Cecil John Rhodes (1853–1902)

 
BO: Cecil John Rhodes (1853–1902).

 

Cecil John Rhodes

Die drome en dade van ’n bouer van die Britse Ryk

 

Sy groot droom was ’n string Britse kolonies regdeur Afrika wat deur ’n spoorlyn van die Kaap tot by Kaïro met mekaar verbind word. En omdat hy geglo het “geld is mag”, het hy een van die rykste mense op aarde geword. Maar toe word Cecil John Rhodes te waaghalsig...

 

 Rhodes staan wydsbeen oor Afrika—’n spotprent

BO: Rhodes staan wydsbeen oor Afrika—’n spotprent wat in 1892 gepubliseer is nadat Cecil John Rhodes planne aangekondig het vir ’n telegraaflyn en spoorweg wat van Kaapstad tot by Kaïro sou strek.

D

IE bleeksiel van ’n predikantseun op die skoolbanke in Hertfordshire, Engeland, is nie juis ’n kind wat ’n mens indrukwekkend sou noem nie. Heeltemal die teenoorgestelde. Met sy tingerige liggaamsbou en asmatiese geneigdheid slaan die knaap maar ’n enigsins sieklike figuurtjie.

 

Vertel nou vir iemand hier in die negentiende eeu dat einste hy nog bekend sal raak as een van die stoerste Britse imperialiste van sy tyd en dat hy hom sal opwerk om een van die rykste mense op aarde te word, en jy sal bes moontlik met ’n siniese frons van ongeloof begroet word.

 

Maar wat nie gesien kan word nie, is die uitsonderlike brein agter die bleek jong gesig—onder die golwende bos swart hare en agter die sprekende grou oë. Dit is die vlymskerp verstand van iemand wat werklik groot drome kan laat waar word. En wat meer sê, moenie sy opgewekte geaardheid miskyk nie.

 

Cecil John Rhodes... ’n mens kan nie die Suid-Afrikaanse geskiedenis in sy korrekte verband begryp sonder om kennis te dra van hierdie man en wat hy gedoen het nie. Op ’n skerpsinnige en soms aggressiewe manier het hy die Britse houvas op Suidelike Afrika vestewig en as “Empire Builder” (Ryksopbouer) oor die wêreld heen bekend geraak.

 

Met sy onverdrote ywer het Rhodes egter ook geswore vyande geskep onder mense wat nie sy siening gedeel het nie. Sy groot droom was ’n string Britse kolonies van die Kaap tot Kaïro, wat boonop deur ’n spoorlyn aanmekaar gebind is. Die spoor sou ’n lewensaar wees wat ook spoedige ingryping op enige plek sou moontlik maak wanneer dit nodig was.

 

Britse kolonialisme in Afrika was nou verbind aan hierdie konsep van die Kaap-tot-Kaïro-spoorweg wat deur Rhodes voorsien is. Dat die Boere-republieke van Transvaal en die Vrystaat ná die Anglo-Boereoorlog onder die Britse vlag gekom het, was die verwesenliking van ’n deel van die ideaal wat hy gekoester het.

 

Boonop het Rhodes in sy lewe een van die grootste finansiers geword wat Suid-Afrika ooit gehad het. Om iets van sy sakevernuf te verstaan, hoef ’n mens maar net te dink aan die magtige De Beersmaatskappy wat hy deur die samesmelting van verskeie diamantmaatskappye gestig het.

 

En tog—die verbete idealis en vegter wat hy was—was Cecil John Rhodes, soos ons reeds hierbo gesê het, liggaamlik nie sterk nie. Hy het juis weens sy swak gesondheid uit Engeland in Suid-Afrika beland. Maar as dit nie gebeur het nie …  nou ja, historici sal lank kan redeneer oor hoe ingrypend die afwesigheid van ’n Rhodes straks die hele gang van ons geskiedenis sou kon verander het.

 

Rhodes se koms na Suid-Afrika en sy opgang in die diamantwêreld

CECIL JOHN RHODES is in 1853 in Hertfordshire, Eng­land, gebore. Hy was die vyfde seun van ’n predikant van die Anglikaanse Kerk, Francis William Rhodes, en dié se tweede vrou, Louisa, ’n nooi Peacock. Cecil het altesame nege broers en twee susters gehad—’n groterige pastoriegesin, maar niks ongewoons in daardie dae nie.

 

Ná skool is Rhodes na die Universiteit van Oxford waar hy, soos sy pa, aanvanklik vir predikant wou studeer. Dit is nie bekend of hy ook ’n voorstander van kort preke was nie, soos sy pa, wat daarop geroem het dat hy nooit ’n preek van langer as tien minute gelewer het nie!

 

’n Jong Cecil John Rhodes toe hy ’n student aan die Universteit van Oxford wasLINKS: ’n Jong Cecil John Rhodes toe hy ’n student aan die Universteit van Oxford was.

 

 

Hoe ook al, by die universiteit het die voortvarende Rhodes moontlik vir meer kans gesien as waartoe sy gestel is staat was. Hy het op ’n keer gaan roei en toe weens ooreising ernstig siek geword. Sy is longe dermate aangetas dat die dokters hom aangeraai het om ’n lang seereis te onderneem. Rhodes moes desnoods instem, maar het hom voorgeneem om weer na Oxford terug te keer indien sy gesondheid dit toelaat.

 

Soos dit moes gebeur, was ’n ouer broer van hom, Herbert, in daardie stadium in die Britse kolonie Natal in Suid-Afrika waar hy ’n bestaan as katoenkweker probeer maak het. Cecil het hom by sy broer aangesluit, hoopvol om in die suiderson te kan aansterk.

 

Cecil was pas in Natal toe ouboet Herbert se voete begin jeuk vir ’n nuwe avontuur: om sy geluk te gaan beproef by Kimberley, waar diamante toe pas ontdek is. Cecil sou agterbly om die fort te hou op die katoenplantasie.

 

Maar die jong Rhodes het self gou besef dat diamante ook vir hom baie aanlokliker klink as katoen. In Oktober 1871 vertrek hy dus met ’n skotskar en osse, ’n pik en 'n paar grawe na Kimberley om hom weer by sy broer te voeg. ’n Tante het hoeka vir hom ’n klomp ponde geleen en dié sou nuttig te pas kom op die delwerye.

 

Tog het die onervare en ongevormde seun aanvanklik klippe gekou in die diamantveld. Omdat hy te laat daar aangekom het, kon hy geen kleim meer kry nie. En sy broer Herbert was vir hom geen steunpilaar nie, om die minste daarvan te sê. Boonop was hy nog lank nie so gesond as wat hy gehoop het om in Suid-Afrika te word nie, en die warm en stowwerige mynkampe was allermins die beste herstelplek vir ’n kranklike mens.

 

Maar Rhodes was ’n man wat gou vriende gemaak het. En gelukkig vir hom het party van hulle wat reeds gerieflike huisies besit het, hulle oor hom ontferm en hom huisvesting aangebied. Kort voor lank was hy weer taamlik sterk en gesond.

 

Sy kennismaking met ene Charles Dunell Rudd, ’n veel ouer man as hy wat ’n lewenslange vriend geword het, het ook ’n groot rol gespeel om van Rhodes die suksesvolle man te maak wat hy later sou word.

 

Charles Dunell Rudd, sakevennoot van RhodesLINKS: Charles Dunell Rudd, sakevennoot van Rhodes.
 

 

Rhodes en Rudd het eers saam ’n ysmasjien gekoop—’n wonderlike voorbeeld van entrepreneursvernuf in ’n stikwarm stofwêreld. Dis mos die soort omgewing waarin die ys in water of ’n drankie die heerlikste lafenis vir ’n doodmoeë delwer met ’n kurkdroë keel is. Die ysmasjien in die diamantveld was vanselfsprekend so lonend dat hulle dit later teen ’n groot wins kon verkoop.

 

Met die geld wat hulle gemaak het, het Rhodes en Rudd elkeen ’n kwart-kleim in die ou De Beers-myn bekom. Dit was einste hierdie kwart-kleim wat Rhodes op die pad na sy latere fabelagtige rykdom geplaas het. Hy en Rudd het vennote geword en al hoe meer kleims begin koop.

 

Tog wou Rhodes nie ophou droom om weer aan Oxford te gaan studeer sodra dit vir hom moontlik was nie. En ná twee jaar word sy droom bewaarheid toe hy hom op ’n skip bevind waarmee hy na Engeland terugvaar.

 

Maar die klimaat in sy vaderland wil blykbaar eenvoudig nie met hom akkordeer nie. Rhodes word in Engeland só deur ’n hart- en longsiekte platgetrek dat hy oortuig raak dat hy nog net ’n skamele ses maande op aarde gegun word. Weer vertrek hy na Suid-Afrika—waar hy nogmaals herstel.

 

Ná byna agt jaar se gependel heen en weer, waarin hy sy aandag nagenoeg gelykop tussen Oxford en Kimberley verdeel, kan Cecil John Rhodes uiteindelik die graad M.A. agter sy naam skryf.

 

Maar intussen ontwikkel hy ook tot ’n sakeman van formaat.

 

Finansier en dromer

TUSSENDEUR die heen-en-weer-vaardery om te kan studeer, word Rhodes ’n groot geldman met wie vriend en teenstander moet rekening hou. Slim besluite met spekulasie vergroot sy inkomste aansienlik. Deeglik bewus van die feit dat die delwerye weens die enorme uitkalwing van die aarde uiteindelik diep myne sal moet word waarin geen delwer ou eie houtjie staande sal kan bly nie, besef hy dat ’n man met geld eerlank die myne sal kan opkoop.

 

Rhodes stig dus ’n maatskappy met ’n groot kapitaal. Met verdrag kry hy dit reg om soveel kleims in die ou De Beers-myn by sy maatskappy te in te skakel dat hy die beheer oor die myn verkry. Met moder­ne masjinerie word verbasende diamantvondste spoedig daar gedoen—en teen 1885 het Rhodes ’n jaarlikse inkomste wat hom die naasrykste man in Kimberley maak.

 

Slegs die Joodjie Barney Barnato is nog ryker as hy. Barnato het die delwerye platsak binnegekom, maar is hy nou die baas van die Kimberley-myn met sy haas ongelooflike skatte.

 

Barney BarnatoREGS: Barney Barnato. Om Barnato oor te haal om saam met hom die De Beersmaatskappy (die internasionale reus in die diamantwêreld) te stig, was Rhodes se grootste finansiële meesterstuk.
  

 

Maar wat was dan eintlik die dryfveer agter Rhodes se intense en energieke skattejag? Ontleders reken dat enige drifte tot selfverryking heeltemal oorskadu is deur sy drang om mag deur middel van sy rykdomme te bekom. En sy oortuiging dat “geld mag is”, het die grondslag gevorm van sy volharding om vir sy groot ideaal te stry. Hierdie ideaal was ’n verenigde Suid-Afrika as deel van die Britse Ryk en die uitbreiding van die Britse heerskappy tot diep in Afrika.

 

Rhodes begin om Brittanje se houvas

op Suidelike Afrika te verstewig

RHODES was nog maar ’n jong man van 28 toe hy gereken het dat hy genoeg skatte versamel, en dus genoeg mag gehad het, om met sy stryd vir die algehele verengelsing van Suidelike Afrika te begin.

 

Hy word ’n politikus en stel hom in Barkly-Wes verkiesbaar om ’n lid van die wetgewende gesag van die Kaapkolonie te word.  Dat die skrander jong kandidaat wel tot die Kaapse parlement verkies word, hoef niemand te verbaas nie.

 

By die parlement kruis sy weë met dié van Jan Hendrik Hofmeyr, die leier van die Afrikanerbond. Rhodes se vlugheid van begrip en skerp insig laat hom dadelik besef dat hy noodwendig die Afrikaners sal moet oorreed om hulle agter hom te skaar indien hy sy drome oor die uitbouing van die Britse Ryk wil verwesenlik. Gou wen hy dan ook Hofmeyr-hulle se vertroue deur te wys dat hy die Afrikaners begryp en respekteer.

 

Maar as dit vir hom maklik is in die Kaap, sal hy hom terstond vasloop teen ’n onversetlike reus in die Noorde. Paul Kruger, die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), is van die begin af agterdogtig oor dié ambisieuse Engelsman wat in Kimberley so in die botter geval het. Vir Kruger is Rhodes ’n vyand van die republikeinse onafhanklikheid, uit en gedaan.

 

Met Jan Hofmeyr en die Kaapse Afrikaners in sy sak, kry Rhodes sy eerste kans om om ’n groter kleim vir Brittanje in Suidelike Afrika af te pen. Die Zuid-Afrikaansche Republiek laat blyk dat hy sy grondgebied na die weste toe wil vergroot tot in Betsjoenanaland (vandag Botswana), maar Rhodes huiwer nie om ’n stokkie daarvoor te steek nie.

 

Want vir hom is Betsjoenanaland juis die “Suez-kanaal” na die noorde, die pad waarlangs die Britse uitbreiding in Afrika moet plaasvind. Met sy ferm houding van “geen duim grond vir Transvaal nie”, sorg hy met sy ingryping dat die hele Betsjoeanaland by die Britse Ryk ingelyf word.

 

 Rhodes op die trekpad in die destydse Rhodesië

  
BO: Rhodes op die trekpad in die destydse Rhodesië, wat na hom genoem is (vandag die state Zambië en Zimbabwe).
By hom op die foto is sy sekretaris, Grimmer, en sy kok, Tony.

 

 

Die totstandkoning van Rhodesië

HIEROP markeer Rhodes die politikus ’n ruk lank die pas terwyl Rhodes die sakeman sterker op die voorgrond tree om nog meer geld—en mag—te bekom. Sy oogmerk is om Kimberley se hele geldmag agter hom te kry aangesien dit in hierdie stadium nog tussen hom en Barney Barnato verdeel is. Die enigste manier om die onaantasbare superryke van die diamantwêreld te word, is om Barnato te ooreed om met hom saam te werk. En om dit te vermag, moet hul diamantmaatskappye saamsmelt.

 

Rhodes pak die onderhandelings aan soos ’n bulhond wat weier om te laat los waar hy gebyt het, en sy oorreding van Barnato word dan ook as sy grootste finansiële meesterstuk beskou.  Hy redeneer ’n dag en ’n nag lank met Barnato, wat nie net swig deur tot samesmelting in te stem nie, maar ook toestem dat die winste van die nuwe hipermaatskappy gebruik kan word om sy uitbreiding na noorde te befonds. De Beers Consolidated Mines—só sal dit heet. ’n Kolos der kolosse.

 

Rhodes se hand is nou grootliks gesterk om verder aan die “Empire” te bou. Want sy sak is gevul met ’n jaarlikse inkomste van sowat ’n miljoen pond, ’n ongehoorde bedrag vir net een mens hier in die negentiende eeu.

 

Matebeleland en Masjonaland oorkant die Limpopo word vervolgens deur Rhodes vir die Britse Ryk verseker. Die Britse vlag wapper welhaas oor hierdie gebied nadat die Matabeles in ’n bloedige stryd die onderspit moes delf.  Dit kry die naam Rhodesië, genoem na Rhodes self (vandag die state Zambiê en Zimbabwe). Sodoende verhinder Rhodes terselfdertyd dat die Zuid-Afrikaansche Republiek na die noorde uitbrei.

 

Rhodes en die Boere-republieke

ALMAL moes tog gesien het waarheen hy mik, kan ons vandag sê, maar dit was asof Hofmeyr en die Kaapse Afrikaners blind was vir Rhodes se ware bedoelinge. Vreemd genoeg het hy hul vertroue behou, hoewel hy sulke heftige stappe gedoen het om te keer dat die Boere-republieke hul grondgebied vergroot.

 

Wat meer sê, dit was juis met die Kaapse Afrikaners se steun dat hy in 1890 eerste minister van die Kaapkolonie geword het. Hy was toe hy nog skaars 37 jaar oud.

 

Aan die spits van die Kaapse regering was hy nou magtig genoeg om gestalte te probeer gee aan sy droom van ’n verenigde Suid-Afrika  onder die Britse vlag. Hy probeer eers al die state van Suid-Afrika in ’n ekonomiese verbond saamvoeg. As hy dit kan vermag, sal dit mos des te makliker wees om die Boere-republieke aan Britse beheer te onderwerp. Maar dit is ’n wakker en onwrikbare Paul Kruger wat nogmaals hier ’n speek in die wiel steek.

 

Vir ’n oormoedige Rhodes, in 1895 by die toppunt van sy mag, is al wat oorbly nou die gewelddadige onderwerping van Kruger se Zuid-Afrikaansche Republiek.

 

Deur middel van die Uitlanders in Johannesburg en ’n komplot met ene Leander Starr Jameson en dié se Rhodesiese en Betsjoeanalandse polisiemanne om die ZAR oor die Nuwejaarsnaweek 1895–’96 binne te val, probeer Rhodes om die Kruger-regering omver te werp. Die inval misluk klaaglik.

 

Met hierdie dom flater tuimel Rhodes van sy troon. Hy moet as eerste minister van die Kaapkolonie bedank, want die Afri­kaners herken hul  grootste vyande in hom en sy trawante. Boonop word hy vir ’n tyd lank selfs die sondebok van die einste Ryk waarvoor hy soveel opgeoffer en wat hy so verafgood het.

 

Die gevangeneming van Jameson ná die invalLINKS: Die gevangeneming van Jameson ná die inval. Detail van ’n illustrasie in Petit Parisien, 1896 (swart-wit illustrasie verkleur).
 

 

Die skemerjare

AS ’n uitgeworpene onttrek Rhodes hom ’n ruk lank aan die politiek. Hy reis meermale na Kimberley, Rhodesië en Engeland, en raak betrokke by die voltooiing van die spoorlyn na Bulawayo. Maar kort voor die Anglo-Boereoorlog keer hy terug na die parlement waar hy steeds uitgesproke bly oor sy ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag.

 

Rhodes se droom kom uiteindelik tot verwesenliking toe die Boere-republieke ná ’n lang en bloedige stryd gedwing word om hulle aan Brittanje te onderwerp. Tog het hy nie gelewe om dit self te aanskou nie.

 

In die Afrikaanse Kinderensiklopedie, waaruit ons die meeste van die inligting vir hierdie artikel verwerk het, word as volg oor Rhodes se laaste jaar of twee vertel:

 

“Toe die oorlog uitbreek, het hy hom na Kimberley gehaas. Kimberley is deur die Boere beleer en Rhodes het die diamantveld bereik met die laaste trein wat nog kon deurkom. Gedurende die lang beleg het hy daar gebly en moreel en daadwerklik bygedra tot die

 

 Die huisie in Muizenberg waarin Rhodes oorlede is

 

BO: Die huisie in Muizenberg waarin Rhodes oorlede is.

 

Foto: Afrikaanse Kinderensiklopedie
 

 

verdediging van die stad. Nadat die beleg opgehef was, is hy terug na die Kaap om in sy pragtige huis Groote Schuur te rus en sy gesondheid, wat nou reeds baie swak was, te probeer herwin. Hy is weer eens na Engeland, maar omdat ’n Poolse edelvrou, prinses Radziwill, groot somme geld van hom in Suid-Afrika verduister het, is hy teruggeroep om teen haar getuienis af te lê.

 

“Vandat hy aan die Kaap aangekom het, het sy ge­sondheid stadigaan verswak. Hy kon nooit vry asemhaal nie. Van die een groot venster in Groote Schuur het hy gedwaal na die ander.

 

“Later is hy na ’n klein huisie in Muizenberg. Al die moontlike is gedoen om hom verligting te gee. Suurstof is toegedien, ’n gat is in die muur teenoor sy slaapkamervenster gekap, sodat daar 'n gedurige toevloei van vars seelug deur sy slaap­kamer kon wees, maar alles tevergeefs. Op 26 Maart 1902, toe hy slegs 49 jaar oud was, is hy oorlede.

 

“Met ’n spesiale trein wat hy vir hom voor sy dood laat maak het, is sy stoflike oorskot na Rhodesië vervoer, en bo-op die Matoppo-berge, op ’n eensame plek wat hy self ‘View of the World’ genoem het, is hy in ’n graf van blou granietklip begrawe.”

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad