Bekende manne
• ALI, Muhammad, legendariese
Amerikaanse bokser
Hy het homself
nie net “the Greatest” genoem nie, maar dit ook bewys deur
tussen die jare 1964 en 1979 die swaargewig-toneel van die
wêreld te oorheers.
Ali (1942- ) is as Cassius Clay
gebore, maar het sy naam verander toe hy hom by die sogenaamde
“Black Muslims” aangesluit het. Hy was ’n uitgesproke vegter wat
gespog het dat hy kon “float like a butterfly and sting like a
bee”. Ali het in 1981 uitgetree, waarna dit bekend geword het
dat hy aan Parkinson se siekte ly.
Groot foto van
Muhammad Ali: U.S. Libary of Congress / PD
• ARAFAT, Jasser, Palestynse leier
As voorsitter
van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) van 1969
af, het Arafat (1929-2004)
’n vername rol in die Arabies-Israeliese stryd gespeel. Hy het
in die jare sestig en sewentig ’n guerrilla-oorlog gevoer om
Israel te probeer vernietig, maar later Israel se reg erken om
saam met ’n onafhanklike Palestynse staat te bestaan. Hy het
ongewild geraak by jonger, militanter leiers van die PBO. Arafat
is in November 2004 in dramatiese omstandighede in Frankryk
oorlede en die presiese oorsaak van sy dood is steeds onbekend.
Groot foto van Jasser
Arafat: Foto van die Franse departement van buitelandse sake
waarop daar buite Frankryk geen kopiereg is nie, maar die
volgende krediet is nietemin verpligtend: French Ministry of
Foreign Affairs—Photographic Service
• ARMSTRONG, Neil, Amerikaanse
ruimteman en eerste maanwandelaar
Armstrong
(1930- ) was die eerste mens wat op die maan geloop
het (op 21 Julie 1969). Hy was bevelvoerder van die Apollo
11-ruimtesending. Sy eerste woorde toe hy op die maan uitstap
was: “That's one small step for (a) man, one giant leap for
mankind.” Edwin (”Buzz”) Aldrin, wat Armstrong op die sending
vergesel het, het die tweede maanloper geword. Michael Collins,
die derde lid van die bemanning, het in die moederskip gebly wat
om die maan bly wentel het. Nog vyf geslaagde Amerikaanse
maanlandings het gevolg.
Groot foto van Neil
Armstrong: NASA
• BARNARD, Christiaan [Chris]
Neethling, baanbreker-hartchirurg van Suid-Afrika
Hierdie
Suid-Afrikaanse hoogleraar en hartchirurg (1922-2001), het op 3
Desember 1967 die wêreld se eerste hartoorplanting gedoen. Dit
was in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad en die ontvanger
was Louis Washkansky, ’n 55-jarige kruidenier. Die pasiënt is
agttien dae later aan longontsteking oorlede, maar hierna is
talle hartoorplantings wêreldwyd gedoen, mettertyd met groot
sukses, veral ná die ontwikkeling van doeltreffender middels
teen verwerping. Prof. Barnard is op 2 September 2001 aan ’n
hewige asma-aanval oorlede in sy hotelkamer op die kusdorp
Phapos, Ciprus, waar hy met vakansie was.
Groot foto van Chris
Barnard: Algemeen gesirkuleerde foto, presiese bron onseker,
maar RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”)
• BEATLES, musikale fenomene
Paul McCartney,
John Lennon, George Harrison en Ringo Starr was die lede van die
Britse pop-groep die Beatles, wat gegroei het uit ’n groep wat
in 1956 deur Lennon gestig is. McCartney en Harrison sluit hulle
in 1957 aan en Starr in 1962. Lennon (1940-1980) en McCartney
(1942- ) bewys hulle as van die mees geslaagde span
liedjieskrywers in die geskiedenis. Die Beatles ontbind in 1970
en bewonderaars hoop tevergeefs op ’n hereniging totdat Lennon
in Desember 1980 voor sy woonstel in New York deur ’n
geestesversteurde doodgeskiet word.
Groot foto van al vier
die Beatles: United Press International 1964, U.S. Library
of Congress (no copyright found); this is a retouched version
from Wikipedia Free Encyclopedia
• BEN-GURION, David, Isrealiese
staatsman
Ben-Gurion
(1886-1973) was die “vader” van die staat Israel. Hy was die
dryfkrag agter die veldtog vir ’n onafhanklike Joodse staat wat
op 14 Mei 1948 as die staat Israel tot stand gekom het.
Ben-Gurion word die eerste Israeliese premier.
Groot foto van
Ben-Gurion: Word tot openbare besit (“in the public domain”)
gereken in Israel
• CASTRO, Fidel, Kubaanse leier
Castro
(1927- ) was die premier van Kuba sedert 1959 en is die
president sedert 1976. Hy het in sy land aan die bewind gekom
toe hy diktatuur van Fulgencio Batista omvergewerp het. Hy maak
sy land ’n kommunistiese staat, tot groot onsteltenis van
Amerika, maar word geïsoleer ná die ineenstorting van die
kommunisme in die Sowjet-Unie en Oos-Europa. Castro het
Afrika-bevrydingsbewegings, veral in Angola, ondersteun en
Kubane in regstreekse konfrontasie met Suid-Afrikaanse troepe
gebring.
Groot foto van
Fidel Castro: Foto deur
Ricardo Stuckert,
beskikbaar gestel deur Agencia Brasil, ’n openbare Brasiliaanse
nuusagentskap, ingevolge die Creative Commons-lisensie, weergawe
2.5
• CHURCHILL, sir Winston, Britse
staatsman
Churchill
(1874-1965) het sy land as premier deur die Tweede Wêreldoorlog
gelei. Hy was in die Tweede Vryheidsoorlog ’n
oorlogskorrespondent in Suid-Afrika. Hier word hy in Natal deur
die Boere gevang, maar in Pretoria ontsnap hy uit sy
gevangenskap. Hy begin sy lang parlementêre loopbaan in 1900.
Churchill sien die bedreiging van die Hitlerisme raak voor die
meeste van sy tydgenote. Hy was ’n besielende spreker, wat sy
land in die laaste wêreldoorlog nuwe hoop en krag gegee het. Het
ook bekendheid as biograaf en geskiedskrywer verwerf.
Groot foto van
Churchill: U.S. Library of Congress (cropped)
• DALÍ, Salvador, Spaanse kunstenaar
Dalí
(1904-1989) was ’n surrealistiese skilder wat die wêreld
behoorlik aan die praat gehad het. Dié eksentrieke kunstenaar is
deur die psigoanalitiese teorieë van die onbewuste beïnvloed en
het droomtonele in ’n oorpresiese, fotografiese styl geskilder.
Van sy bekendste beelde is van sakhorlosies wat slap oor
voorwerpe hang en bonormale groot miere in fel verligte
landskappe. Dalí het eenmaal die helfte van sy met was gestyfde
snor afgeskeer, net om sy eksentrisiteit te beklemtoon.
Groot foto van
Dalí: Foto deur
Carl van Vechten, 29
November,1939; word aangedui as openbare besit (“in the public
domain”), maar met die bepaling dat dit nie verkleur of dele
daarvan weggesny mag word nie (“don’t colour or crop”)
• DEBUSSY, Claude, Franse komponis
As invloedryke
komponis en musikale revolusionêr, het Debussy (1862-1918) hom
ten doel gestel het om musiek te bevry van die “barre tradisies”
wat volgens hom besig was om dit te versmoor. Sy bedwelmende
gebruik van harmonieë het ’n sensuele musikale droomwêreld
geskep en ’n diepgaande invloed op moderne Westerse musiek
gehad. Hy het dikwels alle konvensionele formules omvergegooi en
’n onmiskenbare styl ontwikkel wat talle navolgers geïnspireer
het.
Groot foto van Debussy:
Foto deur Félix Nadar, omstreeks 1908; word tot openbare besit
(“in the public domain”) gereken vanweë die verval van die
kopiereg weens ouderdom
• DE GAULLE, Charles, Franse
generaal en staatsman
De Gaulle
(1890-1970) is, ná die val van Frankryk in 1940 tydens die
Tweede Wêreldoorlog, as die leier van die “Vrye Franse”-
opposisie teen Nazi-Duitsland erken. Hy word ná die bevryding
van Parys in 1944 president in 1945, maar bedank in 1946. In
1958 word hy uit sy aftrede teruggeroep met die versoek om ’n
regering met spesiale magte saam te stel in ’n poging om
Frankryk uit sy ontwrigte politieke toestand te red en om die
opstand in Nigerië te besleg. Hy gee Frankryk ’n nuwe grondwet.
Groot foto van De
Gaulle: U.S. Office of War, omstreeks 1942
• DIOR, Christian, Franse
mode-ontwerper
Dior
(1905-1957) was ’n vermaarde mode-ontwerper, wat in 1947 die
sogenaamde “New Look” geskep het. Sy rokke en uitrustings met
smal skouers en lang, uitklokkende rompe het ’n romantiese era
van glans vir Westerse vroue ingelui.
Groot foto van Christian
Dior: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik
veronderstel; “fair use assumed”)
• DISNEY, Walt, Amerikaanse
tekenprent-genie
Disney
(1901-1966), was die skepper van bekende
tekenprent-karaktertjies soos Mickey Mouse, Donald Duck, Pluto
en vele meer. Disney se Hollywood-loopbaan begin in die jare
twintig. In 1928 maak hy die eerste kort tekenprent met klank en
musiek en in 1937 die eerste vollengte-tekenprent. Benewens vir
sy films sal hy onthou word as innoveerder van die pretpark
Disneyland in Kalifornië.
Groot foto van Walt
Disney: NASA
•
EINSTEIN, Albert, Duits-Amerikaanse vader van
die relatiwiteitsteorie
Einstein
(1879-1955) was een van die grootste wetenskaplikes van alle
tye. Sy relatiwiteitsteorie het ’n omwenteling in die wetenskap
van die twintigste eeu teweeggebring en tot die gebruik van
atoomkrag gelei. Einstein se vergelyking E=mc2, wat toon dat
massa in energie omgeskakel kan word, verander die hele menslike
begrip van die fisieke heelal. Einstein is as Jood in Duitsland
gebore, maar emigreer in 1934 na Amerika nadat die Nazi’s die
bewind in sy geboorteland oorgeneem het. Hy ontvang in 1921 die
Nobelprys vir fisika.
Groot foto van
Einstein: Geneem in 1947; U.S. Library of Congress
(copyright not renewed)
• EISENHOWER, Dwight D., Amerikaanse
strateeg en staatsman
Eisenhower
(1890-1969) was opperbevelhebber van die Geallieerde magte in
Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog en die Amerikaanse
president van 1953 tot 1961. Hy ontwerp en bestuur die
skitterend geslaagde inval in Europa wat tot die nederlaag van
Nazi-Duitsland in 1945 lei. As president voer hy die sogenaamde
Koue Oorlog, die langdurige vete tussen Amerika en die
Sowjet-Unie wat die wêreldpolitiek tussen 1945 en die laat jare
tagtig oorheers het. Eisenhower was ’n verbete teenstander van
die Kommunisme.
Groot foto van
Dwight D. Eisenhower: Geneem in Februarie 1959; U.S. White
House Photo Portrait
• FLEMING, Alexander, Britse
ontdekker van penisillien
Hierdie dokter
en bakterioloog (1881-1955) het penisillien in 1928 ontdek.
