Die buitenste ruimte

•  

Moeder Aarde en haar bure—die 8 planete in ons sonnestelsel
  
Klik op die skakel onderaan elke planeet vir onmiddellike inligting daaroor.
Let daarop dat die planete hier min of meer ewe groot afgebeeld word, maar dit is natuurlik nie werklik so nie. Die verskillende planete se groottes verskil, om die minste te sê, aansienlik. Omdat ’n reus soos Jupiter en ’n duimpie soos Pluto miskien glad nie eens in dieselfde asem genoem behoort te word nie, het die Internasionale Astronomiese Unie dan ook op 24 Augustus 2006 besluit om Pluto van sy status as volwaardige planeet te stroop. Hy staan nou net as ’n dwergplaneet bekend...


Mercurius


Venus


Aarde


Mars


Jupiter


Saturnus


Uranus


Neptunus


Pluto
(afgegradeer
tot ’n
dwergplaneet)

*Die ysterplaneetjie Mercurius—die pokkerige "maanwêreld" naaste aan die son

MERCURIUS is ’n klein planeetjie vol "pokmerke" wat by die eerste kyk baie soos die aarde se maan lyk. Tog verskil hy in belangrike opsigte van ons maan. Hy is byvoorbeeld baie digter en daar word gereken dat Mercurius ’n ontsaglike kern van soliede yster met ’n straal van 1800 tot 1900 km het. Die silikaat-buitedop is slegs 500 tot 600 km dik. Mercurius se baie dun atmosfeer bestaan uit atome wat deur die sonwind van sy oppervlak af geblaas word en vinnig in die ruimte ontsnap. Die feit dat Mercurius so naby aan die son is en slegs drie keer om sy as draai in twee van sy jare, help om hom die planeet te maak met die grootste temperatuurverskille in die sonnestelsel (van 430 °C, wat warm genoeg is om tin te smelt, tot  -180 °C).

Deursnee: 4878 km, slegs veertig persent groter as die aarde se maan, 
Digtheid: 5,42 gram per kubieke cm (ná die aarde die digste groot liggaam in die sonnestelsel).
Gemiddelde afstand van die son: 57 910 000 km (maar sy omwenteling is baie eksentriek en wissel tussen 46 000 000 km
en 70 000 000 km van die son af).
Revolusie om die son: 88 van ons dae.
Rotasie om sy as: Mercurius roteer slegs drie keer in twee van sy jare. Een draai om sy as vind plaas in 58,7 van ons dae. Daar is gevolglik net een sonsopkoms in ’n jaar.
Oppervlaktemperatuur: 430 °C tot -180 °C.
Getal mane: Geen bekend nie.
Oorsprong van naam: In die Romeinse mitologie was Mercurius die god van handel, reis en diewery, die Romeinse eweknie van die Griekse god Hermes, die boodskapper van die gode. Die planeet het waarskynlik sy naam gekry omdat dit so vinnig oor die hemelruim beweeg.
Ruimtesendings: Die onbemande ruimtetuig Mariner 10 het in die jare sewentig die eerste besoek aan Mercurius gebring. Mariner 10 is in 1974 twee keer by die planeet verby en in 1975 een keer. Die volgende snuffeltuig wat Mercurius besoek het, staan bekend as MESSENGER. Dit is in 2004 gelanseer en het in Januarie 2008 sy eerste verblyvlug by die planeet gemaak. MESSENGER is eintlik ’n akroniem (letternaam) en staan vir MErcury Surface, Space ENvironment, GEo­chemistry and Ranging mission, maar in die mitologie was Mercurius mos ook die boodskapper (messenger) van die gode. MESSENGER volg verskillende omweë in sy ruimtelike verkenningstog en sal, as alles volgens plan verloop, in 2011 in ’n wentelbaan om die planeet gaan om ’n jaar lank in die baan te bly.
 

 
*Venus die vuurpoel—tweede planeet van die son

DAAR is eenmaal gedink Venus kan dalk ’n "tweeling" van die aarde wees, maar die waarheid was ’n ontnugtering. Onbemande snuffeltuie het onthul dié planeet is eintlik ’n siedende inferno met temperature van tot ’n paar honderd grade Celsius en selfs vretende swawelsuur wat in die hemele sweef. Venus is natuurlik die helder voorwerp in ons eie uitspansel wat ons as die "aandster" sowel as die "morester" ken. Omdat die planeet onder ’n digte wolkbedekking lê, en ’n diep atmosfeer het wat in ’n groot mate uit koolsuurgas bestaan, is hy heel waarskynlik ’n tipiese slagoffer van ’n sogenaamde ''kweekhuis-effek wat weggehol het'', wat hom dan ook die warmste planeet in die sonnestelsel maak. Die atmosferiese druk by die oppervlak is 90 atmosfere—nagenoeg soveel soos die druk op ’n diepte van 1 km in die aarde se oseane. Die wolkebasis lê op 50 km en die wolkdeeltjies is meestal gekonsentreerde swawelsuur, dog dit giet darem nie as suurreën neer nie, maar bly in die atmosfeer. Water en waterdamp is uiters skaars. Die onsettend warm oppervlak van Venus is hoofsaaklik ’n golwende vlakte wat deur twee hooglande so groot soos vastelande onderbreek word. Daar is ook reusagtige aktiewe vulkane en ’n menigte kraters wat deur meteoriete veroorsaak is.

Venus-oppervlakREGS: Die oppervlak van Venus... verskriklik warm onder ’n wolkekombers waar selfs swawelsuur in die hemele sweef. Venus se digte atmosfeer dien as ’n kombers, wat inkomende sonstrale vasvang sodat die planeet se oppervlak tot ’n gemiddelde 467 grade C verwarm word. Dit is warm genoeg om lood te smelt.
  
Foto: NASA

Deursnee: Met ’n middellyn van 12 104 km is Venus net ’n raps kleiner as die aarde (12 756 km). Omdat die twee planete se massa en digtheid ook taamlik ooreenstem, word daar dikwels na hulle as susterplanete verwys. Die oppervlakke en atmosfere van dié twee planete verskil egter soos die spreekwoordelike dag en nag.
Digtheid: 5,26 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die son: 108 200 000 km.
Revolusie om die son:
225 van ons dae

Rotasie om sy as: ’n Dag op Venus is langer as ’n Venus-jaar! Venus se rotasie is nogal ongewoon deurdat hy nie alleen baie stadig is nie (daar is 243 aardse dae in ’n Venus-dag), maar die planeet draai ook "agteruit" om sy as in vergelyking met bv.die aarde. Die son, as hy ooit sigbaar sou wees deur die digte wolkbedekking, sou vir ’n besoekende ruimtereisiger in die weste opkom en in die ooste ondergaan.
Oppervlaktemperatuur: Die temperatuur op Venus se oppervlak is die hoogste in die sonnestelsel—gemiddeld 467 grade C, warm genoeg om lood te smelt!
Getal mane: Geen.
Oorsprong van naam:
Venus (Grieks: Aphrodite; Babilonies: Ishtar) was die mitologiese godin van liefde en skoonheid. Die planeet is waarskynlik só genoem omdat hy vir die mense van die Ou Wêreld die helderste ''dwaal-ster'' was. Die gewilde siening destyds was dat hy, nes Mercurius, twee afsonderlike hemelliggame is: Phosphorus (of Lucifer) die oggendster en Hesperus die aandster, maar die Griekse sterrekundiges het beter geweet. (Vanweë die afstande van die wentelbane van Venus en die aarde van die son, is Venus nooit sigbaar meer as drie uur voor sonop of drie uur ná sononder nie.)
Ruimtesendings:
Venus is deur meer as twintig Amerikaanse en Russiese ruimtetuie besoek, die eerste keer deur Amerika se Mariner 2 in 1962. Die Russiese Venera 7 was in 1970 die eerste ruimtetuig wat op ’n ander planeet geland het. Magellan, wat in 1989 gelanseer is, het met behulp van radar vir hoëresolusie-kaarte van die oppervlak gesorg. In April 2006 het die Europese Ruimteagentskap die snuffeltuig Venus Express in ’n wentelbaan om Venus geplaas ná die tuig se vyf maande lange reis soontoe. Daar is verwag dat Venus Express sowat 500 aardse dae lank om Venus sou wentel terwyl dit die planeet se atmosfeer sou bestudeer.

 
*Die waterryke aarde—derde planeet van die son

IN vergelyking met al die ander plekke wat ons ken, is die aarde baie beslis ’n oase in die ruimte, die enigste planeet in die sonnestelsel wat lewe soos ons dit ken, kan onderhou. Maar ’n buite-aardse besoeker, as so iets ooit bestaan, sou bes moontlik hier na intelligente lewe in die see wou gaan soek eerder as op die land. Ons wêreld is immers ’n waterplaneet—75 persent van die aarde is onder water. Die aarde, die derde planeet van die son af, bestaan uit vyf dele: die atmosfeer van gasse, die vloeibare hidrosfeer (oseane, mere, riviere en ondergrondse waterbronne), die litosfeer (vaste aardkors), met daaronder die mantel (warm, vaste stowwe in ’n taai-vloeibare tot soliede toestand) en in die middel die kern (vermoedelik vloeibaar aan die buitekant, maar vanweë die groot drukking met ’n soliede bal van hoofsaaklik yster daarbinne). Konveksiestrome in die vloeibare buitekern wek waarskynlik die planeet se massiewe magneetveld op. Die aarde se atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit stikstof (78%) en die lewensbelangrike suurstof (21%), met ander gasse daarby (1%).

Deursnee: Die aarde se presiese deursnee is 12 756,34 km by die ewenaar en 12 713,54 km van pool tot pool. Die onvolmaakte sfeer dy uit by die ewenaar.
Digtheid: 5,52 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die son: 149 600 000 km.
Revolusie om die son:
 
Die aarde voltooi een omwenteling in 365,256 dae met ’n snelheid van sowat 29,8 km/sek.
Rotasie om sy as:
23 uur, 56 minute, 4,1 sekonde.
Oppervlaktemperatuur: Gemidddeld 14 °C, maar daar is groot temperatuurwisselings tussen die poolstreke en omgewing van die ewenaar. Ander faktore, soos koue en warm seestrome, beïnvloed ook die temperatuur.
Getal mane: Een. Hierdie maan met ’n deursnee van 3 476 km is so groot in vergelyking met die aarde dat ’n mens die aard-maan-kompleks eintlik as ’n dubbele planeet kan beskou. Maar waar die aarde lewend en vrugbaar is, is die maan ’n luglose verlatenheid, woes en leeg. Die lewelose oppervlak lê besaai met klippe en rotse, wat deur ’n ongekende hoeveelheid botsings met meteoriete veroorsaak is. Die maan se digtheid is 3,34 gram per kubieke sentimeter. Die snuffeltuig Lunar Prospector het wel tekens van ys (waarskynlik diep verskuil in donker kraters waar die son nooit kan inskyn nie) by sowel die maan se suidpool as noordpool gevind. Die oppervlak-swaartekrag op die maan is maar ’n sesde van dié van die aarde, met die gevolg dat ’n mens daar baie hoër sal kan spring as hier! Die maan wentel een keer om sy as in 27 van ons dae, 7 uur en 43 minute en voltooi een omwenteling om die aarde in presies dieselfde tyd—gevolglik hou die maan altyd dieselfde kant na die aarde gekeer. Weens die interaksie van die swaartekragte van die twee hemelliggame word die aarde gerem en draai hy elke eeu sowat 1,5 millisekonde stadiger, terwyl die maan se wentelbaan elke jaar met sowat 3,8 cm gelig word. Die gemiddelde afstand vanaf die aarde is 384 403 km. Die maan se omwentelingsnelheid om die aarde is sowat 3 700 km/h. Die oppervlaktemperatuur is 127 °C met die son op sy hoogste in die hemelruim, afgewissel met ’n vrieskoue -173 °C snags (by die ekwatoriale ''seë''). Die eerste aardse besoeker aan die maan was die onbemande Sowjet-ruimtetuig Luna 2 in 1959. Die eerste landing van mense op die maan was op 20 Julie 1969 deur die Amerikaners Neil Armstrong en Edwin (''Buzz'') Aldrin. Die laaste menselanding was in Desember 1972. Historiese name van die maan was Luna (Romeine) en Selene en Artemis (Grieke).

BO: Maanlandingstuig van die Apollo-maanlandingsprogram. 
[NASA]

 
*Mars die Rooi Planeet—vierde planeet van die son

HOEWEL daar onmiskenbare tekens is dat Mars vroeër in sy geskiedenis warmer as vandag moet gewees en water in ’n vloeibare vorm gehad het, is hy tans ’n yskoue woestyn-planeet—kompleet met uitgebreide stofstorms wat gereeld enorme geel stofwolke uit sy roeserige (rooi geoksideerde) grond opklits. Daar is ook wolke van bevrore koolsuurgas en water-ys. Die atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit koolsuurgas, maar die atmosferiese druk op die oppervlak is min—slegs gelyk aan dié op ’n hoogte van 35 km in die aarde se atmosfeer. Van die sonnestelsel se hoogste, blykbaar tans onaktiewe, vulkane kom hier voor. Olympus Mons laat ons berg Everest verdwerg—hy is sowat 25 km hoog en by sy voet meer as 600 km breed. As Olympus Mons egter op die aarde was, sou hy stellig vanweë ons groter swaartekrag na onder toe ingesak het. Marsi Vallas Marineris, ’n massiewe skeur in die Marsgrond wat die Grand Canyon na ’n vulletjie laat lyk, is omtrent 5 000 km lank. Opvallende wit bedekkings, waarskynlik ys, is by die pole te sien.

Deursnee: Mars se deursnee is 6793,3 km by die ewenaar en 6752,2 km van pool tot pool. Ofskoon die planeet baie kleiner as die aarde is, is sy totale grondoppervlakte nagenoeg dieselfde as die landoppervlakte op aarde.
Digtheid: 3,94 gram per kubieke sentimeter
Gemiddelde afstand van die son: 227 900 000 km.
Revolusie om die son:
 Mars voltooi een omwenteling om die son in  686,98 van ons dae. Sy omwentelingsnelheid is 24,2 km/h.
Rotasie om sy as:  24,6 van ons ure—verstommend genoeg is ’n dag op Mars dus omtrent net so lank as ’n dag op aarde.
Oppervlaktemperatuur: Wissel met die veranderinge van dag en nag, somer en winter, tussen 17 en -87 °C.
Getal mane: Twee piepklein maantjies, te wete Phobos (sowat 21 km in deursnee) en Deimos (net nagenoeg 12 km breed). Hulle is asteroïde-agtige voorwerpe vol kraters—vermoedelik inderdaad asteroïdes waarvan die wentelbane in die gryse verlede met dié van Mars gekruis het en toe deur die planeet ''gevange geneem'' is.
Oorsprong van naam:
 Mars was die naam van die oorlogsgod van die ou Romeine.
Gusev-krater, Mars  -- NASA-foto
REGS: Gusev-krater op Mars, die toneel van die "dwaler" Spirit se snuffeltog op die Rooi Planeet.

Foto: NASA

Ruimtesendings:
Die eerste ruimtetuig wat Mars besoek het, was Mariner 4 in 1965. Etlike ander het gevolg, waaronder Mars 2, die eerste ruimtetuig wat op die planeet neergestryk het, asook die twee Viking-landingstuie in 1976. Ná ’n "droogte" van meer as twee dekades het Mars Pathfinder op 4 Julie 1997 met welslae op Mars geland. In Januarie 2004 het die opspraakwekkende "dwalers" Spirit en Opportunity op die Rooi Planeet neergestryk en met sendings begin wat hoogs suksesvol geblyk het. Hul taak was om uit te vind of daar in die verlede genoeg water op Mars was om dit bewoonbaar te maak. In Maart het die Opportunity gesteentes ontleed en ’n verstommende hoeveelheid gekristalliseerde sout gevind. Verdere toetse en bevindings van die dwaler Spirit het wetenskaplikes tot die gevolgtrekking laat kom dat die grond eenmaal deurweek genoeg was om lewe moontlik te maak. Of daar wel lewe was? Nou ja, dit bly ’n ope vraag.
Die onomstootlike bewys dat daar wel water op die planeet is, is in 2008 gevind toe die snuffeltuig Phoenix in Mars se verre noorde geland en aan die grond “geproe” het.

 
*Reusagtige Jupiter—vyfde planeet van die son

ANDERKANT Mars raak die sonnestelsel ’n totaal ander plek. Die planete is nie langer klein, rotsagtige wêreldjies nie, maar yskoue, gas-agtige reuse wat die aarde sou verdwerg. Jupiter alleen bevat meer as sewentig persent van al die planetêre massa in die sonnestelsel en het ’n swetterjoel mane waarvan party onder die interessantste voorwerpe in ons relatief nabye hemelruim tel. Die grootste planeet in ons sonnestelsel is inderdaad een enorme bol gas. Sterk winde (vinniger as 650 km/h) waai vermoedelik op alle vlakke deur die atmosfeer. Die belangrikste atmosferiese gas is waterstof (89%), maar daar is ook helium (11%) met spore van metaan, waterdamp en ammoniak. Die gas word ál digter hoe verder ondertoe, verander weens die geweldige druk naderhand in ’n vloeistof en neem uiteindelik ’n metaalagtige voorkoms aan. Die kern in die middel kan van soliede, aardagtige stowwe wees. ’n Belangrike verskynsel op Jupiter is die Groot Rooi Kol, ’n kolkende hoëdrukgebied van 12 000 km by 25 000 km wat teen die horlosiewysers in beweeg en vermoedelik rooi fosfor bevat.

Deursnee: 139 822 km.
Digtheid:  1,33 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die son: 778 400 000 km.
Revolusie om die son:
 Een omwenteling in 11,9 van ons jare met ’n omwentelingsnelheid van 13,1 km/sek.
Rotasie om sy as: Jupiter draai vinniger om sy as as enige ander planeet in die sonnestelsel—een keer elke 9,8 uur.
Temperatuur:  -125 °C tot 17 °C en selfs warmer in sekere lae van die atmosfeer. Trouens, Jupiter straal meer energie in die ruimte uit as wat hy van die son af ontvang.
Getal mane: Jupiter kon met die jongste telling op nie minder nie as 63 ontdekte satelliete roem—die vier groot mane wat die Italiaanse wetenskaplike en sterrekundige Galileo Galilei al in 1610 met sy teleskopie ontdek het, ’n  aantal kleineres wat reeds name gekry het, plus nog ’n string ongenoemde kleintjies wat eers heel onlangs in sterrekundige waarnemings opgespoor is. Jupiter het ook ringe soos dié van Saturnus, maar hulle is baie dowwer en kleiner. Hulle bestaan waarskynlik uit klein stukkies gruis. Anders as Saturnus se ringe lyk dit of hulle geen ys bevat nie. 
Oorsprong van naam:
 Jupiter, die seun van Saturnus, was die koning van die gode in die Romeinse mitologie
Ruimtesendings:
 Pioneer 10 was in 1973 die eerste ruimtetuig wat Jupiter besoek het. Hy is gevolg deur Pioneer 11, Voyager 1, Voyager 2 en Ulysses. Die Galileo is in 1995 in die Jupiter-sisteem in ’n wentelbaan geplaas.

 
*Geringde Saturnus, Koningin van die Nag—sesde planeet van die son

SATURNUS is, ná Jupiter, die grootste planeet in die  sonnestelsel. Hy is, net soos Jupiter, ’n  gasreus. Die massa van Saturnus is so oor die planeet uitgesprei dat hy ’n geringer digtheid as water het. Hy sou dus op water kon dryf! Saturnus is omtrent 75% waterstof en 25% helium,  met spore van onder meer water, metaan en ammoniak. Maar dit is Saturnus se skitterende ring-sisteem wat hom die aanskoulikste planeet deur ’n teleskoop maak. Die interessante Saturnus en sy ewe fassinerende mane en ringe het dan ook die verbeeldingryke Cassini-Huygens-ruimteprojek geïnspireer, waaroor in ’n ander artikel op hierdie CD-Rom meer vertel word.  Die ringe—plat uitgespreide ysdeeltjies wat om die planeet wentel—is die eerste keer in 1610 deur Galileo Galilei waargeneem. Dié Italiaanse wetenskaplike het eers gedink dat hy mane ontdek het. Die Nederlandse sterrekundige Christiaan Huygens het later, met sy beter teleskoop, vasgestel dat dit ringe om die planeet is. Drie ringe kan van die aarde af waargeneem word, maar toe die Voyager-snuffeltuie in 1980 en 1981 by Saturnus verbygetrek het, het hulle onthul  dat die ring-sisteem inderdaad uit honderde ringetjies bestaan. Dit het geblyk dat die ringe baie dun is—nie eens ’n kilometer dik nie. Die ring-deeltjies bestaan blykbaar meestal uit water-ys, maar daar kan ook gruis wees wat met ys bedek is. Dit kan die oorblyfsels van mane wees wat deur kosmiese kragte uitmekaargeruk is, of dalk ruimtestof wat nog nie bymekaargekom het om ’n maan of mane te vorm nie. (Een van Saturnus se ringe is blou, teenoor die rooierige kleur van die res. Lees verder ondertoe ook van die nuut ontdekte blou ring van die planeet Uranus en waarom hy, volgens een teorie, blou is.)

Deursnee: 120 536 km (ekwatoriaal) en 108,728 km (van pool tot pool). Die gasplaneet is baie afgeplat by die pole vanweë sy vloeibaarheid en vinnige rotasie.
Digtheid: 0,69 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die son: 1 429 400 000 km.
Revolusie om die son:
 Een revolusie in 29,46 aardse jare. Omwentelingsnelheid: 9,7 km/sek.
Rotasie om sy as:  E
en rotasie in 10 uur, 32 minute en 35 sekondes. (Dit is ’n aangepaste raming wat in 2007 gedoen is op grond van inligting wat ontvang is van die Cassini-snuffeltuig wat om die planeet wentel. Die rotasietye van gasplanete soos Saturnus is moeilik om te bereken omdat hul soliede kern deur ’n digte dampkring bedek word en daar dus nie vaste bakens is wat gevolg kan word nie.)
Temperatuur: ’n Vrieskoue -185 °C. Die planeet se binnekant is egter baie warm en Saturnus straal meer energie in die ruimte uit as wat hy van die son af ontvang.
Getal mane: Saturnus het, benewens sy ringe, in die begin van Mei 2005 ook reeds 47 ontdekte natuurlike satelliete gehad, onder meer vanweë die onlangse ontdekking van twaalf "nuwe" klein maantjiesonreëlmatige voorwerpies slegs sowat drie tot sewe kilometer in grootte. Boonop het die onbemande Cassini-ruimtetuig, wat tans om die planeet wentel, op 1 Mei 2005 'n nuwe maantjie in 'n gaping tussen die planeet se ringe gevindMaantjie in 'n gaping tusen die ringeen wetenskaplikes sê dit vorm kreukels in die ringtelsel
NASA-foto REGS. Dit is sowat sewe kilometer in deursnee en wentel ongeveer 136.505 km van die middelpunt van Saturnus. Die maantjie, nou bekend as S/2005.S1, is slegs die tweede maan wat binne Saturnus se ringe opgespoor is. Die ander een is Pan, 25 km in deursnee, wat in die sogenaamde Encke-gaping om die planeet wentel. Al die ander bekende mane wentel buite die hoofringstelsel. Nog vondste soos dié van S/2005 S1 kan in die toekoms van die Cassini verwag word. Teenoor die mini-maantjies is Saturnus se groot maan Titan 'n yslike 5150 km in deursnee en groter as die planeet Mercurius. Titan is uniek deurdat hy, anders as al ander die mane in die sonnestelsel, ’n beduiende atmosfeer het—en die geslaagde landing van die snuffeltuig Huygens op Titan se oppervlak in die begin van 2005 was een van die belangrikste mylpale in die geskiedenis van ruimteverkenning. 
Oorsprong van naam: 
In die Romeinse mitologie was Saturnus die god van landbou, asook die pa van Jupiter, die koning van die gode.
Ruimtesendings: 
Die Pioneer 11 en die Voyager-sendings van weleer het belangrike inligting, ook oor Saturnus se ringe, verskaf. Van veel groter belang is egter die Cassini-projek en die landing  in 2005 van die Huygens-snuffeltuig op die maan Titan.

 
*"Omgekantelde" Uranus—sewende planeet van die son

URANUS,  die eerste planeet wat in die modern tyd gevind is, is  in 1781 ontdek deur die Duits-gebore Engelse sterrekundige William Herschel terwyl hy besig was om die hemelruim stelselmatig met sy teleskoop te deursoek. Die planeet was in der waarheid egter reeds baie kere vantevore waargeneem, maar geïgnoreer omdat hy as net nóg ’n ster beskou is. Soos Saturnus en Jupiter is Uranus ’n gasreus, ofskoon hy twee keer so klein as Saturnus is. Uranus bestaan primêr uit gesteentes en verskillende soorte ys, met slegs sowat 15% waterstof en ’n bietjie helium (teenoor Jupiter en Saturnus wat meestal uit waterstof bestaan). Die atmosfeer is sowat 83% waterstof, 15% helium en 2% metaan. Dit is juis hierdie metaan wat die planeet so blou laat vertoon, vanweë die absorpsie van rooi lig. Uranus beskik ook oor ’n vae ring-sisteem, wat van die aarde af nie goed sigbaar is nie. Maar dit is iets anders wat Uranus heel besonders maak. Die planeet wentel naamlik op sy sy om die son—sy as met sowat 90 grade gekantel. Die gevolg is dat die planeet met sy pole na die son gekeer is. Desondanks is dit warmer by die ewenaar as by die pole. Hoekom dit so is, bly nog ’n raaisel.

Deursnee: 51 800 km.
Digtheid: 1,29 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die son: 2 870 990 000 km.
Revolusie om die son:
 Een keer in 84,01 aardse jare. Die omwentelingsnelheid is 6,6km/sek.

Rotasie om sy as: Een draai in 17 uur, 15 minute.
Temperatuur:  Gemiddeld  -221 °C bokant die wolke.
Getal mane: Uranus het altesaam 27 ontdekte mane. Voyager 2 het in 1986 tien klein maantjies gevind, benewens die vyf grotes wat toe reeds bekend was, en daarna is meer mane opgespoor. Daar is kan nog verskeie klein satellietjies binne die ringe van die planeet wees. Die vreemdste Uranus-maan is Miranda, wat soos ’n legkaart lyk wat uitgelê is. Miranda se landskappe varieer sterk en steek teen mekaar af. Uranus het, sover bekend, nagenoeg ’n dosyn  ringe, wat almal baie dof is. In April 2006 is aangekondig dat daar ook ’n blou ring is, soos die blou ring van Saturnus. Buiten hierdie twee bloues, is al die ander bekende ringe van die reuse-planete rooierig. Wetenskaplikes reken dat die blou ring van Uranus blou is vanweë ’n nabye maan wat groter materiedeeltjies sou aantrek, maar nie die kleineres nie, wat in die ring agterbly en hom sy kenmerkende kleur gee.

Oorsprong van naam: 
Uranus was die mitologiese Griekse god van die lug. Hy was die man van Gaia, die godin van die vaste aarde. Die naam is vir die planeet voorgestel om te hou by die ou gebruik om planete na figure in die klassieke mitologie te noem, maar dit is eers sedert 1850 algemeen gebruik.
Ruimtesendings: 
Uranus is nog net deur een snuffeltuig besoek, naamlik Voyager 2 vroeg in 1986.

 
*Windverwaaide Neptunusagtste planeet van die son
  
NEPTUNUS is ook ’n groot gasplaneet, maar sy kern bevat meer gesteentes en metaal as enige van die ander gasreuse. Die vernaamste atmosferiese gas is waterstof, maar daar is ook helium en metaan, met spore van ammoniak en water. Die kenmerkende blou kleur van Neptunus word veroorsaak deur die absorpsie van rooi lig deur die metaan in die atmosfeer. Waarneembare wit deeltjies op die blou is hoogliggende wolke wat die sonlig bokant die atmosfeer weerkaats. Die sogenaamde ''Scooter'' is ’n wolk wat, in pas met Neptunus se rotasie, nagenoeg elke 16 uur om die planeet beweeg. Die planeet se weerkaatsingsvermoë is hoog: hy weerkaats meer as 84% van die lig wat op hom val. Neptunus het sterker winde as enige ander planeet in die sonnestelsel. Die winde (van tot 2 400 km/h) waai in ’n westelike rigting. Dis ’n ope vraag waarom die planeet sulke sterk winde het ondanks die feit dat hy so ver van die son af is en ’n betreklik swak interne hittebron het. Soos Uranus en Jupiter het Neptunus ook dowwe ringe, maar hul samestelling is onbekend. Die planeet is die eerste keer in 1846 waargeneem.

Deursnee: 49 532 km (ekwatoriaal).
Digtheid: 1,64 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die son: 4 504 000 000 km.
Revolusie om die son:
 Voltooi een omwenteling in164,79 van ons jare met ’n omwentelingsnelheid is 5,4 km/sek.
Rotasie om sy as: Een keer elke 16 uur.
Temperatuur:  -218
°C.
Getal mane: Dertien mane is reeds bekend. Die grootste Neptunus-maan is Triton, met ’n deursnee van 2700 km. Daar is ook dowwe ringe.
Oorsprong van naam: 
Die planeet Neptunus was nie bekend aan die antieke sterrekundiges nie, wat net die planete tot by Saturnus geken het. Die naam is voorgestel om te hou by die ou gebruik om planete na figure in die klassieke mitologie te noem. Neptunus was vir ou Romeine die god van die see.
Ruimtesendings:
 Die planeet Neptunus is nog net deur een snuffeltuig besoek, te wete Voyager 2, wat in Augustus 1989 by hom verbygeskuur het—op die naaste slegs sowat 4400 km van die planeet af.

(Dit is interessant dat die dwergplaneet Pluto se wentelbaan  so eksentriek is dat hy partymaal die wentelbaan van Neptunus kruis. Die "kruising" van die wentelbane van die twee hemelligame beteken egter nie dat hulle letterlik kruis en dalk eendag in ’n botsing kan kom nie.)