Ballonvaart
Hoe die mens leer vlieg het

Die mens se eerste vry vlug in ’n ballonREGS: Die mens se eerste vry vlug in ’n ballon—sonder enige toue wat dit met die aarde verbind. ’n Ou voorstelling van die avonturiers Jean-François Pilâtre de Rozier en die markies d’Arlandes se geskiedkundige vlug bokant Parys, Frankryk, op  21 November 1783.

Krediet: U.S. Library of Congress

Dit was een van die gedenkwaardigste oomblikke in die geskiedenis van lugvaart: die eerste bemande warmlugballon het die grond verlaat en vry in die breë hemelgewelf bokant Parys opgestyg. Van die begin af het ballonne getoon dat hulle te onbetroubaar is om as ’n openbare vervoermiddel te deug, maar spoedig het ballonsweef tot die statige lugskip ontwikkel. Hier is die boeiende verhaal van ballonvaart... soos dit aanvanklik was en soos dit vandag steeds beoefen word...


 
Hoofteks uit Ons Wonderlike Węreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
 

Ballon met “vlerke”REGS: ’n Ballon-manie het losgebars ná De Rozier en die markies d’Arlandes se baanbrekervlug. Soos op hierdie ou illustrasie gesien kan word, het nog ’n Franse pionier selfs klappende “vlerke” geprakseer om sy ballon se vlug te probeer beheer. Jean-Pierre Blanchard (1753-1809) het nie veel sukses met sulke meganismes gehad nie, maar hy hom tog as ballonvaarder onderskei. UIteindelik het hy egter weens 'n hartaanval in Den Haag, Nederland, uit sy ballon geval en het hy ’n aantal weke later aan sy beserings beswyk.
 

Krediet: U.S. Library of Congress

 

W

AS dit regtig besig om te gebeur? Was mense werklik aan die sweef deur die hemele nadat hulle dit soveel duisende jare lank tevergeefs probeer doen het? Sou ’n mens dan nie ontplof daar in die hoogte met sy dun lug nie? Of ten minste van jou verstand af raak nie?

Nee, tog nie! Pleks daarvan het die węreld se eerste lugvaarders veilig op Moeder Aarde geland en is hulle as helde terugverwelkom—danksy twee ondernemende broers wat geglo het dat die lug nie slegs vir die voëls is nie, maar dat die mens dit ook kan bemeester.

In die 1780’s het hierdie twee Franse broers, die papiervervaardigers Jacques en Joseph Montgolfier, by hul huis in Avignon met warmlugballonne begin eksperimenteer. Hul eerste model, ’n stuk doek wat oor ’n houtraam getrek is, is gevul met warm lug wat deur middel van brandende papier opgestyg het.

Jacques (links) en Joseph Montgolfier

BO: Jacques (links) en Joseph Montgolfier.

Model van broers Montgolfier se ballonREGS: ’n Model van broers Montgolfier se ballon in die Londense Wetenskapmuseum.

Krediet: Mike Young (verklaar tot openbare besit; “released into the public domain”)

Op 4 Junie 1783 het die broers Montgolfier hul uitvindsel aan ’n verbaasde skare op ’n buurdorp gedemonstreer. Die volgende môre is die broers Montgolfier Parys toe, waar hulle verneem het dat ’n mededinger, ’n Franse skeikundige genaamd Jacques Charles, ’n ballon uitgevind het wat gevul word met waterstof, ’n gas wat ligter as lug is.

Charles het sy uitvindsel op 27 Augustus gedemonstreer. Die ballon het 910 m hoog gestyg en ’n afstand van 24 km afgelę voordat dit weer geland het.

Die Montgolfiers het egter onverstoord hul warmlugballon bly verbeter en op 19 September 1783—voor koning Lodewyk XVI, koningin Marie Antoinette en ’n groot skare—het hul ballon in die lug bokant Versailles opgestyg.

Die ballon het die węreld se heel eerste lugpassasiers meegevoer: ’n skaap, ’n eend en ’n haan. Al drie passasiers het ná agt minute veilig geland—moontlik met ’n groot geblęr, gekwaak en hoendergeluide.

Ballon met skaap, eend en haan styg op

BO: Die ballon met die skaap, eend en haan styg voor ’n groot skare op by die koninklike paleis van Versailles, Frankryk.

Krediet: U.S. Library of Congress

Intussen het ’n geesdriftige 26-jarige Franse wetenskaplike, ene Jean-François Pilâtre de Rozier, die broers Montgolfier genader om die eerste mens te mag word wat met ’n ballon opstyg. Koning Lodewyk XVI het egter reeds ’n verbod op menslike vlugte geplaas. Sy adviseurs het aangevoer dat ’n mens kan bars of waansinnig raak as jy so hoog in die lug rondsweef. Maar De Rozier was so vasbeslote dat die koning uiteindelik oorgehaal is om hom toe te laat om te probeer vlieg.

Op 21 November 1783 het hordes nuuskieriges in die strate van Parys saamgedrom en, bisar soos dit ook vandag klink, gehoop dat hulle ’n skouspelagtige dood sou sien. De Rozier en ’n leëroffisier, die markies d’Arlandes, het in die mandjieswerk-gondel geklim en, net voor tweeuur die middag, is die toue losgemaak wat die Montgolfier-ballon vasgehou het.

Die mans het stilweg opgestyg. Hulle het ’n hoogte van sowat 9 m bereik en, tot die verbasing van die skare daar onder, nie in fyn stukkies ontplof nie. De Rozier en d’Arlandes het 25 minute lank in die lug gebly en nagenoeg 10 km verder veilig geland.

Die hele Parys—of so moet dit ten minste vir hulle gelyk het—het hulle met wilde applous verwelkom toe hulle weer in die stad aankom. En so het die era van ballonvaart begin.

Jean-François Pilâtre de RozierREGS: Jean-François Pilâtre de Rozier.

DIE eerste lugvaarders het dit glad nie maklik gehad nie. Hulle is die uitspansel in met hope moed, maar met weinig begrip van hoe om hul toerusting te beheer of van die risiko’s wat hulle geloop het. Die ballonne is onbeheerbaar meegevoer na waarheen die wind hulle ook al gewaai het en die lugreisigers moes dikwels uit die see of uit bome gered word.

Die eerste ballonne is opgeblaas met warm lug wat verkry is deur vodde en strooi te verbrand—baie gevaarlik, want brande kon gestig word—of met waterstof, destyds die enigste bekende gas wat ligter as lug was. Die waterstofballonne was werklik lugbomme wat te eniger tyd kon ontplof.

De Rozier se welslae het hom selfs meer ambisieus gemaak en in Junie 1785 het hy saam met ’n vriend, Jules Romain, die Engelse Kanaal probeer oorsteek met ’n ballon vol warm lug met waterstof daarby. Die kombinasie van vuur en waterstof was dodelik. Die ballon het op ’n hoogte van sowat 1500 m ontplof en altwee mans is gedood. Om die tragedie nog groter te maak was De Rozier se verloofde, ’n Engelse meisie genaamd Susan Dyer, onder die toeskouers. Sy het van skok dood neergeval.

Benewens gevare soos dié, moes lugvaarders ook nog baiemaal woedende skares trotseer omdat party mense geglo het dis ’n sonde om die aarde te verlaat. Die beswaardes wou dan met alle geweld hul ballonne vernietig, want hulle het geglo dit kom van die duiwel af.

Maar niks kon die mens se liefde vir die lug demp nie en in die laat 1700’s en 1800’s is ál langer en hoër ballonvaarte oor Europa onderneem. Dit het wetenskaplikes in staat gestel om baie van die geheimenisse van die bo-atmosfeer te ontrafel. Verskeie gebruike is ook vir ballonne in oorlogvoering gevind. Hulle is meestal as platforms gebruik waarvandaan op vyandelike stellings gespioeneer is of om pos te vervoer.

Maar ondanks alles kon ballonvaarte nooit ’n betroubare manier van openbare vervoer word nie. Hulle was doodeenvoudig te afhanklik van die grille van die wind. Geleidelik het die plan begin posvat om ballonne met motore toe te rus sodat hulle gestuur kon word—en in die middel-1880’s het die eerste lugskip sy verskyning gemaak.

Soos in ’n ander artikel vertel word, was die geskiedenis van die lugskip van korte duur. Daarteenoor is ballonvaarte oor die jare veiliger gemaak en het dit tot ’n gewilde sport ontwikkel en ook as ’n manier om die atmosfeer te verken.

In die vroeë 1930’s het ’n Switserse fisikus, Auguste Piccard, die lugdigte sfeer ontwerp wat, geheg aan ’n waterstofballon, hom en ’n helper eers 15.781 m hoog die stratosfeer ingeneem het om kosmiese strale te bestudeer en, by ’n ander geleentheid, 16.201 m hoog. Dertig jaar later het bemande Amerikaanse ballonne meer as dubbel so hoog gevlieg.

Ballonvaarte met sowel warm lug as gas (waterstof, helium of aardgas) leef steeds voort, hetsy as sport, toeristebedrywigheid of vir wetenskaplike navorsing. Miskien word al ons gewone avontuurlustiges ook nog eendag op ballonvaarte reg om die węreld geneem—of liewer almal van ons wat dit sal kan bekostig.

Die Engelsmanne James Glaisher (links) en Henry Tracey Coxwell, wat tussen 1862 en 1866 talle ballonvaarte onderneem het

BO: Die Engelsmanne James Glaisher (links) en Henry Tracey Coxwell, wat tussen 1862 en 1866 talle ballonvaarte onderneem het om die temperatuur en vogtigheid van die atmosfeer te meet.

Foto: ROYAL ASTRONOMICAL SOCIETY / SCIENCE PHOTO LIBRARY (Public Domain Old)

Ballonvaart in ons tyd

BO: Groot ballonne neem mense steeds op onvergeetlike ritte deur die domein van die voëls.

Foto: Todd Rastorfer / U.S. Army Corps of Engineers (detail en gewysig)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad