S
jy doodseker is dat jy in ’n eksamen gedruip het, maar dan hoor dat
jy eintlik met vlieënde vaandels geslaag het, sal jy maklik opspring
en begin rondtrippel van uitbundige ekstase.
As
musiek met ’n lewendige ritme van êrens in jou omgewing opklink,
kan jy só gekielie voel dat jy outomaties ’n paar wilde passies op
die vloer maak.
En
as die meisie of jong man van jou drome op die toneel verskyn, wil jy
haar of hom in jou arms neem en wals tot in die hoogste wolke van geluk.
Soveel
situasies, soveel danse, kan ’n mens byna sê, want om soms ritmiese
bewegings met die liggaam te wil maak, is inherent aan die menslike
aard. Selfs kleuters wat skaars kan praat, wieg op wankele beentjies op
die maat van opgewekte musiek uit die radio, en iemand het al dans die
huwelik van menslike beweging en musiek genoem.
Tog
hoef musiek nie noodwendig deel te vorm van ’n dans nie, soos wanneer
mense hul ritmiese kaperjolle op die maat van tromme of selfs handeklap
doen.
Dans
oorspan nagenoeg alle kulture, van die vreesaanjaende voetegestamp van
begeesterde Zoeloe-krygsmanne tot die grasieuse gesweef van
balletdanseresse op die verhoë van konsertsale. Dit is ’n vorm van
ontspanning, maar ook van kommunikasie, en dit is miskien die oudste
soort kuns, wat tog die minste bewaar gebly het van al die kunste.
Hoe,
waar en wanneer die dans ontstaan het
DIE
oorsprong van die dans het verlore geraak in die voorgeskiedenis van die
mens. Maar as ons die handelinge bestudeer van ongekunstelde
gemeenskappe soos byvoorbeeld die San (Boesmans), wat vandag nog naby
die natuur lewe, besef ons dat mans sowel as vroue heel waarskynlik nog
altyd gedans het.
Anders
gestel: die geskiedenis van die dans kan so oud wees soos die
geskiedenis van die mens. Tekeninge op grotwande in Frankryk en Spanje
toon die rituele danse van gemaskerdes in die primitiewe samelewing van
destyds. En toe die eerste Europeërs enkele eeue gelede in Suid-Afrika
aangekom het, het hulle die Khoikhoi hier aangetref wat toe miskien
reeds millenniums lank saans om vure gedans het.
|

Jy
dans lekker, my dier…
DIT
is nie net die mens wat dans nie, selfs party diere doen dit.
Die sjimpansees in die tropiese Afrika-bosse stamp hul voete
ritmies terwyl hulle in ’n kring beweeg, terwyl sekere voëls
pronk en buig wanneer hulle mekaar die hof maak.
Dan
sal ’n gevierde Suid-Afrikaanse rolprentmaker van vroeër, die
geniale Jamie Uys, ook onder meer onthou word vir ’n kostelike
toneeltjie in een van sy films waarin skerpioene ’n
skouspelagtige paringsdans uitvoer op die maat van musiek—wat
natuurlik later bygevoeg is.
Maar
natuurlik is die primitiewe ritteldanse van diere op ’n veel
meer instinktiewe vlak as die bewustelike liggaamswaaie van
mense, al staan die mens se ingeskape drifte ook nie heeltemal
los van die dans nie. |
Weliswaar
het die witman destyds die psige van hierdie natuurmense nie ten volle
begryp nie en daar is selfs gedink dat die Khoikhoi besig was om met hul
danse die maan te vereer. Sekere geleerdes sê vandag dat, as die
Europese immigrante dieper in die sielelewe van die Khoikhoi-dansers kon
ingekyk het, hulle sou besef het dat hul dansery niks met ’n
maansverering te doen gehad het nie.
Die
Khoisan, sê hulle, het eintlik om vure gedans het om in verbinding te
kom met hul persepsie van die krag van God. Hulle moes Hom bedank vir
die seëninge wat hulle in die afgelope maan-maand ontvang het en Hom
vra om hulle in die komende maan-maand te beskerm. Maar, soos al so
dikwels gebeur het wanneer mense met totaal verskillende kulture met
mekaar in aanraking gekom het, het verkeerde gevolgtrekkings bly steek
wat eeue later steeds nie werklik reggestel sou wees nie.
Hoe
ook al, daar is ook duidelike argeologiese getuienisse van danse in
sekere ander wêrelddele in die gryse verlede. Dikwels
kan ons egter maar net net raai hoe verskillende volkere en groepe mense
se danse in verskillende tydvakke daar uitgesien het.
Wat wel gesê kan
word, is dat die danse in uiteenlopende gemeenskappe uiteenlopend
ontwikkel en verander het. Dit het gepaard gegaan met die groei in
eiesoortige godsdienstige en sosiale beskouings. Dit het ook saamgeloop
met die geleidelike
verfyning van allerhande unieke kulturele bedrywighede by die onderskeie
nasies.
Danse
van die Oudheid en daarna en hoe
sekere van vandag se danse ontwikkel het
TEKENINGE
en reliëfbeelde op mure toon dat daar in Ou Egipte twee hoofsoorte
danse was, godsdienstig en akrobaties. Priesters het die godsdienstige
danse uitgevoer, waarin ingewikkelde bewegings die verhale van die gode
vertel het.
Singende danseresse was gedurig by die
Egiptiese tempels om eer aan
die gode te betoon. Egiptenare van die laer klasse en slawe het weer akrobatiese danse gedoen, wat dikwels met goëltoertjies en
swaardslukkery gekombineer is.
In
ou Griekeland was dans ’n vereiste deel van die opvoeding. Met die
kragtige Pyrrhus-dans het seuns gevegstegnieke leer bemeester. Meisies
het op hul beurt die grasie van sosiale danse geleer. Griekse vroue wat by
feeste gedans het, het die skoonheid van vryvloeiende ritmiese bewegings
ontwikkel, wat die grondslag vir die moderne ekspressionele danse gelê
het.
Met hul godsdienstige feeste, veral met die bok-lied ter ere van
die god Dionysus, het die Grieke die klassieke rondedans ontwikkel.
Hierdie dans was belangrik in die ontwikkeling van die teater.
In
Rome is grootliks gekonsentreer op vermaak deur beroepsdansers wat veral
van patomimes gebruik gemaak het, dit wil sê voorstellings van
handelings deur gebare, dans, ensovoorts, sonder woorde. Hul vertonings
het nie die natuurlike grasie van die Griekse danse gehad nie en wulps
en wellustig geword toe die Romeinse ryk aan die verval was.
In die
vroeë Middeleeue het danse in Europa hoofsaaklik uit volksdanse en
statige religieuse danse in die Christelike kerk bestaan. Christelike
religieuse danse is in die sewende eeu verbied, maar het tog in sekere
plekke bly voortbestaan.
In
die latere Middeleeue het die kerk wel danse in mirakel- en passiespele
toegelaat wat op kerkterreine uitgevoer is. Aanvanklik was die enigste
dansende karakters Satan en sy volgelinge. Latere spele het ook ander
dansers ingesluit.
’n
Onverklaarde histerie, wat dansmanie genoem is, het Europa in die elfde
eeu beetgepak. Op feeste en begrafnisse het mense freneties in
begraafplase gedans om met die dooies te probeer kommunikeer. Wanneer
dansers nie wou luister na ’n priester wat hulle beveel het om op te
hou nie, sou hy hulle volgens oorlewering vervloek het om die hele jaar
deur te dans.
Die sprokie van die Skone Slaapster of Doringsrosie
("Sleeping Beauty") spruit glo uit ’n Hongaarse
begrafnisdans waarin iemand voorgee om te sterf en dan weer lewend gesoen
word.
Teen
die middel van die veertiende eeu het nog ’n dolle dansgier in Europa
posgevat. Om onbekende redes het mans en vroue geswaai, gespring en
geruk totdat hulle neergeslaan het.
Renaissance-danse
word onderverdeel in danse haute (Frans vir "hoë
dans"), die vrolike sprong- en warreldanse van die landvolk; en danse
basse ("lae dans"), die statige danse van die hof, waar
mans en vroue hul voete naby die vloer gehou het. Die adel het
dansmeesters in diens geneem om hulle die stadige, ingewikkelde passies
te leer.
Uit die hofdanse van Italië en Frankryk het die klassieke
ballet en die teenswoordige baldanse ontwikkel.
Só
het die dans dan gekom, gebloei en met verloop van tyd enigermate gekwyn.
Uiteindelik is dit uitgerangeer tot ’n ondergeskikte rol in die
moderne samelewing, waar dit vroeër by die natuurgebonde mens ’n
betreklik sentrale plek ingeneem het.
Die
betekenis van die dans
|

BO: Die dans van die slaapwandelaars in ou Amerika.
Foto: U.S. Library of Congress
Dans
van die slaapwandelaars
PAARTJIES
het gedans totdat hulle aan die slaap geval het. En partykeer
selfs totdat een van die dansers dood neergeval het. Dit was
’n rare vorm van vermaak wat baie gewild was in die
Depressiejare van die vroeëre 1930’s in Amerika.
Honger,
daklose mense het hulle só laat misbruik om deur betalende
toeskouers toegejuig of bespot te word ter wille van die gratis
kos en huisvesting wat hulle ten tyde van die knellende
Depressie by die dansplekke ontvang het. Die
"vermaaklikheid" is "dans-marathons" genoem
en deelnemers is boonop gelok deur die moontlikheid om vet
kontantpryse te wen. In ’n tyd van groot werkloosheid sou baie
mense immers omtrent enigiets vir ’n klompie dollars doen.
Allerhande
foefies is bedink om die toeskouers by sulke danswedstryde
genoeg waarde vir hul geld te gee, maar die algemene reël was
dat die deelnemers op die dansbaan moes aanhou dans en dans
sonder om te slaap. Partykeer kon ’n deelnemer wel slaap,
solank sy of haar dansmaat net vir haar of hom regop gehou en
aan die beweeg gebly het. Of hulle goeie of slegte dansers was,
was nie eintlik ter sake nie.
Dit
was die ekwivalent van vandag se werklikheidstelevisie waar ware
lewensdramas onder
die bittereinders van die bitter vaak dansers ontvou het.
Dans-marathons
is egter uiteindelik in die meeste state van die VSA verbied
omdat dit die deelnemers se gesondheid so erg benadeel het en
dit selfs sommige "kanniedoods" hul lewe gekos het.
|
DIE
betekenis van die dans hang natuurlik af van die soort dans wat ter
sprake is en die waarde wat die beoefenaars van daardie spesifieke
dansvorm daaraan heg.
In
sy eenvoudigste vorm is dans bepaalde ritmiese en herhalende liggaamlike
handelinge wat ten doel het om uiting aan die danser se gevoelens te gee
of om gevoelens op te wek of om dit aan andere oor te dra. Dit kan
ook gedoen word om wat die danser as 'n meerdere of 'n goddelike wese
beskou, te behaag.
Danse
kan vandag in drie hoofgroepe ingedeel word, te wete danse vir
ontspanning, danse op die verhoog of in die teater en rituele danse.
Ontspanningsdanse, wat vir die pret gedoen word, is volks- en baldanse
("folk" en "ballroom", soos dit in Engels genoem
word).
Verhoogdanse,
wat voor gehore uitgevoer
word, sluit klopdanse, akrobatiese danse, ballet en ekspressionele danse
in. Rituele danse is die liggaamsbewegings van natuurgebonde mensegroepe
wat uitdrukking gee aan die idees of emosies van ’n hele gemeenskap,
soos ’n stam of dalk al die inwoners van ’n kraal.
By sulke mense is daar danse vir byna alle geleenthede en
omstandighede, soos geboorte, sterfte, jag en die behoefte aan reën.
’n
Etniese dans is ’n ontspannings-, verhoog- of rituele dans wat
kenmerkend van ’n volk of ’n sekere streek is. Die Argentynse tango
(’n baldans) en die rituele danse van stamgebonde Suid-Afrikaanse
swartmense is voorbeelde van etniese danse.
Danse
is dus betekenisvol op verskillende terreine, soos op sosiale gebied, op
kulturele gebied en op die gebied van die geestelike. In die volgende
aflewering word dit van naderby bekyk.
Die
rol van die dans op die terreine van sosiale omgang, die kultuur, die
geestelike lewe en die ekonomiese wêreld
OP
die sosiale terrein, soos by die jong mense se "sokkies" en disko’s, het
die dans ’n klaarblyklike rol te speel om die sug na vermaak te
bevredig en baiemaal om te help om die opgebondelde jeugdige energie te
ontlaai. Nie almal doen egter daaraan mee nie, veral nie die behoudende
jongklomp wat soos baie ouers voel dat sulke byeenkomste maklik die
teelaarde vir allerhande losbandighede kan word nie.
Op
die gebied van die kulturele weerspieël die soort danse van ’n groep
of volk dikwels baie van die aard of karakter van daardie besondere
samelewing. Die volkspele wat vroeër byvoorbeeld as tradisioneel in
baie Afrikanerkringe beskou is, is wêrelde verwyder van die
geisja-danse van Japan, net soos die Boere-kultuur en dié van Japan min
ooreenkomste toon. Die San dans ook nie soos die Eskimo’s nie en die
Spanjaarde dans heeltemal anders as, sê, die Maori’s of selfs die
Grieke.
En
wat die geestelike aanbetref, word die dans van die vroegste tye af
aangewend om uitdrukking te gee aan die emosies en die ontroeringe van
die hart. In die Bybel lees ons in II Samuel 6 hoe Dawid “met alle
mag gedans (het) voor die aangesig van die Here”. Soos ons vroeër in
hierdie artikel
gesien het, is danse ook tradisioneel by die Khoisan gebruik om die
mense in kontak te bring met hul begrip van die krag van ’n Goddelike
Opperwese.
Die
ou Australiese inboorlinge, wat weer tradisioneel
geglo het dat hul wêreld in die “Tyd van Drome” geskep
is deur singende geeste wat uit die grond gekom het, het op hul beurt
met rituele danse, dreunsang en sang probeer om hul bande met daardie
geeste te behou. Self vandag nog word in baie Christelike kerke van
dansers gebruik gemaak om sekere waarhede of gedagtes by die kerkgangers
tuis te bring.
Ook
op ekonomiese gebied is die dans belangrik. Balletliefhebbers,
byvoorbeeld, sal die hand diep in die sak sal steek om hul
gunsteling-dansers in aksie te sien. Danse in rolprente, vernaamlik in
musiekblyspele, is boonop ’n integrerende deel van ’n
multimiljoendollar-bedryf.
Die ekonomiese voorbeelde is legio.
Die
dans is dus vir stemmige vermaak en aanbidding, vir gesonde pret en vir
eerbetoon. Dit is ook vir wellus, soos toe die dogter van Heródus in
die Mattheüs 14 in die Bybel voor Herodus gedans en hom behaag het. En
vir uitspattige feesviering, soos vandag nog met die Mardi
Gras-feestelikhede in verskillende lande, wat gepaard gaan met vlotte,
swierige kostuums, gemaskerde balle en dansery in die strate. Om nie te
praat van ons eie dansende en singende Kaapse Klopse wat jaarliks op
"Tweede Nuwejaar" die Kaap in ’n feesstad verander nie.
Die
dans is baie dinge vir baie mense. Maar sy uniekheid lê in die lyftaal.
Met soepele vloeiings van die menslike liggaam of die wildste wendinge
van die romp en ledemate word die lyf omgetower tot ’n woordelose
spreekbuis vir die gees. Viva die dans! Ons sou geen ware mense gewees
het daarsonder nie.
o
Watter
dansvorm het die verbeelding van die massas nog die meeste aangegryp?
Die laaste helfte van die twintigste eeu het min of meer begin met rock ’n
roll en geëindig met allerhande ontwikkelings en klonings op
dansgebied. Maar dekades voor dit het die wals lank koning gekraai in
ten minste 'n deel van die Westerse wêreld. Aanvullend by die bostaande artikel oor die
dans is dus ons
ander artikel oor die aard en geskiedenis van die wals.
Klik hier vir daardie
wals-artikel met sy heelparty illustrasies.
|