Nuttige uitvindsels
 

Die verhaal van sanitasie, verhitting en beligting

 
Sanitasie, verhitting, beligting

Om ’n skoon liggaam te hê is vandag si­noniem met be­skaafd­heid. Tot be­trek­lik on­langs nog het mense in die Wes­terse wê­reld hulle egter weinig aan sulke sin­delikhede gesteur. Lees hier­onder hoe die bad­kamer ’n uiters nood­saak­like deel van die mo­der­ne huis geword het... en ver­ken daar­na die ont­wikke­ling van ver­hit­ting en belig­ting...
 

 

 

 

’n Tradisionele bad uit die negentiende eeu

BO: ’n Tradisionele bad uit die negentiende eeu.

  

Gewysigde weergawe van ’n foto deur Georges Jansoone (JoJan),

 

wat die oorspronklike op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution 3.0 Unported-lisensie, waarvolgens hergebruik en wysigings op sekere voorwaardes vergun word

Lees ook:
•  Uitvindsels in die huis
•  Uitvindsels van die afgelope honderd jaar of wat

D

IS in die middel van die winter en die weer is snerpend koud. Jy kom tuis, skakel die ligte aan, aktiveer die waaier-verwarmer, tap vir jou ’n bad vol stomende water en lê geluksalig in die loute. Kort voor lank voel jy heerlik warm. A-a-a... die vreugdes van die moderne lewe!

Maar ’n eeu of wat gelede sou mense hulle kwalik só ’n toneel kon indink. Waar het dit dan alles begin?

Baddens

EEN van die eerste baddens wat gebruik is (sover bekend), is ’n groot 5000 jaar oue openbare bad by Mohenjo-daro in die Indusriviervallei in Pakistan. Dit kon vir geestelike reiniging of ander godsdienstige plegtighede gebruik gewees het.


Mohenjo-daro

BO: Mohenjo-daro, 25 km suidwes van Larkana, Pakistan. Hier was, sover ons weet, een van die eerste openbare baddens, ’n reghoek van twaalf by sewe meter en versink tot ’n diepte van byna twee en ’n halwe meter. Die bad self en sy omgewing is baie sorgvuldig met bakstene gebou en uitgelê. Gips sowel as teer is gebruik om lekkasie van die water uit die bad te help voorkom.

 

Foto deur “Ghanghro”, wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Baie private wonings daar het ook badkamers gehad, nogal met lopende water uit terracotta-pype. Die oorblyfsels van baddens is eweneens in die bouvalle van etlike ander beskawings gevind, waaronder dié van die Babiloniërs, Hebreërs, Egiptenare, Minoërs en Grieke.

Die Romeine het openbare baaiery tot ’n uiterste gevoer, met ander ontspanningsgeriewe daaromheen soos biblioteke, winkels, oefenkamers, plekke vir die lees van gedigte, teaters en tuine.

 

’n Ou Romeinse openbare bad by Bath in Engeland

BO: ’n Ou Romeinse openbare bad by Bath in Engeland.

Foto deur “Tonywieczorek”,

wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)
 

Ná die val van die Romeinse ryk in die 400’s n.C., het die gebruik om te bad vinnig verdwyn en regdeur die Middeleeue ’n seldsaamheid gebly. Mense het nie die verband tussen skoonwees en gesondheid begryp nie en dus nie gereken dis nodig dat hulle hulself moet was nie.

Op die koop toe het die Christelike kerk van destyds dit as verkeerd beskou om die vlees te vertroetel. Waar openbare baddens wel in die laat Middeleeue hul verskyning in Europa gemaak het, is hulle as sondige plekke beskou. Dokters het ook openbare baaiery afgekeur omdat hulle geglo het dit help siektes versprei. Hulle was waarskynlik heeltemal reg, want die geriewe was dikwels smerig. Slegs lede van die koningshuise het ’’gereeld’’ twee of drie keer per jaar gebad.

In die begin van die 1800’s het feitlik geen sanitêre pypwerke in die Westerse wêreld bestaan nie. Stadsmense het wel gebad, maar ook maar net af en toe. Plattelanders moes hul water uit putte of pompe kry, en om te bad is doodeenvoudig as te veel inspanning beskou.
 
In 1832 is Londen egter deur ’n besonder ernstige cholera-epidemie getref. Die owerheid het besef voorsiening moes vir openbare baddens en washuise gemaak word. En van omstreeks dié tyd af was Brittanje ’n wêreldleier in die ontwerp en vervaardiging van sanitêre pypwerke en toebehore wat vandag so ’n integrerende deel van ons huise is.
 
Eers is met koue water gebad of met water wat in die kombuisvuur of op die stoof verwarm is. Die water is dan na die bad toe aangedra. Baie baddens was bedek of soos rusbanke gevorm, omdat ’n bad in die reël as vulgêr beskou is.
 
Een ontwerp, die sitbad, was so beknop dat die een wat die bad geneem het die bene onder die ken moes optrek of hulle oor die kant moes laat hang. Nog ’n soort bad het die vorm van ’n reuse-skoen gehad.

 

Die praktyk om ’n stort ter wille van persoonlike higiëne te gebruik, het ten minste reeds in 300 v.C. in die tyd van die ou Grieke bestaan. In die middel van die 1800’s n.C. het die eerste stort van die moderne tyd egter op die mark verskyn. Dit het bestaan uit ’n klein metaalbadjie met ’n hoë metaalraam wat ’n watertenk daarbokant gestut het. ’n Stort is aan die watertenk gekoppel. Water is met die hand in ’n pyp van die bad af opwaarts gepomp en herbenut.

 

Neerstralende water in ’n stort

REGS: Neerstralende water in ’n stort.

 

Foto: U.S. General Services Administration
 

 

Teen omstreeks dieselfde tyd is begin om baddens te verkoop wat hul eie waterverwarmer gehad het. In 1868 het Benjamin Maughan die eerste warmwatertoestelle ontwerp wat met gas gewerk het. Hoewel hulle maklik ontplof het wanneer hulle nie reg gebruik is nie, was hulle die eerste toestelle wat lopende water verhit het. Hulle is later veiliger gemaak.

Die ontwikkeling van warmwatertoestelle het tot groter baddens gelei, soos die vollengte-gietysterbad, wat in die 1880’s sy verskyning gemaak het.


Teen die einde van die 1880’s, namate bad ál aanvaarbaarder geword het, het die bad en wasskottel as nederige slaapkamermeubels ’n hoër status verwerf deur ’n eie kamer te kry. Só het die idee vir ’n afsonderlike badkamer sy beslag gekry.

 

Ysterbad wat met emalje bedek is

BO: Die ysterbad wat met emalje bedek is, het soveel status verwerf dat dit sy eie kamer in die huis gekry het: die badkamer.

Foto: Riverside, California, USA

 


 

Ou Romeine se openbare toiletbanke

BO Hoe druk die Romeine, sit-sit so... Of nie eintlik nie, want die burgers van ou Rome sou nie plat op hierdie openbare toiletbanke gesit het nie, maar bo-op geklim en die nodige in ’n hurkende posisie gedoen het. Ware sitbanke in toilette het maar eers in die middel van die negentiende eeu algemeen in gebruik gekom in die Westerse wêreld. Die toiletbanke op hierdie foto is deel van die vondste van opgrawings in Ostia Antica, wat in toeka se dae die hawestad  van Rome was. Dié hoofstad van die huidige Italië lê sowat dertig kilometer noordoos van die historiese Ostia Antica.

Detail van ’n foto deur Fubar Obfusco,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Toilette

DIE verwydering van afvalwater uit huise was duisende jare gelede ook al ’n hoogs ontwikkelde praktyk in verskeie antieke beskawings. In die Middeleeue het ’n paar groot dorpe wel dreineringstelsels gehad, maar dié het eintlik meer kwaad as goed gedoen. Die besoedelde water het naamlik in riviere beland wat drinkwater verskaf het.

Totdat die spoellatrine uitgevind is, het toilette bestaan uit ’n sitplek bokant ’n emmer of ’n vuilput in die grond. Baie ouer Suid-Afrikaners sal nog onthou hoe die sogenaamde nagvuil snags in emmers met waens verwyder is—of hoe diep gate tot op dorpserwe vir die  “gemakshuisies’’ of “kleinhuisies” gegrawe is. Wanneer die gat met verloop van jare te vol geraak het, is verder met grond opgevul, die huisie verskuif en oor ’n nuwe gat staan gemaak.

 

Terloops, dit was ’n hele gedoente wanneer, sê, ’n hoender ongenooid in die huisie ingespring en per ongeluk in die “long drop” afgeval het. Dan moes die vieslike voël maar daaronder doodgeskiet word of so iets, want min mense het kans gesien vir die taak om af te gaan en dit te gaan uithaal.

 

’n Tipiese ruwe buitetoilet

BO: ’n Tipiese buitetoilet, soos dit veral in vanmelewe se dae gelyk het. Die bankie met die “bril” kon bo-oor 'n emmer staan wat kort-kort van agter uit die huisie verwyder en deur ’n skoon emmer vervang is. Vol emmers is deur nagwa-ryers weggekarwei en elders leeggemaak. So nie het die huisie sommer bo-op ’n gat in die grond gehurk—die sogenaamde “long drop”.

 

Gewysigde weergawe van ’n  foto deur © Andrew Dunn,
wat die oorspronklike op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0-lisensie


Hier te lande het die doenighede rondom die buitetoilet miskien nog betreklik sindelik daaraan toegegaan, maar elders ter wêreld was dit nie oral so nie. Só is afvalmateriaal plek-plek in plattelandse gebiede as bemesting oor die grond gestrooi, terwyl emmers in stede dikwels in die strate uitgegooi is, wat gereeld tot siektes gelei het.

SpoeltoiletDie idee van ’n spoelgemak is teen die einde van die 1500’s bedink. Sir John Harrington, ’n kleurryke Engelse howeling en peetkind van Elizabeth I, het ’n ruwe toestel ontwerp wat hy in sy tuiste naby die dorp Bath geïnstalleer het. Maar ’n uitgebreide pypwerk was nodig en die idee het nie juis aftrek gekry nie.

Harrington se waterlatrine was sy tyd ver vooruit, en dit was eers twee eeue later, in 1775, dat ’n verbeterde weergawe deur die Londense horlosiemaker Alexander Cummings op die toneel verskyn het. Nog verbeterings is in 1778 deur die Engelse skrynwerker Joseph Bramah aangebring.

Toilette is in die eerste helfte van die 1800’s ál meer in rykmanshuise geïnstalleer en allerhande ontwerpe het op die mark verskyn. Maar die spoelsels het meestal in vuilputte beland, wat dikwels uitgelek of oorgeloop en kieme laat versprei het. Nog baie jare sou verloop voordat vuilputte deur moderne vuilriole vervang is.

 


 

Caldarium

BO: Die caldarium van die Romeinse openbare baddens by Bath, England. 'n Caldarium was ’n stomende vertrek met ondervloerse verhitting, die warmste in die reeks badvertrekke in ’n Romeinse badkompleks. Die vloer is hier verwyder om die leë ruimte te toon waardeur warm lug gevloei het om die vloerteëls te verhit. Die lug is deur ’n stookoond (ook onder die vloer) verwarm.

Foto deur Akajune,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie, waarvolgens hergebruik en wysigings op sekere voorwaardes vergun word

 

Verhitting

IN die voortyd het mense in koue, donker plekke gewoon, veral in die winter. Die eerste vorms van binnenshuise verwarming was vure binne-in grotte of skuiltes. Die antieke Romeine het ’n merkwaardig gevorderde stelsel van sentrale verwarming teen koue ontwerp. Hitte van ’n oond onder die vloer is deur pype in die mure van die huis gesirkuleer.

Die praktyk om verskeie kamers met net een vuur te verhit, het in die vergetelheid verval ná die val van die Romeinse ryk. Trouens, deur die Middeleeue heen was die enigste vorm van verhitting ’n groot vuur in die middel van die kamer. Vuurherde met skoorstene waardeur die rook kon ontsnap, was die volgende stap, gevolg deur stowe.

Maar geen alternatief vir hout- of steenkoolvure of stowe is uitgevind voor die 1850’s nie, toe die eerste doeltreffende gasvuur, wat op die beginsel van die bunsenbrander gegrond is, sy verskyning gemaak het. In gasvure is lug onder die vlam ingetrek sodat die vuur warmer as gewoonlik gebrand het.

KragverwarmerElektriese verhitting het in die 1890’s beskikbaar geword. In die vroeë modelle is ’n plat ysterplaat aan die binnekant verhit deur drade waardeur ’n elektriese stroom gevloei het. Die gebruik van nikkel-chroomdrade sedert 1912 het elektriese verhitting baie verbeter.

In 1937 is tafelwaaiers met elektriese verhitters daarby in Amerika verkoop. Die waaiers het lug deur die verhitters in die kamer ingeblaas. Die moderne waaierverhitter wat ons vandag in baie huise kry, is in 1958 deur dr. Bruno Eck in Duitsland ontwerp. Baie huise, skole, kantore en fabrieke in koue lande het vandag sentraleverwarmingstelsels. Hitte word op een plek opgewek en dan in die verskillende kamers versprei.
 


 

Beligting

IN die tyd voor kunsmatige beligting het mense gewoonlik gaan slaap wanneer dit donker geword het en teen dagbreek opgestaan. Maar reeds in die Steentyd kon mense die dag ná sononder verleng deur diervet in skulpe of uitgeholde klippe te laat brand.

ErdelampDie antieke Perse en Egiptenare het erdelampe gebruik waarin olyf- of raapolie laat brand is deur middel van ’n pit wat van plantvesels gemaak is. Die Grieke en Romeine het soortgelyke lampe van klei of brons gebruik, met pitte van linne of papirus.

Kerse is sowat 2000 jaar gelede vir die eerste keer gebruik. Katoen- of vlasdrade is met skaap- of varkvet bedek. Vetkerse was stink en rokerig en het gou en oneweredig gesmelt. Tog het die vetkers eeue der eeue lank sy plek in baie huise vol gestaan—ook in Suid-Afrika, waar die geroemde opsitkers aanvanklik ’n vetkers moet gewees het.

In die Middeleeue het biesieligte in ons Europese stamlande snags ’n flou, flikkerende skynsel verskaf. Biesieligte was gedraaide biesies wat in vet gedoop is.

Deur die jare is geringe verbeterings aangebring, waaronder die gebruik van byewas en paraffienwas (gedistilleer uit ru-olie) vir kerse en die toevoeging van weerkaatsers om die lig van lampe te versprei of te konsentreer.

Ná die ontdekking in 1859 van groot neerslae ru-olie in Pennsilvanië in Amerika, het paraffienolielampe vir huisverligting gewild geraak. Hulle was immers betreklik veilig, maklik om te hanteer en het ’n bestendige lig verskaf sonder dat hulle té sleg geruik het.

Maar niks het die lewenswyse van mense so verander as die koms van gasligte in die 1800’s nie.

 

GaslampLINKS: ’n Gaslamp vir buiteverligting in die geskiedkundige sentrum van Wroclaw in Pole. Dit word elke aand manueel aangesteek en elke oggend ook weer deur iemand geblus.

 

Detail van ’n foto deur “Julo”,

wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)
 

 

Die eerste gaslampe was onwelriekend en vuil en het slegs ’n beskeie lig afgegee, maar gasverligting het baie verbeter nadat Carl Auer, ’n student van die Duitse wetenskaplike Robert von Bunsen, die gasmantel uitgevind het.

Die mantel, ’n soort gaas wat om die vlam geplaas is, het die vlam witwarm laat gloei en meer lig laat maak. Dit het huise helderder verlig en die strate snags veiliger gemaak.

 

Die mantel in ’n ou gaslampREGS: Die mantel in ’n ou gaslamp.

 

Gasverligting sou waarskynlik selfs verder ontwikkel het, maar teen die laat 1800’s het ’n skoner, nog helderder soort beligting sy verskyning gemaak: die elektriese lamp. Verskeie elektriese lampe is in die loop van die 1800’s gemaak, maar geeneen was werklik prakties nie, totdat die Engelse wetenskaplike Joseph Swan en die Amerikaanse uitvinder Thomas Edison onderskeidelik in 1878 en 1879 met doeltreffende elektriese lampe vorendag gekom het.

GloeilampElektriese verligting het in die vroeë 1900’s posgevat en in ’n groot mate ander vorms van verligting oor die wêreld heen vervang, hoewel olie- en gaslampe in sekere lande die vernaamste ligverskaffers sou bly.
 


 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad