Natuurbewaring

Die skugter nagdiertjie wat
dalk “vir die tweede keer kan uitsterf

Met liefde vir
die buidelrot

Leadbeater se buidelrot (opgestopte voorbeeld)Hy huiwer op die rand van uitsterwing in die reusagtige bergbloekombome van die staat Victoria in Australië—’n vreemde diertjie wat eenmaal skynbaar van die aangesig van die aarde verdwyn het maar toe weer “lewend” geword het. Gelukkig vir hom is daar bekommerde bewaringsbewustes wat wil seker maak dat hy nie “vir die tweede keer uitsterf” nie. Dog gaan hierdie mense dit hoegenaamd regkry om Leadbeater se buidelrot van totale uitwissing te red?
 

Foto (effens gewysig) van ’n opgestopte voorbeeld van Leadbeater se buidelrot deur Peter Halasz
(gebruiker Pengo),
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0 Unported-lisensie. Kortom, vrye deling en wysigings word vergun op voorwaarde dat behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie wat verenigbaar is met hierdie een.

I

N die hoë woude van die sentrale bergland van die Australiese staat Victoria leef hy—een van die mees bedreigde diere onder die talle unieke skepsels wat in die wêreld Doer Onder bestaan. Hy is ’n engelgesiggie met koeëlronde oë, ’n donker streep op sy rug langs en ’n lang, donserige stert, wat soos ’n bofbalkolf gevorm is. Sy naam is Leadbeater se buidelrot (Gymnobelideus leadbeateri).

Hy is genoem na ene John Leadbeater, destydse taksidermis (diere-opstopper) van die Museum van Victoria.

Dié skaars en haastige kalantjie word ook die buideleekhoring genoem, maar hy is natuurlik nóg ’n ware rot nóg ’n propperse eekhorinkie. Leadbeater se buidelrot is naamlik een van die klimbuideldiere (die orde Diprotodontia). Hy behoort tot die familie Petauridae en is die enigste spesie in die geslag Gymnobelideus. Die Australiërs praat van hom as “Leadbeater’s possum”.

Leadbeater se buidelrot LINKS: Leadbeater se buidelrot, ’n gewysigde afbeelding van een wat op ’n Australiese posseël verskyn het.
 
Net soos vandag was daar honderd jaar gelede, in 1909, maar bitter min mense wat ooit van hierdie diertjies gesien het. Erger nog: minder as ’n skamele dosyn waarnemings is voor daardie jaar aangeteken, en daarna is geeneen van hulle toe weer opgemerk nie.

Drie dekades later—in 1939—was daar bosbrande in Victoria, brande wat waarskynlik die ergste was wat Australië nog getref het. Hulle het deur die middel van die Australiese staat gewoed en die lewe van sewentig mense geëis. Huise is in puin gelê en 70 persent van die majestueuse bergbloekomreuse is uitgewis, waaronder die meeste van die yslike bome wat reeds vierhonderd jaar lank daar gestaan het.
 
Intussen is Leadbeater se buidelrot ook tot ’n uitgestorwe spesie verklaar. Maar toe, in 1961, gebeur daar so ietsie van ’n wonderwerk. ’n Enkele buidelrot word deur ’n toegewyde en onvermoeide natuurkundige raakgesien en afgeneem. Leadbeater se buidelrot het uit die dood teruggekeer. Nou moes daar na nog van die diertjies gesoek word.
 
Aanvanklik het die wetenskaplikes nie geweet waar om te soek nie, maar ná baie opnames en lokvalstudies kon hulle uiteindelik sy gunsteling-leefgebied vaspen: die einste woude van bergbloekoms in Sentraal-Victoria.

Kaart wat leefgebied aantoon van Leadbeater se buidelrot DAAR is min woude in Australië. In die grootste deel van die land is slegs woestyne en dorre landskappe. En wat dit des te vreemder maak, is dat die woude wat wel bestaan, onder die kolossaalste op aarde is. In hierdie bergland van Victoria is die einste bergbloekoms nie net die hoogste bloekombome nie, maar inderdaad die hoogste blomplante ter wêreld. Die Kaliforniese rooihoutbome, ’n soort den, die aarde se hoogste bome, is slegs ’n paar meters hoër as die bergbloekomreuse.
 
Die hout van die bergbloekom (Eucalyptus regnans) is hard en die boom groei vinnig. Nagenoeg sewe dekades ná die bosbrande van 1939 se Swart Vrydag, is daar dus weer pragtige woude op die bergreekse oos van Melbourne.
 
Ná al die navorsing sedert die herontdekking van Leadbeater se buidelrot in 1961, het die wetenskaplikes besef dat die diertjie baie afhanklik van die bergbloekoms is. Hy kry nie kos van hierdie bome nie, maar beskutting. Sodra ’n bergbloekom minstens tweehonderd jaar oud is, kan hy die groot holtes, hoog bokant die woudvloer, verskaf wat die buidelrot-gesin nodig het.

Die bergbloekomREGS: Die bergbloekom (Eucalyptus regnans). Leadbeater se buidelrot leef in die groot holtes wat letterlik met verloop van eeue in hierdie soort reuse-bome vorm.

Foto deur T Taylor,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye gebruik en modifikasie word vergun mits die fotograaf of lisensieerder erken word.


 Leadbeater se buidelrot
is omtrent 10 cm lank en het ’n massa van ongeveer 90 gram—hy is dus min of meer so groot soos ’n klein rotjie. Die diertjies lewe saam in ’n vreemde gemeenskap van gesinsgroepe wat uit tot twaalf enkelinge bestaan. In só ’n groep is ’n dominante teelwyfie, haar maat, hul onvolwasse spruite en nog twee of meer onverwante en volwasse nie-teelmannetjies.

Hulle is almal verwoede beskermers van hul leefgebied, wat vinnig reageer op ’n alarmkreet—’n gesis wat maklik nageboots kan word. ’n Mens kan wel in die versoeking kom om hulle met só ’n geluid uit hul nesgate te lok, maar navorsers wat dit beproef het, is al met bytwonde aan die hande en gesig beloon!
 
Sodra die groep klaar is met hul nagtelike kossoekery in die woud—hulle vreet akasia-gom en insekte—keer hulle terug na ’n groot boom, dikwels ’n dooie een wat nog staan, met ’n holte diep in sy kern waar die hele groep lekker saam kan verkeer.
 
Namate ’n bergbloekom oud word en geleidelik wegsterf, val die bas weg en vorm skeure in die stam. Termiete doen hul vreetwerk, en uiteindelik word gate van verskillende groottes diep binne-in gevorm. ’n Vierhonderd jaar oue boom is ’n ware herehuis van buidelrot-gate. Dit kan ook ’n beskermende tuiste wees vir baie ander soogdiere en voëls, en dit is een van die redes hoekom ou bome in die woud so belangrik is.
 
Al woon van Leadbeater se buidelrotte vandag knus in holtes wat deur vanmelewe se groot vure in die bome ingebrand is, bly hul soort steeds een van Australië se mees bedreigde diere. Die rede is dat daar eers oor sowat een en ’n halwe eeu genoeg gate vir hulle sal wees om te kan floreer. Die bome wat nou sewe dekades oud is, sal eers dán so verword het dat daar voldoende nesruimte sal wees... dis te sê as daardie bome dan nog staan.
 
Want talle van die oorblywende bergbloekoms is al afgekap vir hout en om as papier verwerk te word. Houtkappers weet hulle moet die baie ou bome met rus laat—hulle het in elk geval nie meer goeie hout nie. Ongelukkig is daar die alewige stootskrapers wat plekke in die woud van elke greintjie lewe stroop, ook van die omringende akasiabome wat die voedende gom maak waarvan die buidelrotte so afhanklik is.

Die gevolg is dat die bevolking van Leadbeater se buidelrotte, wat in die vroeë 1980’s darem tot ’n geraamde sowat 7500 aangewas het—vandag op ’n geringe sowat 2000 geskat word. En die kans dat daar  spoedig vorentoe weer ’n groot toename in hul getalle gaan wees, lyk bedroewend gering. Slegs drie present van die leefgebied van hierdie diertjies is immers in wildtuine.

Baie van hulle is boonop in 2007 doodgemaak toe stootskrapers, vanweë die destydse bosbrande, groot voorkomende brandpaaie deur die stasies geploeg het van waar die buidelrotte gemonitor is.

Ruimtefoto van brande in Victoria, AustraliëREGS: “Riviere” van rook tot sowat vyftig kilometer breed borrel uit die bosbrandgebiede van Victoria, Australië, op hierdie ruimtefoto wat in 2007 geneem is. Die rooi kolletjies dui die plekke aan waar groot brande in daardie stadium gewoed het.

Foto: Jeff Schmaltz MODIS Land Rapid Response Team, NASA GSFC

 

DIT lyk dus of die dae van Leadbeater se buidelrot getel is, tensy die bosbouers anders besluit en verwoestende brande boonop uitgeskakel kan word.

Gelukkig vir hierdie skugter nagdiertjies is daar bewaringsbewustes wat uiters bekommerd oor hul verminderende getalle en hul uiteindelike lot is. Leadbeater se buidelrot is immers in 1968 tot die staat Victoria se diere-embleem verkies, en watter skande sal dit nie wees as só ’n vereerde dier van die aangesig van die aarde verdwyn nie.

Die bewaringsbewustes het al selfs ’n groep gevorm, die sogenaamde “Friends of Leadbeater’s Possum”, ten einde iets te probeer doen om die diertjies se krimpende leefgebied behoorlik te beskerm.

Hulle hoop dat nie net Australiërs nie, maar mense van oral wat nog nooit eens van Leadbeater se buidelrot gehoor het nie—ook in Suid-Afrika—hulle die lot sal aantrek van ’n diertjie wat eenmaal dood was, maar teruggekom het en nie ’n tweede maal durf verdwyn nie.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad