|
Die Berlynse Muur het nie net ’n staatkundige wig tussen Oos- en
Wes-Duitsers ingedryf nie. Dit het ook dekades lank mense van hul vriende, selfs familielede en geliefdes afgesny.
Baie wat oor die Muur na vryheid probeer klouter het, is
summier deur die Kommunistiese grenswagte doodgeskiet. Maar die meeste
Duitsers het ook nooit ophou hoop
op die val van die Muur en die hereniging van hul volk nie. En
uiteindelik |
||
|
Skandmuur!
|
||
DIE seun se hulpkrete is verskriklik. Langer as ’n uur vul dit die lug langs die grou Muur van Skande. Maar die grenswagte wat hom geskiet het toe hy probeer het om oor die Muur te vlug waar die vryheid vir hom gewink het, verroer geen vinger om hom te help terwyl die lewe uit hom bloei nie. Ook in Vryheidsland aan die ander kant is die geskokte polisie magteloos om in te gryp. Hulle het geen mag of jurisdiksie oor wat in onvrye deel van die Verdeelde Stad gebeur nie. Die agttienjarige Peter Fechter se ontsettende dood op 17 Augustus 1962 was die berugste mislukte vlugpoging in die na-oorlogse Berlyn in Duitsland. Maar daar was nog baie ander. Dit was toe die Russiese Sowjet-unie met sy Oos-Duitse lakeie die oostelike deel van die stad beset het—en mettertyd ’n hoë betonmuur om die vrye Amerikaanse, Britse en Franse sektore van Wes-Berlyn opgerig het om te keer dat Oos-Duitsers soontoe padgee. Die Berlynse Muur word dan vandag ook deur humanitêre tot een van die heel grootste skandes van die laaste helfte van die twintigste eeu gereken. Dit staan eweneens bekend as die Skandmuur. Maar hoe het hierdie Muur dan ontstaan? Agtergrond DIE Tweede Wêreldoorlog
(1939-1945) sou sy skadu oor Europa bly gooi lange dekades nadat die oorlog verby was.
Die gevolg was dat Duitsland effektief in twee gekloof was—in ’n vrye Wes-Duitsland en ’n Kommunistiese Oos-Duitsland. Dieselfde lot het Berlyn getref, maar wat sake neteliger gemaak het, was dat Berlyn reg binne-in die Kommunistiese Oos-Duitsland geleë was. En soveel Duitsers het juis in Berlyn van die ooskant na die westekant oorgeloop, dat die Kommuniste ’n reuse-muur reg rondom Wes-Berlyn gebou het om dit te verhinder. Dit was die jare van die sogenaamde Koue Oorlog tussen die Weste en die Sowjet-unie en dié se Kommunistiese meelopers in Oos-Europa. Die taktiek van Amerika en sy bondgenote was om kernwapens as ’n afskrikmiddel te gebruik ten einde te verhinder dat die Sowjet-unie Wes-Europa binneval en om tyd te koop en te hoop op die Sowjet-unie en sy satellietstate se interne hervorming en selfs die ineenstorting van die Kommunisme. Dit het uiteindelik gebeur. Ná vier dekades van ’n geweldige duur wapenwedloop, het die Sowjet-ekonomie in die 1980’s in duie gestort. Sodra dit duidelik geword het dat nie Sowjet-unie nie langer militêr sou ingryp nie, het die volkere van Oos-Europa die Kommunisme oorweldigend verwerp in ’n golf van meestal vreedsame revolusies regdeur 1989 en 1990. Ook Oos-Duitsland het sy Kommunistiese juk met minagting afgewerp en hy en Wes-Duitsland is weer in een land verenig. Die verheugde Duitsers het die Muur van Skande rondom Wes-Berlyn afgebreek. ’n Nuwe era het begin. Maar kom ons bekyk die genoemde Berlynse Skandmuur van naderby en die presiese rede waarom dit opgerig is. Die geweldige uittog DIE Berlynse Muur (of “Berliner Mauer” soos die Duitsers dit noem) was ’n betonkonstruksie wat reg rondom Wes-Berlyn gespan het in die tyd toe Duitsland, soos ons gesê het, nog ’n verdeelde land was. Die muur het van 1961 tot 1989 bestaan, waarna dit afgebreek is toe die toestande wat tot die oprigting daarvan gelei het, radikaal verander het. Die stad Berlyn in Noordoos-Duitsland—wat van 1871 tot 1945 die hoofstad van ’n verenigde Duitsland was en dit weer sedert 1990 is—was self in die tyd van die sogenaamde Koue Oorlog ’n verdeelde stad. Net soos Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog opgekerf was in ’n vrye Weste en ’n Kommunistiese Ooste, só was Berlyn ook letterlik in twee gesny met ’n woelige kapitalistiese westelike sektor aan die een kant en ’n stug en bekrompe Kommunistiese Oos-Berlyn aan die ander. Wat die verdeling egter geweldig gekompliseer het, was dat die hele stad, soos ook reeds genoem, soos ’n eilandjie reg binne-in die Kommunistiese Oos-Duitsland gelê het. Berlyn het in der waarheid ’n brandpunt geword van die geweldige spanning wat in die Koue Oorlog geheers tussen die magtige Sowjet-unie en al die Kommunistiese state wat destyds deur hom oorheers is (natuurlik ook Oos-Duitsland) en die groep Westerse lande wat deur die Verenigde State van Amerika gelei is. Baie Duitsers in Oos-Duitsland was hoegenaamd nie daarvoor te vinde om onder ’n Kommunistiese bewind te lewe nie. Wat meer sê, van die totstandkoming van die Oos-Duitse staat in 1949 tot die middel van 1961 het ’n enorme stroom van minstens 2,7 miljoen mense na Wes-Duitsland uitgewyk. Die meeste het dit gedoen deur Wes-Berlyn binne te gaan, wat deur Amerikaanse, Britse en Franse magte beset was. Van daar af kon hulle betreklik maklik na Wes-Duitsland beweeg, al sou dit ook per vliegtuig beteken. Die Sowjet-unie en sy Oos-Duitse pop-regering het hulle verplig gevoel om wal te gooi om te keer dat nog van die Oos-Duitsers padgee—en watter letterlike wal was dit nie. Grou versperring van beton... IN die nag van 13 Augustus 1961 het Oos-Duitse soldate en gevegsgroepe tydelike versperrings opgerig, wat spoedig deur ’n vier meter hoë en 47 kilometer lange betonmuur vervang is. Die
Muur is wel op ’n aantal plekke onderbreek deur geboue wat met stene toegemessel is. Daar was slegs twee deurgangspoorte, wat streng bewaak is.
Foto: U.S. National Archives / PD Die Sowjet-besettingsmag in Oos-Berlyn en sy Oos-Duitse jabroers was ongenadig streng teenoor mense wat die grens “onwettig” probeer oorsteek het. Daar word geskat dat minstens 70 mense tussen 1961 en 1989 hier gedood is, hoewel ander verslae die getal op meer as 190 en selfs op byna 240 stel. Van die vlugtelinge sou oor
die Muur
wou klouter net om ’n hanetreetjie van vryheid af koelbloedig deur
grenswagte teen die Muur doodgeskiet te word. Desondanks was daar na bewering nagenoeg 5000 geslaagde ontsnappings na Wes-Berlyn. Ander het eenvoudig hul kans afgewag en maar net gehoop dat die wagte hulle nie sou raaksien wanneer hulle oor die kaal strook land sou hardloop wat algaande langs die Oos-Duitse en Oos-Berlynse deel van die Muur aangebring is nie. Vir die jong Peter Fechter, van wie in die begin vertel is, en andere was dit ’n smartlike en dodelike oefening. Maar die Muur was bestem te val...
Die Skandmuur word afgebreek DIT was natuurlik ’n vreugdedag vir miljoene Duitsers aan weerskante van die grense toe die Kommunistiese regering in 1989 in duie stort. Nou was die pad oop vir Duitse hereniging ná die dekades van skeiding—en die gewraakte Muur was natuurlik een van die eerste dinge wat moes waai. Begeesterde gewone Duitsers het amptenare gehelp om dit op 9 November van daardie jaar te begin afbreek. Al wat vandag van die Muur oorbly, is enkele dele wat die Duitse volk strak en grimmig aan ’n bitter swart tyd in hul geskiedenis herinner. En by die bekende Brandenberg-hek, ’n landmerk in Berlyn wat gesluit was ten tyde van die bestaan van die Muur, word brokstukkies van die Muur as aandenkings aan toeriste verkwansel.
Foto: U.S. National Archives and Records Administration Die Muur, wat by sy totstandkoming vir sommige verpletterde mense gelyk het asof dit duisend jaar kon staan, het gefaal in sy doel om mense af te kamp en hul vrye beweging te verhinder. Die gees van vryheid het uiteindelik regdeur Berlyn en Duitsland geseëvier. En die verenigde Duitsers kan weer sing: “Deutschland, Deutschland über alles.” Verreweg die meeste van hulle sou dit immers nooit anders wou gehad het nie. |
||