Hulle tel meer as drie miljoen, die Kaap is hul hartland en hulle woon meestal in die provinsies Wes-Kaap en Noord-Kaap. Die meeste van hulle praat Afrikaans, trouens, daar is selfs meer bruin Afrikaanssprekers as die Afrikaners self. Hulle bestaan uit verskillende groepe, al is hulle in die apartheidsjare as een groep saamgegroepeer. Vandag staan hulle oral hul plek vol tot in die hoogste raadsale van die land... en hoe trots sou hul voorouers nie gewees het as hulle destyds dít kon geweet het nie... Klopse-figure gesuperimponeer op Bo-Kaap-foto. Foto slegs van Klopse-figure: Kopiereg: SOUTH AFRICAN TOURISM/SUID-AFRIKAANSE TOERISME
BO: ’n Uitgebreide familie met
wortels in verskillende Suid-
Foto deur
HENRY M. TROTTER, |
|||
|
Meer
kosmopolitiese gemeenskappe as ons sogenaamde Kleurlinge sal jy dus min
op die aarde kry. Met hul wortels in drie verskillende vastelande kan
hulle saampraat oor kaviaar, bokkoms en samoesas, en met soveel
uiteenlopende invloede is hul visies so verhewe as wat hul humor aards
is. Maar
om van die bruinmense van Suid-Afrika as "gemengd" te praat,
is natuurlik welbeskou onsinnig. Mense regoor die wêreld is nie
"volbloed" nie, as ’n mens hoegenaamd só ’n term in
verband met mense kan gebruik. Om
mee te begin: die blanke Latynse volkere, soos die Spanjaarde, Portugese
en Italiane, het ’n goeie skeut donker Moorse gene in hul vurige
samestellings, en elders op aarde was nog baie sulke vermengings van
sogenaamde wit, swart, geel, rooi en ander volkere. Selfs
die Engelse van Engeland—en dus ook hul Engelstalige verwante in
Suid-Afrika en elders—is ’n vermenging van Kelte, Iberiërs,
Romeine, Anglo-Saksers, Dene en Noormanne. Die Afrikaners is weer
hoofsaaklik saamgeroer uit Nederlandse, Duitse en Franse voorsate, met
’n onmiskenbare sowat ses of sewe persent voorouers ook uit Asië en,
ja, uit Afrika self. Sekere
van die swart volkere van Suid-Afrika se historiese assimilasie met die
geel San-mense blyk voorts duidelik uit die klapklanke wat steeds in hul
tale bestaan. Waar
meer sê, baie volkere op aarde kan glad nie eens as lede of vermengings
van die wêreld se sogenaamde "hoofrasse" geklassifiseer word
nie. Want omdat mense deur die lange millenniums al hoe meer op die
aarde rondbeweeg en ondertrou het, is daar in beginsel eintlik ’n
oneindige hoeveelheid rasse en is selfs die hele konsep van ras onder
verdenking. Trouens,
die rassekonsep kan nóg biologies nóg maatskaplik behoorlik gemotiveer
word. Al die sogenaamde menserasse behoort immers tot een biologiese
spesie, naamlik Homo sapiens, en verskil onderkant hul velle
geneties bloedweinig van mekaar. Daarom
moet kultuur
veel
belangriker as ras geag word wanneer dit by die bepaling van mense se
handelinge en hul lewenstyl kom. Soos iemand dit al gestel het: Die sterk beklemtoning van
ras spruit uit politieke motiewe wat met rassehaat verband hou. Die
bruinmense, wat die Kaap as hul hartland het, is kultureel baie naby aan
die Afrikaners, nie net omdat die meeste van hulle ook Afrikaans praat
nie, maar ook omdat hulle dieselfde Christelike beskouinge het. ’n
Klein minderheid, die Kaapse Maleiers, is weliswaar Moslems. Hoe
daar ook geredeneer word, kan egter nie ontken word dat die bruinmense
besliste eie groepe uitmaak nie, stellig die gevolg van ons politieke verlede,
maar ook vanweë ander faktore. Daar is subtiele
verskille in selfs die formele Afrikaans van die Kaapse Afrikaners en
die Kaapse bruinmense, indien nie meer soseer in die grammatika nie, dan
wel in die uitspraak van woorde. (Ook wat die betekenis van sekere woorde betref, is daar verskille tussen Kaaps-Afrikaans en die sogenaamde “standaard”. Vir die Kaaps-Afrikaanses is ’n mens se boud nie heeltemal dieselfde ding as vir Afrikaanssprekendes in, sê maar, Gauteng nie. Vir die eersgenoemdes is dit die bobeen, vir laasgenoemdes die rondings van die sitvlak. In Kaaps-Afrikaans gebruik die sprekers “selfs” waar “ook” gebruik word in die “standaard”. Kaaps-Afrikaans se woord vir die nie-Kaapse “selfs” is die Engelse leenwoord “even”. Dit kan dus vir ’n nie-Kaapssprekende ietwat koddig klink as hy hoor dat iemand in die Kaap sê: “Ek bid vir Mary en vir Dalina en selfs vir my oom Peter daar in Barydale”—so asof oom Peter dit eintlik nie werd is om voor gebid te word nie!) Daar
bestaan egter vandag om verskeie redes ’n groter vriendskapsband
tussen wit en bruin in die Kaap en elders as miskien ooit tevore, en die
aksent- en ander verskille in die Afrikaanse taalgebruik kan selfs binne dekades
verdwyn. Daarmee saam is die bruines se volle kulturele versmelting met
die wit gemeenskap waarskynlik uiteindelik onafwendbaar. Onder
die taamlik verskillende groeperinge van die bruinmense wat vandag nog
bestaan, is die Kaapse Kleurlinge, die Islamitiese Kaapse Maleiers in
Kaapstad en omgewing, die Griekwas in die Noord- en Oos-Kaap en die
Rehoboth-Basters in Namibië. Die Griekwas is ’n groot groep wat vroeg
reeds noordwaarts uitgewyk het om hul eie potjie soos dit hul behaag het in
die binneland te gaan krap. Maar
kom ons bekyk die “bestanddele van die mengsel” in die genoemde
“Kaapse kookpot” van naderby. Die
mensegroepe uit wie die bruinmense ontstaan het i)
Hoe die ontstamde Khoikhoi in die bruin bevolking geassimileer is GEOLOGIES
was Robbeneiland in die gryse verlede ’n deel van die
Afrika-vasteland. Mense het baie duisende jare gelede reeds daar gewoon,
toe die seekanaal tussen die eiland en die Kaap nog nie bestaan het nie.
’n Mens kan jou indink hoe die antieke Afrika-bewoners droogvoets van
Tafelberg na Robbeneiland sou kon geloop het. Of
hulle die regstreekse voorouers was van die Khoikhoi met wie Jan van
Riebeeck ná sy aankoms in 1652 vee geruil het, is ’n ope vraag. Daar
was nietemin ’n goeie klomp van hierdie Khoikhoi in die Wes-Kaap toe
die Nederlandse kommandeur hier gearriveer het.
Van
Riebeeck se hoofprobleem was egter steeds om werkers te vind op die plase wat in die
nuwe Kaapse nedersetting aangelê is. Die Khoikhoi het naamlik genoeg
vervulling in hul eie gevestigde gemeenskappe met sy eiesoortige
gebruike gevind. In werk vir die vreemde Nederlanders het hulle glad nie
belang gestel nie. Die
gevolg was dat slawe na die Kaap gebring is om hier te werk—’n
praktyk wat vandag die meeste mense met weersin vervul, maar waaroor in
die wêreld van destyds nie só gedink is. Hoe ook al,
die Khoikhoi het in die eerste sowat sestig jaar van die Nederlandse
oorname van die Kaap ’n mag gebly waarmee die Europeërs deeglik
rekening moes hou. Hierdie mag is eers in 1713 gebreek deur ’n
uitbraak van die gevreesde pokke, wat deur die bemannings en passasiers
van verbygaande skepe hierheen gebring is. Byna ’n
kwart van die destydse 1.939 Europeërs aan die jong Kaapse nedersetting
het ook gesterf, maar die lewensverlies was maklik dubbel soveel onder
die Khoikhoi, wat geen weerstand hoegenaamd teen die siekte gehad het
nie. ii)
Die slawe van heinde en ver wat in die bruin gemeenskappe versmelt het SLAWERNY
het aan die Kaap bestaan van 1653 af, kort ná Jan van Riebeeck se koms
in 1652. Dit het tot in 1838 geduur. Van Riebeeck het slawe bo inheemse
werkers verkies en vryburgers toegelaat om hulle op skuld te koop, maar
die meeste het in die Kompanjie se diens gebly.
Teen
1708 besit die burgers egter reeds 1 147 volwasse slawe, met sowat 450,
die kinders ingesluit, as die Kompanjie se eiendom. In
die agttiende eeu bring georganiseerde invoere, veral van Delagoabaai en
Madagaskar, die slawebevolking teen 1795 op sowat 17 000 te staan. Van
die Kompanjie se Oosterse besittings het Asiatiese slawe gekom, wat as
meer inskiklik as dié uit Afrika beskou is. Maar
baie van die Maleiers was bedrewe ambagslui wat nie altyd so gedwee en
onderdanig gebly het nie. Met tye het hulle gewelddadig gerebelleer. Slawe
wat aan die Kaap gebore is, het die meeste aansien geniet en is
gewoonlik as huisbediendes ingespan. Op die wyn- en graanplase was die
werkers mettertyd feitlik almal slawe, hoewel beesboere naby die grens
Khoi-bediendes verkies het. Die
Kompanjie het verblyf by die slawelosie, oorgenoeg rys en vis met
tabakrantsoene en skole vir die kinders verskaf. Maar die slawe is
meestal as pakdraers gebruik en die werk was moeilik. Slawe
in private diens in Kaapstad self is goed behandel en party het
uiteindelik hul vryheid verdien, veral as hulle as kinders gedoop was.
Hulle het vuurmaakhout versamel, eetware vir hul base verkoop en die
ambagslui onder hulle is aan bure uitverhuur. Tydens die eerste Britse besetting (1795-1803) en die Bataafse Republiek (1803-06) het die werkerskaarste die owerhede verplig om die verdere invoer van Afrika-slawe te magtig. Maar albei regerings het gehoop dat Europese arbeid spoedig slawearbeid sou vervang. Die Britte het toe die Kaap permanent oorgeneem, en die Britse wet op die afskaffing van slawehandel (1807) het dit onwettig gemaak om ná 1 Maart 1808 slawe by enige Britse hawe af te laai. Slawe wat wel onwettig aangekom het, het die betiteling ``prys-negers'' gekry en is as vakleerlinge aan amptenare of handelslui toegesê. Die wet is egter later streng toegepas en die slawebevolking kon toe slegs deur geboortes groei—as meer kinders in die wêreld sou kom as wat daar sterftes en vrystellings was. Werkers het dus skaars en slawe duurder geword, en baie min van hulle is vrygestel. Toe eise vir vergoeding in 1835 ingedien is, het die slawebevolking op 38 427 gestaan. Daar moet darem ook hier gesê word dat dit ’n boer ’n aardige bedrag gekos het om ’n slaaf deurentyd gevoed en geklee te hou. Die slaaf het byvoorbeeld brood, vleis en groente gekry, plus wyn twee maal per dag, of drie keer daagliks in die oestyd. Die vrystelling van die slawe is voorafgegaan deur ’n tydperk (1816-'33) van gewysigde regulasies om die lot van die slawe te verlig. Werkure is byvoorbeeld vasgepen, slawe kon eiendom besit en kinders onder tien jaar kon nie van hul ouers weggeneem en verkoop word nie. ’n Slaaf mog nie tuis met meer as 25 houe getugtig word nie, terwyl die bestuurders van landgoedere die strawwe in strafboeke moes aanteken. Hierdie voorskrifte, wat eintlik meer vir die wrede slawebase van die Wes-Indiese Eilande bedoel was, het die slawe-eienaars aan die Kaap gegrief. Om alles te kroon het die vrystellingswet van 1833 die boere met die probleem gelaat dat hulle sonder arbeiders kon sit net wanneer hul gesaaides sou begin ryp word (1 Desember 1834), ondanks die bepaling dat bestaande slawe nog vier jaar lank verpligte onbetaalde arbeid as vakleerlinge moes verrig. Vrygestelde slawe is soos die Khoikhoi geleidelik opgeneem in die groep wat later as die Kaapse Kleurlinge of bruinmense bekend sou staan. Uit hul geledere het op verskillende terreine groot geeste gekom wat, weens ongelukkige politieke omstandighede in ’n groot deel van die twintigste eeu, dikwels nie tot hul reg kon kom en die erkenning kon kry wat hulle verdien het nie. Vandag staan talle nakomelinge van die slawe van weleer egter hul plek vol in die veranderde Suid-Afrika, tot in die hoogste raadsale van die land. Hul voorouers sou verheug gewees het as hulle destyds kon weet hoe hul nasate hulle sou onderskei.
iii)
Die blanke voorsate van die bruinmense IN die “Kaapse kookpot” was daar meermale onder die manne van Europese herkoms ’n nypende tekort aan vroue van hul eie groep. Die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC), die Nederlandse firma wat die Kaap sedert Jan van Riebeeck se koms 143 jaar lank regeer het, het meer in werkers belang gestel as in hul fisieke behoeftes. Dat baie van die wit mans deur natuurdrifte tot buite-egtelike verhoudinge met hul slavinne en Khoikhoi-werksters gedwing is, kan stellig nie moreel geregverdig word nie, maar was onafwendbaar. Soms het dit egter wel tot huwelike tussen blank en “gekleurd” gelei. Party nasate van sulke huwelike is in die banke gemeenskap opneem, terwyl ander ’n deel van die sogenaamde Kleurlinge geword het. Navorsers sê daar was selfs gevalle waar een gesin se lede só verdeel is dat hul nasate afsonderlik in die twee gemeenskappe opgegaan het. Sulke verdelings was een van die tragedies van die veelbewoë Suid-Afrikaanse geskiedenis van skeiding op grond van ras eerder as kultuur. Die bruinmense vandag DIE
sogenaamde Kleurlinge laat hulle vandag op ’n menigte terreine in die
samelewing geld en deel in die algemene moderne kultuur van Suid-Afrika.
Baie werk as huishulpe of in die hotelbedryf. Party is boere. Ook in
regeringskringe laat hulle hulle nie onbetuig nie. Die
Kaapse Maleiers is bekend vir hul vakmanskappe en houtwerk, bedrewenhede
wat deur hul voorouers uit die Ooste hierheen gebring is. Die Griekwas
het hulle as ruiters en skaapboere onderskei. Bruinmense in Namibië is
betrokke by sakeondernemings. Uiteindelik
is die geleenthede groter as ooit tevore vir hierdie mense met hul
letterlik kleurryke herkoms om ook hul regmatige plek in die
Suider-Afrikaanse son te vind. |
|||