Die Colosseum

Die Colosseum in Rome is ’n besondere voorbeeld van die argitektuur en ingenieurswese van die antie­ke Romeinse Ryk, en die struktuur bly vandag steeds een van Europa se vernaamste besienswaardighede. Maar skrikwekkende wreedhede is destyds hier ge­pleeg. Daar is al geraam dat sowat ’n halfmiljoen men­se in die historiese spele in die Colosseum gesterf het, terwyl meer as ’n miljoen wilde diere gedood is...

Die Colosseum

BO en INLAS:  Die Colosseum is ’n tydlose baken in Rome, Italië, soos hierdie foto en die ingelaste afdruk van ’n ou kunswerk kan getuig. Hoe­wel dié antieke amfiteater vandag ’n gedeeltelike bouval is weens ver­woestende aardbewings en klipdiewe, staan die Colosseum ná talle eeue steeds in die hart van die Italiaanse hoofstad as ’n ikoniese simbool van die glorie van Ou Rome.

Krediet: U.S. Library of Congress

 

Arena van die dood
 

Detail van die “Christelike Martelare se Laaste Gebed

BO: Detail van die Christelike Martelare se Laaste Gebed, in 1883 geskilder deur Jean-Léon Gérôme. Tog word die bekende bewering dat die vroeë Christene só in die Colosseum voor Romeinse skares aan honger leeus gevoer is, deur sekere geskiedkundiges afgemaak as ’n blote legende (wat nie wil sê dat Christene nie op ander maniere in Rome wreed aan hul einde gekom het nie). Die Colosseum is wel gebruik vir skouspelagtige vertonings deur gladiators, geoefende kampvegters van wie derduisende gesterf het om gehore te vermaak. Daar was ook reusagtige uitbeeldings van jagtogte op troppe ingevoerde wilde diere. En in opvoerings van byvoorbeeld verhale uit die mitologie, sou ’n ter dood veroordeelde per­soon glo partymaal die rol vertolk het van die held wat uiteindelik deur wilde diere verskeur word of doodgebrand word.

 

Krediet: Histories (“Public Domain, Old”)

D

IE Colosseum, wat in die eerste eeu n.C. gebou is, was die grootste Romeinse amfiteater. Die ontwikkeling van die gewelfboog en die ontdekking van beton het Romeinse argitekte in staat gestel om só ’n kolossale gebou te ontwerp.

 

Maar die Colosseum was pragtig sowel as imposant. Dit is aan die buitekant omkring deur rye booggange, elk met ’n standbeeld daarin en omraam deur suile van wit marmer.

 

Tog is hierdie meesterstuk van die ingenieurswese en ontwerp vir die wreedste sportsoort gebruik, die gevegte van die gladiators. Derduisende van dié geoefende kampvegters het gesterf om gehore in die Colosseum te vermaak.

 

Die Colosseum is gebou soos twee Griekse teaters wat saamgevoeg is om ’n ovaalvormige arena te vorm met rye sitplekke rondom. Maar anders as die Griekse teater, wat in ’n holte gebou is, het die Colosseum geen uitwendige stutte gehad nie. Die massiewe bouwerk is deur gewelfboë gesteun wat die fondamente van die sitplekke gevorm het.

 

Onder die arena het ’n doolhof van gange na talle kamers en dierehokke gelei. Die arena kon selfs oorstroom word om skyngevegte tussen skepe uit te beeld. ’n Reuse-skutdak, ’n velarium genoem, het die skares teen son en reën beskerm. Dit is opgehou deur toue wat vas was aan 240 pale wat die bo-verdieping omkring het.

 

Die Colosseum was so goed ontwerp dat sy 50 000 mense (die maksimum) dit binne minute kon verlaat. Dit het 80 ingange gehad—76 met nommers wat ooreengestem het met nommers wat op die toeskouers se kaartjies gestempel is.

 

’n Reuse-kroonkandelaar is bokant die arena gehang vir lig tydens nagtelike spele. Matrose is bo-op die Colosseum geplaas om die velarium te beheer. Die netwerk van gange en dierehokke onder die arena is die hypogeum (ondergrondse ruimte) genoem, en die houtdak daarvan het dus die vloer van die arena gevorm. Daar was een ingang vir die gladiators na die arena en ’n klein hekopening waardeur die lyke weggedra is.

 

Die Latynse woord “arena” beteken “sand”. Die houtvloer van die Colosseum se arena was met sand bedek om die slagoffers se bloed te absorbeer.

 

Colosseum aan die binnekant

BO: Die Colosseum aan die binnekant, waarin ook die net­werk van gange en dierehokke in die hypogeum (onder­grondse ruimte) onder die arena te sien is. Die houtvloer van die arena het vanselfsprekend verweer.

Foto: U.S. Department of Energy

 

Moderne loopvlak oor die arena in die Colosseum

BO: Vandag is ’n loopvlak oor die arena aangebring sodat besoekers kan loop waar die met sand bedekte houtvloer van die arena eenmaal bestaan het.

 

Foto in April 2005 geneem deur Briséis, Caroline van Luxemburg,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die bepalings van die GNU Free Documentation License of enige latere weergawe van deur die Free Software Foundation gepubliseer word

 

ROME se grootste bydrae tot die argitektuur was die gewelfboog, wat ’n veel groter ruimte kon oorspan as wat met pilare en lateie moontlik was. Nog ’n Romeinse ontdekking was beton, wat verkry kon word deur messelklei met gruis, sand en puin te meng. Beton was baie veelsydiger en goedkoper as gekapte klipblokke. Elk van die boustowwe wat gebruik is, het ’n ander doel gedien.

 

Blokke van ’n plaaslike kalksteen is gebruik om die buitemure en raamwerk tot by die tweede verdieping te bou. Die bo-verdiepings is met sagter klip, stene en beton gebou; lawa is vir soliede fondamente gebruik; puimsteen vir die oorwelfsels om hulle ligter te maak.

 

Die gladiators het teen mekaar bly veg totdat een van hulle ernstig gewond is. ’n Dapper vegter se lewe is soms gespaar. Maar wanneer die keiser met sy duim ondertoe beduie het, moes die seëvierende gladiator klaarspeel met sy teenstander. ’n Arena-beampte sou met ’n knuppel seker maak dat die verloorder wel dood is voordat dié met hake deur die hek van die dood gesleep is.

 

Toeskouers is volgens stand van sitplekke voorsien. Hoe vernamer jy was, hoe nader het jy aan die arena gesit.

 

Romeinse gehore het ook ander skouspele geniet. Dwerge of mense met liggaamsgebreke moes soms teen mekaar veg. Diere is in die arena ingejaag om gejaag en geslag te word. In latere eeue is die meeste van die wrede skouspele verbied, hoewel stiergevegte tot in 1332 in die Colosseum aangebied is.

 

Wilde diere is regoor die Romeinse Ryk gevang en na Rome gestuur om in die arenas geslag te word. Jagters het die diere te perd ingehaal en hulle in ’n ingeslote ruimte ingejaag. Die wilddrywers, wat deur skilde en lang vlammende fakkels beskerm is, het die diere binne-in die kamp in ’n hoek gejaag en hulle in kratte weggestuur op die lang reis na Rome.

 

Soveel diere is gevang dat party diersoorte in sekere gebiede totaal uitgewis is. Noord-Afrika was sy olifante kwyt en Mesopotamië sy leeus.

 

Skare vra bloedvergieting in die Colosseum

BO: Pollice Verso (“Duime Ondertoe”), ’n werk van 1872 deur Jean-Léon Gérôme, beeld die wreedheid uit van die destydse gevegte in die Colos­seum. Wanneer die keiser met sy duim ondertoe beduie het, moes die seëvierende gladiator klaarspeel met sy teenstander. Hierdie kuns­werk toon juis so ’n triomferende vegter, met ’n rasende en bloeddorstige skare wat ook met hul duime na onder vir hom wys dat hy finaal  met sy opponente moet afreken. Wetenskaplikes sê egter vandag dat die toe­rusting wat in die skildery uitgebeeld word nie 'n juiste weerspieëling is van dié van die gladiators van ouds nie.

 

Krediet: Histories (“Public Domain, Old”)

Nog inligting oor die bou van die Colosseum

IN 69 n.C. was Rome in puin ná ’n burgeroorlog. Keiser Vespasianus (Titus Flavius Vespasianus) het die stad begin herbou. In 72 n.C. is ’n meer op die terrein van Nero se paleis drooggelê. Dis waar die Colosseum opgerig is. Die betonfondamente was 12 meter diep. Daar was dierehokke en kamers onder die grond. Elke verdieping aan die buitekant van die Colosseum is met suile in die Griekse styl afgewerk.

 

VespasianusLINKS: Vespasianus, soos hy uitgebeeld is op die sestertius (of sestersie), ’n ou Romeinse muntstuk.

 

 

Keiser Vespasianus is dood toe daar nog aan die Colosseum gebou is. Sy seun keiser Titus (volle name ook Titus Flavius Vespasianus, soos dié van sy pa) het die werk daaraan verder geneem, en dit is in 80 n.C. geopen met honderd dae van spele, waaronder gevegte tussen gladiators. (Vroue het soms gladiators geword, totdat hierdie praktyk in 200 n.C. onwettig verklaar is.) Onder Titus se jonger broer keiser Domitianus (Titus Flavius Domitianus) het die Colosseum sy huidige voorkoms en grootte gekry.

 

DIe  ovaalvormig gebou se afmetings: 188 x 156 meter aan die buiterand, 86 x 54 meter binne en ’n raps onder die 50 meter hoog.

 

Die Colosseum is aanvanklik nie só genoem nie, maar die Amphiteatrum Flavium, omdat dit die werk van die sogenaamde Flaviese keisers, Vespasianus,Titus en Domitianus, was. Die amfiteater het in die Middeleeue sy huidige naam gekry, blykbaar vanweë ’n kolossale bronsstandbeeld van keiser Nero daar naby.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad