Die unieke diere van Australië

Muise, monsters en “husse”

Dis verstommende, unieke diere wat “Doer Onder” op die eiland-kontinent Australië hul eie stryd voer om te oor­lewe... in die ongenaakbare woestyn of teen vyandelike in­dringers in hul ander, brose hougebiede...

’n Bilby

BO: Een van die husse met lang ore? Nee, hierdie rare wesentjie is ’n bilby (Macrotis lagotis), die grootste van die Australiese buideldasse. Die yslike ore dien as geluidversterkers om gou te kan hoor indien roofvyan­de aankom. Hulle werk waarskynlik ook as verkoelers in die versengende woestynhitte, deurdat oortolllige liggaamswarmte na die ore herlei kan word—waar dit dan van die groot oppervlakke af weggestraal kan word.

Tersaaklike detail van hierdie foto deur Stephen Mitchell, wat dit by flickr op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0-lisensie

 
Van links is ’n grys kangaroe, ’n rooi kangaroe, ’n wallaroe en ’n wallaby

BO: Voorbeelde van die vier hoofsoorte kangaroe-agtige diere van Australië. Van links is ’n grys kangaroe, ’n rooi kangaroe, ’n wallaroe en ’n wallaby.

Klein weergawes van veel groter foto’s op die wêreldwye web:    Grys kangaroe deur SeanMack, by Wikimedia Commons gelisensieer ingevolge die Creative Commons Attribution 2.5-lisensie    Rooi kangaroe deur Fir0002/Flagstaffotos, by Wikimedia Commons gelisensieer ingevolge die GNU Free Documentation License, slegs Weergawe 1.2 soos gepubliseer deur die Free Software Foundation  Wallaroe deur Peter Firminger, by flickr gelisensieer ingevolge die Creative Commons Attribution 2.0-lisensie    Wallaby deur benjamint444, by Wikimedia Commons gelisensieer ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word.
  


A

LLES wat blink is nie goud nie, lui die spreekwoord, en, nou ja, in Australië is alles wat spring ook nie kangaroes nie! In hierdie uitsonderlike wêrelddeel is daar in der waarheid vier hoofsoorte kangaroe-agtige diere, te wete die rooi kangaroe, grys kangaroe, wallaby en wallaroe.

Die wallaroe, wat ook die euro genoem word, is wat sy grootte betref so halfpad tussen ’n kangaroe en ’n wallaby en is ’n soort uit eie reg.

Maar waar kom die naam kangaroe vir die wêreld se bekendste hoppers nou eintlik vandaan? Volgens oorlewering het dit uit ’n misverstand ontstaan. Toe die eerste Europese ontdekkingsreisigers dié eienaardige diere gesien het, só lui die verhaal, sou hulle aan die Australiese inboorlinge gevra watter soort rare springers dit dan nou is. En die inboorlinge sou geantwoord het: “Kangaroe”, wat eintlik beteken: “Ek verstaan jou nie.” Die ontdekkingsreisigers sou gedink het dis hoe die diere genoem word—en die naam het bly steek!

Nog wêreldbekende rariteite van Australië is die eendbekdier of voëlbekdier en die mier-egel of ekidna, wat soogdiere is wat eiers lê. En dan is daar boonop die teddiebeer-agtige koala, ’n buideldier wat van bloekomblare leef. (Kyk die foto van ’n koala in die Mieliestronk-artikel oor Australië.)

’n Eendbekdier

’n Mierystervark

’n Eendbekdier (BO) en ’n mier-egel of ekidna—rare Australiese soogdiere wat eiers lê. Die eendbekdier het ’n snawel wat soos dié van ’n eend lyk, terwyl die ekidna ’n mens aan ’n ystervark of ’n krimpvarkie laat dink.

Foto van Ekidna: Kopiereg © Ester Inbar
Die kopiereghouer vergun vrye gebruik vir enige doel op voorwaarde dat die bron behoorlik erken word


Maar die bekende Australiese diere wat hierbo genoem is, laat ’n mens baiemaal vergeet dat daar nog talle ander eienaardighede in die dierewêreld op die eiland-kontinent is. Só is daar ’n propperse doring van ’n Australiese miervreter, wat hulle die doringduiwel of molog noem (Eng.: thorny devil; moloch). Maar ou Moloch horridus behoort darem nie rêrig ’n duiwel genoem te word nie. Die waarheid is dat hy ’n stadig bewegende, onskadelike reptiel is wat slegs van miere leef—en baie van hulle.

Die Australiese doringduiwelREGS: Die Australiese doringduiwel lyk na ’n monster in die klassieke sin van die woord.
Maar ondanks sy vreeslike voorkoms en skikwekkende naam, is hy niks anders as ’n doodsedige ou miervreter nie.

Foto: Louis Barbier / Nightglow / GSFC / NASA
 

Daar word geraam dat hy van seshonderd tot 3000 miere in ’n enkele maaltyd kan wegbêre. Doringduiwels word wyd verspreid in Australië se binnelandse woestyn aangetref.

En dan is daar die emoe, Dromaius novaehollandiae, die nasionale voël van Australië. Hy is die wêreld se naasgrootste lewende voël (net ons eie volstruis is groter). Die emoe is ’n vinnige hardloper en ’n kragtige swemmer, maar hy kan nie vlieg nie. Die wyfie lê van sewe tot twaalf eiers in ’n holte in die grond.

Die mannetjie jaag dan die wyfie van die nes af weg en gaan sit alte besitlik alleen op die eiers. Daar bly hy totdat sy kroos ná sowat agt weke uitbroei. Die mannetjie sien nog sowat ses tot nege maande lank na die kuikens om totdat hulle vir hulself kan sorg. (Kyk die foto’s van die Australiese emoe in Mieliestronk se artikel oor ons eie volstruis.)

Nog ’n interessante Australiese dier wat hier vermelding verdien, is die spinifex-springmuis, Notomys alexis (Eng.: spinifex hopping mouse). Dié springmuis word in die droë, sanderige Midde-Australië aangetref tussen die sogenaamde “spinifex”, ’n soort Australiese stekelgras. Hierdie diertjies is naglopers wat bedags in kolonies van tot tien in gate van tot ’n meter diep skuil. Hoewel hulle as troeteldiere aangehou kan word, is hulle baie delikaat en moet hulle nie met die hande gehanteer word nie.

’n Spinifex-springmuis

BO: ’n Spinifex-springmuis aan die vreet.

Tersaaklike deel (rande weggesny) van ’n foto deur Derrick Coetzee,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)


Lede van Australië se groot familie van rot- of muisagtiges (Dasyuridae) kan egter ook venynig raak as ’n mens met hulle lol. En hoewel hulle dikwels buidelmuise genoem word, is dit ’n foutiewe benaming, want ware muise is hulle beslis nie. Die groep sluit ook groter diere in soos die sogenaamde quolls, wat so groot soos katte is, asook die Tasmaniese duiwel,
wat omtrent so groot soos ’n bonkige foksterriër word. (Kyk die foto van ’n Tasmaniese duiwel in die Mieliestronk-artikel oor Tasmanië.)

Die tier-quoll

BO: Die tier-quoll (Dasyurus maculatus) is een van Australië se grootste vleisvretende buideldiere, indien nie die grootste nie.

Foto: Sean McClean,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word
 

Baie van die buidelmuise verval in ’n soort verstywingsfase wanneer hul kos skaars raak. Minstens een soort, wat in droë streke hou, drink nie water nie, maar kry al sy nodige water van die liggaampies van sy prooi, byvoorbeeld sprinkane.

Die kowari (Dasyuroides byrnei) is nog ’n jagtende buidelmuis, en daar word vertel dat hy sy prooi soos ’n kat bekruip. Wanneer die kowari ’n groterige dier bespring, speel hy met hom klaar deur hom dadelik aan die nek te byt.

Die witvoet-dunnart (Antechinus leucopus = Sminthopsis leucopus)
is een van ’n hele string dunnart-spesies wat sowel in reënwoude as in die woestyn voorkom. Dunnarts is eweneens buideldiere. Hulle kan ontsettend vinnig aanteel—een wyfie kan tot tien kleintjies kry en dit drie, vier keer in ’n enkele jaar!

Dunnart en kowari

LINKS BO: Die witvoet-dunnart (Antechinus leucopus = Sminthopsis leucopus).
REGS BO: Die kowari (Dasyuroides byrnei), onder meer ook bekend as die kwasstert-buidelrot.

Illustrasie links bo: histories (“PD Old”)
Foto regs bo: tersaaklike deel (rande weggesny) van ’n foto deur
Kořínek Milan, wat dit wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word
 

Voorts is daar die bilby. Met sy yslike ore herinner dié Macrotis lagotis ’n mens aan ’n konyn, maar dit is juis onder meer aan ingevoerde konyne te wyte dat hy uit sy gate in die grond verdryf is en daar vandag so min van sy soort oor is. Omdat daar vermoedelik nog slegs ’n klompie honderd in die vrye natuur bestaan, teenoor moontlik derduisende ’n eeu of wat gelede, word gevrees dat die bilbies kan uitsterf.

Die bilby is die grootste van die Australiese buideldasse en word tot 55 cm lank met ’n stert van tot byna 30 cm. Die yslike ore dien as geluidversterkers om roofvyande gou te hoor en waarskynlik ook as verkoelers in die versengende woestynhitte. (Kyk die foto van ’n bilby in die begin van hierdie artikel.)

En in die amfibiese wêreld? Daar sal jy ’n padda vind wat sowaar ’n manel dra! In die binnelandse Australiese woestyn reën dit so selde dat die inheemse diere hul liggaamsvog op allerhande vernuftige maniere moet behou. Een van hulle is die waterhoudende padda Cyclorana platycephalus, wat hom niks dieper as 30 cm onder die sonverdorde grondoppervlak ingrawe nie, maar minstens twee jaar lank daar in ’n slaaptoestand kan oorlewe.

Daar verander sy vel in ’n membraan wat van die onderliggende vel losraak, en kort voor lank is die padda heeltemal bedek deur ’n los omhulsel, buiten by die baie klein buisies aan sy neusgate. Sodra deurdringende reën uitsak, word die ondergrondse paddas deur verhoogde grondvog gewek en beweeg hulle vinnig na die oppervlak vir ’n kortstondige sessie van feesvier en aanteel.

In die waterpoeletjies wat net vir ’n kort tydjie daar sal wees, haas die paddavissies hulle om volwassse te word op ’n dieet van mikroskopiese organismes, terwyl die volwasse paddas veral aan insekte smul.

Die waterhoudende padda

BO: Die waterhoudende padda (Cyclorana platycephala). Hier is ’n padda wat sowaar ’n manel dra... om sy liggaamsvog te bewaar in die kurkdroë en skroeiend warm woestyn.

Foto deur Tnarg 12345 (Grant van Sydney, Australië),
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word
 

Van insekte gepraat: goggatjies het oral baie vyande, maar die kruipende insekte van die Australië het min te vrees van een wonderbaarlike klein reptiel—nie omdat hy nie insekte vreet nie, maar omdat daar so jammerlik min van sy soort oorgebly het. Die rede? Slegs ’n baie klein deeltjie van Australië se eens wye, wuiwende grasvelde bestaan nog, en dié is die pigmee-bloutongakkedis (Tiliqua adelaidensis) se hougebied.

Die pigmee-bloutongakkedisREGS: Die pigmee-bloutongakkedis (Tiliqua adelaidensis).


Hierdie bloutongetjie het eenmaal verspreid in sekere dele en tot in die stad Adelaide in die suide voorgekom, maar in die vroeë jare sestig is gereken dat hy uitgesterf het. Toe, in 1992, is een binne-in ’n bruin slang gevind wat op ’n pad naby die dorp Burra doodgemaak was. Sedertdien is heelparty van hulle darem  opgespoor.

Verstommend genoeg woon pigmee-bloutongakkedisse in die gate van valdeur- of wolfspinnekoppe. Hulle is bedags bedrywig—al is hulle meestal leeglêers wat ewe lui-lui by hul gate in die son lê en bak om insekte voor te lê wat verbyloop.
 


Dingo, die hond wat oor die see na
Australië gekom het

’n DingoFoto: WPClipart Public Domain Images (gewysig)

DIE Australiese wildehond, die dingo (Canis lupus dingo), word dikwels as ’n uitheemse indringer in Australië beskou, al kan hy volgens navorsers reeds sowat 6000 jaar op hierdie reuse-eiland wees. Hy is blykbaar ’n mak hond wat weer wild geword het en nou reeds duisende jare lank in sy wilde toestand oorleef.

Die presiese oorsprong van die dingo is egter onseker. Dingo’s het moontlik in Australië beland saam met die wrakstukke van vergane vaartuie wat van Asië afkomstig was. Hulle toon immers baie ooreenkomste met mak honde van Suidoos-Asië, asook sekere honde van Indië.

Die Australiese inboorlinge het wel die dingo nuttig aangewend. Daar word vertel dat sekere van die inboorlinge die honde geleer het om reptiele en die groter soogdiere van Australië te jag.

Vandag is daar ’n sekere mate van kommer oor die voortbestaan van die “suiwer” dingo omdat so baie van hulle reeds met mak honde verbaster het.

•  Hoe gevaarlik is die dingo? In die jare tagtig van die twintigste eeu het die geval opspraak gewek van ’n baba van nege weke, ene Azaria Chamberlain, wat op ’n kampeeruitstappie by Ayers Rock (Uluru) in Australië verdwyn het. Haar ouers het aangevoer dat dingo’s haar uit hul tent gesteel het. Later is haar ma egter van moord aangekla, skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Maar nog later het die ontdekking van ’n stukkie van Azaria se klere in ’n gebied vol lêplekke van dingo’s daartoe gelei dat die ma uit die tronk vrygelaat is. Uiteindelik is sy vrygespreek van alle aanklagte teen haar. Betreklik onlangse gevaarlike dingo-aanvalle in ander dele van Australië versterk die moontlikheid dat Azaria wel deur dingo’s doodgemaak is. In 2001 is die negejarige Clinton Cage naby Waddy Point op Fraser Island, by die suidkus van Queensland, deur twee dingo’s aangeval en gedood.
 


Die blinde klein buks in die buidel

Kangaroe met kleintjie in die buidelIllustrasie: Karen’s Whimsy / Public Domain
Image (detail en gewysig)

WAT is ’n buidel en wat is ’n buideldier? Die woord buidel beteken ’n sak. Met buideldiere word soogdiere bedoel wat ’n sakvormige huidplooi aan die buitekant van hul liggame het waarin hulle hul kleintjies ronddra nadat dié totaal hulpeloos in die wêreld gekom het.

Die kleintjies drink ook ma se melk soos ander soogdiere, maar hulle doen dit terwyl hulle warmpies binne-in die sak sit. Ma se buidel bly ook vir hulle ’n veilige tuiste totdat hulle uiteindelik groot genoeg is om hul eie potjie te krap.

Australië en sy nabygeleë eilande is die koninkryk van die buideldiere, kreature wat dikwels vir ons bra vreemd kan lyk, veral vanweë daardie saamdraery van die kleintjies teen die pens. Dit is natuurlik omdat ons baie meer gewoond is aan “ordinêre” Afrika-diere soos ons wildsbokke, leeu, luiperd, olifant en baie ander. Afrika het geen inheemse buideldiere nie. Trouens, buite Australië en omstreke is daar slegs ’n paar buideldiersoorte in Asië, terwyl Amerika darem sy opossum het.

Eintlik word die kleintjies van die buideldiere “te vroeg gebore”, om dit so te stel. Selfs by die grootste kangaroe,  die rooi kangaroe, verskyn die pasgeborene slegs 33 dae ná bevrugting en is hy feitlik nog ’n fetus. Hy is blind, kaal en weerloos, en hy kan ’n ruk lank glad nie weg van sy ma bestaan nie.

En praat van petieterig! Die swak en beteuterde pasgebore kleintjie van die opossum, ’n buideldier nagenoeg so groot soos ’n huiskat, is selfs kleiner as ’n heuningby. Die kleintjie van die reuse-kangaroe van meer as een en ’n halwe meter hoog, is op sy beurt miskien net ’n bietjie langer as die voorste lit van ’n man se duim. Die Australiërs noem ’n buideldier-kleintjie ’n “joey”.

Sodra ’n kangaroe-kleintjie gebore is, word hy sagkens deur sy ma in die buidel ingestoot, want hy is heeltemal te swak om self daarin te klouter. In die buidel kry hy ’n speen beet en sy bekkie smelt so te sê daaraan vas. Gestadig voed die melk die knapie terwyl hy aan die speen hang, en só lewe hy byna agt maande lank knus en gekoester in die buidel.

Dan gaan die suigende bekkie oop, asook die ogies, en nou kan meneertjie dan en wan sy koppie by die sak uitsteek en loer wat in die buitewêreld aan die gang is. Mettertyd verlaat hy die buidel vir rukkies om al sukkelende agter sy ma aan te spring en so bietjies-bietjies aan die groenigheidjies om hom te proe. Sodra enigiets hom ontstel, klim hy egter weer vinnig in die buidel in. En uiteindelik is hy groot genoeg om die buidel vir die laaste keer te verlaat en die wêreld aan te durf.

Uit die buidel en tussen die bondel... daar hop ’n splinternuwe springhaasagtige dingetjie die groot lewe op die Australiese landskap tegemoet!

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad