|
|
|
|
Die
belangrike gas wat ons eintlik soos ’n eregas moet huldig!
BO: ’n Voorstelling van ammoniakmolekules en die intrinsieke krag wat hulle bymekaar hou. / Ammoniak is ’n vername bron van stikstof vir alle lewenstelsels. Maar baie van ons is totaal onkundig oor wat die verbinding NH3 in werklikheid vir ons almal beteken... |
|
UIK maar aan die oop bek van ’n bottel vol huishoudelike ammoniak. Versigtig... baie versigtig en dan... sjoe, vat weg! Jy sal jou kop in ’n wilde refleksbeweging wegruk asof ’n vuishou jou getref het.
Ammoniak (NH3) is ’n verbinding van die kleurlose en reuklose gasse waterstof en stikstof. Dit is normaalweg self ook ’n kleurlose gas, maar anders as sy ongegeurde “verwekkers” het dit ’n besonder skerp, bytende reuk. Soos die stikstofatoom aan die waterstofatoom gesê het toe hulle na die ammoniakmolekule kyk: “Genade, liefie, na wie dink jy aard hierdie bitsige kind van ons?” Benede −33.34.°C is ammoniak ’n vloeistof, maar vanweë hierdie lae kookpunt moet die vloeistof onder hoë druk of teen lae temperature in byvoorbeeld silinders geberg word. Die vloeistof verander by −77.7 °C in ’n vaste stof. Hierdie vrieskoue ammoniak is dan wit kristalle.
Foto: U.S. Department of Transportation
Hoe die gas ammoniak deur biologiese prosesse geskep word—om enersyds benut en andersyds uitgeskei te word DIE gas ammoniak kom bietjies-bietjies in die lug om ons voor, deurdat dit gevorm word tydens die ontbinding van stikstofhoudende dierlike en plantaardige stowwe as gevolg van die werking van bakterieë. Selfs jou eie niere skei ammoniak af om oortollige suur te neutraliseer. Om die waarheid te sê, is ammoniak ’n belangrike bron van stikstof vir alle lewenstelsels. Stikstof is immers broodnodig vir die samestelling van aminosure, wat die boustene van proteïen is. Maar ofskoon daar ontsettend baie stikstof in die lug is (nie minder nie 78 persent per volume van die aarde se atmosfeer) is daar min lewende wesens wat in staat is om hierdie stikstof te benut. Party plante is afhanklik van ammoniak en ander stikstofhoudende reste wat deur verrottende dinge in die grond ingewerk word. Ander, soos peulgewasse wat in staat is om stikstof te bind, vind baat by simbiotiese verhoudings met wortelorganismes wat ammoniak uit atmosferiese stikstof skep. Vleis, maar ook vis en eiers is voorbeelde van stikstofhoudende voedingstowwe. Deur die eet van plante of die vleis of eiers van diere wat plante gevreet het, kry ook die mens sy noodsaaklike kwota stikstof in. En welbeskou is dit basies te danke aan ammoniak! Daarby is ammonium-ione (lees ondertoe meer hieroor) ’n afvalproduk van die dierlike metabolisme of stofwisseling, met ander woorde die verandering en omsetting van voedingstowwe in boustowwe van die liggaam waarby energie vrygestel word. Maar dit is giftig. By my en jou—eintlik by alle soogdiere en amfibieë soos paddas, asook by die haaie—word dit in ureum ongeskakel, wat minder giftig is. Ureum is die vernaamste bestanddeel van urine. By visse en ongewerwelde waterdiere word die ammonium-ione wel regstreeks in die water uitgeskei. By reptiele en voëls word dit weer in urinesuur omgeskakel. Urinesuur is ’n vaste stof, met die gevolg dat die reptiele en voëls dit kan uitskei met die mins moontlike verlies aan water.
Foto: NRCS /
U.S.Department of Agiculture Verbindings en gebruike
GEÏONISEERDE
ammoniak (NH4) word in talle verbindings aangetref en
staan bekend as ammonium.
Wanneer
ammoniak deur water gestuur word, vermeng dit nie net daarmee
nie, maar reageer dit ook met die water om ammoniumhidroksied
(NH4OH)
te vorm. Dit is die bekende huishoudelike ammoniak,
’n nuttige alkali in die
reinigingsbedryf, waar dit onder meer gebruik word om die
aanpaksels uit oonde te verwyder. Hierdie goeie reiniger is nie so venynig en vernietigend
as die alkaliese bytsoda (natriumhidroksied,
NaOH) nie.
Die gas ammoniak ontsnap maklik uit die oplossing / verbinding en dit is waarom dit so sterk ruik. Die gas kan deur verhitting selfs vinniger uit die water gedryf word.
Ammoniumhidroksied reageer op sy beurt met by voorbeeld koolsuurgas
oftewel koolstofdioksied
om vlugsout [ammoniumkabonaat,
(NH4)2CO3
] te
vorm. Vlugsout staan ook bekend as “sal volatile” en kan gebruik
word om mense by te bring wat flou geval het. Ook vlugsout het
daardie kenmerkende prikkelende ammoniakreuk.
Indien ammoniumhidroksied
gebruik word om soutsuur te neutraliseer, ontstaan weer die sout
ammoniumchloried oftewel salammoniak (NH4Cl), wat
vele gebruike het. Benewens as ’n metaalskoonmaker by
soldeerwerk, word dit aangewend as ’n byvoeging by veevoer, in
sjampoe, as hoesmedisyne en in ander soorte medisyne, selfs in
sekere lekkergoed, noem maar op.
Trouens, vanweë sy menigte aanwendings in allerhande verbindings is dit nie verbasend dat die gas ammoniak op sigself vandag een van die mees geproduseerde anorganiese chemikalieë is nie. Ammoniak is regstreeks of onregstreeks die voorloper van die meeste stikstofhoudende verbindings. Feitlik alle sintetiese en alle anorganiese stikstofverbindings word uit ammoniak berei. ’n Besonder belangrike derivaat is salpetersuur (HNO3 ), ook bekend as aqua fortis, wat in die bereiding van onder meer plofstowwe en kunsmis gebruik word.
Krediet:
Benjah-bmm27, wat dit tot openbare besit verklaar het
(“released into the public domain”) Wat meer sê, meer as tagtig persent van die geproduseerde ammoniak beland eindelik óf in soute óf in oplossings as kunsmis, wat in die boerdery dikwels onontbeerlik is om goeie oeste te help verseker. En met die vervaardiging van die ammoniak word meer as een persent van al die energie verbruik wat deur die mensdom opgewek word—’n klinkklare bewys van die belangrikheid van die ammoniakbedryf. Uiteindelik bly dit egter interessant dat kurkdroë ammoniak sonder water straks so onaktief soos ’n insek sonder sy voelers kan wees. Heeltemal droë ammoniak sal byvoorbeeld nie met absoluut droë waterstofchloried (die gas van soutsuur) reageer om salammoniak te vorm nie. Vog is noodsaaklik om die reaksie te laat plaasvind.
Vervaardiging van ammoniak in die nywerheidswêreld DIS nogal verbasend dat die mis van kamele, van alle dinge, eenmaal in alle erns gebruik is om ammoniak te vervaardig. Voor die begin van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) is dit meestal verkry uit die droë distillasie van die stikstofhoudende reste van plante en diere, waaronder kameelmis. Vandag word ammoniak verkry deur eers waterstof te berei—uit byvoorbeeld aardgas (metaan), wat by ’n hoë temperatuur met stoom gemeng word om in die teenwoordigheid van ’n nikkel-katalisator in koolstofmonoksied en waterstof te verander: CH4 + H2O → CO + 3 H2 In ’n verdere proses reageer die koolstofmonoksied met water om koolstofdioksied en nog waterstof te vorm: CO + H2O → CO2 + H2 Die koolstofdioksied kan deur absorbsie in oplossings uit die nuwe gasmengsel onttrek word, en die waterstof bly dan oor. Hierdie waterstof word vervolgens met stikstof vermeng wat uit die lug verkry word—en die verbinding tot ammoniak word bewerkstellig deur die sogenaamde Haber–Bosch-proses, waar die gasmengsel by ’n hoë druk en hoë temperatuur oor ’n katalisator van ysteroksied gestuur word: 3 H2 + N2 → 2 NH3
Is ammoniak gevaarlik?
BLOOTSTELLING aan hoë
vlakke van ammoniak kan irritasie en ernstige brandletsels aan
die vel en in die mond, keel, longe en oë veroorsaak. Baie hoë
vlakke kan selfs die dood meebring.
Maar die gevare van ammoniak is baie klein in vergelyking met die menigte voordele. Dink dus daaraan waarom jy hierdie belangrike gas nie as ’n eregas in jou eie lewe sal beskou nie! |
|
|
|