Klein maar vol venyn bespring hulle jou—om nie net jou vel te deurboor nie, maar jou boonop dalk erg siek te maak

 

Bloedlus van die byterige

bosluis

     

Dik gefuif—’n wyfie van die takbokbosluis (Ixodes scapularis), wat verantwoordelik is vir die oordrag van borreliose of “Lyme disease”

BO: Vet uitgepof van die bloed om genoeg voedingstowwe weg te bêre vir die eiers wat sy gaan lê, kleef hierdie bosluiswyfie aan haar gas­heer. Sy is dalk met bakterieë besmet en, indien wel, het sy die kieme bes moontlik ook reeds aan haar slagoffer oorgedra.  Verskillende soor­te bosluise en verskillende kiemspesies is betrokke by die verwekking van bosluisbytkoors en ander siektes by mens en dier in verskillende wêrelddele. In Suid-Afrika kry ons byvoorbeeld die bontbosluis (Ambly­omma hebraeum), wat die draer is van die organisme Rickettsia africae, die verwekker van bosluisbytkoors by mense. In die oorstelike deel van Noord-Amerika is daar weer die takbokbosluis (Ixodes scapularis)—op die foto—wat verantwoordelik is vir die oordrag van ’n siekte soos borreliose, of “Lyme disease” soos dit ook genoem word.

Foto: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

In die bosse en op die velde, in krakies en ander skuilplekke wag hul geduldig op mens of dier. En wanneer hulle ’n onwillige gasheer vind, sal hulle hulle nie slegs trommeldik drink aan sy bloed nie, maar kan hulle hom ook nog met allerhande nare siektekieme besmet...

 

“Rocky mountain spotted fever”

REGS: Bosluisbytkoors word in die VSA “Rocky mountain spotted fever” genoem—en hierdie uitslag op ’n pasiënt se arm en hand help om ’n mens te laat verstaan waarom die besmetting so ’n nare ervaring kan wees. Die draer in Amerika is die westelike swartpootbosluis (Ixodes pacificus) en die verwekker is die bakteriële organisme Rickettsia ricketsii.

 

Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention

 

 

M

AAK geen fout nie, ’n bosluis is ’n nare ding. Die string siektes wat deur verskillende soorte bosluise versprei word, is ysingwekkend. Hulle is nie net die draers van parasitiese mikroörganismes soos rickettsia en ander siekteverwekkende bakterieë nie, maar ook van virusse en protosoa. En hulle is dorstige bloedsuiers van formaat.

 

Miskien het jy ook nog altyd gereken dat die bosluise en die weeluise en kopluise in een groep saamhoort. Die leek kan nogal maklik so dink, om die eenvoudige rede dat almal luise genoem word, en dan is die hele gespuis boonop versot op bloed, nes die bloedsuiende vampiere.

 

Maar weeluise en kopluise (Engels “lice”) is insekte. Bosluise (Engels “ticks”) is nié, want hulle en die miete word by die spinnekopagtiges ingedeel. Die feit dat hulle agt pote het en nie ses nie, wys jou al klaar tot watter grillerige gogga-groep die bosluise eintlik behoort.

 

As iemand jou dus vertel dat hy of sy deur ’n “spinnekoppie”  gebyt is, kon dit baie maklik eintlik ’n bosluis gewees het.

 

Ons kan sê bosluise lewe onbeskaamd van die bloed van mens en dier—dikwels huisdiere, vee of pluimvee. Nader omskryf, is alle bosluise sogenaamde uitwendige parasiete, wat hulle veral op mense, allerhande soogdiere en voëls toespits, maar minder dikwels ook reptiele, selfs slange, en amfibieë bydam. Hulle is veral byterig in die lente en somer.

 

Veel kloueriger as die hardnekkigste klitsgras aan ’n wolsokkie, só kleef hulle aan die huid van hul gasheer. Hier sal hulle hulle knuppeldik drink aan die gratis rooi lewensvog wat hulle so gerieflik onder die vel van hul slagoffer vind. Omdat hulle so klein is, word hulle baiemaal nie opgemerk voordat hulle hulle stewig aan die vel geanker het en hul pynlike byte gebyt het nie. Hulle wag dikwels in laaggroeiende plante of gras om diere of mense beet te kry wat daar verbykom, en dan begin die bloedige fees.

 

Asof hierdie astrantheid nie genoeg is nie, versprei hulle ook nog ’n spul aaklige kieme. Wat meer sê, omdat bosluise meer as een soort siekteverwekker in hul lyfies kan huisves, word hul slagoffers partymaal tegelykertyd met meer as een patogeen (siektekiem) besmet, wat die diagose en behandeling bemoeilik.

 

Maar wag ’n bietjie—sou jy dalk kon vra— wat is bosluise eintlik?

 

Die verskillende soorte bosluise

BOSLUISE behoort tot die dierestam van die geleedpotiges, klas Arachnida (spinnekopagtiges). Die kopborsstuk is versmelt met ’n sakvormige agterlyf. Hulle het mondwerktuie wat as steek- of aanhegtings- en suigorgane kan dien, en hulle haal asem deur middel van lugpypies.

 

Die bosluise word in drie families ingedeel, te wete:

•   die harde bosluise of skildbosluise (Ixodidae);

•   die sagte bosluise of tampanfamilie (Argasidae);

•   die Nuttalliellidae, verteenwoordig deur die enkele bekende spesie Nuttalliella namaqua, wat in Suid-Afrika en elders in Suidelike Afrika voorkom.

 

’n Skildbosluis en ’n hoenderbosluis

’n Skildbosluis, Ixodes scapularis (LINKS BO), en ’n hoenderbosluis, Argas persicus (REGS BO), wat tot die tampanfamilie behoort.
 

Foto van Ixodes scapularis: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Van die nagenoeg 850 bosluisspesies op aarde is 175 sagte bosluise en die res is hardes. Die harde bosluise of skildbosluise is dus verreweg die volopste.

 

Hierdie Ixodidae of skildbosluise het ’n skild op die voorste deel van die liggaam, wat by die mannetjies die hele liggaam bedek. Die bont, bruin en blouerige soorte wat hulle op huisdiere of vee tuis maak, behoort tot hierdie familie.

 

By die Argasidae of tampanfamilie of sagte bosluise ontbreek die skild voor op die liggaam. Die “tampans” en hoenderbosluise word by hierdie familie ingedeel.

 

Nuttalliella namaqua verskil van die skildbosluise en die tampanfamilie, onder meer deur die posisie van die oogvlekke, ontbrekende setae en sterk geriffelde dop.

 

Hoe bosluise hul prooi vind

BOSLUISE se maniere om hul prooi te vind, is baie interessant. Hulle het spesiale sintuiglike organe aan die punte van hul voorpote, wat ’n verandering in vogtigheid kan waarneem en hulle kan help om ’n gasheer op te spoor.  

 

’n Honger bosluis klim in die ruigte op ’n stingel of ’n blaar en wuif met sy voorpote in die lug, reg om op ’n warmbloedige dier te klim wat by hom verbyskuur.

 

Dit kan baiekeer ’n lang wag sonder kos beteken, maar die volwasse bosluise het Jobsgeduld.

 

Sodra die bosluis op sy gasheer klouter, soek hy die vel en maak ’n snytjie daarin met sy knypers. Hy klou dan vas met sy “tande” terwyl hy bloed deur sy snuit opsuig. Die bloedige gefuif duur etlike ure en die bosluis swel aansienlik uit.

 

Dit is ’n kenmerk van bosluise dat die volwasse wyfies baie groter as die mannetjies is, veral as hulle boonop dik van die bloed is.

 

Mondwerktuie van die bosluis

BO: Op hierdie verkleurde illustrasie uit die Afrikaanse Kinderensiklopedie sien ons—baie vergroot—hoe die mondwerktuie van die bosluis lyk. Ons bekyk hulle van die kant van die buik. Aan die voorent, bo, is die twee kake wat in skedes uitgestoot en ingetrek kan word. Hulle is met weerhakies gewapen. Onder hulle in die middel is die sogenaamde “hipostoom”, ’n lepelvormige deel, wat ook met weerhake of dorings gewapen is en waarmee die bosluis in die huid van sy gasheer vassit. Tussen hom en die kake is die mondopening. Aan elke kant is die tasters (kaaktasters van ander spinnekopagtiges). Hulle bestaan uit vier litte waarvan die vierde soms baie klein is. Hulle dien ook as sintuie. By baie soorte word hulle teen die middeldele gedruk en dien dus as ’n soort skede. Die mondwerktuie van bosluise is uitstekend toegerus om die vel te deurboor en bloed in te suig.

 

Bron: Afrikaanse Kinderensiklopedie

 

Siektes wat bosluise onder mense versprei

EEN verpestelike karnallie en van die grootste bosluissoorte is die bontbosluis Amblyomma hebraeum. Hy is ’n skildbosluis wat nie net vee en wild byt nie, maar ook mense. Die lang monddele van Amblyomma-bosluise wat so stewig in hul slagoffers kan indring, maak dit moeilik om hulle met die hand te verwyder. Hulle laat ook groot wonde agter wat deur bakterieë besmet kan raak of waar beesmaaiers ’n houvas kan kry.

 

A. hebraeum kan Ehrlichia ruminantium oordra (vroeër bekend as Cowdria ruminantium), die bewerker van hartwater, een van die belangrikste veesiektes in Afrika. Hierdie bosluis is ook die draer van die organisme Rickettsia africae, ’n verwekker van bosluisbytkoors by mense.

 

Ons bontbosluis (Amblyomma hebraeum)REGS: ’n Illustrasie van die bontbosluis (Amblyomma hebraeum), wat in ons wêrelddeel ’n draer van die organismes is wat hartwater by vee en bosluisbytkoors by mense veroorsaak.

 

Illustrasie: MSKARG

 

 

Bosluisbytkoors is ’n koorssiekte wat in Afrika suid van die Sahara voorkom en hier by ons betreklik goed bekend is. Trouens, drie Rickettsia-spesies is tot dusver reeds met mensesiektes in Suid-Afrika verbind.

 

Verskillende soorte bosluise en verskillende Rickettsia-spesies is betrokke by die verwekking van bosluisbytkoors in verskillende wêrelddele. In die VSA is die bakteriële organisme R. ricketsii byvoorbeeld verantwoordelik vir wat die Amerikaners “Rocky Mountain spotted fever” noem. 

 

Terloops, bosluisbytkoors moet nie met bosluiskoors verwar word nie. Dié word deur verskillende spesies van spirochete, of spiraalvormige bakterieë, van die genus Borrelia aan die mens oorgedra, deur kop- en lyfluise sowel as bosluise. Sowat vyf persent van die geïnfekteerdes sterf, meestal bejaardes.

 

Bosluisbytkoors, daarenteen, is nie gevaarlik nie, hoewel die pasiënt ’n hewige hoofpyn en koorsigheid ervaar, wat gewoonlik met ’n fyn pienk uitslag gepaard gaan. Gelukkig word ’n kwaai aanval gewoonlik deur lewenslange immuniteit gevolg.

 

Hyalomma-bosluisspesies is op hul beurt draers van die gevaarlike CCHF-virus, wat Krim-Kongo- hemoragiese koors by die mens veroorsaak. In Suid-Afrika is dit ’n seldsame maar ernstige endemiese siekte. Dit word gekenmerk deur onder meer neusbloeding, bloedbraking, bloed in die stoelgang en klein bloedings oor die hele liggaam.

 

As die pasiënt nie vroeg behandel word nie, volg multi-orgaanversaking, hartstilstand en die dood. ’n Mens kan selfs Kongokoors kry as jy ’n besmette bosluis tussen jou vingers dooddruk en die virus jou liggaam deur ’n stukkende plek op jou hand binnedring.

In die Noordelike Halfrond—in die VSA en Europa—is borreliose of “Lyme disease” die mees voorkomende siekte wat deur bosluise oorgedra word. Die verwekkers is minstens drie spesies bakterieë wat tot die genus Borrelia behoort en die draers is verskillende soorte skildbosluise. In die VSA is een sondaar die takbokbosluis, ook genoem  swartpootbosluis (Ixodes scapularis), terwyl ’n skaapbosluis (Ixodes ricinus) in Europa ’n draer is.

’n Skaapbosluis (Ixodes ricinus), die draer van borreliose of “Lyme disease”  in EuropaREGS: ’n Skaapbosluis (Ixodes ricinus), die draer van borreliose of “Lyme disease”  in Europa.

 

Foto: James K. Lindsey. Die foto verskyn in ’n groter vorm op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web en dit is gelisensieer ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, hergebruik word vergun op voorwaarde dat behoorlike erkenning gegee en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie soorgelyk aan hierdie een. Amptelike lisensie

 

“Lyme disease”  word deur verskeie simptome gekenmerk, insluitende veranderinge wat die vel, hart, gewrigte en senustelsel raak. Met spoedige en korrekte behandeling klaar alles binne sowat twee weke op. In seldame gevalle kan daar egter chroniese nagevolge wees, selfs etlike jare nadat die pasiënt deur die bosluis gebyt is.

Siektes wat bosluise onder diere versprei

BENEWENS die bontbosluis (Amblyomma hebraeum), wat hoër op genoem is en die organisme oordra wat die belangrike veesiekte hartwater verwek, kry ons in Suid-Afrika ook nog verskillende ander bosluise wat ons plaasdiere, huisdiere en wild treiter.

Die bloubosluis (Boophilus decoloratus) versprei byvoorbeeld die kieme van rooiwater onder beeste, terwyl die bruinbosluis (Rhipicephalus appendiculatus) een van die draers is van die siekte ooskuskoors wat ook onder beeste voorkom.

Die Europese bruinhondebosluis (Rhipicephalus sanguineus) teer nie net op honde nie, maar ook op jakkalse, katte, hase en selfs leeus. Die blouerige soort hondebosluis (Haemaphysalis leachi) versprei weer hondesiekte.

Die Europese bruinhondebosluis (Rhipicephalus sanguineus)LINKS: Die Europese bruinhondebosluis (Rhipicephalus sanguineus).

Onder die sagte bosluise of tampanfamilie is ’n baie bekende soort die plat hoenderbosluis, Argas persicus (kyk illustrasie hoër op), wat wyd oor die wêreld voorkom. Hy kruip in die dag in skeurtjies weg, maar kruip snags uit sy skuilings om die hoeders te byt. Hy is ook die draer van ’n soort hoendersiekte.

Die lys bosluis-siektes onder diere hou natuurlik nie hier op nie...

Die lewenslope van bosluise

DIE lewenslope van verskillende soorte bosluise kan baie verskil, maar hulle broei vanselfsprekend almal uit eiers. Volwasse wyfies van talle soorte kan duisende eiers in holtetjies in die grond lê, waaruit larwes met ses pootjies hul verskyning maak.

Die larwe sal die bloed van ’n gasheer benut, afval om dit te verteer en mettertyd vervel om in ’n sogenaamde nimf met agt pote te verander. ’n Tweede gasheer-dier se bloed voed die nimf, wat nogmaals van die gasheer afval om te vervel en as ’n volwasse mannetjie of wyfie te ontluik.

Die volwasse bosluis wag dan weer geduldig op ’n plant op ’n laaste gasheer.  Die wyfies suig sy bloed totdat hulle koeëlrond is—en selfs tot 150 keer swaarder weeg—om hulle voor te berei vir die tyd waarin hulle hul eiers sal lê. Die bosluis sal ook op die gasheer paar.

’n Nimf, ’n volwasse mannetjie en ’n volwasse wyfie van Ixodes pacificus

Piepklein, maar so bloeddorstig...

LINKS: Bosluise wat nie van hul gasheer se bloed uitgeswel het nie, is dikwels sommer piepklein. Dit kan duidelik gesien word op hierdie foto van (van links) ’n nimf, ’n volwasse mannetjie en ’n volwasse wyfie van die VSA se westelike swartpootbosluis, Ixodes pacificus, wat op ’n menslike vinger sit.

 

Foto: Ricmond Laboratory / California Department of Health Services (“In general, information presented on the California web site is considered to be in the public domain. If not in this case,fair use is assumed.”)

 

Hoe keer ek dat ’n bosluis my byt?

DAAR is verskeie maniere waarop ’n mens jou teen bosluisbyte kan beskerm as jy in die veld of bosse loop of kampeer, en die meeste daarvan lê voor die hand—soos dat ’n mens nie roekeloos in potensieel gevaarlike bosgasies moet inloop nie. Maak ook gebruik van insekweermiddels en dra ’n lang broek en ’n hemp met lang moue.

 

En as jy gebyt word, is dit belangrik dat jy nie paniekerig raak nie. Kry gou mediese hulp as jy ernstige of selfs minder ernstige simptome ervaar, maar onthou ook dat die meeste mense wat deur bosluise gebyt word nie veel daarvan oorkom nie—wat nog te sê doodgaan.

Maar watter “groen” raat is daar om bosluise by diere te bestry? Party mense beveel die tarentaal aan. Met sy kaal kop, spikkels en “horing” op die kop draf hierdie koddige voël sy haastige draf agter sade en plantbolle aan. Dog hy is ook lief vir insekte en bosluise is sy poeding. As jy jou hond luisvry wil hou, sê hulle, ontbied ’n tarentaal!
 

REGS: ’n Bosluis op die planeet Venus? Dit lyk amper so, op hierdie foto wat destyds tydens NASA se Magellan-sending op ons buurplaneet geneem is, maar dit is natuurlik net ’n impakkrater met tekens van die geweld van die impak daar rondom.

 

Foto: NASA

“Bosluis”-krater op die planeet Venus

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad