Skrikbewind van die bullebak in die skool
    
  Help, ek word al jare
geboelie!
     
  Boelie’n Kind wat oor ’n lang tyd heimlik deur ’n sterker een afgeknou word, is dikwels so vasgevang in ’n web van vrees dat hy nie maklik self die grootmense van die boelie in sy lewe sal vertel nie. Dit is waarom sy maats, broers of susters (as hulle van die afknouery te hore kom) van hul eie vrese moet vergeet en die bullebak moet ontmasker...
  
  
 

D

IE bullebak, word hy genoem. Of sommer die boelie, na die Engelse woord  “bully”. ’n Ander woord vir hom is die afknouer—en dit beskryf presies wat hy doen.

Moontlik marsjeer hy in die pouses met bak arms op die skoolterrein rond en knou hy die weerlose kleintjies af wanneer hy ook al die kans kry. Miskien het hy ook ’n paar jillende meelopers wat hom op ’n vreemde manier “bewonder” wanneer hy ’n swakker kind se gesig sadisties in ’n plas modderwater druk of hom hardhandig stamp sodat hy agteroor op die grond val.

Ander bullebakke, weer, is nie naastenby so fisiek nie. Maar hulle skep ’n sieklike behae daarin om sweepslae met hul tonge uit te deel en veral teruggetrokke kinders aanhoudend te verneder wat hulself nie verbaal (met hul monde) kan verdedig nie.

In die laasgenoemde geval is die afknouers en hul slagoffers baiemaal meisies. Trouens, waar ons  in hierdie artikel van “hy” praat, kan in feitlik al die gevalle ook “sy” gelees word.

Die meisie-boelieREGS: Veral by jong vroulike afknouers is die tong soms vernietigend...

Foto met jong modelle ter illustrasie: U.S. Department of Health and Human Services
 


Om sake te vererger, hou bullebakkery nie in die skooljare op nie. Dit word ook in baie werkplekke bedryf deur grootmense wat hul gesagsposisie misbruik deur oormatig geniepsig of selfs wreed teenoor een of meer lede van die junior personeel te wees.

En miskien is dit juis mense wat venynig op skool geboelie is, wat as volwassenes—dalk onbewustelik—hul destydse gekrenktheid probeer wreek deur aan ander te doen wat aan hulle gedoen is...
 

 
  Waarom die boelie doen wat hy doen
  
   

N

AVORSING toon dat afknouery ’n wêreldwye probleem is. Dit ken geen internasionale afbakenings, maatskaplike grense of etniese perke nie. Dit kom vrywel in alle skole voor. Om die waarheid te sê, daar is ’n merkwaardige ooreenkoms in die voorkoms van hierdie onsmaaklike soort baasspelery van land tot land en van skool tot skool.

Elke skool moet dus bewus wees van bullebakkery se omvang en impak—en stappe doen om dit te keer sodra dit kop uitsteek. Waar die probleem reeds bestaan, maar deur opvoeders geïgnoreer of gering geskat word, sal die leerders aan teisterings en folteringe blootgestel bly.

Maar afknouery in die kindertyd kan mense selfs lewenslange skade berokken. Sowel die bullebakke as dié wat gereeld deur hulle geboelie word, loop gevaar om op die ou end kriminele te word.

 Die volgende waarskuwing van ’n gerekende opvoedkundige moet dus in ’n baie ernstige lig beskou word: “ ’n Skool wat nalaat om iets omtrent bullebakkery te doen, kan sy leerders emosioneel en akademies geweldig ontwrig deur toe te laat dat ’n vyandelike omgewing met hul gevoel van veiligheid en hul studies inmeng.” Gelukkig, voeg hy by, “is daar klinkklare getuienis dat optrede deur skole die voorkoms van afknouery dramaties kan verminder”.

Om die probleem aan te spreek, sê sosioloë, moet daar waar moontlik altyd begin word by die bullebakke self en geprobeer word om die rede vir hul wangedrag vas te stel. Baiemaal loop sulke boelies agter die fassade van bravade eintlik met ’n groot klomp onhanteerbare seer in hul binneste rond. Hulle is byvoorbeeld dikwels self die slagoffers van bullebakkery—miskien liefdelose en selfs onmenslik hardvogtige behandeling deur een ouer of altwee ouers, ’n ouer broer of suster of ander familielede tuis.

Hulle skreeu dan uit na die wêreld daarbuite om hulself te laat geld—en deur swakker kinders te boelie, voel hulle beter en meer in beheer.

Tog kan die jong geweldenaars se eie haglike omstandighede—wat dit ook al is—hoegenaamd nooit gebruik word om hul tirannieke gedrag te probeer regverdig nie. En hoe gouer hulle dit aan hulle tuisgebring word, hoe beter sal dit vir hulself en almal om hulle wees. Die bullebak het, waar dit enigsins moontlik is, intensiewe sielkundige behandeling nodig. Maar selfs net ’n bietjie liefdevolle belangstelling deur mense wat vir sulke maatskaplik ontwrigte kinders omgee, kan dalk wondere verrig waar ’n mens dit nooit sou verwag nie.

Omdat die slagoffers van bullebakke egter ongelukkig dikwels te bang is om daaroor te praat, word die afknouery in baie gevalle maande of selfs jare lank in die geheim verduur—tot almal se nadeel. Die hartseer is dat die probleem met die ingryping van kundiges bes moontlik gou opgelos kon gewees het.

Kinders moet dus vroeg geleer word dat hulle besliste regte het en dat hulle hul stemme moet verhef as daardie regte deur wie ook al geskend word. Niemand het die reg om iemand anders se liggaam te pynig nie. Niemand moet dink hy het die onbeteuelde vryheid om ’n medemens herhaaldelik in sy gees kwets nie.

Dis weliswaar makliker gesê as gedaan... om van jong slagoffers te verwag dat hulle huilend na die grootmense moet hardloop sodra iemand hulle boelie. Kinders worstel immers met allerhande vrese, soos dat die afknouer hulle later net baie erger gaan seermaak as hulle hom “verklik”. Ook die persepsie dat bullebakkery ’n deel van die grootwordproses is, lei daartoe dat slagoffers onwillig is om hul ouers en opvoeders van die afknouery te vertel.

BoelieslagofferREGS: ’n Kind wat deur ’n boelie bloedneus geslaan is, wag saam met sy ma in ’n dokter se wagkamer om behandel te word. In hierdie geval was die besering dalk te opvallend om te verswyg, maar dit gebeur baiemaal dat kinders dit vir hul ouers wegsteek wanneer hulle afgeknou word.

Foto ter illustrasie: National Library of Medicine / U.S. National Institutes of Health
 

Om hierdie redes weet broers, susters en maats van ’n geboeliede kind dikwels van sy verknorsing lank voordat sy onderwysers en pa of ma daarvan bewus is. Soms vra die slagoffer hulle om niks te sê nie. Ander kere bly hulle doodstil omdat hulle bang is dat die boelie ook vir hulle sal begin treiter as hulle vir die grootmense van sy afknouery vertel.

Ongelukkig beteken só ’n anderpadkykery gewoonlik dat die vergryp voortduur of dat die bullebak astranter raak en nog slagoffers kies. ’n Deel van ’n afknouer se opwinding kom juis van die reaksie van omstanders. As die omstanders niks doen nie, kan die boelie dink hulle keur sy optrede goed.
  

   
  Hoe ander kinders die afgeknoude kind kan help
 
   

H

IER is ’n paar dinge wat jy dus wel kan doen as ’n maat of boetie of sussie by jou kom hulp soek as hulle deur iemand geboelie word:

  • Probeer die afgeknoude kind oortuig om met ’n grootmens daaroor te praat—dit kan ’n onderwyser of die kind se pa of ma wees.
  • Moedig die kind aan om met jou te praat oor wat die afknouer aan hom doen.
  • Bied aan om namens hom met ’n grootmens daaroor te praat.
  • Stel dit duidelik aan die afknouer dat jy nie so bang vir hom is dat jy niks sal doen nie en dat jy vasbeslote is om ’n einde aan sy skrikbewind te help maak.
  • Betrek soveel mense as moontlik. Probeer veral seker maak dat die onderwysers weet wat aan die gang is—maar, die belangrikste van alles, práát met iemand.

En hier is twee van die dinge wat jy nie moet doen nie:

  • Moenie geweld teen die boelie gebruik nie—jy kan dalk op die ou end daarvan beskuldig word dat jy self ’n boelie is.
  • Moenie aan die slagoffer sê dat jy nie betrokke wil wees nie en dat hy self die probleem moet hanteer nie—as hy kon, sou hy jou nie gevra het om hom te help nie...


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad