Ballerina en opskrif: Ballet — vloeiende harmonieë van  liggaam en gees

D

IT lyk of die ballerina die wet van swaartekrag trotseer… waar sy grasieus deur die lug sweef met lang en stadige spronge. Oomblikke later wentel sy soos ’n tol op die punte van haar tone… so volmaak in beheer van haar ewewig dat die gehoor na hul asems snak. Net daarna word sy deur ’n manlike balletdanser opgeraap. Hy tel haar so flink bokant sy kop op dat sy soos ’n elegante veertjie lyk.

 

Ballerina op ’n Amerikaanse posseëlBalletkykers word baiemaal so meegevoer deur wat hulle sien en hoor dat hulle selde besef hoe die dansers voor hulle dikwels bewegings uitvoer wat onnatuurlik vir die liggaam is—dat slegs die illusie van natuurlike bewegings deur die kunstenaars geskep word.

 

Wat so soepel, gemaklik en bevallig vir die gehoor voorgehou word, verg eintlik intense inspanning en konsentrasie en is die produk van jare se oefen, oefen en nogmaals oefen.

 

Soos ander dansvorms wat voor teatergehore uitgevoer word, kan ballet ’n storie vertel, ’n gemoedstemming uitdruk of doodeenvoudig die musiek weerspieël. Maar die tegniek van ’n balletdanser en sy of haar spesiale vaardighede verskil grootliks van dié van ander dansers.

 

Dit is vir balletdansers ’n genot om hul liggame te beheer, ’n plesier wat deur balletgehore gedeel word. Vir die gehore kan dit voel of hulle saam met die dansers wieg en wentel. Bloot deur hul liggame te gebruik, is balletdansers in staat om uitdrukking aan allerhande emosies te gee, gemoedstoestande soos woede, vrees, jaloesie, vreugde, ontroering en verdriet uit te beeld. Die lyne van die dansers se liggame vorm skone, harmonieuse patrone. Egte ballettegniek word klassiek genoem omdat dit hierdie reinheid en harmonie van ontwerp aksentueer.

 

Benewens die dansvorm wat ballet genoem word, staan ’n enkele danswerk of dansvertoning waar die klassieke ballettegniek gebruik word, ook as ’n ballet bekend. Enige danswerk waarby ’n groep dansers betrokke is, kan eweneens ’n ballet genoem word, selfs as die klassieke danstegniek nie gebruik word nie. Só kan moderne danswerke, musiekkomedies en danse op televisie hierdie tegniek insluit of dalk nie, maar baie word nogtans ballette genoem. Ballette word in sulke gevalle dan bloot omskryf as toneeldanse met musiek om dramatiese handelinge uit te beeld.

 

Klassieke balletgroepe tree op in vollengte-ballette (ingedeel in bedrywe en tonele) en in programme van twee of meer korter ballette. Waar ballette soms in operas, musiekkomedies en ander produksies op die verhoog of in rolprente of televisieprogramme ingesluit word, kan die musiek óf oorspronklike balletmusiek óf verwerkings uit ander komposisies wees.

 

Hoe dansers hul passies leer en die profiel van die “volmaakte” balletdanser

 

DIT verg baie jare van die mees intense oefening om ręrig die moeilike passies van ballet te bemeester. Dis wenslik—só word vertel—om reeds tussen die ouderdom van agt en tien met balletlesse te begin. Die ernstige student, wat van plan is om ’n beroepsdanser te word, kan op twaalfjarige leeftyd drie tot ses lesse per week ontvang.

 

Die meeste dansers word beroepsdansers voordat hulle twintig is en tree op 45 af. Dit is vir ’n danser moeilik om tuis te oefen en gevolglik gaan die meeste na ’n ateljee vir hul lesse. Hulle het die ruimte van ’n ateljee nodig om werklik tot hul reg te kom, en klavierbegeleiding is nuttig.

 
Selfs beroepsdansers oefen steeds daagliks om skerp en superfiks te bly. Wanneer hulle optree, moet hulle geen teken van inspanning toon nie en moet dit lyk of hulle moeiteloos saamvloei met die musiek of die dramatiese rol wat hulle vertolk. Die gehoor moet van slegs die prag en seggingskrag van die uitvoering bewus wees, nie van die tegniese swarighede om dit te verwesenlik nie.

Maar hoe lyk die “volmaakte” balletdanser? Wenslike fisieke eienskappe is onder meer lang arms en bene, ’n lang nek en ’n betreklik kort bolyf. Die ideale liggaam vir balletdanse is soepel, slank en sterk. Ook balletdansers kan natuurlik geen el by hul lengte voeg of aan die proporsies van hul liggame verander nie, maar behoorlike oefeninge kan baie doen om ander verlangde liggaamseienskappe te ontwikkel.

 

Ewe belangrik as die liggaamlike is sekere geesteseienskappe. Balletdansers het ’n gevoel vir ritme en ’n goeie begrip van musiek. Hulle is bewus van die verhoudings tussen voorwerpe in die ruimte om hulle sodat hulle met presisie in enige rigting op die verhoog kan beweeg. Soos goeie akteurs kan hulle ’n gemoedstemming weergee en ’n karakter geloofbaar maak. Bowenal is hul lief vir ballet en wy hulle hulle ten volle daaraan toe. Andersins sou hulle nie hul liggame kon leer om met skoonheid en uitdrukking op onnatuurlike maniere te beweeg nie.

 
Die vestiging van ballet as ’n kunsvorm

 

BALLET is ’n toneelmatige dansstyl wat tydens die Renaissance (1300-1600) in Wes-Europa ontwikkel het, waarin die menslike vorm geďdealiseer word deur Klassieke beginsels van harmonie, balans en selfbeheersing. Die vorm is gewortel in ’n tegniek van gestileerde posisies en bewegings wat oor die eeue heen uitgewerk en gekodifiseer is, om te ontwikkel tot ’n stelsel wat veelal akademiese ballet of danse d’école genoem word.

 

Die term klassieke ballet word vandag gebruik om die soort dansery te beskryf wat ballet in die loop van die negentiende eeu oorheers het. Die danser se voete word met negentig grade, of dan wel haaks met hul normale posisie, uitwaarts gedraai sodat die gehoor die danser op die verhoog beter kan waarneem. Feitlik alle passies begin vanuit een van die vyf basiese posisies. Hierdie posisies is in 1830 die eerste keer deur die Italiaanse balletleier Carlo Blasis (1799-1878) in Die Kode van Terpsichore beskryf.

 

Ballet — die vyf basiese posisies van die voete

 

Ballet — ’n paar tipiese passies

 

Balletleerlinge oefen by die rekstok  En pointe—op punte van die tone

Dansery op die tone of  “en pointe”

BO: Dansery op die tone—dit word en pointe genoem—is kenmerkend van ballerinas. Manlike dansers in hul sagtesool-skoene dans nie en pointe nie. Hulle moet nietemin fiks en sterk wees om die ballerinas gemaklik in die lug te kan optel.
’n Danseressie is gewoonlik minstens twaalf jaar oud voordat sy en pointe begin dans. Sy dra dan “toonskoene”, oftewel stywetoon-pantoffels met linte wat om die voete en enkels vasgebind word. Lamswol word voor in die skoene geplaas om as kussings vir die ballerina se tone te dien. Partykeer word ’n skuimkussinkie ook aan die tone gedra.
Vir opvoerings dra die ballerinas “tutus”, dit wil sę kort balletrokkies wat dikwels van netstof of satyn gemaak is. Partykeer dra hulle ’n ietwat langer rok, wat grasieus om hulle vloei terwyl hulle dans.
Ballerinas dra tradisioneel hul hare in ’n bolla, wat hoog op die kop vasgespeld is.

 

 

 

Die klassieke ballet oorleef op twee maniere in die moderne teater—vir eers in ’n aantal negentiende-eeuse werke wat steeds opgevoer word, en ten tweede as die grondslag van moderne ballet. Baie nuwe vorms van dansuitinge kom voor in moderne ballet, maar die dansers gebruik steeds die klassieke tegniek, terwyl klassieke posisies en bewegings in nuwe toneelskikkings plaasvind.

 

Klassieke ballet het in Frankryk en Italië ontwikkel.

Waar dit begin het as ’n dans wat in die howe van konings uitgevoer is, het dit later ’n deel van die opera geword onder die invloed van die Frans-Italiaanse komponis Jean Baptiste Lully (1632-1687).

Jean Georges Noverre (1727-1810) was op sy beurt die leier van ’n beweging om die pantomime-ballet te vestig, waarin ’n storie deur die danse en gebare van die uitvoerende kunstenaars vertel word. Ballet het sedertdien nog altyd hierdie model nagevolg.

 

Die klassieke ballet het in die negentiende eeu tot volle wasdom gekom. Die Sweeds-Italiaanse ballerina Marie Taglioni (1804-1884), Oostenryk se Fanny Elssler (1810-1884)  en die Italiaanse danseres Carlotta Grisi (1819-1899) het węreldberoemd geword vanweë hul grasieuse, poëtiese danse. In Rusland het Swanemeer, Die Neutekraker en Die Skone Slaapster—ballette wat met die musiek van Peter Ilich Tchaikovsky, opgevoer is—’n gewildheid verwerf wat na baie ander lande versprei het. (Ter wille van eenvormigheid gebruik ons in hierdie artikel nie die tradisionele Afrikaanse spelwyse van Russiese name nie; dit het onses insiens nog altyd net tot verwarring gelei waar Afrikaanse skrywers met byvoorbeeld Tsjaikowski volhard terwyl die honderde miljoene in die groot Engelssprekende węreld om ons Tchaikovsky skryf.)

 

Wat moderne ballet aanbetref, glo baie kritici dat dit geďnspireer is deur die werk van Isadora Dun­can (1877-1927), ’n Amerikaanse danseres. Die bestudering van die Griekse beeldhou- en skilderkuns het haar laat besluit dat die kuns van dans op die vrye en natuurlike bewegings van die danser se hele liggaam gegrond moet wees. Haar danse was in skerpe teenstelling met die gestileerde posisies en bewegings van die klassieke ballet. Isadora Duncan kon nie daarin slaag om ballet deur ’n nuwe dansvorm te vervang nie, maar haar idees het ’n diepgaande invloed op twee leiers van die Russiese balletteater gehad wie se werk grootliks vir moderne ballet verantwoordelik is.

 

Michel Fokine (1880-1942),’n choreograaf (dansontwerper), en Sergei Diaghilev (1872-1929), leier en stigter van die Ballets Russes, het mej. Duncan se idees van bewegingsvryheid en ritmiese uitdrukking in die dissipline van ballet geďnkorporeer. Onder leiding van Diaghilev het Fokine se nuwe teorieë van die ballet vorm aangeneem in ’n reeks werke wat nou deel van die standaard-repertoire uitmaak.

 

Musiek van toonaangewende komponiste en stelle en kostuums wat deur van die voorste kunstenaars ontwerp is, is gebruik. In 1909 het gehore in Parys kennis gemaak met Les Sylphides, wat Fokine op musiek van Chopin gebaseer het. Hierop het gevolg die Vuurvoël (1910) en Petrouchka (1911), met musiek deur Stravinsky; en Schéhérazade (1910) en Le Coq d’Or (Die Jong Haan, 1914), met  musiek deur Rimsky-Korsakov.

 

Diaghilev het ook die opdrag gegee vir werke deur sulke komponiste soos Ravel, Richard Strauss, Poulenc, Milhaud, Prokofiev en De Falla. Die meeste van die voorste balletkunstenaars het na sy Ballets Russes gekom.

 

Anna Pavlova (1885-1931), beroemd as ’n klassieke ballerina, het onder Diaghilev se leiding gedans. Die geselskap se grootste manlike danser, Waslaw Nijinsky (1890-1950), was ook die choreograaf vir drie beroemde ballette: Die Middag van ’n Faun (1912) en Jeux (1913), altwee met musiek deur Debussy; en Die Rite van Lente (1913) deur Stravinsky. Tot Diaghilev se dood in 1929, was die Ballets Russes die toonaangewende geselskap. Ná 1914 was Leonide Massine die leidende choreograaf, wat in 1919 verantwoordelik was vir Die Driehoekige Hoed, deur die Spanjaard Manuel de Falla.

 

Ná Diaghilev se dood is sy werk deur verskeie geselskappe voortgesit en die spruite van die Ballets Russes het nuwe lewe aan ballet regoor die węreld gegee. Dit was in der waarheid die veelvuldige toere van Russiese geselskappe oor die węreld heen, veral ná die Tweede Węreldoorlog, wat tot die heropbloei van ballet gelei en dit ’n vermaaklikheidsvorm vir die algemene publiek gemaak het.

 

Massine het choreograaf van die Ballet Russe de Monte Carlo geword en ballette met die musiek van sulke simfoniese komponiste soos Brahms, Tschaikowsky en Beethoven opgevoer. In die Verenigde State het hy Amerikaanse temas gebruik, soos in Union Pacific (1935). In die jare dertig het die Bolshoi Bal­let van Rusland met sy opgang na roem begin.

 

Amerikaanse en Britse kunstenaars het gegewens begin gebruik wat op die sielkundige konflikte van die moderne lewe gegrond is. Die Brit Antony Tudor (1908-1987) het in 1942 Pillar of Fire geskep, ’n dramatisering van morele vraagstukke. Jerome Robbins (1918-1998) en Leonard Bernstein (1918-1990), altwee van Amerika en onderskeidelik choreograaf en komponis, was in 1949 verantwoordelik vir Age of Anxiety.

 

In Brittanje het die Sadler's Wells-balletgeselskap (wat die Royal Ballet sou word) węreldroem onder leiding van Ninette de Valois (1898-2001) verwerf. In Amerika het die New York City Ballet Company in 1948 tot stand gekom onder die bestuur van Lincoln Kirstein (1907-1996) en met George Balanchine (1904-1983) as choreograaf. Hierdie geselskap het sy groep om Amerikaans-opgeleide dansers gebou.

 

Ballette deur Amerikaanse kunstenaars sluit in Billy the Kid in 1938, met die choreografie deur Eugene Loring, asook Rodeo in 1942, met die choreografie deur Agnes de Mille (1909-1993). Die musiek vir albei ballette is deur Aaron Copland (1900-1990) geskryf.

 

Ballet in die afgelope aantal
dekades tot vandag

 

GEVESTIG op hierdie stewige fondamente het ballet bly groei en is dit vandag gewilder as ooit in die groot operageboue en dansteaters van die węreld. Balletgeselskappe en -inrigtings vir opleiding floreer gewoonlik, hoewel hierdie kunsvorm in vergelyking met ander kunsvorms geldelik swak ondersteun word. Ballet se tradisies van die afgelope eeu word steeds eerbiedig neffens proefnemings met nuwer vorms, en daar is toenemende geesdrif vir die opsporing van werke wat, soos al geglo is, vanweë rekonstruksie verlore gegaan het.

 

Want daar is al gereken dat slegs ’n paar groot ballette van die verlede, waaronder Giselle (1841) en Swanemeer (1877), werklik in hul oorspronklike vorm behoue gebly het. Omdat hulle so geslaag was, is hulle oor en oor opgevoer en van die een danser na die ander oorgelewer. Dit maak dit moeilik om te bepaal hoeveel van ’n gegewe oorspronklike ballet steeds bestaan. Dansers kan die passies ietwat verander. Hulle kan straks ook sekere bewegings te moeilik vind, nie van ’n bepaalde passie hou nie of dit deur ’n beter een vervang. Sekere choreograwe hou niks daarvan dat aan hul werk gepeuter word nie. Ander gee nie om nie. Trouens, choreograwe kan selfs hul ballet verander om by ’n nuwe danser in die rolverdeling te pas.

 

In die middel van die vorige (twintigste) eeu het baie choreograwe hul werke op dramatiese aksie gegrond. So was daar Pillar of Fire (1942) deur Antony Tudor van Brittanje, waarin ’n verhaal van rebellie en berou vertel word. Fancy Free van 1944, deur die Amerikaanse choreograaf Jerome Robbins, vertel van drie matrose wat na pret in New York soek. In Duitsland het die Britse choreograaf John Cranko vollengte-ballette vir die Stuttgart Ballet geskep wat op intriges van werke deur William Shakespeare en Alexander Pushkin gegrond was.

Vandag verkies baie choreograwe om dans sonder ’n verhaal aan te bied—óf as uiting van die musiek óf as ’n studie in ’n bepaalde bewegingstyl. Die grootste invloed in hierdie soort ballet was die reeds genoemde George Balanchine van die New York City Ballet. Balanchine se werke het ’n reeks medeproduksies met die Russies-gebore komponis Igor Stravinsky ingesluit, wat hul hoogtepunt in die meesterstuk Agon van 1957 bereik het. Balanchine het ook die choreografie vir meer romantiese musiek, soos Vienna Waltzes van 1977, behartig.

 

Sir Frederick Ashton van die Royal Ballet in Brittanje was op sy beurt die choreograaf  van nie-dramatiese ballette soos Symphonic Variations in 1946 en Monotones in 1966.

 

Hedendaagse ballette weerspieël ’n groot verskeidenheid van style. In die 1970’s het sekere balletgeselskappe moderne danswerke begin aanbied. Só het die American Ballet Theatre die choreografie van Push Comes to Shove (1976) aan die Amerikaanse choreograaf van moderne danse Twyla Tharp (1941- ) opgedra.

 

Grootstes van die grotes op die balletverhoog

MAAR geen artikel oor ballet kan nagenoeg volledig wees sonder om ook na die fenomenale Fonteyn-Nureyev-balletpaar te verwys nie.

Margot Fonteyn en Rudolf NureyevDame Margot Fonteyn de Arias (gebore in 1919 in Engeland en oorlede in 1991 in Panama) was die Engelse assoluta en is as die grootste ballerina van haar tyd beskou. (Die term “prima ballerina assoluta” word gebruik om ’n danseres met ’n uitmuntende, unieke talent te beskryf.)

In die uiters mededingende węreld van ballet was Margot Fonteyn beroemd vir haar volkome professionalisme en die feit dat sy deur dik en dun by haar vriende gestaan het. Haar danse is deur geesdrif, grasie en passie gekenmerk.

Die Russies-gebore Rudolf Nureyev (1938–1993) word op sy beurt as een van die grootste manlike dansers van die twintigste eeu beskou.

In 1961 het Nureyev na die Weste oorgeloop, en taamlik vroeg die volgende jaar het hy en Fonteyn die eerste keer saam op die verhoog verskyn. Ondanks hul verskille in agtergrond, geaardheid en ouderdom (sy was negentien jaar ouer as hy) het die twee lewenslange vriende geword en was hulle uiters lojaal teenoor mekaar. Hulle het saam opgetree in die rolprentweergawe van Swanemeer en Kenneth MacMillan se Romeo and Juliet, asook Les Sylphides en Le Corsaire Pas de Deux.

Hulle het hegte vriende gebly selfs nadat Fonteyn op ’n beesplaas in Panama gaan aftree het en etlike kere per week oor die telefoon gesels, al het haar plaashuis geen telefoon gehad nie. Toe sy weens kanker behandel is, het Nureyev baie van haar mediese rekeninge betaal en haar dikwels besoek. Dit het hy gedoen ondanks sy besige lewe as uitvoerende kunstenaar en choreograaf, asook sy eie gesondheidsprobleme (as homoseksueel is hy in 1993 aan vigs dood). Nureyev het eenmaal van Fonteyn gesę dat hulle met "een liggaam, een siel" gedans het.

Vanweë Nureyev se talent is hy baie dinge vergewe, maar sy sterstatus het nie sy humeurigheid verbeter nie. Hy was berug vir sy voortvarendheid en het nie veel geduld met reëls, beperkings en rangorde gehad nie. Dit is selfs bekend dat hy Margot Fonteyn gevloek het as hul oefeninge nie goed verloop het nie, en hulle het mekaar dikwels in die hare gevlieg. Nogtans sou al hul kennisse kon vertel dat Fonteyn die naaste aan Nureyev se hart was en dat sy op haar beurt fanatiek lojaal teenoor hom was.

Ballet in Suid-Afrika

Bronne:
Dictionary of Dance, Oxford University Press
The History of Ballet in South Africa deur Marina Grut, Human & Rousseau-uitgewers

SUID-AFRIKA het ’n lang tradisie van voortreflike klassieke ballet, soseer dat die eerste ballet-pantomime reeds in 1802 hier opgevoer is. Dit was The Cunning Wife, or Lover in the Sack, en Jan Ludwig Petersen en sy leerlinge het dit in Kaapstad aangebied.

Trouens, Kaapstad was die wieg van ballet in Suid-Afrika en baie jare lank was dit die enigste plek waar ballette opgevoer is.

Onder die ander balletopvoerings in die vroeë jare was Jack at the Cape, or All Alive among the Hottentots, wat in 1832 met Tafelberg as agtergrond gedans is. Tog het geen beroepsgeselskappe vir ballet in die negentiende eeu in ons land tot stand gekom nie.

In 1912 kom Helen Webb uit Engeland in Kaapstad aan. Sy was die dogter van kaptein Matthew Webb, wat in 1875 die eerste mens geword het wat sonder ’n dryfhulp oor die Engelse Kanaal geswem het. Helen, wat ballet in Londen studeer het, open haar eie balletateljee in die Kaap. Onder haar baie leerders tel Dulcie Howes en Delis Rhor, en in 1923 onderneem sy en haar leerders ’n toer na verskeie kusstede en Johannesburg.

In 1925 kom die beroemdste Russiese klasieke ballerina van haar era, Anna Pavlova, in Kaapstad aan vir ’n Suid-Afrikaanse toer. 

Die Royal Academy of Dance is die węreld se grootste balletopleidings- en eksamineringsraad en is in Londen gesetel. In 1926 word die Cape Town Dance Teachers Association gestig—en ’n stigterslid van die Royal Academy, Édouard Espinosa, besoek die Kaapstadse vereniging as sy eerste eksaminator.

Dulcie Howes,’n nooientjie van Klein-Brakrivier wat benewens onder Helen Webb ook in Londen gaan studeer het, toer in 1927 met die Russiese Anna Pavlova se geselskap, maar keer terug na Suid-Afrika om ’n balletmeesteres in Kaapstad en Johannesburg te word. Dulcie word in 1934 genooi om die Universiteit van Kaapstad se Balletskool tot stand te bring, waaruit die U.C.T. Ballet Company (sonder winsbejag) ontwikkel het.

Onder die choreograwe en dansers wat uit hierdie skool gekom en węreldroem verwerf het, tel David Poole, John Cranko, Patricia Miller, Desmond Doyle, Dudley Davies, Richard Glasstone en Petrus Bosman.

In Johannesburg sorg die Dancing Teachers Association, wat in 1923 in die lewe geroep is, vir sekere opvoerings, en in die vroeë jare veertig word ander geselskappe gestig, waaronder die Johannesburg Festival Ballet en die Pretoria Ballet Club.

In 1947 stig Faith de Villiers en Joyce van Greems ’n beroepsgeselskap, Ballet Theatre, wat met die Universiteit van Kaapstad se Balletgeselskap saamwerk vir sy eerste opvoering. Frank Staff, ’n boorling van Kimberley wat ook ’n offisier in die Tweede Węreldoorlog was, stig die Suid-Afrikaanse Balletgeselskap, en is tussen 1955 en 1958 die produksieleier van vyftien ballette vir SA Ballet. Soos ander balletgeselskappe sterf dit egter ’n vroeë dood omdat daar geen geldelike steun van die staat is nie.

In 1960 stig De Villiers die Johannesburgse Balletgeselskap, wat die kern vir TRUK Ballet sou vorm (TRUK = Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste). TRUK Ballet ontstaan in 1963 deurdat die regering die uitvoerende kunste begin subsideer.

Ander beroepsgeselskappe wat tot stand kom, is KRUIK Ballet in Kaapland en NARUK in Natal.  Uiteindelik is Suid-Afrika nou in staat om talentvolle dansers en choreograwe te behou wat voorheen gereeld na die groener oorsese weivelde uitgewyk het.

Tog het die rigiede jare van apartheid ’n uiters stagnerende invloed op die plaaslike ballet, wat grootliks in isolasie van die res van die węreld moet bestaan deurdat internasionale sanksies die vrye wisseling van dansers en geselskappe verhinder.

Die nuwe bedeling in Suid-Afrika skep nuwe moontlikhede vir die bevordering van die danskulture van die voorheen benadeelde gemeenskappe, maar beteken ook ’n einde of grootskeepse afskakeling van staatsbetrokkenheid by die kulturele bedrywighede van die gewese bevoordeeldes. Ballet word op sy eie manier ook ’n slagoffer… as gevolg van soveel klem wat gelę word op die bevordering van die inheemse ritmes en die voetegestamp wat eie aan Afrika is.

In die nuwe Suid-Afrika geld immers heeltemal ander prioriteite. Daar is nietemin mense wat voel dat die vermenging van veelvuldige danskulture, insluitende klassieke ballet, hier te lande opwindende moontlikhede skep wat net wag om ten volle ontgin te word. Klassieke ballet self is ook nog lank nie dood nie. Inteendeel, danksy talentvolle kunstenaars en ’n choreograaf soos byvoorbeeld Veronica Paeper bly hierdie kunsvorm glansryk en lewend.
   

Phyllis Spira-BoydPhyllis Spira as Aurora in Die Slapende SkoonheidREGS: Wyle Phyllis Spira as Aurora in Die Slapende Skoonheid, KRUIK Ballet, 1969-70.
 
 
LINKS
: Phyllis Spira-Boyd (1943—2008) het haar in haar lewe onteenseglik as Suid-Afrika se beroemdste ballerina gevestig. Wat meer sę, sy is selfs deur ’n landgenoot as “die grootste uitvoerende kunstenaar in ons geskiedenis” beskryf. Haar onbetwiste finesse in ’n verskeidenheid van dansrolle het aan haar ’n unieke plek in die annale van Suid-Afrikaanse ballet besorg.

Phyllis het in haar geboortestad, Johannesburg, skoolgegaan en ook haar eerste balletlesse daar ontvang. Sy is in 1959 tot die Royal Ballet School in Londen toegelaat en het in 1964 na Suid-Afrika teruggekeer. In 1984 het sy die status van prima pallerina assoluta verwerf, en in 1991 is ons land se hoogste burgerlike toekenning vir uitnemendheid, die Orde van Verdienstelikheid Goud, aan haar toegeken. Sy het ook ander hoë toekennings ontvang.

Phyllis Spira-Boyd, wat in 1986 in Kaapstad met Philip Boyd getrou het, het in 1988 opgehou dans, maar tot 1999 aangehou om dansers te onderrig en haar pligte as hoofballetmeesteres na te kom. In 2004 was die land geskok om te verneem dat ook sy ’n slagoffer van misdaad geword het toe twee tiener-rowers haar buite ’n danssaal in Guguletu aangeval het. Sy het met ’n meswond in haar hand daarvan afgekom.

Nadat sy in Augustus 2007 haar voet in Londen beseer het, het me. Spira-Boyd ’n reeks operasies aan altwee haar bene ondergaan. Sy is die volgende jaar in ’n Kaapse hospitaal oorlede nadat komplikasies ingetree het. Sy was in haar sestigs.
 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad