|
Jou
asemhalingstelsel en hoe dit werk

Ons is meestal so besig om te lewe
dat ons nie besef dat ons asemhaal nie! Dit klink nogal
lagwekkend, maar elke bedrywige moderne mens sal moet beaam dat
dit so is. Dit is ook ironies dat soveel mense so goed as niks van
die werking van hul longe weet nie. Hieronder is die basiese
feite rondom hierdie lewensbelangrike twee organe in die
borskas. MIskien is dit tyd dat ons ’n slag asem skep en meer
omtrent hulle te wete kom...
Illustrasie
links: US Food And Drug Administration
LINKS:
Die longe is op ’n unieke manier ontwerp, enersyds om ’n
ononderbroke stroom suurstof aan die bloed te voorsien wanneer ’n
mens inasem, en andersyds om koolstofdioksied (koolsuurgas) uit te
werp in die proses van uitaseming—vinnig, doeltreffend, in die
korrekte hoeveelhede en alles sonder dat ons daarvan bewus is. Die
vermoë van die longe om te rek en dan ná uitaseming na hul
oorspronklike vorm terug te keer, is van wesentlike belang in die
asemhalingsproses, want daarsonder sou daar geen lugbeweging kon
wees nie.
Wanneer die
longe nie genoeg koolstofdioksied kan uitasem nie, is daar ’n
opbouing van toksisiteit, wat al die selle in die liggaam vergiftig.
Enige faktor wat die lugweë laat saamtrek of vernou, of wat die die
longe minder elasties laat word, sal ’n mens swaarder laat asemhaal.
Asemhaling wat te vlak, stadig of die gevolg van verminderde
longfunksie is, word hipoventilasie genoem. Hipoventilasie lei tot
onvoldoende oksigenerering (suurstofvoorsiening) in die bloed.
Respiratoriese obstruksie, longsiekte of blootstelling aan gifstowwe
kan ook hierdie toestand veroorsaak.
Teenoor hipoventilasie is daar die toestand wat hiperventilasie
genoem word, waar vinniger of dieper asemhaling as gewoonlik die
konsentrasie van koolstofdioksied in die bloed tot onder die normale
verlaag. Dit kan die gevolg wees van stres. Die persoon voel asof hy
nie genoeg lug kan kry nie, terwyl die teendeel eintlik waar is: hy
het te veel suurstof en te min koolstofdioksied in sy bloed.

BO: Die wisseling van suurstof (rooi) en koolsuurgas (blou)
in die bloed vind hier plaas—in die alveoli in die longe.
Elke alviolus word deur ’n uitbreide haarvat-netwerk omring.
Lees ondertoe meer oor die alveoli.
Beeld
met vergunning van
3DScience.com
Die lugweë in jou
binneste...
IE menslike liggaam
het suurstof nodig om te groei en te funksioneer. Die lugweë of
asemhalingstelsel bestaan uit ruimtes en deurgange wat lug na die
longe bring. Dit sluit in:
• die neusholtes;
• die farinks of keelholte, wat deur die spysverteringstelsel
sowel as die asemhalingstelsel benut word;
• die stemkas of larinks;
• die tragea of lugpyp;
• en die longpype met die longe, wat die alveoli (of lugsakkies)
bevat.

Illustrasie: U.S. National Institutes of Health
Neusholte:
Dit is beter om deur die neus asem te haal as deur die mond, omdat:
(a) vreemde voorwerpies soos stofdeeltjies deur die hare van die
neusgate uitgefiltreer of in die oppervlakslym vasgevang word,
(b) lug verwarm word deur die bloed in die vaskulêre membraan en
(c) lug bevogtig word deur die slym in die neuskanaal.
Keelholte:
Die kragtige
farinks of keelholte voer lug na die asemhalingskanaal, maar dit
voer ook kos na die spysverteringskanaal.
Larinks:
Die stemkas of
larinks lê tussen die keelholte en die lugpyp. Die larinks is
uitgevoer met klein haartjies wat aan die slymvliese vas is. Die
haartjies (cilia, enkelvoud cilium) vang stof- en ander deeltjies op
en voer hulle opwaarts na die keelholte waarvandaan hulle deur ’n
gehoes, genies of neusblasery na buite uitgewerp kan word. Die cilia
is die hoofverdediger van die immuunstelsel in die
asemhalingskanaal.
Lugpyp:
Die lugpyp of
tragea is ’n buis wat strek van die onderkant van die larinks tot
die bodeel van die bors bokant die hart. Die lugpyp het ’n raamwerk
van kraakbeen om dit oop te hou. Die lugpyp vervoer lug tussen die
larinks en die longe.
Longpype en brongiole:
Die lugpyp vertak in twee
en die twee vertakkings word die longpype genoem. Hierdie
longpype lei na die longe en gaan dan ook die longe binne. Die
regterlongpyp is aansien groter as die linkerpyp en loop meer
loodreg ondertoe. Sodra elke longpyp in sy long inloop, verdeel dit
weer en weer en word kleiner onderafdelings gevorm.
Die kleinste van die verdelings
word die brongiole genoem.
Alveoli:
Aan
die einde van die kleinste onderverdelings van die brongiole is
versamelings lugsakkies of blasies wat soos piepklein druiwetrossies
lyk. Hierdie sakkies word die alveoli genoem (enkelvoud alveolus).
Die long van die gemiddelde volwassene bevat sowat 600 miljoen
alveoli. Die wisseling van suurstof en koolstofdioksied in die bloed
vind in die alveoli plaas.
Illustrasie: U.S. Centers for Disease
Control and Prevention
Suurstof word
ingeasem en suurstofryke bloed word na die hart gestuur, wat dit
deur die liggaam pomp. Die bloed beweeg in ’n syfer agt deur drie
hoofsoorte vate: slagare, are en haarvate. Die suurstof verbrand en
koolstofdioksied word gevorm. Die rooi bloedliggaampies vervoer die
koolstofdioksied na die alveoli, en dan verlaat die koolstofdioksied
die liggaam wanneer die persoon sy asem uitblaas.

BO: Rooi bloedliggaampies.
Beeld
met vergunning van
3DScience.com
Verstommende feite oor die longe

Illustrasie: U.S. National Institutes of Health
BO: Chroniese obstruktiewe longkwaal is die sambreelnaam van siektes
soos chroniese brongitis, emfiseem en ’n reeks ander longsiektes. Dit
is meestal die gevolg van tabakrook. Daar is ’n obstruksie in die
lugweë, met die gevolg dat lug in die longe vasgevang word. Mense
wat al iemand aan byvoorbeeld emfiseem sien sterf het, vertel dat
dit oorgenoeg is om jou vir altyd af te skrik van sigarette.
 |
Hoes, spoeg en nies in jou sakdoek
LINKS:
Hoes, spoeg en nies in jou sakdoek—’n ou plakkaat van
1925 wat vandag net net so relevant sal wees. Die
asemhalingstelsel kan verskillende kieme huisves, wat
kan versprei as dit traak-my-nie-agtig na buite
uitgewerp word.
Krediet: National
Library of Medicine / U.S. National Institutes of Health
|
Hoe
verskillende diere asemhaal
INSEKTE
haal deur middel van luggaatjies en lugpypies in die liggaam asem.
Voëls, visse, reptiele, amfibieë en alle soogdiere asook die mens is
almal gewerwelde diere. Hulle haal asem met longe of kieue.
Die kieue van byvoorbeeld visse stel hulle in staat om die suurstof
wat in die water opgelos is, uit die water te haal. Water gaan die
mond binne, vloei deur die kieuholte oor die kieue en verlaat die
vis se liggaam deur die opening van die kieudeksel. Kieue is rye
benerige stafies, waaraan vlesige filamente geheg is, ryk aan
bloedhaarvatte om suurstof te absorbeer. Elke filament het fyn
sekondêre flappe, ten einde die oppervlak te vergroot waaroor die
wisseling van gasse kan plaasvind.
Water vloei oor die kieue teen die kapillêre bloedvloeiing in.
Hierdie “teenstroom” verseker dat water altyd oor gedeoksigeneerde
bloed beweeg, wat die absorpsie van suurstof vergroot. Bloedvate
sirkuleer die bloed.
|