Die bobbejaan-storie

Burgers
van die Berge

 
Agtergrondmusiek Bobbejaan klim die berg met vriendelike
vergunning van
Ons Blêrkas

 

 Klein Adoonsie

BO: Klein Adoonsie is nog ’n snuiter wat baie moet leer van bobbe­jaanstreke... Intussen speel hy net soos Kersvader ’n belangrike rol in mensekinders se sprokieswêreld. Hy moet naamlik alewig in sy pas­oppens bly vir vroedvroue wat hom wil vang om sy hare af te skeer sodat hulle hom in ’n menslike baba kan verander! Shame tog...

Foto bo: BabyAnimalz.com,
wat op hul webwerf min of meer te kenne gee dat kopiereg vermoedelik nie ten opsigte van foto’s in hul versameling geld nie, maar tog vra dat enigeen wat moontlike kopieregskending beweer onverwyld met hulle in verbinding sal tree

Animasie van bobbejaan wat heen en weer kykFoto regs: Geanimeerde weergawe van ’n gewysigde foto waarvan die oorspronklike deur D. Gordon E. Robertson op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas is, waar aangedui word dat dit gelisensieer is ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0 -lisensie. Daarkragtens word deling en wysiging op sekere voorwaardes vergun.

 

Bobbejane is koddige, slimmerige diere wat vir mense besonder fassinerend kan wees. Miskien is dit omdat hulle ook sosiale wesens is soos ons en omdat hul manewales baiemaal vir ons so “menslik” lyk.  Maar die adoonsvolk kan ook die grootste vabonde wees wanneer hulle “die boere vererg”, soos die ou tradisionele liedjie lui...

 

Vir nog ’n baie basiese geanimeerde sketsie (van 'n bobbejaan
wat bergklim) klik hier

 

K

EES die mak bobbejaan was vol apestreke. ’n Opperste karnallie wat gedurig met bogterye besig was.

 

Die ou sekelstert het selfs sy mensebaas op jagtogte vergesel, hoewel hy by tye nie meer tred kon hou met die moordende pas van die jaggeselskap nie. Dan het Kees eenvoudig op die rug van een van die jaghonde gespring. En ewe vrypostig ’n lang rygeleentheid gesteel op die weldadige woef wat sy astrantheid maar gedwee aanvaar het.

 

Die bobbejaan genaamd Kees was die troetel-adoons van ’n sekere François le Valliant (1753–1824), ’n Franse natuurkundige wat in die 1780’s in die ongerepte Suid-Afrikaanse binneland rondgereis het. Dit is in Le Valliant se reisbeskrywings dat ons hierdie bobbejaan as sy onnutsige metgesel leer ken. Die aapskeloeder het darem ook sy nut bewys deur ’n uitstekende brandwag te wees.

 

Lank voordat selfs die honde in die ekspedisie van ’n naderende gevaar bewus geword het, sou Kees al alarm gemaak het. Naderhand het einste hierdie honde, wat seker veronderstel was om die wagters te wees, blykbaar na die bobbejaan opgesien om hulle te beskerm. Hulle het eenvoudig sy oë en bewegings dopgehou en gelyk saam eenkanttoe weggespring wanneer hy aangedui het dat gevaar van die ander kant af dreig.

 

Vir hierdie honde sou dit nooit klaar met kees gewees het terwyl Kees in hul midde was nie!

 

François le ValliantLINKS: François le Valliant, die Franse baas van Kees die hondmak bobbejaan.

 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)

 

 

Nog ’n merkwaardige mak bobbejaan in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was een wat—glo dit—vir die spoorweë gewerk het. Sy naam was Jack. Dié se baas was ’n spoorwegwerker wat in die 1890’s in Uitenhage, in die Oos-Kaap, gewoon het. Hy moes sukkelend met twee houtbene loop, nadat hy altwee sy bene in ’n spoorwegongeluk verloor het. Die ongelukkige man is toe aangestel om as wisselwagter op die stasie te werk.

 

’n Wissel is ’n toestel met ’n hefboom wat getrek word om treinspore só te verander dat ’n bewegende trein op ’n ander spoor sal gaan. Vandag geskied ons spoorreëlings veelal elektronies, maar destyds was dit anders.

 

En toe, só word vertel, het Jack se baas hom geleer om nie net elke hefboom van die wissels van Uitenhage se stasie te ken nie, maar ook hoe om die hefbome te hanteer en weer reg te stel nadat ’n trein die stasie verlaat het. Geen geringe prestasie vir ’n nie-menslike primaat soos hierdie bobbejaanskind van ouds nie. Meen te sê, ’n bobbejaan is mos nie veronderstel om so skrander te wees as ’n sirkus-sjimpansee nie!

 

Nog ’n oorgelewerde vertelling oor die sonderlinge vermoëns van ’n getemde bobbejaan grens net so aan die ongelooflike. Die storie is naamlik versprei dat een adoons iewers—was dit in Namibië?—as ’n veewagter uitgeblink het.

 

Soggens sou hierdie oorlamse dier die vee van ’n boer bobbejaansiel-alleen veld toe gevat het en smiddags weer teruggebring het kraal toe, of iets in dier voege. Miskien moet ’n mens dié verhaal egter as niks meer as ’n landelike legende beskou nie... of ten beste as ’n oorlewering wat straks ’n greintjie van die waarheid bevat maar met die verloop van jare erg aangedik is.

 

Wat nietemin uit die vertellings hierbo blyk, is dat bobbejane koddige, slimmerige diere is wat vir mense besonder fassinerend kan wees. Miskien is dit omdat hulle ook sosiale wesens is soos ons en omdat hul manewales baiemaal vir ons so “menslik” lyk.

 

Daarmee wil ons egter nie sê dat bobbejane nie ook die grootste vabonde kan wees nie. Dit sal menige boer kan beaam wie se graanlande of vrugteboorde onbeskryflik in ’n bobbejaanstrooptog verniel is of wie se lammertjies aaklig deur ’n trop plunderende bobbejane verskeur is.

 

Ook party besoekers aan wildtuine het nare herinneringe aan bobbejane. Hulle kan byvoorbeeld vertel hoe hulle uit hul motors moes vlug nadat ’n spul harige struikrowers hulle vanuit die bosse aangeval het. Dié sou die appels, perskes of ander eetgoed binne-in die motors raakgesien het en toe deur oop motorvensters gespring het om dit in die hande te kry. Tot die hewige ontsteltenis van die toeriste.

 

DIE bobbejaan het nogtans so ’n groot indruk gemaak op ons Europese voorsate wat hulle in Suid-Afrika kom vestig het, en hier die eerste keer met hom kennis gemaak het, dat daar maklik ’n dosyn of meer uitdrukkings in Afrikaans is waarin hy figureer. (Voorbeelde: die bobbejaan agter die bult gaan haal, jy lyk ’n mooi bobbejaan. En dink maar aan ’n samegestelde woord soos bobbejaanverdriet. As ons sê dat iemand dit het, bedoel ons dat sy of haar hartseer sommer geveins is.)

 

Selfs die ooievaar wat kamma-kamma in Europa babas bring, is op Afrika-bodem verander in ’n vreeslose vroedvrou van die berge. Of so iemand. Dié sou glo die kranse invaar om ’n bobbejaantjie te gaan vang telkens wanneer ’n menslike egpaar hul gesin wou uitbrei. Dan word die gevange diertjie se hare afgeskeer, straks sommer so in ’n skottel of paraffienblik met water. Die wonderbaarlike resultaat—siedaar— is ’n nuwe mensebaba!

 

Die bobbejaan wat ons hier in Suidelike Afrika so goed ken, is egter nie die enigste soort bobbejaan wat daar is nie. Mense wat dit nie weet nie, kan verras reageer wanneer hulle verneem dat daar eintlik vyf erkende spesies is wat as egte bobbejane gereken word. Boonop is daar nog ’n paar ander wat nie ware adoonse is nie, maar tog op ’n manier tot lede van die hele bôgom-nasie gereken word.

 

Die egte bobbejane is almal Ou Wêreldse ape wat in Afrika of Asië (veral Arabië) voorkom, en hulle behoort tot die genus Papio, ’n deel van die subfamilie Cercopithecinae.

 

Voorheen is die naby verwante gelada (genus Theropithecus) en twee spesies mandril en dril (genus Mandrillus) by dieselfde genus ingedeel. Hierdie bobbejaanagtige diere word steeds dikwels in die gewone spreektaal bobbejane genoem, hoewel geleerdes vandag reken dat hulle tot ander kategorieë in die diereryk behoort.

 

Daar is aansienlike verskille in die groottes van die egte bobbejaanspesies, terwyl die mannetjies ook byna twee keer groter as die wyfies is. Die massa van die mannetjies van die verskillende bobbejaansoorte strek van gemiddeld 15 tot sowat 40 kg en die liggame is van 50 tot omtrent 120 cm lank, uitgesluit die sterte wat van wisselende lengte is.

 

Die vyf egte bobbejaanspesies (waaronder ook sekere subspesies aangetref word) van die genus Papio is:

 

Ø       Suidelike Afrika se chacma-bobbejaan, Papio ursinus (met subspesies soos die Kaapse bobbejaan, Papio ursinus ursinus, die kees van Ruacana, Papio ursinus raucana, en die gryspoot, Papio ursinus griseipes).

Ø       Die olyfbobbejaan, Papio anubis, wat ook die Anubis-bobbejaan genoem word, en nie te kieskeurig oor sy habitat is nie. Trouens, hy is so wyd en syd in Afrika versprei soos geen ander kees nie—in ’n lyn van Mali in die weste tot Ethiopië in die ooste, en van daar af suidwaarts tot by Tanzanië. Die olyfbobbejane gedy inderdaad in meer as twintig lande... op grasvelde, in woude, selfs in sekere bergstreke in die Sahara-woestyn.

Ø       Die geelbobbejaan, Papio cynocephalus, wat in Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Zambië, Kenia, Tanzanië en Somalië voorkom. (Subspesies is Papio cynocephalus cynocephalus en Papio cynocephalus ibeanus. Nog ’n bobbejaan wat tot ’n subspesie van die geelbobbejaan gereken word, is die eweneens geel maar buitengewoon klein Kinda-bobbejaan, Papio cynocephalus kindae, van onder meer die Demokratiese Republiek van die Kongo en Zambië. Daar is egter ook ’n gevoel dat die Kinda-bobbejaan eintlik genoeg van die geelbobbejaan verskil sodat hy as ’n afsonderlike spesie aangedui behoort te word.)

Ø       Die Westerse of Guinee-bobbejaan, Papio papio, wat Guinee, Gambië en Senegal as sy hougebied het.

Ø       Die mantelbobbejaan, Papio hamadryas, wat in Somalië, Ethiopië, Eritrea, die Rooi Seegebied van Egipte, Saoedi-Arabië, Jemen en selfs in Indië aangetref word.

 

Kaapse bobbejaan

Foto bo: Martin_Heigan, wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Non-Commercial-No Derivative Works 2.0-lisensie, waarkragtens deling op sekere voorwaardes vergun word

Olyfbobbejaan

 Foto bo: U.S. Fish and Wildlife Service

Geelbobbejaan

 

Foto bo: Alexander Landfair, wat dit tot openbare besit verklaar het (“ realsed to the public domain”)

Mantelbobbejaan

Foto bo: “Dickbauch”,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)

 

Guinee-bobbejaanFoto regs: Jakub Friedl van Praag, Tsjeggië, wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0 -lisensie, waarkragtens deling en afgeleide werke op sekere voorwaardes vergun word

 

 

 

BOBBEJANE is in die reël diere wat letterlik plat op die aarde lewe, maar hulle sal wel in bome klim om byvoorbeeld te slaap of die wêreld om hulle te bespied.

 

Om dieselfde veiligheidsredes soek hulle ook kranse op. Dit is hierdie hebbelikheid wat dekades gelede die ou Afrikaanse digter en natuurkundige Eugène Marais (1871–1936) beweeg het om hulle “burgers van die berge” te noem.

 

Hulle vreet dikwels enige plantaardigheid wat te vrete is—vrugte, sade, plantwortels, uintjies, grasse, die gom van doringbome en boombas—maar hulle sal ook insekte soos sprinkane as versnaperings waardeer. Tot skerpioene word verorber nadat die giftige angels rats afgepluk is. Af en toe vreet hulle boonop diertjies soos voëls, knaagdiere, hase en selfs die kleintjies van groter soogdiere soos wildsbokke, asook skaaplammers. Hulle is veral geneig om die jong lammertjies oop te skeur ter wille van die melk in die melkpensie.

 

Bobbejane hou meestal in troppe van gewoonlik sowat vyftig, maar dit kan ook heelwat minder of heelwat meer wees. In so ’n trop van 'n halwe honderd enkelinge kan daar sewe of agt mannetjies wees, met nagenoeg dubbel soveel wyfies plus hul kleintjies.

 

In hierdie geslote gemeenskappe geld ’n ingewikkelde rangorde, en die tropgenote kan uit ’n doodgewone “gesprek” tussen twee enkelinge aflei wie baas en wie Klaas in die bepaalde verhouding is. Sodra ’n adoons van ’n lae klas ’n eerbiedwaardige kees uitdaag, toon die trop ’n buitengewone belangstelling in die onderonsie. As dit tot ’n geveg lei, kan ’n uitslag in die guns van verdrukte immers die rangorde ingrypend beïnvloed.

 

Vir die paringsdaad op die grasvlaktes van Afrika is meneer Bôgom se sosiale posisie ook van belang. Die mannetjies is veelwywers wat met enige gewillige wyfie sal kafoefel, maar ook hier hang dit in ’n sekere mate van die gretige ta se maatskaplike stand af watter plek hy in die ry van die vryers kan inneem. Dit is nie ongewoon dat die mannetjies onder mekaar baklei dat die hare waai nie.

Die wyfie kry in die reël een kleintjie per jaar. Sy is ses maande lank dragtig, waarna sy ’n enkele kleintjie van sowat ’n kilogram in die lewe bring—’n verskrompelde swart bondeltjie lelikheid, wat net ’n aap-ma kan liefhê. (Die kleintjies van die klein Kinda-bobbejane kom egter met wit pleks van swart hare in die wêreld.)

In die eerste maand ná sy geboorte is ’n kleintjie nog so hulpeloos dat hy baie naby aan sy ma moet bly, wat hom met haar een hand teen haar pens hou wanneer sy loop. Wanneer die apie vyf tot ses weke oud is, kan hy egter al op haar rug ry terwyl hy met altwee handjies en albei voetjies aan haar vasklou. Algaande win hy aan selfvertroue en verbeter sy postuur totdat hy binne enkele maande kordaat regop op ma se rug sit soos ’n wafferse cowboy op ’n perd.

As hy tussen vier en ses maande oud is, bring die kleintjie reeds die meeste van sy tyd in die geselskap van ander kleintjies deur. In sy trop leer hy van oorlewing in die natuur, van gesag en interaksie en van medebobbejaanlikheid. Ná vyf tot agt jaar sal die bobbejaan oud genoeg wees om self ’n nageslag te genereer.

Jong mannetjies wat volwasse raak, bly nie in die trop waarin hulle gebore is nie, maar vat koers die wye wêreld in. Hulle voeg hulle by ’n ander trop, net om weer daar pad te gee om by ’n derde trop vir die wyfies te gaan ogies maak. En so gaan dit voort.

Baiemaal is daar natuurlik hewige bakleierye, want die losloper-mannetjies word maar stadig in nuwe troppe aanvaar.  Aanvaarding  geskied meestal wanneer hulle “vriendskappe” met verskillende wyfies aan die buiterand van ’n trop aanknoop. Hulle help dikwels om ’n wyfie en haar kleintjies teen gevaar te verdedig.

Hoe lank bobbejane kan verwag om te lewe? In gevangenskap is die rype ouderdom van 45 jaar al behaal, maar hul lewensverwagting in die natuur is sowat 30 jaar.

 

Ten slotte is die volgende aanhaling uit Kennis-ensiklopedie insiggewend:

 

“Die gesinslewe van ape is baie meer ‘menslik’ as dié van enige ander diere. Dit blyk veral uit die manier waarop hulle hul kleintjies grootmaak. Die kleintjies bly baie lank in die sorg van die ma, wat hulle leer watter kos hulle kan eet, hoe om dit in die hande te kry, watter diere hul vyande is, hoe om hul pad te vind, ens.

 

“ ’n Jong bobbejaantjie wat deur mense grootgemaak word, is heeltemal hulpeloos as hy weer in die veld of oerwoud losgelaat word. Dit toon dat ape, net soos die mens, in die eerste plek staatmaak op wat hulle leer—en nie op instink, soos die meeste ander diere nie.”

 

Hopelik was baie van die inligting hierbo vir jou nuut en nuttig. Indien nie, moet net nie daarop reageer deur te sê dat enige bobbejaan mos darem al hierdie dinge sal weet nie!

 

Stuitige stertjie
 

Soos ’n uil op ’n kluit sit nig Hybie,

     die versukkelde ma-bobbejaan.

Sy verwens net die pa van haar bybie

     in die sombere gloed van die maan...

   

Bobbejaan-ma en kleintjie onder die maan

Grootliks gewysige foto van ’n oorspronklike deur Ian Restall, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad