Die helder voorbeeld
BO: Johannes Calvyn (Jehan Cauvin /Jean Calvin).
Vir hom was dit van kardinale belang: die onwrikbare besef
van die absolute majesteit en oppergesag van God teenoor die mens se
volkome afhanklikheid. Ook dat godsdiens nie net iets vir Sondae en
die kerk is nie, maar dat ’n mens in alles wat jy doen, moet toon
dat jy ’n Christen is. En etlike eeue later is die gevolge van
Johannes Calvyn se hervormingsprediking steeds duidelik waar te neem
in die handel en wandel van gelowiges oor die hele wêreld heen...
ook in Suid-Afrika waar die Calvinisme ’n besondere plek in veral
Afrikaanssprekendes se geloofslewe ingeneem het... |
||||
N die Wes-Karoo is ’n dorp wat na hom genoem is. Die dorp is Calvinia, die sentrum van ’n belangrike woldistrik, waar heelwat koring ook gesaai word. Maar Calvinia se naam is baie beslis nie die enigste stempel wat Johannes Calvyn op die geskiedenis gelaat het nie.
Trouens, die lewens- en geloofsbeskouinge van vele gelowiges regoor die wêreld heen word tot in ons tyd steeds gerig volgens dit wat hy in sy hervormingsprediking verkondig het. En dit het Calvyn reeds ’n klompie eeue gelede gedoen.
Mense wat die Protestants-Christelike geloof aanhang, al behoort hulle tot baie verskillende kerkgenootskappe—teenoor diegene in die Katolieke Kerk—noem hulself ook dikwels Calviniste. Dit is wanneer hulle in hart en siel meegaan met die gees en bedoeling in die uitsprake van Calvyn.
As Hervormer word Calvyn baiemaal in een asem genoem met die Duitse Protestantse teoloog Martin Luther.
Johannes Calvyn (oorspronklik Jehan Cauvin, later via Latyn verander in Jean Calvin, soos hy vandag steeds deur die Franse genoem word) is 1509 in Noyon, Noord-Frankryk, gebore en in 1564 in Genève, Switserland, oorlede. Hy was die tweede van drie seuns (wat tot volwassenheid bly lewe het) van ’n kerkamptenaar en die dogter van ’n herbergier. Calvyn se ma is ’n paar jaar ná sy geboorte oorlede.
Self was hy net nege jaar getroud en wel met die weduwee Idelette Storder, gebore De Bure. Sy was aanvanklik van Gelderland in Nederland. Toe Idelette hom ná die kortstondige, gelukkige huwelik ontval, het Calvyn geskryf: “Nou probeer ek my verdriet verdring deur onverpoos met amptelike pligte besig te bly.” Die drie kinders van haar en Calvyn is almal as babas oorlede.
Calvyn het aanvanklik gestudeer om Katolieke priester te word en hom daarna aan die regte en die klassieke gewy. Dit was onder die invloed van Luther se geskrifte dat hy ’n Protestant geword het.
In die 1530’s het Calvyn van die Rooms-Katolieke Kerk weggebreek, ’n stap wat later verreikende gevolge in die kerkgeskiedenis sou hê nadat hy sy eie insigte oor die Christelike leer op skrif gestel en verkondig het.
“Deur ’n plotselinge bekering het God my hart ... tot gehoorsaamheid gebring,” sou hy vertel. Vanweë sy oortuigings en die vervolging van die Protestante is hy ook gedwing om pad te gee uit die Franse hoofstad Parys, waar hy hom toe bevind het.
Calvyn het hom in 1535 in die Switserse stad Basel gevestig. Hier het hy in 1836 die eerste uitgawe van sy hoofwerk, die Institutio Christianae Religionis (“Verorderinge van die Christelike Geloof”), die lig laat sien toe hy nagenoeg in die middel van sy twintigerjare was. Vir latere uitgawes het hy die hoofstukke in die boek sterk aangevul.
In hul lang en bitter stryd teen die Kerk van Rome sou die Institutio ontsaglik baie vir die vervolgde Protestante beteken.
Calvyn is later na Genève, Switserland, waar hy hom as vooraanstaande lid van die Raad teen diegene verset het wie se geloof en sedes van syne verskil het. Hy was ’n streng teenstander van ritueel en bygeloof in die godsdiensoefening.
MAAR wat behels die Calvinisme eintlik? In onderwerping aan die absolute gesag van die Skrif as die Woord van God, wil die Calvinisme in leer en lewe niks anders as konsekwente Christendom wees nie. Kenmerkend van Calvyn se leer is onder meer die uitgangspunt van die absolute soewereiniteit van God oor elke gebied van die lewe, met die roeping van die mens om op alle terreine Sy eer, in gehoorsaamheid aan Sy Woord, te soek.
Die mens is in sy algehele verdorwenheid volkome afhanklik van die genade van God in Christus, slegs vrygespreek voor God deur die versoenende werk van ons Heiland.
Lynreg in stryd met die Katolieke opvatting dat ’n mens jou saligheid met goeie werke sou kon verdien, meen Calvyn, net soos Martin Luther, dat geen sogenaamde goeie daad ’n mens ooit met God kan versoen nie. God is immers so groot, en die mens so nietig in vergelyking met God, dat geen mens, hoe godvrugtig ook al, ooit in staat sal wees om iets daaraan toe of af te doen nie.
Volgens Calvyn strek die gedagte dat God se voorsienigheid alles regeer, die gelowige tot troos. Die mens word, soos hy dit stel, nie geregeer deur die lot nie, maar deur die goeie God.
’n Mens kan tereg sê dat die invloed van die Calvinisme op die staatkundige, sosiaal-ekonomiese en wetenskaplike ontwikkeling in verskillende wêrelddele nie oorskat kan word nie—veral in lande waar dit die kragtigste ingang gevind het, soos Nederland, Skotland, Amerika, maar ook in Switserland, Frankryk en Hongarye. En natuurlik in Suid-Afrika.
In ons land is ’n groot deel van die bevolking Christene wat ’n mens Calviniste kan noem—indien nie in algehele geestelike oorgawe nie, dan wel volgens dit wat hulle met die mond bely.
Calvyn word vandag allereers onthou omdat hy sy lewe lank slegs wou luister na wat God in die Bybel sê en dit na sy beste vermoë wou vertolk.
Daarom, soos iemand dit al gestel het, is hy so ’n helder voorbeeld ook vir die kerke van ons tyd. |
||||
|
Vir die uitgawe van 1539 is die woordorde verander om die boeknaam te vorm soos ons dit vandag ken. Die werk het ook van ses tot sewentien hoofstukke aangegroei.
Teen die definitiewe (finale en afdoende) Latynse uitgawe van 1559 het die werk tot tagtig hoofstukke uitgebrei, wat in vier “boeke” ingedeel is.
Calvyn het nooit bedoel dat die mense vir wie hy geskryf het “Calviniste” moes word nie. Hy het in der waarheid gelas dat hy in ’n graf sonder teken of opskrif begawe moes word. Maar Calvyn se hele lewe en ywer was—soos dit veral in sy Institutio tot uiting kom—daarop gerig om Gods Waarheid na streef, waarheen dit hom ook al gelei het.
|
||||