Biome van die aarde — 1-en-2 (a):
  Toendra en poolstreke

Toendra
— die ruwe, brose land

Toendra

Met ’n sneeukol wat hier en daar die eentonigheid kan verbreek, strek die leë landskap van die toendra van horison tot horison. Dis ’n harde aarde, bitter koud en ongenaakbaar. In hierdie boomlose węreld, met sy permanent bevrore ondergrond, loei die winde troosteloos onder ’n gedempte son. En tog het die toendra ook sy plante—min daarvan, maar hulle is ware meesters van oorlewing...

Foto: Earthobservatory / NASA

Poolwęrelde
— die yswit ongenaakbaarheid

’n Seilboot in die ysige waters by Antarktika

Aanliggend aan die toendra is die Noordelike Yssee in die verre noorde.  In hierdie poolstreek—asook Antarktika rondom die Suidpool—kry ons die mees ongenaakbare bioom op ons planeet.  Dis diep bevrore węrelde van sneeu en ys, waar geen plantegroei kan bestaan nie en net die mees geharde diere kan oorleef,  Yswinde huil hier oor troostelose landskappe en ysberge brokkel gereeld weg van ’n bevrore see. Ook in ander artikels op ons webwerf is baie leesstof oor die poolstreke van die aarde…

Foto: PD-FOTO BACKGROUNDS ARCHIVE
   


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld
Nuwe foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

D

IE bevrore grond van die myn het ’n verstommende vonds opgelewer: ’n reeks oeroue woonplekke van lemmings, die besondere knaagdiere van die noorderland. Daar was geraamtetjies en saad, en dit was duidelik dat die een of ander ramp, dalk ’n grondstorting, in die verre verlede hierdie knabbelaars en hul spens ingekerker het.

Een van die mynwerkers, in ’n deel van Kanada se Yukon-gebied, het ’n skedeltjie en ’n klompie saad as aandenkings huis toe geneem. Sowat twaalf jaar later het die Nasionale Museum van Kanada gevra of hulle die saad kon ondersoek. Dit was saad van Arktiese lupien, ’n meerjarige kruid met helderblou blomme.

Wat dit so interessant gemaak het, was dat dit minstens 10 000 jaar oud was.

Die wetenskaplikes, wat verstom was oor die varsheid van die saad, het dit in die laboratorium op nat filtreerpapier neergesit. Twee dae later het ses sade ontkiem. Toegerus om in ’n vyandige omgewing te oorleef, het die sade getoon hoe ongelooflik gehard die plante van die toendra is.

Arktiese toendraREGS: ’n Nabyfoto van Arktiese toendra.

Foto: NASA (detail)

Die Arktiese en Antarktiese streke verskil aanmerklik van mekaar. Antarktika is ’n vasteland omring deur water. Dis weinig meer as ’n yswoestyn, ewig in bevrore wit, met die węreld se laagste temperature en sterkste winde.

Feitlik geen toendra bestaan hier nie en waar dit wel voorkom, is dit naakte rots of primitiewe korsmos of mosse.

Arktika, daarteenoor, is ’n see omring deur land. Die Noordelike Yssee vorm ook op sy hoogste breedtegrade ’n yswoestyn, maar suid van die poolys-kap ondersteun dit ’n toendra-sone waar plante, diere en mense lewe.

Die plat toendra-vlaktes bedek minder as 10 persent van die aarde se oppervlakte in ’n strook tussen die Noordelike Yssee en die noordelike woude.

Waar die boomlose haaivlakte deur Alaska, Kanada, Groenland, Skandinawië en tot in die Siberiese Rusland sny, maak dit geleidelik plek vir moerasse en dan vir boslande van dwergbome met korsmos, om uiteindelik met die keëldraende woude saam te smelt.

DIE woord toendra is Fins en beteken "vyandelike landskap". En ’n ruwe woesteny is dit beslis. Elkeen wat al ooit dié wildernis in die somer probeer oorsteek het, sal kan getuig van die ysmodder en die menigte mere en poele oor die hele gebied.

Vreemd genoeg val minder reën oor die toendra as oor baie woestyne, en tog is dit verbasend nat. Die rede is dat boonste lae grond en ys op ’n strook permanent bevrore grond—ysgrond—Ię, wat beteken dat daar min waterverlies weens afwaartse dreinering is. Dis ook so koud dat daar omtrent geen verdamping is nie.

Toendra-winters duur nege maande. Slegs tussen Mei en Julie, wanneer dit heeltyd dag is, begin dié yswildernis lewe. Die oppervlak ontvries dan en Arktiese plante kom op. Die onherbergsame landskap word skielik groen en brose blomme maak oral hul verskyning.

Die groeisiklus is kort en moet in ’n paar weke pleks van ’n jaar ingepas word. Toendra-plante bestaan meestal uit grasse, waterbiesies, heide, mosse, korsmos en bessiedraende struike. Dwergbome soos wilgers en berkebome groei in die suide.

Toendra-plante het ’n hele paar eienskappe om die koue en wind te trotseer. Meerjariges vergoed vir die kort somer deur die meeste van hul weefsel veilig ondergronds te hou in die vorm van wortels, risome en bolle. Wanneer die lente kom, gebruik hulle hul gebergde reserwes vinnig om blomme te maak.

Baie spesies se vermoë om sowel geslagtelik as nie-geslagtelik voort te plant, vergroot hul kans op oorlewing. Wanneer toestande te straf raak vir die een, sal die ander gewoonlik voortplanting verseker.

’n Aantal plante se blare is só gerangskik dat hulle die skuins sonstrale maksimaal kan vang. Ander blare is besonder groot om soveel van die yl sonlig as moontlik te benut. 

Uitdroging deur wind word by sommige plante gekeer deur ’n wasagtige of leeragtige oppervlak. Ander kan smeltwater deur hul blare opsuig. Wanneer die dooie dele van plante afval, versamel hulle rondom die plant om ’n skans teen die wind te vorm.

Een van die merkwaardigste eienskappe van toendra-plante is hul vermoë om hul eie mikroklimaat te skep. Sommige spesies vorm dik polle wat die grond daaronder isoleer en keer dat dit vries. Ander het weer ’n pelsagtige bedekking of groei saam om ’n lae gewelf te vorm. Só word lug vasgevang en isolering vir die plant verskaf.

Party spesies het hol stingels wat soos ’n kweekhuis werk—die lug binne-in die plant is warmer as dié daarbuite.

Selfs ’n plant se kleur kan sy temperatuur verhoog. Hoe donkerder die blare, hoe meer sonstrale kan hulle opneem. Verskeie spesies vervaardig ’n rooi pigment wat amper swart vertoon wanneer dit met hul chlorofiel kombineer.

In sommige dele van die węreld, ver van Arktika, word dieselfde soort terrein bo die boomgrens van hoë berge gevind, waar dit Alpynse toendra genoem word. Hier is die toendra die gevolg van hoogte bo die seespieël eerder as van die breedtegraad.

DIE ewige kringloop van die vriesing en ontvriesing van die terrein met die afwisseling van winter en somer veroorsaak ’n aantal interessante toendra-verskynsels.

Die uitsetting en inkrimping van rotsagtige grond dwing die rotse na die oppervlak waar hulle, om redes wat nog nie heeltemal begryp word nie, in groter en kleiner stukkies skei.

In hierdie proses word die groter stukke buitentoe gestoot en die kleineres kom in die middel tot rus. Die gevolg is die vorming van ’n mosaďek van sirkels, ook bekend as klipringe, wat oor etlike kilometers kan strek.

Hulle is dikwels so netjies gevorm dat hulle mensgemaak lyk. Op skuins oppervlakke veroorsaak swaartekrag dat die rotse in ewewydige rye skei.

Nog ’n interessantheid van die toendra is sy onegaligheid. Wanneer water binne-in of bokant ysgrond vasgevang word, en later vries, veroorsaak die daaropvolgende uitsetting dat ’n druk opbou wat die ys na die oppervlak dwing.

Namate dit opstyg, lig dit ’n laag plante saam op en dit vorm ’n bultjie wat ’n pingo genoem word. Die grond en plantebedekking bars uiteindelik soos ’n waterblaas oop en die ysige kern kan begin smelt. Mettertyd sak die pingo inmekaar.

Ook tipies van die toendra-landskap is die uitgestrekte veelhoekige patrone op die grond—groot barste in die grondoppervlak, wat veroorsaak word wanneer die grond tot baie lae temperature afkoel en ineenkrimp.

Dis verkeerd om te aanvaar dat toendra altyd beperk was tot die nou strook onder die noordelike poolys-kap. Baie klipsirkels en ewewydige rye is al in lande soos Engeland gevind, en herinner ons daaraan dat baie plekke wat tans in gematigde streke Ię, toeka in die Ystye deel was van die sogenaamde "vyandelike land".

Inhoud: Biome van die aarde
Klik hieronder om te beweeg na die afdeling van jou keuse:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad