|
S jy dalk ’n boomgeitjie
êrens teen ’n ruit sien rus, moet jy dit liewer nie
waag om die astrante klouteraar met alle geweld van
die stuk vensterglas af te ruk nie. Straks sit jy
met ’n gebarste ruit sit. Die rede? Die tone van ’n
boomgeitjie klou so stewig vas aan die bome en rotse
waaroor hy klim dat hierdie klein reptiel selfs
onderstebo kan loop teen iets soos ’n plafon.
REGS:
Gebou om te klou! Die poot van ’n geitjie, in
hierdie geval ’n Amerikaanse spesie, Coleonyx
brevis.
Foto: Yuri Huta, © 2005 Finding
Species
/ Slegs nie-kommersiële
opvoedkundige gebruik vergun / via NBII, U.S.
Geological Survey
Alle diere wat in bome woon, moet die een of ander
manier hê om te kan beweeg terwyl hulle kos soek—of van hul vyande wegkom—sonder om grond toe te
val.
Die meeste boomdiere het anderste vingers en tone,
wat óf in kragtige suiers eindig wat hulle aan
loodregte oppervlakke help kleef óf in skerp kloue
wat deur boombas kan dring.
REGS:
Kiets se pote eindig in skerp naels wat enige boom kan baasraak.
By sekere boomdiere kom die vingers of tone ooreen
met dié in ’n mensehand, sodat hulle des te beter
kan klou.
Vir baie, soos die spinape op die illustrasie boaan
hierdie artikel, lê die geheim in die stert. Hierdie liggaamsdeel
help die dier
nie net om sy ewewig te behou nie, maar is in der
waarheid ’n vyfde ledemaat wat hy vir ekstra
steun om takke kan draai. Sterte wat só kan gryp,
word—hoe anders?—grypsterte genoem.
Maar diere soos die gibbons of langarmape, primate van
Suidoos-Asië, het weer geen stert waarmee hulle
hulle kan balanseer nie. Soos hul een naam aandui,
het hulle egter lang arms en gevolglik is hulle uitmuntende
woud-akrobate. Wat meer sê, wanneer hulle op
die grond loop, loop hulle regop...
en volgens die foto hieronder kan gibbons selfs
kiertsregop staan in die bome. Balanserend soos koordlopers tussen hemel
en aarde. Aap wat ben je ’n ewewigtige jonge!
LINKS:
’n Gibbon balanseer hom soos ’n koordloper in die
hoogte.
Foto met vergunning
van
Conservation International
/ via
Cambodia Embassy, U.S. Gov. (rande weggesny van
oorspronklike foto)
Die meeste boompaddas woon ook hoog bokant baie van
hul potensiële roofvyande, wat op vaste aarde onder
hulle rondsluip. Ronde kussinkies aan die
toonpunte van die boompaddas het kliere wat gom afskei, wat hulle aan
gladde blare laat kleef soos konfyt aan ’n
wolkombers!
Ander klimmers se tone is weer anders gerangskik.
Verkleurmannetjies het byvoorbeeld aan elke poot
iets wat lyk na twee teenoorgeleë tone om ’n stingel
styf vas te vat. Elke toon is in der waarheid
saamgegroeide tone—drie aan die een en twee aan
die ander. Daarmee kan hulle besonder bedrewe
aan twygies en takke klou—en dan het hulle boonop ’n grypstert vir ekstra veiligheid.
Klik hier
as jy Mieliestronk se afsonderlike artikel oor
die verkleurmannetjies wil lees en na ’n aantal
fassinerende foto’s van trapsuutjiese wil kyk.
En dan is daar klimmende voëls soos die houtkappers.
Baie van hulle kan die vierde toon sywaarts draai of
al vier tone na voor hou vir die beste
vashouposisie teen ’n boomstam. Hulle beweeg in
spronge teen die stamme op. Die stert is ekstra
versterk om die voël te anker. Breë vere en breë
werwels wat aan kragtige spiere geheg is, help die
houtkapper om sy stert af te druk, wat kragte
balanseer wat die voël andersins agteroor sou laat
tuimel het terwyl hy aan ’n stam pik of teen ’n boom
opspring.

LINKS BO: Die
Hispaniolaanse houtkapper (Melanerpes striatus), wat
inheems is op die Karibiese eiland Hispaniola. Die kloue en die
stert werk hier saam om die voël stewig te anker teen die
steilte.
REGS BO: ’n Europese boompadda (Hyla arborea), afgeneem
in Oostenryk. Danksy klewerige kussinkies aan die tone is dit
vir hierdie soort paddas geen probleem om in bome te woon nie.
Foto van
houtkapper deur
Wolfgang Wander,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge die bepalinge van
die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere
weergawe wat deur Free Software Foundation gepubliseer word
Foto van
boompadda deur
Christoph Leeb,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge die bepalinge van
die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere
weergawe wat deur Free Software Foundation gepubliseer word
Hoewel hulle nie pote het nie, is baie slange
eweneens ywerige boombewoners. Party soorte het groot skubbe aan die
buik, wat aan die bas vashaak namate die slang vorentoe beur. Ander klim
weer boom met ’n konsertina-agtige bewegings.
Die slang kan byvoorbeeld
sy stert anker deur dit om ’n tak te draai en dan dele van sy lyf in
stywe horisontale windinge saamtrek. Dan reik hy uit met sy kop en anker
sy nek by ’n stut wat hoër op lê. Die slang
maak hierna sy stert los en trek die res van sy
liggaam op. Die proses word dan herhaal.

BO: Ons bekende
boomslang (Dispholidus typus), van Afrika suid van die
Sahara, is grootliks ’n boombewoner, soos sy naam dan ook
aandui. Boomslange vreet byvoorbeeld verkleurmannetjies en
paddas, by geleentheid selfs klein soogdiertjies en voëls, asook
die eiers in voëlneste. Al die slagoffers word heel ingesluk.
Foto deur
William Warby,
wat dit op
hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web gelisensieer
het en gebruik vergun ingevolge die bepalinge van die
Creative Commons Attribution 2.0-lisensie
Byna al die primate van die dierewêreld woon in
tropiese en subtropiese gebiede, die meeste van
hulle in bome. Party swaai deur die bome, ander
beweeg deur te hardloop en te spring, nog ander loop
op hul agterpote en party reik stadig uit met hul
voorste ledemate en gryp dan takke vas. Soogdiere
soos orangoetangs, sjimpansees, gorillas, bobbejane,
bosape, ens. is almal primate. Ook die spinape en
die gibbons waarvan boontoe reeds vertel is.
Orangoetangs is op hul beurt groot Indonesiese
boorlinge—regte
kluisenaars wat hoog in die bome woon en selde afkom
grond toe.
LINKS:
En hier, dames en here, is my wêreld, die woud! Hier
is ’n portret van ’n
jong orangoetang wat op ’n foto van boomreuse
gesuperponeer is. Dit lyk of die orangoetang
gedoen het wat sy spesie in
die reël selde doen, naamlik om af te klim uit die
bome ten einde op die grond rond te loop.
• Foto van
orangoetang: Toledo-dieretuin via U.S. Library of
Congress • Foto van bome: U.S. National Park Service
Die orangoetangs is goed
toegerus vir hul hoë lewe,
met langs arms wat hulle in staat stel om van boom
tot boom te swaai. Die hande en voete is krom—om
takke goed vas te vat—en die vingers en tone is
teenoorgeleë. Dit beteken dat die duim of groottoon
aan al die ander vingers of tone kan raak, iets wat
die aap baie behendiger maak.
Selfs party soorte miervreters van Suid- en
Sentraal-Amerika klim ook boom. Soos by die spinape
dien hul grypstert eweneens as ’n bykomende ledemaat om
aan boomstamme en takke vas te klou. Miervreters het
boonop sterk, krom kloue—nie net om mierneste mee
oop te breek nie, maar ook om aan takke vas te hou.

BO: Hierdie miervreter (Tamandua mexicana)
van die Nuwe Wêreld is glad nie verwant aan
die miervretende
erdvark van Afrika of aan die
Australiese miervreter, die
ekidna, nie. Die
foto is oorspronklik geneem van die dier
waar hy besig is om met die kop na onder in digte lower teen ’n
dun boomstam te klouter. Om
egter
beter te kan sien hoe die miervreter lyk,
het ons die omringende plantegroei verwyder
en die foto dwars gedraai.
Gewysigde
weergawe van ’n foto deur
Dirk van der Made,
waarvan die oorspronklike op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op
die wêreldwye web verskyn waar kopiëring,
verspreiding en/of wysiging vergun word
ooreenkomstig die bepalinge van die
GNU Free Documentation License,
Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat
deur die Free Software Foundation
gepubliseer word
Van al die boom-soogdiere is
die luidier (ook genoem luiaard) die stadigste. Maar
al is hy ook so ’n trae harmansdrup, het hierdie
Suid-Amerikaanse soogdier darem ’n ystergreep op
die takke waaraan hy hang. Want die hande en voete
van albei soorte luidiere eindig in lang, krom
kloue, wat om takke haak soos klerehangers aan ’n
hangstaaf. Die luidier kom selde af aarde toe, want
dan is hy ’n alte maklike prooi vir roofvyande soos
die jaguar of die oselot (’n soort tierkat).
Klik hier vir
’n foto van ’n luidier in ’n ander artikel op die
Mieliestronk-werf.
Die koala, ook bekend as die Australiese teddiebeer,
bestee al sy tyd hoog in die takke van bloekombome.
Hy klim boom deur die stam met sy sterk voorkloue beet te pak en dan sy agterpote met klein
sprongetjies op te trek. Die eerste twee tone van
die voorste kloue lê teenoor die ander drie, wat ’n
ferm greep moontlik maak.
Klik
hier vir ’n foto van ’n koala in ’n ander
artikel op die Mieliestronk-werf.
Daarmee eindig hierdie besoek aan sekere diere van
die bome. Maar hulle is lank nie die enigste rolspelers in die
“roerende” dramas van die hoogtes nie. Dikwels, versteek vir menslike
oë, is daar ’n hele gedoente in die lower. En as dit nie hande-viervoet
gaan nie, kan dit miskien selfs hande-vyf-voet geskied! As jy nie
kop of stert van ’n sekere beweging kan uitmaak nie, kan ’n grypende
stert mos maklik daarby betrokke wees...
Klik hier
om terug te keer na die inhoudsblad
|