in ’n feesstad verander nie.

Die dans is baie dinge vir baie mense. Maar sy uniekheid lê in die lyftaal. Met soepele vloeiings van die menslike liggaam of die wildste wendinge van die romp en ledemate word die lyf omgetower tot ’n woordelose spreekbuis vir die gees. Viva die dans! Ons sou geen ware mense gewees het daarsonder nie.


    
o
Watter dansvorm het die verbeelding van die massas nog die meeste aangegryp? Die laaste helfte van die twintigste eeu het min of meer begin met rock ’n roll en geëindig met allerhande ontwikkelings en klonings op dansgebied. Maar dekades voor dit het die wals lank koning gekraai in ten minste 'n deel van die Westerse wêreld. Aanvullend by die bostaande artikel oor die dans is dus ons ander artikel oor die aard en geskiedenis van die wals. Klik hier vir daardie wals-artikel met sy heelparty illustrasies.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad

Leisure Books