Penisillien, wat afkomstig is van ’n gewone skimmel wat
byvoorbeeld op vrugte groei, kan ’n hele horde verskillende
bakterieë doodmaak. Ofskoon Fleming die ontdekker was, was dit
die patoloog Howard Florey en die biochemikus Ernst Chain wat
werklik die waarde van penisillien in die stryd teen infeksie
besef het. Duisende lewens is gered nadat hulle vroeg in die
Tweede Wêreldoorlog die aktiewe bestanddeel van die skimmel
geïsoleer het.
Groot foto van
Alexander Fleming: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike
gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare
besit (“if not in the public domain”)
•
FORD, Henry,
motorpionier
Henry Ford (1863-1947)
was ’n Amerikaanse nyweraar, wat sy naam in die geskiedenisboeke
verewig het met sy baanbrekerswerk in die vervaardiging van
motors. Hy het 1893 sy eerste motor klaar gebou nadat hy etlike
jare lank in sy vrye tyd geëksperimenteer het, en in 1903 het hy
die Ford-motormaatskappy gestig. ’n Verstommende prestasie in
die beginjare was die Model T, waarvan meer as vyftien miljoen
tussen 1908 en 1928 vervaardig is.
Groot foto van Henry
Ford: Ford in 1943; U.S. Library of Congress (copyright not
renewed)
• FREUD, Sigmund, Oostenrykse
neuroloog en grondlegger van die psigoanalise
Die
psigoanalise is die wetenskaplike studie van sekere
senu-afwykings van die brein deur ’n ondersoek van alles wat die
pasiënt uit sy verlede, sy drome, ens. kan onthou om só vergete
angste op te spoor. Freud (1856-1939) het aangevoer dat mense
aangedryf word deur libido, ’n mengsel van hul seksdrang en
oorlewingsinstink. Hoewel baie van sy teorieë vandag
bevraagteken word, bly hy steeds een van die invloedrykste
figure van die twintigste eeu.
Groot foto van Freud:
Geneem in 1938; U.S Library of Congress
• GAGARIN, Joeri, Russiese ruimteman
Gagarin
(1934-1968) het op 12 April 1961 die eerste mens in die ruimte
geword het toe hy een omwenteling om die aarde in die ruimtetuig
Wostok I voltooi het. Daar is later beweer dat die vlug byna in
’n ramp geëindig het met die terugkeer aarde toe. Twee dele van
die ruimtetuig sou nie van mekaar geskei het soos beplan is
nie—pleks daarvan dat die skeiding tien sekondes moes duur, het
tien minute glo verbygesleep voordat dit gebeur het en Gagarin
veilig kon land. Hy is, na berig is, in ’n vliegongeluk oorlede.
Groot foto van Gagarin:
Fotobron
onbekend (waarsk.
Virtuele Ruimtemuseum in Rusland),
maar foto word vry algemeen gesirkuleer
• GANDHI, Mohandas Karamchand,
Indiese leier
Gandhi
(1869-1948), bekend as die Mahatma [Groot Siel], was ’n stryder
vir menseregte in Indië en voorstander van geweldlose verset. Hy
studeer in Londen. Van 1893-1914 is hy in Suid-Afrika waar hy as
leier van die Indiërs optree. As nasionalistiese leier in Indië,
tot 1947 nog onder Britse bestuur, oefen hy ’n geweldige invloed
uit: hy is beskou as ’n heilige en sy eerlikheid is nooit in
twyfel getrek nie. Hy word in Januarie 1948 deur ’n fanatieke
sluipmoordenaar om die lewe gebring.
Groot foto van Gandhi:
Portret van 1931; sal in Suid-Afrika tot openbare besit gereken
kan word vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
•
GRAHAM, Billy,
Amerikaanse evangelis
Billy Graham, volle
name William Franklin Graham (1918- ), is ’n
toonaangewende woordvoerder vir die Christelike Evangeliese
leer. Hy het in 1943 pastoor van die First Baptist Church
van Western Springs, Illinois, geword, en in 1949 met
grootskeepse evangelisasie begin deurdat hy ’n reeks toere in
die VSA en Europa onderneem het. Altesaam miljoene mense het na
die byeenkomste van hierdie welsprekende, kragtige en
charismatiese prediker gestroom.
Groot foto van Billy
Graham: Foto in 1966 deur Warren K. Leffler, U.S. Library of
Congress
• HEMINGWAY, Ernest, Amerikaanse
romanskrywer
Hemingway
(1899-1961) was bekend vir die invoering van ’n nuwe prosastyl
in die romanskryfkuns; feitelik, op die man af, met opset
doodgewoon. Van sy bekendste romans is A Farewell to Arms
(1929), Death in the Afternoon (1932) en For Whom the Bells
Tolls (1940). Hy skryf ook bundels kortverhale soos Men without
Women (1927) en werk as oorlogsverslaggewer. Hy verwerf in 1954
die Nobelprys (letterkunde) vir sy roman The Old Man and the Sea
(1952). Hy skiet homself in 1961 ná ’n lang siekte.
Groot foto van
Hemingway: Foto in 1950 deur A.E. Hotchner; A.E. Hotchner
collection; U.S. Library of Congress
• HITLER, Adolf, Duitse diktator
Hitler
(1889-1945) was Duitsland se Führer (leier), wie se drome van
wêreldoorheersing tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het. Gebore
in Oostenryk, neem hy in 1921 beheer oor van die Duitse
Werkersparty en hernoem dit die Nasionaal-Sosialistiese
(Nazi-)Party. Hy word in 1933 die kanselier van Duitsland.
Oorrompel Tsjeggo-Slowakye en val Pole in 1939 aan wat die
wêreldoorlog laat uitbreek. Pleeg in 1945 selfmoord saam met sy
vrou, Eva Braun, in sy Berlynse bunker toe Duitsland nie meer
weerstand teen sy vyande kon bied nie.
Groot foto van Hitler:
Presiese bron onseker, maar vry algemeen gesirkleerde foto, dus
RGV (redelike gebruik veronderstel; “fair use assumed”) indien
nie openbare besit (“if not in the public domain”)
• KENNEDY, John F., Amerikaanse
president
Kennedy
(1917-1963) was van 1961 tot 1963 die president van die VSA. Sy
elegante vrou, Jacqueline (Jackie), het destyds meegehelp om ’n
haas ongeëwenaarde charisma aan die Amerikaanse Wit Huis te
verleen. Kennedy se presidentskap het tot ’n einde gekom toe hy
op ’n toer in Dallas, Texas, deur ’n sluipmoordenaar, Lee Harvey
Oswald, in ’n oop motor langs sy vrou doodgeskiet is. Jackie is
later weer getroud, met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles
Onassis.
Groot foto van John
F. Kennedy: Geneem in 1961, U.S. Library of Congress
• KOCH, Robert, Duitse bakterioloog
Koch
(1843-1910) het die organismes ontdek wat tuberkulose en cholera
veroorsaak. Hy het ook bewys dat ’n sekere bakterie die oorsaak
van miltsiekte by beeste is. Die kennis wat baanbrekers soos
Koch aan die mensdom toevertrou het, het gelei tot merkwaardige
welslae in die stryd teen siektes en tot metodes om siektes te
voorkom, soos byvoorbeeld die middels om bakterieë te vernietig
en hul bedrywighede te beperk. Koch ontvang in 1905 die
Nobelprys vir geneeskunde.
Groot foto van Robert
Koch: Foto tot openbare besit (“in the public domain”)
gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
• LENIN, Wladimir Ilitsj, Russiese
revolusionêr
Lenin
(1870-1924) word as die vader van die (nou ontbinde) Sowjet-Unie
beskou. Hy was vroeg reeds ’n dissipel van Karl Marx, wie se
kommunistiese ideale hy so gou moontlik ten uitvoer wou bring.
Hy sweep voortdurend die Russiese werkers met sy propaganda op
en lei hulle om plaaslike sowjets (rade) te stig. Lenin sit saam
met Trotski die Revolusie van November 1917 op tou en word
diktator van die nuwe unie van sowjets, waardeur ’n eeue-oue
stelsel in Rusland vernietig word. Hy is dood aan geleidelike
verlamming.
Groot foto van Lenin:
Soyuzfoto (ca. 1920) (PD Old); U.S. Library of Congress

•
MANDELA, Nelson Rolihlahla [Madiba], internasionale legende in
sy eie leeftyd, en DE KLERK, F.W.,
wat apartheid beëindig het
Mandela
(1918- ) en F.W. de Klerk [Frederik Willem] (1936- ) was
die hooffiggure in die Suid-Afrikaanse oorgang na ’n volledig
demokratiese regering in die jare negentig van die twintigste
eeu. Hulle het in 1993 saam die Nobelprys vir vrede ontvang. De
Klerk was die laaste president van Suid-Afrika onder die
apartheidsbewind. Hy is ná die verkiesing van April 1994 as
staatshoof opgevolg deur Mandela, wat 27 jaar in die tronk
deurgebring het ná die Rivonia-verhoor.
Groot foto van Nelson
Mandela: Geneem in 2000; U.S. Department of Defense Photo by
R.D. Ward (cropped from)
Groot foto van F.W. de
Klerk: Ateljeeportret van die F.W. de Klerk-Stigting; tot
openbare besit verklaar (“released into the public domain”)
•
MAO ZEDONG, Chinese
Kommunistiese leier
Mao Zedong (1893-1976),
ook bekend as Mao Tse-toeng, was die voorsitter van die
Kommunist Party van China en die hoofstigter van die
Volksrepubliek van China. Hy het afgewyk van die Maxistiese
model van die Sowjet-Unie en ’n sosialistiese gemeenskap tot
stand probeer bring wat op die boerdery van die landvolk gegrond
was eerder as op ’n gesentraliseerde, burokratiese,
geïndustrialiseerde ekonomie. Sy sogenaamde Kulturele Revolusie,
waarmee hy sy eie “hervormings” te weeg wou bring, het egter
hand-uit geruk en groot chaos en baie lewensverliese tot gevolg
gehad.
Groot foto van Mao Zedong:
Geneem in 1935; word tot openbare besit gereken (“assumed tot be
in the public domain”)
• MUSSOLINI, Benito, Italiaanse
leier
Hy was il Duce
(die leier) van ’n Fascistiese Italië van 1922 tot 1943.
Mussolini (1883-1945) verower die oppergesag toe die Fasciste na
Rome marsjeer, en droom daarvan om die imperiale grootheid van
Rome te herstel. Hy word diktator en ’n bondgenoot van Adolf
Hitler, ’n verbintenis wat in die Tweede Wêreldoorlog hopeloos
faal. Mussolini moet in 1943 bedank, en hy en sy minnares, Clara
Retacci, word later deur Italiaanse partisane om die lewe
gebring.
Groot foto van
Mussolini: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike gebruik
veronderstel; “fair use assumed”) indien nie openbare besit (“if
not in the public domain”)
• NASSER, Gamal Abdel, Egiptiese
leier
Nasser
(1918-1970) word in 1954 die leier in Egipte, nadat hy in 1952
die dryfkrag agter die onttroning van koning Faroek was. Hy sorg
in 1956 vir groot wêreldspanning met sy nasionalisering van die
Suez-kanaal. Hy is ’n sterk teenstander van Israel en probeer om
die Westerse invloed uit die Midde-Ooste te verdryf, maar
verloor in 1967 in die Sesdaagse Oorlog teen Israel. Nasser sorg
wel vir baie hervormings in Egipte en bou die enorme Hoë
Aswan-dam in die Nyl.
Groot foto van Nasser:
Die Egiptiese leier indertyd op die voorblad van die tydskrif
Time
• OPPENHEIMER,
J. Robert, Amerikaanse
fisikus en “pa” van die atoombom
Oppenheimer
(1904-1967) was aan die spits van die hoogs geheime Manhattan
Project wat die atoombom ontwikkel het. Die eerste bom is in
Julie 1945 naby Alamogordo in Nieu-Mexiko getoets. Atoombomme is
twee maal in oorlogvoering gebruik, toe Amerikaanse vliegtuie in
Augustus 1945 dood en verwoesting in die Japanse stede Hirosjima
en Nagasaki gesaai het.
Groot foto van
Robert Oppenheimer: U.S. Department of Energy
• PELÉ [regte name: Edson Arantes do
Nascimento], Brasiliaanse sokkerster
Pelé
(1940- ) word wêreldwyd as die grootste en gewildste
sokkerspeler van alle tye beskou. Hy maak in 1958 as
sewentienjarige sy geroemde verskyning in die Wêreldbeker-finaal
in Swede en, tot met sy opspraakwekkende vertonings twaalf jaar
later in Mexiko, speel hy die spel met ’n aansteeklike vreugde.
In sy loopbaan van agttien jaar teken Pelé 1281 doele in 1363
wedstryde aan. Hy word in 1994 Brasilië se minister van sport.
Groot foto van Pelé:
Foto in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot
openbare besit verklaar (“released into the public domain”)
• PRESLEY, Elvis, van Amerika, die
“koning van rock”
Elvis
(1935-1977) was bes moontlik die grootste musikale fenomeen van
die twintigste eeu. In die jare vyftig word hy met sy
suggestiewe heupswaaiery as ’n rebel beskou, maar nadat hy van
1958 tot 1960 in die leër was, maak hy sy herverskyning as ’n
skoongesig-neuriesanger. Sy gewildheid taan egter weens ’n reeks
minder goeie musiekprente. In sy laaste jare is hy vet en
opgepof weens ’n verslawing aan verdowingsmiddels, maar net om
te bewys hoe gewild hy gebly het, word daar in die eerste 24 uur
ná sy dood 20 miljoen van sy plate verkoop.
Groot foto van
Elvis Presley: Presiese bron onseker, maar RGV (redelike
gebruik veronderstel; “fair use assumed”)
• PICASSO, Pablo, Spaanse kunstenaar
Hy sou die
beroemdste kunstenaar van die twintigste eeu word. Picasso
(1881-1973) was ’n skilder, beeldhouer, grafiese kunstenaar en
ontwerper, die seun van ’n Baskiese tekenonderwyser en ’n
Italiaanse vrou wie se van hy aangeneem het. Sy skeppingsvermoë
en ’n speelsheid in sy benadering het ’n vryheid in die
twintigste-eeuse kuns gebring wat steeds by hedendaagse
kunstenaars gesien kan word.
Selfportret van Picasso
as jong man in 1896: Word tot openbare besit gereken vanweë
die verval van kopiereg weens ouderdom
• ROOSEVELT, Franklin D.,
Amerikaanse president
Roosevelt
(1882-1945) was van 1933 tot 1945 president van die VSA. Hy word
op 39-jarige leeftyd die slagoffer van polio en slegs sy
onoorwinlike gees red hom van die lot van ’n hulpelose kreupele.
Hy verrig sy inspannende pligte vanuit ’n rolstoel. Roosevelt
word in die ergste tyd van die Depressie tot president verkies
en dit is gou duidelik dat hy ’n groot leier is. Hy verklaar in
die Tweede Wêreldoorlog oorlog teen Japan en Duitsland. Deur sy
radiotoesprake (”fireside chats”) verenig hy die Amerikaanse
volk eendragtig teen die vyand.
Groot foto van
Franklin D. Roosevelt: Geneem in 1933; sou ten minste in
Suid-Afrika tot openbare besit gereken kan word vanweë die
verval van kopiereg weens ouderdom
•
STALIN, Josef, diktator van die
gewese Sowjet-Unie
Stalin (1878–1953)
was van 1922 tot 1953 die Hoofsekretaris van die Kommunistiese
Party van die gewese Sowjet-Unie se Sentrale Komitee en het
wesenlik die diktator van die land geword. Hy het gewild geword
onder die massas deurdat hy aan hulle voorgehou is as ’n “man
van die volk” wat uit die armer klasse kom, en ’n veldtog van
verdrukking, vervolging en teregstelling van teenstanders het
hom stewig in beheer geplaas. Hoewel hy beweer het dat sy beleid
op Marxisme-Leninisme gegrond was, meen baie ontleders vandag
dat dit eerder ’n staatkundige en ekonomiese stelsel was wat
Stalinisme genoem word. Verskillende bronne oor die getal mense
wat deur sy bewind om die lewe gebring is, stel dit op van drie
miljoen tot ’n ongehoorde sestig miljoen. Die “Ystergordyn”
tussen Wes- en Oos-Europa en die begin van die “Koue Oorlog”
tussen die Sowjet-Unie en Amerika was nog van sy nalatenskappe.
Groot foto van Stalin:
Word tot openbare besit gereken in Rusland (“image in the public
domain in Russia”)
• SMUTS, Jan Christiaan,
Suid-Afrikaanse staatsman en soldaat
Genl. Smuts
(1870-1950) veg in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) as Boer
teen die Engelse. Vanweë sy oortuiging dat samewerking tussen
Boer en Brit noodsaaklik vir Suid-Afrika is, is hy instrumenteel
in die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Hy word SA
premier van 1919-1924 en 1939-1948. Smuts word ’n veldmaarskalk
in die Tweede Wêreldoorlog en ’n adviseur van die destydse
Britse premier, Winston Churchill. Hy help stig sowel die
Volkerebond as sy opvolger, die Verenigde Nasies.
Groot foto van genl.
Smuts: Presiese bron onseker, maar vry algemeen
gesirkuleerde foto
• STRAVINSKY, Igor, Russiese
komponis wat ’n Amerikaanse burger geword het
Hy was ’n reuse-figuur in die musiekwêreld,
trouens, een van die grootste musikale innoveerders van die
twintigste eeu. In sy vroeë, “Russiese”, periode verwerf
Stravinsky (1882-1971) roem met drie ballette. Hierin bewys hy
hom as ’n onverskrokke hervormer, met splinternuwe idees rakende
harmonie, ritme en melodie. Van sy latere werke is weliswaar van
uiteenlopende aard, maar sy pioniersgees is steeds duidelik in
sekere van dié onsterflike skeppings.
Groot foto van
Stravinsky:
Foto tot openbare besit
verklaar deur D.J. Culver (“released into the public domain”);
U.S. Library of Congress
• VERWOERD, Hendrik Frensch,
Suid-Afrikaanse premier
Dr. H.F.
Verwoerd (1901-1966) was 'n Nederlander van geboorte en van
1958 tot 1966 Suid-Afrikaanse premier. Hy word deur die wêreld
as die argitek van “moderne” apartheid beskou, hoewel die
grondslag daarvan reeds voorheen gelê was. Desnieteenstaande het
hy die negentiende plek ingeneem in ’n Suid-Afrikaanse
meningsopname van 2004 waarin mense gevra is om die top-honderd
Suid-Afrikaners van alle tye aan te wys. Dit toon dat daar tot
vandag toe glad nie oral op dieselfde manier aan Verwoerd gedink
word nie. Tydens sy premierskap het die Unie van Suid-Afrika in
1961 die Republiek van Suid-Afrika geword, en Verwoerd het die
land uit die Statebond onttrek. Hy het een sluipmoordaanslag in
1960 oorleef, maar in 1966 aan die hand van ’n parlementsbode,
Dimitri Tsafendas, in die Volksraad gesterf. Tsafendas is nie
verhoor nie, maar drie dekades lank in sielsieke-inrigtings
aangehou. Verwoerd is deur John Vorster as premier opgevolg.
Groot foto van H.F.
Verwoerd: Presiese bron onseker, maar vry algemeen
gesirkuleerde foto