Die verhaal van dambou
en die opgaar van water

 

Dam op — die droogte kom!

 

 

  
BO: ’n Ongewone nagtelike blik op ’n groot damwal.

 

Foto: “Hoover Dam” / Bureau of Reclamation / U.S. Department of the Interior

 

•   Water is een van die heel noodsaaklikste dinge op aarde. Maar ons het net die regte hoeveelheid daarvan nodig. As dit te veel reën, kom daar oorstromings en indien die sluise van die hemel toebly, beleef ons droogtes. Baie lande, maar veral taamlik droë wêrelde soos Suider-Afrika, moet water opgaar om later te gebruik en dit is waarom ons damme moet bou. Boere en regeringsliggame doen dit wyd en syd... vir alles van kleiner opdammings in laagtes op plase tot groot reservoirs in ons belangrike riviere....

 

•   Afrikaanssprekendes dink anders oor ’n dam as die Nederlanders, asook die meeste van die wêreld se Engelssprekendes. Vir ons is ’n dam die massa water wat deur ’n damwal gestuit word. In Nederlands en “korrekte” Engels is ’n dam die damwal of waterkering self, met ’n reservoir daaragter. Tog praat ons maklik in Afrikaans van die een of ander dam wat gebou is... en bedoel ons inderdaad die damwal, omdat ’n groot klomp water bymekaar tog nie gebou kan word nie!

 

•   Klik hier vir ’n ander Mieliestronk-artikel oor Suid-Afrika se riviere en damme

BO: “Die huise het mekaar soos eierdoppe verpletter.” Een van die verskriklike tonele nadat die dam by Johnstown gebreek het. (Lees die vertelling direk hieronder.)

 

Krediet: Histories / “Public Domain Old”

 

D

IT was een van die groot katastrofes weens ’n gebreekte dam in die geskiedenis... ’n ramp wat meer as 10 000 lewens geëis het. Die wal van South Fork-opgaardam by Johnstown, ’n stad in Pennsilvanië in die VSA, het gebars.

 


Ons dorre Suid-Afrika...

BESPROEIING in Suid-Afrika is noodsaaklik omdat sowat sestig persent van ons land se oppervlakte jaarliks minder as 500 mm reën kry—en die helfte van hierdie gedeelte minder as 250 mm.

 

Voeg hierby die feit dat die grootste deel van Suid-Afrika reën in die somer kry, wanneer die verdamping op sy hoogste is, en ’n mens besef waarom waterbewaring deur middel van damme hier so nodig is.

 

 
BO
: ’n Digitaal verkleurde weergawe van ’n ou swart-wit foto van die omgewing by die wal van die Loskop­dam in die Olifantsrivier in Mpumalanga. Die dam bestaan reeds sedert 1939—is nou ook al ouer as sewentig jaar.

 

Krediet: Afrikaanse Kernensiklopedie
 

Dit het gelyk of die water spring toe die damwal ná hewige reëns padgee, sou een ooggetuie later die begin van daardie onheilsdag in 1889 beskryf. “Die huise is oorstroom, het vir ’n oomblik gewankel en toe opgelig en mekaar soos eierdoppe verpletter.” Tonele soos dié sou die oorlewendes tot hul sterwensdag onthou.

 

Maar dit was lank nie die grootste dambreuk in terme van lewensverlies nie. In 1975 het die wal van die Banqiao-opgaardam in China meegegee in ’n reuse-vloed wat deur die tifoon Nina veroorsaak is. Na berig is, het dit die lewe van 90 000 tot 230 000 mense geëis.

 

Die mensdom bou nou al duisende jare lank damme, oftewel damwalle. Maar van die vroegste tye af het die walle van die damme ook bly breek. Buiten die walle van verskeie Romeinse reservoirs wat steeds gebruik word, is daar vandag maar min damwalle wat ouer as ’n eeu is. Die verwoestingskrag van oorstromings is eenvoudig te groot.

 

Eers nadat Portland-sement in die 1800’s sy verskyning in die boubedryf gemaak het, en kragtige laaigrawe ontwikkel is, is die reusagtige, feitlik onvernietigbare damwalle gebou wat ons vandag as so vanselfsprekend aanvaar. En tog kan foute nog deesdae gemaak word—en is dit inderdaad al gemaak—in die berekenings omtrent die kragte waaraan ’n damwal onderwerp word. Gelukkig is sulke vergissings skaars.

 

Damme dien verskeie belangrike doele. Die water word vir huise en fabrieke opgegaar of vir boere wat hul gesaaides in droë tye uit die damme kan besproei. Party damme word ook gebou om krag deur  hidroëlektriese opwekking te verskaf. Die water vloei deur turbines by die damwal wat elektrisiteit vir huise, kantore en fabrieke opwek.

 

BO: ’n Hidroëlektriese kragsentrale by ’n damwal.

 

Krediet: TVA / U.S. Gov. / “Public Domain”

 

Baiemaal wissel die riviervlak met die seisoene. Damwalle beheer die afvloei van die water en voorkom dus oorstromings. Daarbenewens word grondverspoeling teëgewerk. Dan maak damwalle natuurlik ook riviere dieper sodat hulle makliker bevaar kan word en skep dit kunsmatige mere wat vir vermaak en ontspanning gebruik kan word.

 

Twee hoofsoorte damwalle word vandag gebou: grond-en-klipdamwalle en betondamwalle. Die walle van grond-en-klipdamme word gemaak van stowwe wat uit die grond kom, soos rotse, gruis, sand, slik en klei. Die water agter so ’n damwal word teruggehou deur die blote gewig van die klip- en grondlae.

 

Hierdie soort damwalle word gewoonlik gebou waar valleie breed en vlak is, mits genoeg natuurlike materiaal plaaslik beskikbaar is. As jy die dwarssnee van ’n grond-en-klipwal sou kon sien, sou jy merk dit is min of meer driehoekig, met die basis van die driehoek onder, waar die drukking teen die wal die grootste is.

 

 

BO: ’n Grond-en-klipdamwal, ’n waterkering gebou van natuurlike materiaal wat plaaslik beskikbaar is en uit die grond kom.

Foto deur Rajesh Kakkanatt Jolly,
wat dit op hierdie bladsy by die Wikipedia-projek op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die GNU Free Documentation License,Weergawe 1.2 of later, en by uitbreiding die Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0-lisensie, waarvolgens kopiëring, verspreiding en/of wysiging op sekere voorwaardes vergun word

 

’n Laag ruwe klippe en rotse word aan die waterkant van die wal geplaas om te keer dat die grond uitkalf. In die middel van die wal is ’n versperring, of kern, van ’n ondeurdringbare materiaal soos klei, wat keer dat water deur die grond en klip syfer. As dit sou gebeur, sou die damwal geleidelik swakker word en kan dit uiteindelik bars. Onder die kern kan ’n ekstra watervaste versperring of afsluiting wees, wat diep in die grond indring tot by soliede gesteentes. ’n Kanaal of uitloopvoor laat oortollige water uit die dam vloei sodat die watervlak nie te hoog styg en die water bo-oor die damwal stroom nie.

 

Soos die naam aandui, word die walle van betondamme van groot betonblokke gemaak. Hulle word gewoonlik in diep, smal valleie gebou waarvan die gesteentes baie hard is. Die walle is baie dunner as dié van grond-en-klipdamme—partykeer maar net ’n karige drie meter dik. Desondanks is hulle verstommend sterk.

 

Daar is drie hoofsoorte betondamwalle: gravitasie-, boog- en stutdamwalle. Gravitasiedamwalle damme het ’n driehoekige dwarssnee net soos dié van grond-en-klipdamwalle, met die verskil dat die waterkant van die wal dikwels loodreg eerder as skuins loop. Hierdie soort damwalle gebruik ook hul blote gewig om die druk van die water te weerstaan, wat ondertoe na die fondamente verplaas word.

 

 

BO: ’n Gravitasiedamwal. Sulke damwalle is basies soliede betonstrukture wat die waterdruk as gevolg van hul vorm en die massa en sterkte van die beton weerstaan.

Foto: U.S. Army Corps of Engineers / U.S. Mil.

 

Boogdamwalle buig binnetoe in die rigting van die water. Soos die water daarteen druk, word die kragte weens die waterdruk op die damwal na die gesteentes aan die kante van die damwal oorgedra. Boogdamwalle is goedkoper om te bou as gravitasiedamwalle, want hulle het baie minder beton nodig.

 

BO en REGS BO: Boogdamwalle. Wanneer ’n rivier deur ’n diep kloof vloei, kan die gesteentes aan die kante deur middel van ’n boogdamwal benut word om die waterdruk op die damwal te absorbeer.

Foto: U.S. Army Corps of Engineers / U.S. Mil.

 

’n Variasie van die boog-damwal is die cupola-damwal, wat nie net van die een kant na die ander na die water toe buig nie, maar ook van bo na onder.

 

By stutdamwalle vind ons ’n reguit wal wat aan die buitekant (die kant weg van die dam af) deur ’n ry driehoekige stutmure gesteun word. Die stutmure en buitemuur verplaas die krag van die water na die fondamente.

  

REGS: ’n Stutdamwal, waar driehoekige stutmure die reguit damwal aan die buitekant steun (die stroomaf-kant weg van die dam af).

 

Foto: U.S. National Park Service

 

Party betondamwalle is kombinasies van die bogenoemdes, soos die boog-gravitasie-damwal, byvoorbeeld.

 

 

WANNEER ’n dam gebou word, maak die ingenieurs wat dit ontwerp ’n deeglike studie van die damterrein. Hulle moet onder meer weet watter boumateriaal beskikbaar is, hoe stewig die damwal se fondamente sal wees, hoeveel water in verskillende seisoene deur die vallei vloei, hoeveel modder, slik en ander puin in die dam sal vloei, hoe ver en wyd die dam sal strek wanneer dit vol is en hoe hoog die wal sal moet wees om die water terug te hou.

 

Met behulp van rekenaars kan hulle die enorme kragte bereken wat op die damwal uitgeoefen sal word, soos die swaartekrag (wat die damwal afwaarts trek), ys- en aardspanninge (waaronder die uitwerkings van aardtrillings en -skokke), die druk van water teen die wal, en die krag waarmee die damwal en die kante van die vallei die water sal terugstu.

 

Sodra al die voorbereidingswerk afgehandel is, moet die water van die rivier met ’n omweg weggekeer word sodat die werk op die terrein kan begin. Dit word dikwels bewerkstellig deur klein, tydelike strukture genaamd kofferdamme oor die rivier bokant die beoogde terrein te bou. Die water word dan van die kofferdamme af in ’n nuwe kanaal of deur ’n geboorde tonnel in die valleiwal weggelei om verderaan weer ’n rivier te word.

 

Sodra die terrein droog genoeg is, word die fondamente gegrawe en die grond en klip of betonblokke word opgestapel om die damwal te vorm.

 

Die bou van party van die wêreld se grootste damme het al goed sewe of agt jaar geduur. Die hoogste damwal ter wêreld is die 300 meter hoë Noerek-damwal in Tadjikistan.

 

Hoewel damme vir ons baie nuttig is, het hulle ook hul nadele. Die aard van die water wat in die dam en verder stroom af versamel, verander heeltemal. Hoewel die dam ’n nuwe habitat vir visse skep, kan baie van die plante en diere wat eenmaal in die rivier gedy het, nie meer oorleef nie.

 

Die damwal kan ook ’n versperring wees vir visse wat in die rivier op en af trek. Nog ’n probleem is dat diere verdryf word of verdrink en mense moet verhuis wanneer ’n nuwe damwal  gebou word en die dam dan vol water begin raak.Toe die Karibadam in die Zambezirivier gebou is, moes sowat 30 000 stamlede elders heen padgee. Duisende diere is op eilandjies vasgekeer en moes per boot gered word.

 

Oplaas kan probleme ook opduik wanneer slik, wat normaalweg in ’n rivier afdryf en op vloedvlaktes neergelê word, in die damme versamel. Die Aswan- Hoë Damwal in Egipte keer byvoorbeeld dat slik die Nylvallei bemes soos dit eeue der eeue lank gedoen het. Pleks daarvan moet kunsmis nou gebruik word.

 

 

BO: ’n Satellietfoto van die Aswan- Hoë Damwal, wat die vloei van die magtige Nyl dermate gestuit het dat dit die bewerking van die grond in Egipte ingrypend verander het.

Foto: NASA

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad