Die buitenste ruimte


Asteroïdes, komete, meteoorstene en tussenplanetêre stof en gas


Benewens die son en die planete wat om die son wentel—en die planete se mane wat om die planete self draai—bestaan die sonnestelsel ook nog uit asteroïdes, komete en meteoorstene, asook tussenplanetêre stof (Engels "dust") en gas... 


ASTEROïDES

DAAR is ’n groot menigte rotsagtige en metaalagtige voorwerpe wat wel om die son draai, maar te klein is om as volwaardige planete beskou te word. Hierdie voorwerpe word asteroïdes of kleiner planete genoem. Hulle kom veral tussen die bane van die planete Mars en Jupiter voor. Daar kan tot meer as 300 000 asteroïdes wees, wat in deursnee wissel van Ceres (1000 km) tot mikroskopiese gruis. Hul vorms kan baie onreëlmatig wees, soos die een op die FOTO LINKS. Sekere asteroïdes beweeg in eksentrieke wentelbane wat hulle nader aan die son bring.

Volgens een teorie is asteroïdes dalk die oorblyfsels van ’n planeet wat lank gelede deur ’n kataklismiese botsing verwoes is. Dis egter waarskynliker dat asteroïdes bloot los hompe ruimtemateriaal is wat in die eerste plek nooit tot ’n planeet verenig het nie. Trouens, daar is reeds bereken dat, as al die asteroïdes tot een liggaam saamgepers sou kon word, dié liggaam minder as die helfte van die deursnee van die aarde se maan sou hê.

Die asteroïde Itokawa Die Hajaboesa neem sy eie skaduwee af wat hy op die asteroïde gooi
Die Japanse ruimteagentskap wou teen die einde van November 2005  ’n onbemande snuffeltuig op die asteroïde Itokawa (LINKS BO) laat land wat dan ’n metaalballetjie moes afvuur om oppervlakmateriaal uit die hemelliggaampie los te ruk. Die snuffeltuig moes van die losgerukte puin oppik om dit terug te bring aarde toe waar wetenskaplikes die waardevolle buite-aardse gesteentes sou kon ontleed.
      

Op die foto REGS BO kan gesien word hoe die tuig, genaamd Hajaboesa, sy eie skaduwee afgeneem het wat hy op die asteroïde gegooi het. Die baie onreëlmatig gevormde Itokawa-asteroïde is maar net sowat 690 m lank en 300 m breed—nie eens so groot soos ’n wafferse berg nie.

  
Daar is egter taamlik ingewikkelde en enigsins verwarrende inligting rondom die hele projek, maar wat wel waar is, is dat dinge toe nie heeltemal gebeur het  soos beplan is nie. Die tuig kon vir eers nie daarin slaag om van die puin te versamel nie, hoewel daar ’n moontlikheid is dat ’n hoeveelheid stof in die kajuit ingewarrel het waar die monsters ingeneem moes word.
  
Die kajuit is toe verseël en die Hajaboesa is nou—as die inligting korrek geïnterpreteer word—so min of meer hinkendepinkende weens meganiese probleme op pad terug aarde toe waar dit eers teen Junie 2010 verwag word. Die tuig is reeds in Mei 2003 van die aarde af gelanseer.  Die Itokawa-asteroïde is darem 290 miljoen kilometer van die aarde af—’n bydraende rede waarom die heen-en-weer-reis so lank duur.

JAPANSE RUIMTEAGENTSKAP


METEOORSTENE, METEORE EN METEORIETE

KLEINER liggaampies wat om die son wentel, word meteoroïdes of meteoorstene genoem. Party bots met die aarde en verskyn in die naghemel as ligblitse, sogenaamde meteore, wat ons as "verskietende sterre" ken. Hulle is so klein—baiemaal net so tussen ’n millimeter en ’n sentimeter breed—dat hulle feitlik summier in ons suurstofryke atmosfeer uitbrand.  Maar die groter stukke wat wel op die aarde val, word meteoriete genoem wanneer ons hulle optel [FOTO LINKS].  

Massiewe blokke van derduisende tonne het wel al die aarde getref, maar ’n sigbare meteoriet is gewoonlik bloot ’n ''klippie''.

’n Meteoor of "verskietende ster" [FOTO REGS] kan beweeg met ’n snelheid van 10 tot ’n duiselingwekkende 71 kilometer per sekonde—omgereken sou hy dan in 3,8 minute reg om die aarde kon beweeg het.

Meteore sorg dat die aarde daagliks met meer as honderd ton ruimtemateriaal gebombardeer word, maar gelukkig brand die meeste daarvan betyds weg voordat dit ons koppe tref! Die swaarste meteoriet wat nog gevind is—Hoba in Namibië—het ’n massa van sestig ton.

Sekere konsentrasies van tussenplanetêre voorwerpies en stof ("dust") kan die nalatenskap van komete wees. Daar is ’n sogenaamde meteoorstorm wanneer die aarde deur ’n groot klomp van die deeltjies beweeg. Meteoorstene kan egter ook van elders af kom, soos van planete en asteroïdes. Botsings van verskillende hemelliggame het veral in die verlede baie stukke en brokke in die ruimte laat uitskiet, wat steeds in die aarde se dampkring kan beland.

Só was daar ’n paar jaar gelede groot opwinding toe sekere Amerikaanse wetenskaplikes aangevoer het dat hulle tekens van primitiewe lewe ontdek het in ’n meteoriet wat oorspronklik ’n deel van die planeet Mars was. Mars is in die gryse verlede deur ’n groot ruimtelike voorwerp getref en daar word gereken dat brokstukke van Mars ook as meteoriete op die aarde beland het. Die meeste wetenskaplikes het egter dié bekendmaking van ’n buite-aardse lewensvorm met ’n knypie sout geneem. Wat na oorblyfsels van lewe in die meteoriet lyk, is bes moontlik die reste van ’n chemiese of fisiese werking.


KOMETE

KOMETE is basies vuil "sneeuballe"—saamgekoekte stof en bevrore gasse en sowat vyf tot tien kilometer breed. Baie komete beweeg in sulke verafgeleë wentelbane om die son dat hulle deur sterre versteur kan word om nuwe wentelbane te volg wat hulle na die binnedeel van die sonnestelsel bring. Komete is net sigbaar wanneer hulle digby die son is. Namate ’n komeet die son nader, stel hy stof en gasse vry om ’n skouspelagtige koma en stert te vorm soos op die FOTO REGS. 

Die koma is ’n newelmassa wat om die komeet se kern ontstaan, en die stert, wat ook ’n roei genoem word, kan miljoene kilometers lank wees. Verdampende gasse met vaste deeltjies daarin word deur die sonwind weggedruk, sodat die stert altyd weg van die son af uitgestrek lê.

Komete kan soms onder die invloed van die reuse-planeet Jupiter se swaartekrag heelwat kleiner wentelbane aanneem. Die beroemdste van diesulkes is Halley se komeet, wat elke 75 jaar na die binnedeel van die sonnestelsel terugkeer. Hy was in 1986 laas hier.

In 1994 het brokstukke van die komeet Shoemaker-Levy 9 die digte atmosfeer van Jupiter met snelhede van sowat 210 000 km/h gepeper. Toe hulle teen die planeet gebots het, is vuurballe groter as die aarde deur die massiewe ontploffings geskep.

Terwyl party komete met gereelde tussenpose kom en gaan, is daar ander wat verdwyn en nooit weer gesien word nie. Kort voor die jongste eeuwisseling was byna 900 komete reeds gekatalogiseer en hul wentelbane ten minste ruweg bereken. Van hulle is meer as 180 periodieke komete (met omwentelingstye van minder as 200 jaar). Sekeres van die res is ongetwyfeld ook periodieke komete, maar hul omwentelingstye is nog nie sekuur genoeg bereken sodat ons vir seker kan weet nie.

Sommige van die asteroïdes waarvan die wentelbane dié van die aarde kruis, kan moontlik die rotsagtige oorblyfsels van uitgebrande komete wees.


TUSSENPLANETÊRE STOFDEELTJIES

Tussenplanetêre stof TUSSENPLANETÊRE stofdeeltjies soos dié op die vergroting REGS is gewoonlik minder as ’n paar honderd mikrometer groot. Daar is vasgestel dat drie ringe van tussenplanetêre stof  ("dust") om die son wentel. Een van hulle, wat tussen Mars en Jupiter voorkom, is lank reeds bekend. Die ander twee ringe, waarvan die een slegs twee sonbreedtes van die son af lê en die ander een in die omgewing van die asteroïdes is, is in 1983 ontdek.
   
NASA