Waar die dae hul name gekry het

   

IN die ou, ou dae, voordat die mense van die Weste Christene geword het, het hulle gedurig iets bly soek om te aanbid—iets groters as hulself in die groot en onbegryplike heelal.

In die son, die maan, die weerlig en die donder… in al hierdie dinge het hulle “gode” gevind voor wie hulle die knie kon buig. Een van dié was Thor, die god van die donder met sy hamer, wat hier afgebeeld word.

Namate die Christendom egter oor Europa versprei het en talle mense gekersten is, is gepoog om dié afgodediens te vernietig. Tog het baie aspekte van daardie heidendom tot vandag toe behoue gebly, nie die minste nie in die name van die dae van die week. Elke dag is aan ’n mitologiese god of godin opgedra …
 


SONDAG

VER terug, in die newels van die Oudheid, was daar vir die mense van die heidendom niks wat helderder, mooier en ontsagwekkender was as die son nie. Getrou aan die mens se aard om iets te aanbid wat groter en glorieyker as hy self is, het veral die sonnegloor hulle bekoor. Vir hulle was dit ’n materiële manifestasie van God, en die eerste dag van die week is Sondag genoem. Hoewel die son nie meer aanbid word nie, het die ou paganistiese naam bly steek—selfs vir die Christelike Sabbat.

 

BO: Die Trundholm-sonstrydwa wat in Dene­marke ontdek is, is vermoedelik ’n laat Noor­se bronsartefak. Geleerdes intrepreteer dit as ’n voorstelling van die son wat deur ’n eselin getrek word, wat verband kan hou met die Noorse mitologie. Vir die ou Nore was Sól die verpersoonlikte godin van die son.
 

Foto deur Malene Thyssen,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie

 

Animasie van die son deur Animation Library

 
MAANDAG

MAANDAG was vir die mense van die ou dae die heilige dag van die maan. In die Romeinse mitologie was Diana, die dogter van Jupiter, die godin van die maan. Die naamgewing van die weekdae het by die antieke Egiptenare begin, wat die planete vernoem het. Die latere Romeine het die sewe dae van die week genoem na die son, die maan en die vyf planete wat destyds bekend was. Elke dag is as heilig beskou vir die Romeinse god wat met die bepaalde planeet verbind is. Die dae is genoem Son se dag, Maan se dag, Mars se dag, ensovoorts. Hierdie stelsel is ook omstreeks die begin van die Christelike era gebruik. Die name Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag, soos ons hulle vandag ken, kom egter van Noorse gode.

  

REGS: Die Diana van Versailles, ’n ietwat groter as lewensgroot marmer­standbeeld van die Griekse godin Artemis (Diana van die Romeine). Dit toon haar by ’n hert, omdat sy, as godin van die jag, ook met wilde diere geassosieer is, asook met die maan. Die Diana van Versailles is ’n Romeinse nabootsing van ’n Griekse beeld wat lank reeds verlore gegaan het.

 

Foto: Histories (“Public Domain Old”)
  

Animasie van die maan deur Best Animations

 
DINSDAG


REGS: Hierdie voorstelling van Týr, die Noorse god van oorlog, toon hom sonder die hand wat deur die wolfgees Fenris afgebyt is.

Verkleuring van ’n ou, kopieregvrye Illustrasie, oorspronklike deur Lorenz Frølich (“Public Domain Old”)
 

DIE naam Dinsdag kom van Týr, die Noorse god van oorlog. Lank gelede, volgens die ou mite, was daar ’n nare wolfgees met die naam Fenris wat die aarde geterroriseer het, en die mense wou hê dat hy gevang moes word. Die geeste van die berge het ’n ketting gemaak van die wêreld se moeilikste bekombare dinge—die geluid van ’n kat se voetstappe, die baard van ’n vrou, die wortels van ’n berg, die stemme van visse, die hunkeringe van ’n beer en die speeksel van voëls. Fenris het die ketting een kyk gegee en geweier dat dit om sy nek gesit word tensy een van die gode as waarborg sy hand in Fenris se bek sit. Net Týr was dapper genoeg. Die ketting is aangesit en toe Fenris agterkom dat hy vas is, het hy uit woede die god se hand afgebyt.
 

 
WOENSDAG

 

LINKS: Odin die Swerwer (1886) deur die Sweedse skilder Georg von Rosen (1843-1923). Odin (of Wodan)  sou ’n godheid met ’n tweestrydige persoonlikheid gewees het—enersyds verbind met poësie en inspirasie, en andersyds met toorn, waansin en omswerwing.

 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)


 

WOENSDAG kom van Wodan of Odin, die oppergod van die Skandinawiërs. Hierdie ietwat eksentrieke god sou in ’n paleis van goud en silwer gewoon en twee rawe gehad het wat hy oor die aarde laat vlieg het wanneer hy nuus van die wêreld wou hê. Hy is omring deur skone juffers wat elke dan en wan afgegaan het aarde toe om die siele van gevalle krygshelde te versamel. Terwyl die siele vrolik feesgevier het, het Wodan na hul oorlogsverhale geluister en heuningbier gedrink. In die begin van die Christelike era het die Germane die vierde dag van die week Wodan se dag genoem, wat mettertyd Woensdag geword het.

 

 
DONDERDAG

VIR die ou Noormanne was die vyfde weekdag die heilige dag van Thor, hul god van donder. Thor, of Donar by die Germane, was die seun van Wodan en die grootste, sterkste, mees energieke god van almal—en daarom sou Donderdag ook ’n dag van mag en krag wees. Hy was veral gewild by die landbouers, want is dit dan nie hy wat hulle die reën stuur en hul grond vrugbaar maak nie? Die dondergod word uitgebeeld waar hy deur die wolke ry in ’n kar wat deur twee bokke getrek word, gereed om toe te slaan met sy hamer. Vir die antieke Noormanne was die hamer net so simbolies as wat die kruisbeeld vandag vir die Rooms-Katolieke is.

BO: Detail vanThor se Geveg teen die Reuse (1872) deur Mårten Eskil Winge.

 
VRYDAG

VRYDAG is genoem na Frigga, die vernaamste van die Germaanse godinne. Sy was die tweede vrou van Wodan (Odin) en die stiefma van Donar (Thor), en daar word vertel dat Vrydag aan haar toegesê is sodat sy nie op haar man en seun jaloers moes wees omdat sekere dae aan hulle behoort het nie. In die latere Germaanse mitologie word Frigga dikwels met Freja, die godin van die liefde, verwar.

 

BO: Detail van Frigga Spin die Wolke (1909) deur die Engelse skilder en illustreerder John Charles Dollman (1851-1934).

 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
 


SATERDAG
  

LINKS: Saturnus, volgens ’n sestiende-eeuse werk deur die Italiaanse skilder  Polidoro Caldara da Caravaggio (1492 of 1495 – 1543).
 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)

 

 

SATERDAG kry sy naam van die Romeinse god Saturnus. Daar het nie baie mites oor Saturnus behoue gebly nie, maar dit lyk asof hy as ’n god van vrugbaar­heid en die landbou beskou is. Elke Desember is hy vereer met ’n fees wat Saturnalia genoem is. Dit het vyf tot sewe dae geduur, en in dié tyd het skole en sake-ondernemings gesluit, terwyl slawe en hul base as gelykes beskou is en eenders aangetrek het. Booswigte kon ook nie gestraf en oorlog nie verklaar word nie. Hierdie feestelikheid, wat met die gee van geskenke gepaard gegaan het, is deur die Christene in Kersfees omgeskep.

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad