|
Kaapse bergsebra
|
|
EIENAARS
van private natuurreservate, wat hul verskeidenheid dierelewe uitbrei
deur die aankoop van bedreigde spesies soos die Kaapse bergsebra, kan
leer uit die suksesse en foute van Suid-Afrikaanse bewaringsorganisasies
wat meer as 50 jaar gemoeid is met die bewaring van hierdie
sebra-subspesie. Twee
sebraspesies kom in Suid-Afrika voor – die meer algemene vlaktesebras,
waarvan verskeie subspesies erken word, en bergsebras, waarvan twee
subspesies voorkom. Hartmannse bergsebras is meer volop, veral in die
Noord-Kaap, Namibië en Angola. Kaapse bergsebras was eens suidwaarts
verspreid oor die berggebiede van die Roggeveldberge, Cederberge tot die
Amatolas, maar het byna uitgesterf weens jag en kompetisie vir weivelde
met boere. Kaapse
bergsebras lyk meer gestreep as vlaktesebras omdat Teen
1950 was minder as 100 van dié pajamaperde oor, maar danksy gefokusde
bewaringsinisiatiewe het die getal in 2000 digby 1200 gestaan. Oorspronklike
natuurlike populasies kom nog net voor in die Bergsebra Nasionale Park
(BSNP) buite Cradock, asook die natuurreservate Kammanassie (Uniondale)
en Gamkaberg (Oudtshoorn). Die meeste bergsebras wat hervestig is op
ander private en provinsiale natuurreservate kom van die grootste
populasie by BSNP. Die
drie populasies verskil geneties effens van mekaar, het ’n doktorale
student aan die Universiteit van Kaapstad, Yoshan Moodley, onlangs
bepaal. Hierdie verskille is gelukkig behou deur ’n jarelange beleid
tussen Suid-Afrikaanse Nasionale Parke en Kaapse Natuurbewaring om nie
die populasies te vermeng nie. Só
het die algehele populasie Kaapse bergsebras ’n groter genetiese
verskeidenheid behou as wat die geval sou wees indien net een populasie
oorleef het, of as hulle voorheen reeds vermeng sou raak. Volgens
Moodley is dit dringend nodig om van hierdie “suiwer” individue in
nuwe satellietbevolkings te vermeng wat ’n groter genetiese
verskeidenheid as enige van die oorspronklike natuurlike groepe sal
toon. Diere van verskillende bevolkings moet in min of meer gelyke
verhoudings gemeng word om te keer dat enigeen oorheers. Dit
is die geval met die bergsebras wat by De Hoop Natuurreservaat naby
Bredasdorp hervestig is, en wat afkomstig is van die populasies by
Cradock en Kammanasie. Genetiese
verskeidenheid by klein bevolkingsgetalle kan verlore gaan weens
genetiese verskuiwing en deur inteling moontlik lei tot onvrugbaarheid
en ’n beperkte bevolkingsgroei. ’n Sarkoïde virus, wat perde aantas
maar oorspronklik in beeste voorkom, is reeds opgemerk by die Vrystaatse
bevolking, afkomstig van Cradock, wat buite hul historiese
verspreidingsgebied hervestig is. Die
populasies kan egter nie net een-twee-drie uit oortollige diere vermeng
word nie. Op Kammanassie en Gamkaberg is onderskeidelik maar 40 en 30
diere, en daarom moet versigtig besluit word oor hul verskuiwing en
vermenging. Bewaringslui
hoop om ’n gesonde populasie van minstens 2500 te verseker binne die
afsienbare toekoms. Dit,
sê Peter Lloyd van Kaapse Natuurbewaring, is net haalbaar indien
eienaars van private natuurreservate en natuurbewaringsorganisasies
saamwerk. Dis immers danksy ’n Cradockse boer wat as stokperdjie ’n groepie bergsebras aangehou het, waarmee BSNP se populasie aangevul is
nadat die oorspronklike trop in 1950 uitgesterf het. Jaarliks
word talle bergsebras veral uit Cradock opgeraap by wildveilings. Een
sebra kan tot R26 000 haal. Volgens
nasionale en internasionale bepalings mag hierdie diere net hervestig
word in hul historiese weivelde. Dit
is sowel SanParke as KNB se beleid dat daar ten minste ’n hervestigde
trop van 14 diere vrygelaat word op habitat met ’n drakrag vir
minstens 100 diere. Hervestiging het ook meer sukses as familiegroepe
nie opgebreek word nie. “Navorsing
het gewys dat populasies van minder as tien lede so te sê gedoem is om
uit te sterf,” sê Lloyd. “Indien klein getalle reeds hervestig is,
kan hul oorlewing net verseker word deur so gou moontlik nog diere te
bekom om die minimum beginnersgetal tot meer as 10 diere te versterk.” Weens
die gevare van hibridisering met sy bergsebra-neef, word die verwydering
van troppe Hartmanns uit die Kaapse bergsebra se natuurlike
verspreidingsgebied, waar hy uitheems is, aktief ondersteun.
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |