Natuurbewaring

Bedreig deur uitsterwing... ook die seekoei en ysbeer is op die sorgwekkende lang lys van meer as 16.000 kwynende aardse lewensvorme

  
SeekoeiOu dikkerd
— is dit vaarwel?

Hulle noem hom ook soms die rivierperd—al lyk hy eintlik baie meer na uitgevrete reuse-vark as na ’n perd. Maar hierdie bielie van ’n Afrika-boorling kan dikwels bedags groot afstande onder die water kafdraf op soek na waterplante. Dis net snags dat hy uitkom om op land te wei. ’n Tyd gelede reeds het ’n gesaghebbende internasionale bewaringsliggaam egter gewaarsku dat ook ons seekoei op wankele pote is... dat dit dalk net ’n kwessie van tyd kan wees voordat daar geen van sy soort meer oor is nie. Wat meer sê, hy is maar net een van die duisende lewensvorme wat op die gevaarlys is. En nog só ’n bedreigde groot dier is die ysbeer...

FOTO BO: ’n Seekoei plons in die water in—gelukkig vir hom nie in die Demokratiese Republiek van die Kongo, waar hordes van sy soort in die afgelope tyd afgemaai is nie. Hierdie logge dier is tuis in een van Uganda se nasionale parke, wat huisvesting aan baie bedreigde diere bied danksy geldhulp van die Amerikaanse USAID-program.

Foto: Kim Burns, USAID / Uganda


N

IE lank gelede nie is daar amptelik aangekondig: die seekoei loop gevaar om uit te sterf. ’n Jaar of drie gelede (in 2006) was ons geskok toe die naam van ons waterliewende Hippopotamus amphibius vir die eerste keer verskyn het op die “Rooi Lys” van die internasionale waghond-organisasie wat die verdwyning van die aarde se plant- en diersoorte monitor.

Al lyk hulle so baie nes varke en word hulle by dié en ander ewetonige hoefdiere soos die pekari’s ingedeel, reken sekere geleerdes deesdae dat die seekoeie se naaste neefs in werklikheid seelewende soogdiere soos die dolfyne en walvisse is. Dit en ander feite maak ons “rivierperd”, soos hy soms ook genoem word, ’n bra uitsonderlike en unieke tipe dier.

Ook die feit dat hy so log en lomp lyk, maar glo oor kort afstande byna 50 km/h kan hardloop, laat ’n mens nogmaals besef dat die seekoei—soos iemand dit al so stuitig gestel het—“sommer ’n bul van ’n ‘koei’ is!”

As só ’n kolos van ’n dier in die afsienbare toekoms tot ’n lewelose opstoppel in die museum gedegradeer sou word, sal dit darem ’n geweldige klad op die naam van die mensdom as die bewaarder van hierdie planeet wees.

Maar hoeveel seekoeie is daar nog op aarde? Darem nog nie te min nie, dog wat die bewaringsbewustes verontrus, is dat hul getalle in die jongste tyd so dramaties afgeneem het.

In 2006 is geskat dat daar wel sowat 125.000 tot 150.000 seekoeie in hul leefgebied oor is, te wete in Afrika besuide die Sahara. Maar dit verteenwoordig ’n afname van tussen sewe en ’n sorgwekkende twintig persent sedert ’n vorige berekening tien jaar vroeër in 1996.

Die redes vir die krimpende getalle is dat hulle steeds vir hul vleis en ivoortande gejag word en dat hul habitat aan die verklein is.

MAAR dit is nog baie lank nie al nie. Ook die ysbeer van die Noordelike Yssee word as bedreig aangedui deur Internasionale Bewaringsunie (International Union for Conservation of Nature, afgekort as IUCN), wat duisende spesies lys wat mettertyd dalk heeltemal van die aangesig van ons planeet kan verdwyn.

In 2006 is die getal bedreigde spesies as 16.118 aangedui (7725 diere, 8390 plante en drie korsmosse en sampioene) en in 2007 is die totaal tot 16.306 opgedateer. In 2008 het ’n studie deur die IUCN getoon dat minstens 1141 van die 5487 soogdiere op aarde, sover bekend, gevaar loop om uit te sterf.

Hierdie organisasie se sogenaamde Rooi Datalys is die mees omvattende inventaris van die stand van natuurbewaring op ons planeet.

Wat ons eie vasteland aanbetref, lyk dit of die groot gevaar vir Afrika se wilde diere politieke onstabilteit en onbeheerste jag is.

Ook die minder bekende dwergseekoei (Choeropsis liberiensis) van Wes-Afrika word as bedreig beskou, terwyl die gewone seekoei sy plek op die lys verwerf het weens die onrus in die Demokratiese Republiek van die Kongo, waar slegs ’n geraamde sowat vyf persent van die oorspronklike seekoeibevolking oor is. Die onrus in dié land het ’n ongereguleerde jag na seekoeie vir hul vleis en die ivoor in hul tande veroorsaak.

Verskeie seekoeispesies wat in die verlede gelewe het, het lankal uitgesterf, waaronder etlike dwergsoorte van Madagaskar, Afrika se grootste eiland. Geen diereliefhebber sal wil sien dat Hippopotamus amphibius en Choeropsis liberiensis dieselfde pad as hulle loop nie.

NOG ’n Afrika-dier op die gevaarlys is die dama-gasel van die Sahara en Sahel. Hierdie wildsbokke is dermate in die visier van jaggeselskappe van die Golfstate dat hul getalle in die tien jaar tot en met 2006 met sowat tagtig persent afgeneem het.

Die kommerwekkende verdwyning van die ysbeer, daarenteen, word aan aardverwarming gewyt. Ysbere het drywende ysskotse nodig om robbe en ander prooi te jag, maar die dryfys is aan die smelt. Boonop is daar getuienis dat die ysgrotte waarin hulle hul welpies grootmaak, gouer wegsmelt as voorheen.

Ysbeerwelpies

BO: Ysbeerwelpies in ’n ysgrot, waarin die kleintjies grootgemaak word. Daar word tans gereken dat aardverwarming die oorsaak is dat sulke grotte ontydig smelt.

Foto: Alaska Image Library / US Fish and Wildlife Service Digital Library System

In die see is dit weer die bevolkings van haaie en rôe, waaronder die mantarog, wat onrusbarend aan die afneem is.

Die stand van die natuurlewe in die omstreke van die Middellandse See baar veral sorg, en meer as die helfte van daardie wêrelddeel se varswatervisse is op die gevaarlys. Verstedeliking, groot toelope deur toeriste en intensiewe boerderypraktyke bedreig eweneens die Mediterreense plantelewe.

Só is daar ’n blomplant, Scilla morrisii, wat slegs op drie plekke in die noordweste van Ciprus voorkom en waarvan daar na berekening in 2006 minder as seshonderd oor was—net kol-kol op gesamentlik minder as twee vierkante kilometer.

Soos een bewaringsbewuste dit stel: “Die lewensvorms op die aarde verskraal en dit lyk werklik nie of die mensdom die vermoë—of dalk die noodsaaklike dryfkrag—het om dit op ’n beduiende skaal te keer nie. Hoe lank gaan die meeste van ons nog met gevoude hande sit?”


Dwergseekoei Dama-gasel
REGS: Die dama-gasel... word hy tot uitsterwing gejag?

BO: Die dwergseekoei van Wes-Afrika... eweneens bedreig.
Foto’s van dama-gasel en dwergseekoei: FreePictureGraphic.org
Scilla morrisii van Ciprus Foto van blom: Charalambos S. Christodoulou, Bosboudepartement, Ministerie van Landbou, Natuurlike Hulpbronne en die Omgewing, Ciprus Mantarog
BO: Van hierdie blomplant, Scilla morrisii, van Ciprus was daar in 2006 nog net ’n geraamde seshonderd oor.

     

REGS BO: ’n Mantarog (Manta birostris). Net soos dié van die haaie is die bevolkings van die see se rôe ook besig om in ’n vinnige tempo af te neem.

Foto van mantarog: Emma Hickerson / US National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad