John Logie Baird
Baanbreker van televisie
  
  Plus die basiese beginsels van hoe TV werk 

John Logie Baird (1888-1946)Ons kan nie sê dat een spesifieke persoon televisie uitgevind het nie omdat verskeie mense tot die ontwikkeling daarvan bygedra Een van die eerste foto’s, sover bekend, van ’n bewegende beeld wat deur Baird se “televisor” geskep is (nagenoeg in 1926) het. John Logie Baird was egter een van die besliste baanbrekers op die gebied  van beeldradio. Op 2 Oktober 1925 het hierdie Skotse ingenieur die besoekers in ’n Londense winkel vermaak deur die beeld van ’n buikspreek-pop te beeldsend. Die opgewonde Skot in sy laat jare dertig was self so ingenome met die duidelike beeld dat hy ’n kantoorseun voor sy kamera laat plaasneem het—en vir die eerste keer ooit het die afbeelding van ’n mens op ’n televisieskerm verskyn. Die uitvinder was gou beroemd. En tog is hy ’n aantal jare daarna oorlede sonder dat hy die multimiljoenêr geword het wat ’n mens sou verwag het. Lees hieronder van Baird se prestasie en uiteindelike teleurstelling—en ook kortliks hoe televisie werk...  

Baird en sy “mankoliekige affêre”

BO: Dat ’n beeld oorgesein kon word, was al verstommend genoeg. Dat dit met só ’n mankoliekige affêre gedoen kon word, het vir waarnemers gegrens aan ’n wonderwerk.

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

IMPORTANT NOTICE: The pictures on these pages are presumed to be copyright free, due to the fact that there seems to be miriads of them on the web and it would seem fruitless to trace copyright holders, if there are any. Because of their historical context and orginating from the early part of the twentieth century, one would also be inclined to presume that they are in the public domain. If anyone would however claim copyright to any of them, he or she should please contact dugeot@mieliestronk.com so that the matter can be settled amicably. In the light of this other webmasters should please refrain from making copies of pictures on this page and using them on their own pages. We do not want the perpetuation of any possible infringement!

N

EEM ’n handvol radiobuise, die motor van ’n ou elektriese waaier, ’n fietslig en ’n ouderwetse draadlose telegraaf. Voeg ’n teekis, ’n beskuitblik, ’n hoedeboks en ’n klompie breipenne daarby. Wend ’n bietjie gom en seëlwaks aan en hou alles in hul plek met lyn. Wat se affêre het jy daar?

“Nagmerrie-
spinnerak van improvisasies”

DIE redakteur van Discovery Magazine se destydse indrukke van Baird se eerste televisiestel:
"Ek het ’n demonstrasie van mnr. Baird se apparaat bygewoon en die resultate het my baie beïndruk. Sy masjinerie is egter verbasend kru en die apparaat is meestal uit weggooi-goeters opgebou. Die optiese stelsel bestaan uit lense van fietslampe. Die raamwerk is ’n onindrukwekkende montasie van ou suikerbokse en die kragbedrading is ’n nagmerrie-spinnerak van improvisasies. Die uitsonderlike wonderwerk is dat hy hoegenaamd in staat was om ’n resultaat te behaal met al die snuisterye tot sy beskikking."

Die meeste mense sal sê dis net ’n klomp rommel. Maar John Logie Baird, die platsak seun van ’n Skotse predikant, het hierdie konkoksie gebruik om die wêreld se eerste televisiestel te bou.

Baird is op 13 Augustus 1888 in Helensburgh, Skotland, gebore. Hy was in drie skole, maar het hulle almal gehaat en bra swak gepresteer. Daarna het hy ingenieur geword en by ’n elektriese firma werk gekry. Maar hy het hierdie werk ook verfoei en op 26-jarige leeftyd alles opgeskop, vasbeslote om nooit weer vir ie­mand anders te werk nie.

Baird se vrou, MargaretLINKS: Baird se vrou, Margaret. 

Hy beproef sy geluk met allerhande skemas om gou ryk te word, onder meer die maak van kunsdiamante. Hy emigreer na Trinidad en begin ’n konfytfabriek. Terug in Brittanje verkoop hy kunsmis en seep. Maar alles waaraan hy sy hand waag, misluk hopeloos.

Toe Baird 35 jaar oud is, kry hy egter sy heel grootste ingewing—’n inspirasie wat die lewe van mense regoor die wêreld ingrypend sou verander. Hy woon destyds by ’n vriend in Hastings, Oos-Sussex, en gaan stap op ’n dag ’n ent langs die hoë kranse by die see.

Soos dit moes gebeur, is die BBC (British Broadcasting Corporation) die vorige jaar gestig. Baird dink aan hul radio-uitsendings en kry skielik die idee om "per draadloos te sien". Teen die einde van sy wandeling het hy vir homself uitgewerk presies hoe draadlose golwe gebruik kan word om beelde te stuur.

Inderhaas gaan vergaar hy stukke en brokke van rommelwerwe om sy proef te doen. Hy gaan terug na sy vriend se huis toe, waar hy aan die werk spring.

Nou moet ’n mens eers verstaan wat die beginsel van televisie is. Daarvolgens word ’n ligbeeld (bv. van ’n mens of ’n boom) in talle klein ligdeeltjies opgedeel. Elkeen van hierdie deeltjies word dan omskep tot ’n elektriese impuls, uitgesein en in die televisiestel heromskep tot ’n ligbeeld.

Baird het ’n eenvoudige draaiende skyf met gaatjies daarin, asook ’n ligbron, gebruik om ’n kruis te "skandeer" en ’n flikkerende skaduwee van die kruis op ’n wit laken laat verskyn.

Baird besef dat hy hiermee iets groots beet het. Al wat hy nou moet doen, is om die geld te kry om sy proewe te verfyn. In briewe aan koerante stel hy sy saak. ’n Draadlooshandelaar stem in om hom 200 pond te gee in ruil vir ’n aandeel in sy uitvindsel—onbillik, maar beter as niks vir Baird.

Hy huur verblyf in Hastings en koop geskikte toerusting. Dag en nag werk hy en eindelik begin hy resultate kry. Eendag skok hy hom egter byna dood. Die senuweeagtige huisbaas beveel hom om te trap.

Hierna huur die ongelukkige uitvinder ’n solderkamer in Soho, Londen, maar teen hierdie tyd is sy geld ook al gedaan en kan hy nie meer met sy eksperimente voort­gaan nie.

Gelukkig vir hom hoor Cordon Selfridge, die baas van ’n beroem­de Londense winkel, van sy werk en neem hom in diens om daaglikse vertonings in sy winkel te gee.

Die geld en publisiteit stel Baird in staat om die nodige toerusting te koop om die gehalte van sy beelde te verbeter. Nog geld stroom in en kort voor lank kan hy ’n maatskappy stig en sy eie span ingenieurs en wetenskaplikes in diens neem.

Dit is in hierdie tyd, in Oktober 1925, dat Baird sy beroemde beeldsending van die buikspreek-pop en die kantoorseun William Taynton doen.

Kort daarna, op 27 Januarie 1926, bied hy die wêreld se eerste suksesvolle openbare demonstrasie van ware televisie aan. (Met ware televisie word hier die direkte uitsending en ontvangs van beelde bedoel, sonder die gebruikmaking van drade.)

Baird word oornag beroemd en word oorval met aanbiedings van geldelike hulp om sy toerusting te verbeter. Drie jaar later oorreed hy die BBC tot ’n daaglikse beeldsenddiens in swart-wit. Dit lyk of hy bestem is om skatryk te word. Maar toe kom die teëspoed.

Twee ander Britse maatskappye—die Marconi Company en Electrical Musical Instruments (EMI)—het saam begin eksperimenteer met ’n elektroniese televisiestelsel. Dié is duidelik beter as Baird se meganiese stelsel, want die definisie van die beelde is baie skerper.

In 1937 beproef die BBC albei stelsels, maar aanvaar dié van Marconi en EMI. Baird is verpletter.

Hy bly bitter—en glad nie so vermoënd as wat ’n mens sou verwag het nie—totdat hy nege jaar later sterf.

Baird en sy “spinnerakke” Die "televisor”... nou net ’n museumstuk, maar destyds was dit die begin van groot dinge

  
LINKS BO: Baird en sy “spinnerakke”. REGS BO: Die "televisor”... nou net ’n museumstuk, maar destyds was dit die begin van groot dinge.

Paul Nipkow J.L. Baird was nie die eerste nie...

REGS: Paul Nipkow (1860- 1940).

   Baird was die eerste mens wat ’n beeld deur middel van meganiese televisie oorgesein het, maar hy was nie die eerste wat aan dié konsep gedink het nie. Een van die eerste voorstelle vir ’n meganiese televisiestelsel is in 1883 deur die Duitse navorser Paul Nipkow gedoen. Nipkow het ’n patent geregistreer toe hy ’n onbekende 23-jarige student was wat in Berlyn gewoon het. Hy het egter nooit die apparaat gebou wat hy in die patent beskryf het nie.

Hoe TV werk: die basiese beginsels

DIE taak van ’n televisiestel is om die elektroniese seine wat deur TV-kameras en mikrofone geskep word, weer in beelde en klank te omskep. Die TV se antenne ontvang die seine van die uitsaai-antennes en hulle gaan dan per kabel na die antenne­sok agter in die TV.

Wanneer jy die stel aanskakel, word klank- en beeldseine geskei. Die klank word na die TV se luidspreker gestuur. Die beeldsein word na die beeldbuis gestuur, wat dit omskakel in die beelde wat jy op die skerm sien.

Hoe die beeldbuis werk

   Wanneer die beeldsein van die klanksein geskei is, word dit in drie aparte kleurseine opgebreek—rooi, blou en groen. Die TV se beeldbuis skakel hierdie elektriese seine weer om in lig op die skerm.

   Agter in die beeldbuis is drie elektronkanonne wat elektronstrale na die skerm skiet. Elektrone is dele van atome. Alle atome het ’n kern in die middel met elektrone wat daarom wentel. Die hoeveelheid elektrisiteit wat elke kanon verlaat, word bepaal deur die sterkte van die oorspronklike sein.

   Die skerm is die voorkant van die beeldbuis. Dit word bedek deur klein strepies of kolletjies van ’n chemikalie wat fosfor genoem word. Drie verskillende soorte fosfor word gebruik. Een gloei rooi wanneer elektrone dit tref, ’n ander groen en die derde blou.

   ’n Sterk elektronstraal laat die fosfor helder gloei en ’n swak straal sorg vir ’n dowwe gloed. Die strale word een vir een op elk van die stelle van drie fosforkolletjies of -strepies gerig; die beginpunt is in die hoek links bo, waarna dwars en ondertoe oor die skerm beweeg word.

   Agter die skerm is ’n metaalplaat met duisende klein gaatjies daarin. Dit word ’n skadumasker genoem. Daar is een gaatjie vir elke drie kolletjies fosfor op die skerm. Die masker is so geplaas dat elk van die elektronstrale slegs die regte soort fosfor kan tref: die rooi straal die rooi fosfor, ensovoorts.

Die oë word gekul

AS jy ’n TV-skerm ontleed, sien jy dat die beeld uit talle horisontale lyne bestaan. Hierdie lyne is saamgestel uit klein kolletjies of strepies fosfor, wat rooi, blou of groen gloei na gelang van die uitsaaisein. Die meeste skerms het meer as ’n miljoen sulke kolletjies. Die drie kleure vermeng om jou al die realistiese kleure op die skerm te laat sien.

Die beeld word eintlik opgebou met slegs een kolletjie op ’n slag. Alle kolletjies verlig en verdof om die beurt langs een lyn, en lyn vir lyn afwaarts op die skerm. Dit gebeur so vinnig dat dit lyk of elke kolletjie op die skerm gedurig verlig is en jy sien dus ’n volledige beeld.

Bewegende beelde

HOEWEL dit lyk of ’n TV-stel bewegende beelde het, is dit in werklikheid ’n reeks stilstaande beelde wat kort ná mekaar geflits word. Enige beeld wat die brein ontvang, verdof eers ná ’n tiende van ’n sekonde. ’n Mens kan dus dadelik sien, maar nie dadelik ophou sien nie. TV-stasies beeldsend teen 24 of 25 raampies per sekonde, wat vir ons die illusie van aanhoudende, lewensgetroue beweging skep.

Rolprentfilm werk op ’n soortgelyke manier en word teen 24 raampies per sekonde vertoon, ’n Mens kan werklik die afsonderlike stil beelde op só ’n strook film sien. Elke raampie lyk so ’n ietsie anders as die ander langsaan.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad