|
||||
| Help, ek word
al jare geboelie! |
||||
’n Kind wat oor
’n lang tyd heimlik deur ’n sterker een afgeknou word, is dikwels so
vasgevang in ’n web van vrees dat hy nie maklik self die grootmense
van die boelie in sy lewe sal vertel nie. Dit is waarom sy maats,
broers of susters (as hulle van die afknouery te hore kom) van hul eie vrese moet
vergeet en die bullebak moet ontmasker... |
||||
|
|
|
|||
IE bullebak, word hy genoem. Of sommer
die boelie, na die Engelse woord “bully”. ’n Ander woord vir
hom is die afknouer—en dit beskryf presies wat hy doen. Moontlik marsjeer hy in die pouses met
bak arms op die skoolterrein rond en knou hy die weerlose kleintjies af
wanneer hy ook al die kans kry. Miskien het hy ook ’n paar jillende
meelopers wat hom op ’n vreemde manier “bewonder” wanneer hy ’n
swakker kind se gesig sadisties in ’n plas modderwater druk of hom
hardhandig stamp sodat hy agteroor op die grond val. Ander bullebakke, weer, is nie naastenby so fisiek nie. Maar hulle skep ’n sieklike behae daarin om sweepslae met hul tonge uit te deel en veral teruggetrokke kinders aanhoudend te verneder wat hulself nie verbaal (met hul monde) kan verdedig nie. In die laasgenoemde geval is die
afknouers en hul slagoffers baiemaal meisies. Trouens, waar ons in hierdie artikel
van “hy” praat, kan in feitlik al die gevalle ook “sy” gelees word.
Foto met jong modelle ter
illustrasie: U.S. Department of Health and Human Services
En miskien is dit juis mense wat
venynig op skool geboelie is, wat as volwassenes—dalk onbewustelik—hul destydse gekrenktheid probeer wreek deur aan ander te
doen
wat aan hulle gedoen is... |
||||
|
Waarom die boelie doen wat hy doen |
||||
AVORSING
toon dat afknouery ’n wêreldwye probleem is. Dit ken geen
internasionale afbakenings, maatskaplike grense of etniese perke nie.
Dit kom vrywel in alle skole voor. Om die waarheid te sê, daar is ’n merkwaardige
ooreenkoms in die voorkoms van hierdie onsmaaklike soort baasspelery van
land tot land en van skool tot skool.
Elke skool moet dus bewus wees van bullebakkery se
omvang en impak—en stappe doen om dit te keer sodra dit kop uitsteek.
Waar die probleem reeds bestaan, maar deur opvoeders geïgnoreer of gering geskat word, sal
die leerders aan teisterings en folteringe blootgestel bly. Maar afknouery in die kindertyd kan mense selfs lewenslange skade berokken. Sowel die bullebakke as dié wat gereeld deur hulle geboelie word, loop gevaar om op die ou end kriminele te word. Die volgende waarskuwing van ’n gerekende opvoedkundige moet dus in ’n baie ernstige lig beskou word: “ ’n Skool wat nalaat om iets omtrent bullebakkery te
doen, kan sy leerders emosioneel en akademies geweldig ontwrig deur toe te laat dat
’n vyandelike omgewing met hul gevoel van veiligheid en hul studies inmeng.” Gelukkig, voeg hy by, “is daar klinkklare
getuienis dat optrede deur skole die voorkoms van afknouery dramaties kan
verminder”. Om
die probleem aan te spreek, sê sosioloë, moet daar waar moontlik altyd
begin word by die bullebakke self en geprobeer word om die rede vir hul wangedrag
vas te stel. Baiemaal loop sulke boelies agter die fassade van
bravade eintlik met ’n groot klomp onhanteerbare seer in hul binneste rond. Hulle is byvoorbeeld dikwels self die slagoffers van
bullebakkery—miskien liefdelose en selfs onmenslik hardvogtige
behandeling deur een ouer of altwee ouers, ’n ouer broer of suster of
ander familielede tuis. Hulle
skreeu dan uit na die wêreld daarbuite om hulself te laat geld—en deur
swakker kinders te boelie, voel hulle beter en meer in
beheer. Tog
kan die jong geweldenaars se eie haglike omstandighede—wat dit ook al
is—hoegenaamd nooit gebruik word om hul tirannieke gedrag te probeer
regverdig nie. En hoe gouer hulle dit aan hulle tuisgebring word, hoe beter sal dit vir
hulself en almal om hulle wees. Die bullebak het, waar dit enigsins
moontlik is, intensiewe sielkundige behandeling nodig. Maar selfs net
’n bietjie liefdevolle belangstelling deur mense wat vir sulke
maatskaplik ontwrigte kinders omgee, kan dalk wondere verrig waar ’n mens dit
nooit sou verwag nie. Omdat
die slagoffers van bullebakke egter ongelukkig dikwels te bang is om
daaroor te praat, word die afknouery in baie gevalle maande of selfs
jare lank in die geheim verduur—tot almal se nadeel. Die hartseer is
dat die probleem met die ingryping van kundiges bes moontlik gou opgelos
kon gewees het. Kinders
moet dus vroeg geleer word dat hulle besliste regte het en dat hulle hul
stemme moet verhef as daardie regte deur wie ook al geskend word.
Niemand het die reg om iemand anders se liggaam te pynig nie. Niemand
moet dink hy het die onbeteuelde vryheid om ’n medemens herhaaldelik in
sy gees kwets nie. Dis
weliswaar makliker gesê as gedaan... om van jong slagoffers te verwag
dat hulle huilend na die grootmense moet hardloop sodra iemand hulle
boelie. Kinders worstel immers met allerhande vrese, soos dat die afknouer
hulle later net baie erger gaan seermaak as hulle hom “verklik”. Ook die persepsie dat bullebakkery
’n deel van
die grootwordproses is, lei daartoe dat slagoffers onwillig is om hul
ouers en opvoeders van die afknouery te vertel.
Foto ter illustrasie:
National Library of Medicine / U.S. National Institutes of Health Om
hierdie redes weet broers, susters en maats van ’n geboeliede kind
dikwels van sy verknorsing lank voordat sy onderwysers en pa of ma
daarvan bewus is. Soms vra die slagoffer hulle om niks te sê nie. Ander
kere bly hulle doodstil omdat hulle bang is dat die boelie ook vir hulle
sal begin treiter as hulle vir die grootmense van sy afknouery vertel. Ongelukkig
beteken só ’n anderpadkykery gewoonlik dat die vergryp voortduur of
dat die bullebak astranter raak en nog slagoffers kies. ’n Deel van
’n afknouer se opwinding kom juis van die reaksie van omstanders. As
die omstanders niks doen nie, kan die boelie dink hulle keur sy optrede
goed. |
||||
|
Hoe ander kinders die afgeknoude kind kan help |
||||
IER is ’n paar dinge wat jy dus wel kan doen as ’n maat of boetie of sussie by jou kom hulp soek as hulle deur iemand geboelie word:
En
hier is twee van die dinge wat jy nie moet doen nie:
|
||||