Kleurryke herkoms van SA se sogenaamde Kleurlinge

Die Bruinmense

Wie is hulle rêrig?

Hulle tel meer as drie miljoen, die Kaap is hul hartland en hulle woon meestal in die provinsies Wes-Kaap en Noord-Kaap. Die meeste van hulle praat Afrikaans, trouens, daar is selfs meer bruin Afrikaanssprekers as die Afrikaners self. Hulle bestaan uit verskillende groepe, al is hulle in die apartheidsjare as een groep saamgegroepeer. Vandag staan hulle oral hul plek vol tot in die hoogste raadsale van die land... en hoe trots sou hul voorouers nie gewees het as hulle destyds dít kon geweet het nie...

Klopse-figure gesuperimponeer op Bo-Kaap-foto. Foto slegs van Klopse-figure: Kopiereg: SOUTH AFRICAN TOURISM/SUID-AFRIKAANSE TOERISME

’n Uitgebreide familie met wortels in verskillende Suid-Afrikaanse stede

BO: ’n Uitgebreide familie met wortels in verskillende Suid-
Afrikaanse stede.

Foto deur HENRY M. TROTTER,
wat dit by die Wikipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het
(“released into the public domain”)


AN hul voorouers was al tienduisende jare of dalk selfs veel langer gelede in Suid-Afrika. Ander van hul voorsate het veel later gekom—uit Europa, uit Oos- en Wes-Afrika, uit Madagaskar en die Verre Ooste—en deel geword van die “Kaapse kookpot”, waarin die uiteenlopendste kulture saamgegooi is en noodwendig moes verenig.

Meer kosmopolitiese gemeenskappe as ons sogenaamde Kleurlinge sal jy dus min op die aarde kry. Met hul wortels in drie verskillende vastelande kan hulle saampraat oor kaviaar, bokkoms en samoesas, en met soveel uiteenlopende invloede is hul visies so verhewe as wat hul humor aards is.

Maar om van die bruinmense van Suid-Afrika as "gemengd" te praat, is natuurlik welbeskou onsinnig. Mense regoor die wêreld is nie "volbloed" nie, as ’n mens hoegenaamd só ’n term in verband met mense kan gebruik.

Om mee te begin: die blanke Latynse volkere, soos die Spanjaarde, Portugese en Italiane, het ’n goeie skeut donker Moorse gene in hul vurige samestellings, en elders op aarde was nog baie sulke vermengings van sogenaamde wit, swart, geel, rooi en ander volkere.

Selfs die Engelse van Engeland—en dus ook hul Engelstalige verwante in Suid-Afrika en elders—is ’n vermenging van Kelte, Iberiërs, Romeine, Anglo-Saksers, Dene en Noormanne. Die Afrikaners is weer hoofsaaklik saamgeroer uit Nederlandse, Duitse en Franse voorsate, met ’n onmiskenbare sowat ses of sewe persent voorouers ook uit Asië en, ja, uit Afrika self.

Sekere van die swart volkere van Suid-Afrika se historiese assimilasie met die geel San-mense blyk voorts duidelik uit die klapklanke wat steeds in hul tale bestaan.

Waar meer sê, baie volkere op aarde kan glad nie eens as lede of vermengings van die wêreld se sogenaamde "hoofrasse" geklassifiseer word nie. Want omdat mense deur die lange millenniums al hoe meer op die aarde rondbeweeg en ondertrou het, is daar in beginsel eintlik ’n oneindige hoeveelheid rasse en is selfs die hele konsep van ras onder verdenking.

Trouens, die rassekonsep kan nóg biologies nóg maatskaplik behoorlik gemotiveer word. Al die sogenaamde menserasse behoort immers tot een biologiese spesie, naamlik Homo sapiens, en verskil onderkant hul velle geneties bloedweinig van mekaar.

Daarom moet kultuur veel belangriker as ras geag word wanneer dit by die bepaling van mense se handelinge en hul lewenstyl kom. Soos iemand dit al gestel het: Die sterk beklemtoning van ras spruit uit politieke motiewe wat met rassehaat verband hou.

Die bruinmense, wat die Kaap as hul hartland het, is kultureel baie naby aan die Afrikaners, nie net omdat die meeste van hulle ook Afrikaans praat nie, maar ook omdat hulle dieselfde Christelike beskouinge het. ’n Klein minderheid, die Kaapse Maleiers, is weliswaar Moslems.

Hoe daar ook geredeneer word, kan egter nie ontken word dat die bruinmense besliste eie groepe uitmaak nie, stellig die gevolg van ons politieke verlede, maar ook vanweë ander faktore. Daar is subtiele verskille in selfs die formele Afrikaans van die Kaapse Afrikaners en die Kaapse bruinmense, indien nie meer soseer in die grammatika nie, dan wel in die uitspraak van woorde.

(Ook wat die betekenis van sekere woorde betref, is daar verskille tussen Kaaps-Afrikaans en die sogenaamde “standaard”. Vir die  Kaaps-Afrikaanses is ’n mens se boud nie heeltemal dieselfde ding as vir Afrikaanssprekendes in, sê maar, Gauteng nie. Vir die eersgenoemdes is dit die bobeen, vir laasgenoemdes die rondings van die sitvlak. In Kaaps-Afrikaans gebruik die sprekers “selfs” waar “ook” gebruik word in die “standaard”. Kaaps-Afrikaans se woord vir die nie-Kaapse “selfs” is die Engelse leenwoord “even”. Dit kan dus vir ’n nie-Kaapssprekende ietwat koddig klink as hy hoor dat iemand in die Kaap sê: “Ek bid vir Mary en vir Dalina en selfs vir my oom Peter daar in Barydale”—so asof oom Peter dit eintlik nie werd is om voor gebid te word nie!)

Daar bestaan egter vandag om verskeie redes ’n groter vriendskapsband tussen wit en bruin in die Kaap en elders as miskien ooit tevore, en die aksent- en ander verskille in die Afrikaanse taalgebruik kan selfs binne dekades verdwyn. Daarmee saam is die bruines se volle kulturele versmelting met die wit gemeenskap waarskynlik uiteindelik onafwendbaar.

Onder die taamlik verskillende groeperinge van die bruinmense wat vandag nog bestaan, is die Kaapse Kleurlinge, die Islamitiese Kaapse Maleiers in Kaapstad en omgewing, die Griekwas in die Noord- en Oos-Kaap en die Rehoboth-Basters in Namibië. Die Griekwas is ’n groot groep wat vroeg reeds noordwaarts uitgewyk het om hul eie potjie soos dit hul behaag het in die binneland te gaan krap.

Maar kom ons bekyk die “bestanddele van die mengsel” in die genoemde “Kaapse kookpot” van naderby.

Die mensegroepe uit wie die bruinmense ontstaan het

i) Hoe die ontstamde Khoikhoi in die bruin bevolking geassimileer is

GEOLOGIES was Robbeneiland in die gryse verlede ’n deel van die Afrika-vasteland. Mense het baie duisende jare gelede reeds daar gewoon, toe die seekanaal tussen die eiland en die Kaap nog nie bestaan het nie. ’n Mens kan jou indink hoe die antieke Afrika-bewoners droogvoets van Tafelberg na Robbeneiland sou kon geloop het.

Of hulle die regstreekse voorouers was van die Khoikhoi met wie Jan van Riebeeck ná sy aankoms in 1652 vee geruil het, is ’n ope vraag. Daar was nietemin ’n goeie klomp van hierdie Khoikhoi in die Wes-Kaap toe die Nederlandse kommandeur hier gearriveer het.

Khoikhoi-vrou in tradisionele dragREGS: Historiese illustrasie van ’n Khoikhoi-vrou in tradisionele drag. Vroeëre Westerse opvattings dat die Khoikhoi ’n bandelose en barsbaarse bendevolk was, is veral in die jongste tyd deur verskillende geskiedkundiges weerlê.

Van Riebeeck se hoofprobleem was egter steeds om werkers te vind op die plase wat in die nuwe Kaapse nedersetting aangelê is. Die Khoikhoi het naamlik genoeg vervulling in hul eie gevestigde gemeenskappe met sy eiesoortige gebruike gevind. In werk vir die vreemde Nederlanders het hulle glad nie belang gestel nie.

Die gevolg was dat slawe na die Kaap gebring is om hier te werk—’n praktyk wat vandag die meeste mense met weersin vervul, maar waaroor in die wêreld van destyds nie só gedink is.

Hoe ook al, die Khoikhoi het in die eerste sowat sestig jaar van die Nederlandse oorname van die Kaap ’n mag gebly waarmee die Europeërs deeglik rekening moes hou. Hierdie mag is eers in 1713 gebreek deur ’n uitbraak van die gevreesde pokke, wat deur die bemannings en passasiers van verbygaande skepe hierheen gebring is.

Byna ’n kwart van die destydse 1.939 Europeërs aan die jong Kaapse nedersetting het ook gesterf, maar die lewensverlies was maklik dubbel soveel onder die Khoikhoi, wat geen weerstand hoegenaamd teen die siekte gehad het nie.

Pokke—gekenmerk deur ’n puisieagtige uitslag oor die hele liggaam wat in etterige sere verander—sou as baie ernstige virussiekte die mens geslagte lank teister, totdat dit uiteindelik in die twintigste eeu uitgeroei sou word met behulp van inenting.

Die Kaapse uitbraak van 1713 en latere pokke-epidemies (in 1755 en ’n ernstiger uitbraak in 1767) het alles bygedra om die Khoikhoi-kultuur dermate te verwoes dat hulle as ’n volk ophou bestaan het en in die sogenaamde Kleurlingbevolking geassimileer is. 

ii) Die slawe van heinde en ver wat in die bruin gemeenskappe versmelt het

SLAWERNY het aan die Kaap bestaan van 1653 af, kort ná Jan van Riebeeck se koms in 1652. Dit het tot in 1838 geduur. Van Riebeeck het slawe bo inheemse werkers verkies en vryburgers toegelaat om hulle op skuld te koop, maar die meeste het in die Kompanjie se diens gebly.


MALEIERS VAN DIE KAAP
 

IN die vroeë dae van die Europese nedersetting in Suid-Afrika is groepe Oosterlinge deur die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanje (VOC) na die Kaap gebring, verreweg die meeste as slawe of as mense wat om politieke redes of weens klein oortredings teen die VOC uit hul tuislande verban is. Die bannelinge is as Orang Cayen, mense met mag en invloed, beskou.

 

Hoewel hierdie Oosterlinge se nasate vandag as Maleiers bekend staan, het die meeste nie werklik uit Maleisië gekom nie, maar uit Indië en Indonesië.

 

Die Oosterse slawe het sewe hooftale en veertien dialekte gepraat, maar almal het Maleis goed geken omdat Maleis en vorms van Aanleerdermaleis destyds die handelstale van Suidoos-Asië was. Maleis is trouens in die hele streek tussen Nieu-Guinee en Madagaskar gepraat.

 

Aan die Kaap was Maleis die taal van die leiers van die Moslem-gemeenskap, wat stellig meegehelp het om die term "Maleier" vir hierdie groep mense te bestendig. Hoe wyd Maleis hier gepraat is, kan voorts uit verslae oor hofsake afgelei word. In 1713 het twaalf slawe uit die Ooste getuienis afgelê. Elf het slegs Maleis gepraat, en een Maleis en Portugees. Hofverslae toon dat getuies gereeld Maleis gebruik het. Aanvanklik is Maleis ook wyd as onderrigtaal in die Kaap aangewend.

 

Maleis is egter geleidelik deur die sogenaamde Kaapse Afrikaans verdring. Die taal het dus nie eensklaps verdwyn nie en is nog lank aan die Kaap gepraat. Daar is selfs opgeteken dat Maleis tot 1930 nog aan die Kaap gehoor kon word. Engels het nie voor die twintigste eeu ‘n rol in die Kaapse gemeenskap begin speel nie.

 

Die sogenaamde Maleiers het baie bedrewenhede en talente met hul saamgebring. Van groot belang was die invloed van daardie politieke bannelinge onder hulle, toonaangewende mense wat waarskynlik heelwat tot die bestendiging van die Maleise kultuur aan die Kaap bygedra het.

 

Nie die minste van al die kultuurerfenisse nie, is die Maleiers se besondere vernuf om hul eiesoortige kosse te berei, iets wat ’n wesenlike invloed op die Suid-Afrikaanse kookkuns in die breë gehad het (dink maar aan geregte soos sosaties, samoesas, bobotie en geelrys, kerrievis en hoeveel ander).

Kos speel steeds ’n belangrike rol in die Maleier-gemeenskap en dit staan sentraal in hul geloof en familiefeeste. Nadat ’n Maleier sy gaste op ’n ete getrakteer het, kan hulle van die kos in servette toedraai en huis toe neem. Anders as Westerlinge beskou hulle dit nie as ongeskik as mense dit doen nie. Volgens hul tradisie behoort die kos nie aan die gasheer nie maar aan die gaste.

Ook die sang en liedere van die Maleiers is beroemd. Wie ken nie die Kaapse moppie Daar kom die Alibama nie? En wie kan ooit die gees en vitaliteit vergeet van ’n Maleierkoor wat ou volksliedjes op ’n warm Oujaarsaand of by Maleise koorkompetisies sing? Of die uitgelate en kleurryke skouspel van die Nuwejaarskarnaval in die strate van Kaapstad? Kostuums van die verskillende dansgroepe in hierdie groot feestelikheid word maande vooruit deur Maleierkleremakers ontwerp en tot op die dag van die karnaval geheim gehou.

In die afgelope sowat drie en ’n halwe eeu het die Kaapse Maleiers se lewenswyse ’n unieke vermenging van Oosters en Westers geword, maar baie van die mistiek het behoue gebly, want die Maleierkultuur is stewig in die Moslemse godsdiens geanker. Soos hul godsdiens voorskryf, bid hulle vyf keer per dag, vas hulle by tye en neem hulle aan feeste deel, terwyl elkeen wat gesond en vry van skuld is en die reis kan bekostig, die duur pelgrimstog na Mekka minstens een keer in sy lewe sal onderneem om die spoor van sy profeet Mohammed te volg.

 

Hoewel Maleiers regdeur die Wes-Kaap woon, word die Kaapse buurt aan die laer hange van Seinheuwel wat as die Bo-Kaap bekend staan, die hegste met die Maleierkultuur verbind. Die Kaapse Maleiergemeenskap het teen die jongste eeuwisseling sowat 130.000 siele getel. Die argitektuur, kosse, klerewinkels, moskees en die warmte en hartlikheid van die Maleiers is so eie aan die Kaap soos Tafelberg. Hulle doen mee om toeriste in hul tienduisende na die Moederstad te lok.
    

Teen 1708 besit die burgers egter reeds 1 147 volwasse slawe, met sowat 450, die kinders ingesluit, as die Kompanjie se eiendom.

In die agttiende eeu bring georganiseerde invoere, veral van Delagoabaai en Madagaskar, die slawebevolking teen 1795 op sowat 17 000 te staan. Van die Kompanjie se Oosterse besittings het Asiatiese slawe gekom, wat as meer inskiklik as dié uit Afrika beskou is.

Maar baie van die Maleiers was bedrewe ambagslui wat nie altyd so gedwee en onderdanig gebly het nie. Met tye het hulle gewelddadig gerebelleer.

Slawe wat aan die Kaap gebore is, het die meeste aansien geniet en is gewoonlik as huisbediendes ingespan. Op die wyn- en graanplase was die werkers mettertyd feitlik almal slawe, hoewel beesboere naby die grens Khoi-bediendes verkies het.

Die Kompanjie het verblyf by die slawelosie, oorgenoeg rys en vis met tabakrantsoene en skole vir die kinders verskaf. Maar die slawe is meestal as pakdraers gebruik en die werk was moeilik.

Slawe in private diens in Kaapstad self is goed behandel en party het uiteindelik hul vryheid verdien, veral as hulle as kinders gedoop was. Hulle het vuurmaakhout versamel, eetware vir hul base verkoop en die ambagslui onder hulle is aan bure uitverhuur.

Tydens die eerste Britse besetting (1795-1803) en die Bataafse Republiek (1803-06) het die werkerskaarste die owerhede verplig om die verdere invoer van Afrika-slawe te magtig. Maar albei regerings het gehoop dat Europese arbeid spoedig slawearbeid sou vervang.

Die Britte het toe die Kaap permanent oorgeneem, en die Britse wet op die afskaffing van slawehandel (1807) het dit onwettig gemaak om ná 1 Maart 1808 slawe by enige Britse hawe af te laai.

Slawe wat wel onwettig aangekom het, het die betiteling ``prys-negers'' gekry en is as vakleerlinge aan amptenare of handelslui toegesê.

Die wet is egter later streng toegepas en die slawebevolking kon toe slegs deur geboortes groei—as meer kinders in die wêreld sou kom as wat daar sterftes en vrystellings was.

Werkers het dus skaars en slawe duurder geword, en baie min van hulle is vrygestel. Toe eise vir vergoeding in 1835 ingedien is, het die slawebevolking op 38 427 gestaan.

Daar moet darem ook hier gesê word dat dit ’n boer ’n aardige bedrag gekos het om ’n slaaf deurentyd gevoed en geklee te hou. Die slaaf het byvoorbeeld brood, vleis en groente gekry, plus wyn twee maal per dag, of drie keer daagliks in die oestyd.

Die vrystelling van die slawe is voorafgegaan deur ’n tydperk (1816-'33) van gewysigde regulasies om die lot van die slawe te verlig. Werkure is byvoorbeeld vasgepen, slawe kon eiendom besit en kinders onder tien jaar kon nie van hul ouers weggeneem en verkoop word nie.

’n Slaaf mog nie tuis met meer as 25 houe getugtig word nie, terwyl die bestuurders van landgoedere die strawwe in strafboeke moes aanteken. Hierdie voorskrifte, wat eintlik meer vir die wrede slawebase van die Wes-Indiese Eilande bedoel was, het die slawe-eienaars aan die Kaap gegrief.

Om alles te kroon het die vrystellingswet van 1833 die boere met die probleem gelaat dat hulle sonder arbeiders kon sit net wanneer hul gesaaides sou begin ryp word (1 Desember 1834), ondanks die bepaling dat bestaande slawe nog vier jaar lank verpligte onbetaalde arbeid as vakleerlinge moes verrig.

Vrygestelde slawe is soos die Khoikhoi geleidelik opgeneem in die groep wat later as die Kaapse Kleurlinge of bruinmense bekend sou staan. Uit hul geledere het op verskillende terreine groot geeste gekom wat, weens ongelukkige politieke omstandighede in ’n groot deel van die twintigste eeu, dikwels nie tot hul reg kon kom en die erkenning kon kry wat hulle verdien het nie.

Vandag staan talle nakomelinge van die slawe van weleer egter hul plek vol in die veranderde Suid-Afrika, tot in die hoogste raadsale van die land. Hul voorouers sou verheug gewees het as hulle destyds kon weet hoe hul nasate hulle sou onderskei.

LINKS: Die talentvolle digter Adam Small  (gebore 1936) het in die apartheidsjare ’n pynlike stryd gevoer vanweë die groot veronregting wat hy aangevoel het oor die etiket van “Kleurling” wat van owerheidsweë aan mense gehang is. 

iii) Die blanke voorsate van die bruinmense

IN die “Kaapse kookpot” was daar meermale onder die manne van Europese herkoms ’n nypende tekort aan vroue van hul eie groep. Die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC), die Nederlandse firma wat die Kaap sedert Jan van Riebeeck se koms 143 jaar lank regeer het, het meer in werkers belang gestel as in hul fisieke behoeftes.

Dat baie van die wit mans deur natuurdrifte tot buite-egtelike verhoudinge met hul slavinne en Khoikhoi-werksters gedwing is, kan stellig nie moreel geregverdig word nie, maar was onafwendbaar. Soms het dit egter wel tot huwelike tussen blank en “gekleurd” gelei.

Party nasate van sulke huwelike is in die banke gemeenskap opneem, terwyl ander ’n deel van die sogenaamde Kleurlinge geword het. Navorsers sê daar was selfs gevalle waar een gesin se lede só verdeel is dat hul nasate afsonderlik in die twee gemeenskappe opgegaan het.

Sulke verdelings was een van die tragedies van die veelbewoë Suid-Afrikaanse geskiedenis van skeiding op grond van ras eerder as kultuur.

Die bruinmense vandag

DIE sogenaamde Kleurlinge laat hulle vandag op ’n menigte terreine in die samelewing geld en deel in die algemene moderne kultuur van Suid-Afrika. Baie werk as huishulpe of in die hotelbedryf. Party is boere. Ook in regeringskringe laat hulle hulle nie onbetuig nie.

Die Kaapse Maleiers is bekend vir hul vakmanskappe en houtwerk, bedrewenhede wat deur hul voorouers uit die Ooste hierheen gebring is. Die Griekwas het hulle as ruiters en skaapboere onderskei. Bruinmense in Namibië is betrokke by sakeondernemings.

Uiteindelik is die geleenthede groter as ooit tevore vir hierdie mense met hul letterlik kleurryke herkoms om ook hul regmatige plek in die Suider-Afrikaanse son te vind.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad