Almal is akwatiele*) diertjies van die eerste water... totdat hul kieue verdwyn...       *) Waterlewende  

   
Paddavissie en volwasse padda van dieselfde spesie

Die dubbele lewe van

amfibiese diere
 
 

Rooi-oog-boompadda
Paddavissie-stadium van ’n rooi-oog-boompadda

In hul prille jeug is hulle so tuis soos vissies in die water. Trouens, hulle kan nie buite die water lewe nie, want soos visse hulle haal asem met kieue. Maar dan tree ’n geweldige verandering in wat  meebring dat hulle in die water kan verdrink. Nou moet hulle hul suurstof uit die lug kry...

 

Lees ook oor paddas op die Mieliestronk-werf:

•  Paddas en hul dinge

•  Die ouerliefde van sekere paddas

Gifpylpaddas
Geraamte van ’n padda

A

MFIBIEË (in die klas Amphibia) is koudbloedige diere met ’n rare lewensloop. In hul jeug kry hulle hul suurstof uit die water soos visse, maar sodra hulle van gedaante verwissel en groot word, haal hulle in die lug asem soos alle landdiere. Op die oog af kan volwasse amfibieë soos reptiele lyk, maar hulle is in der waarheid heeltemal ander kreature.

 

Die naam amfibie is afgelei van ’n Griekse woord wat “dubbele lewe” beteken, want die meeste amfibieë vertoef in die begin van hul lewe in die water en bring die res van hul bestaan op die land deur.

 

Die onderklas Lissamphibia sluit al ons eietydse amfibieë in. Die nog bestaandes behoort tot drie ordes, naamlik:

•   die Anura (paddas, insluitende skurwepaddas of “toads”);

•   die Caudata of Urodela (die salamanders, insluitende die molge of “newts”);

•   die Gymnophiona of Apoda (die wurmsalamanders of blindewurms, wat nie ledemate het nie en uitwendig soos erdwurms of slange lyk).

 

Die paddas is stertloos, die salamanders is langstert-amfibieë en die wurmsalmanders is, soos ons gesę het, pootloos.

 

Sekere van die amfibieë wat baie ver in die aarde se verlede uitgesterf het, was nie so klein as wat ons bekende paddas en molge en goeters is nie. Die versteende geraamte van een wat in rotse by Senekal in die Vrystaat gekry is, dui daarop dat hierdie kolos van ’n amfibie langer en miskien lywiger as die gemiddelde volwasse man was. Danksy dié en ander oorgeblewe fossielreste weet ons vandag dat sulke aaklige kreature ook wel eenmaal die aarde bewandel het.

 

Die meeste amfibieë is steeds beslis nie wat ’n mens as mooi diertjies sal beskryf nie. Trouens, baie mense gril vir hulle, want hul velle is kaal, haarloos, skubloos en slymerig. Een van die ander eienskappe van amfibieë is dat hul ribbetjies swak ontwikkel lyk en nooit ’n borsbeen bereik nie.

 

Wat hul bewegings aanbetref, is die padda by uitstek ’n ding wat spring. Wanneer die spiere in werking kom, werk die litte soos ’n stelsel van hefbome wat die padda op en vorentoe skiet. Daar is slegs sekere paddas wat werklik op hul vier pote kan loop.

 

Die langstert-salamanders, wat goed kan swem, doen dit hoofsaaklik met hul gewoonlik sydelings afgeplatte sterte. Die stert word heen en weer geslaan, maar golfbewegings van die lyf en die pote help ook om die salamander in die water te laat voorbeweeg.

 

Op hul beurt beweeg die pootlose wurmsalamanders onder die grond, asook in los grond en tussen verrotte blare en ander plantegroei. Hulle maak wurmagtige kronkelings met hul silindriese liggame, min of meer soos erdwurms.

 

Alle amfibieë kom uit eiers, wat in die reël in water tot larwes ontwikkel, wat dan in volwassenes verander. ’n Interessante variasie is waar die ontwikkeling in water “ontduik” word, soos by verskillende soorte paddas waar die “paddavissie” sommer in die eier self ontwikkel en die padda die eerste lewenslig as ’n miniatuur-volwassene aanskou. ’n Uitvoerige beskrywing van die gewone lewensiklus van die padda kan elders op die Mieliestronk-werf gelees word.

 

Die opvallendste deel van die gedaantewisseling van die amfibie (behalwe by die pootloses) is die vorming van sy vier pote wat sy liggaam op land moet stut. Maar daar is ook verskeie ander veranderings, soos dat die kieue deur ander asemhalingsorgane, naamlik longe, vervang word. Daar is egter ook die longloses, soos ’n menigte salamandersoorte (Plethodontidae), wat deur die vel en die weefsels aan hul bekke asemhaal.

 

Ooglede ontwikkel voorts ten tyde van die metamorfose by die oë, wat eweneens verander om hulle by sig buite die water aan te pas. By paddas en skurwepaddas verdwyn die paddavissie se stert. En die vel van die amfibie verander ook en kliere ontwikkel daarin om ontwatering te voorkom.

 

By die skurwepadda, waarvan die vel skurf en met vratte bedek is, is die vratte ook eintlik kliere, wat ’n ietwat giftige vloeistof afskei wanneer die meneertjie skrik of seerkry. Die gifstof beskerm hom teen vyande. Daar word vertel dat byvoorbeeld ’n hond net een keer aan ’n skurwepadda sal byt en nooit weer nie.

 

Maar daar steek geen waarheid in die ou gelofie dat jy self vratte sal kry as jy aan ’n skurwepadda raak nie. Tog is dit verstandig om glad nie aan jou oë te raak, of aan ander plekke waar die vel sag is, voordat jy jou hande gewas het nadat jy ’n skurwepadda hanteer het nie.

 

’n Ander ou wolhaarstorie is dat daar ’n juweel in die skurwepadda se kop sit. Aikôna. Sowaar as padda manel dra, jy sal geen edelsteen in die arme diertjie se harspan vind as die gierigheid jou dwing om ’n paddaslagter te word nie!

 

Die enigste amfibieë wat ons in Suid-Afrika kry, is die verskillende soorte paddas en skurwepaddas. Amfibiese salamanders (ook salmanders gespel) kom nie hier in die natuur voor nie. Ons sogenaamde klipsalmander is geen ambifiese dier nie, maar kan die ander naam van enigeen van ’n aantal lewebarende akkedisse wees, byvoorbeeld die bloukopkoggelmander.

 

Alle volwasse amfibieë is vleisvreters (karnivore). Hulle soek ywerig na diertjies om te verslind, meestal insekte en ander goggatjies, maar partymaal selfs klein werweldiertjies. Alge en ander plante word deur sekere soorte amfibieë in hul larwestadium gevreet, maar sommige larwes is ook vleisvreters.

 

Paddavissies het spesiale skrapers aan die monde wat hulle gebruik wanneer hulle aan die alge in die water weglę. ’n Paar soorte paddavissies raak partymaal kannibale. Dan verorber hulle hul weerlose boeties en sussies en raak baie groter as die ander paddavissies wat slegs plantvretend is.

 

Op hul beurt is die amfibieë op die spyskaarte van baie diere. Visse, voëls, soogdiere, reptiele—daar is talle wat selde ’n lekker paddatjie sal versmaai. Boonop is daar ook mense was soms amfibieë eet. Paddaboutjies is immers een van die bekende lekkernye van sowel die Franse as die Chinese kookkuns. Eet en word geëet… dis maar die beloop van die ou lewe!

 

Oor paddas as sodanig is daar taamlik inligting in verskillende artikels op die Mieliestronk-werf. Hieronder word dus net na die skurwepaddas gekyk, asook na voorbeelde in die ander ordes van die amfibieë.

 

Skurwepaddas

 

 Goue skurwepadda van Costa Rica

 

DIE opvallend gekleurde skurwepadda op die foto HIERBO, die sogenaamde goue skurwepadda van Monteverde, Costa Rica, is in 1989 laas lewend gesien. Hy was eenmaal volop. Wat het van hom geword? Die kenners sal baie graag wil weet.

 

Sy verdwyning val saam met dramatiese afnames in amfibiese populasies regoor die węreld. Allerhande dinge kry die skuld daarvoor, byvoorbeeld klimaatsverandering en die verwoesting van habitats, maar dikwels tas die geleerdes steeds in die duister om by die ware rede of redes uit te kom.

Die Engelse praat van ’n skurwepadda as ’n “toad”, in teenstelling met ’n “frog” wat hul woord vir ’n padda is.

 

Bruin of gewone skurwepadda (Bufo regularis) Onder Suid-Afrika se skurwepaddas is die bruin of gewone skurwepadda (Bufo regularis) [REGS] seker die bekendste. Hy kom wyd verspreid in ons land voor, asook in tropiese Afrika en selfs tot in Egipte. ’n Groot wyfie kan ’n ongelooflike hoeveelheid eiers lę—een navorser het al 24 476 getel—maar dan is daar wel weer ’n menigte vrektes onder die paddavissies. Dit verklaar kennelik waarom ons vasteland nie deur die skurwe jafels oorstroom word nie!

 

Rande afgesny van oorspronklike foto deur Wilfried Berns / www.Tiermotive.de ,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie

 

’n Ander Afrikaanse woord vir die skurwepadda is die landpadda. Die rede is dat ware skuwepaddas (fam. Bufonidae) feitlik heeltemal landgebonde is en eintlik net in die eierlętyd die water opsoek.

Salamanders

 

’n Tiersalamander

 

SALAMANDERS is enigsins unieke werweldiere: as hulle een van hul pote of ’n ander liggaamsdeeel verloor, regenereer hulle eenvoudig ’n ander een. Regenerasie by diere kom meestal voor by dié met ’n eenvoudige bou. As sponse, holtediere en platwurms aan stukke gesny word, kan elke stukkie in ’n volledige nuwe enkeling ontwikkel. Maar regenerasie by werweldiere…  die salamanders het ’n besonderse ingeboude meganisme. Geleerdes sal hul oogtande gee om dit in die mens te kan naboots!

 

Selle by die besering van die salamander het die vermoë om op te hou om te onderskei tot watter liggaamsdeel hulle behoort, waarna hulle vinnig vermeerder, net om weer te onderskei en ’n nuwe liggaamsdeel of orgaan te skep. Daar is een teorie dat die selle wat nie meer onderskei nie, soortgelyk is aan die selle van groeisels of gewasse, aangesien sekere chemikalieë wat groeisels in ander diere veroorsaak bykomende ledemate in salamanders sal produseer.

 

Nagenoeg vyfhonderd soorte amfibieë word by die salamanders ingedeel, wat op alle vastelande gevind word buiten in Australië, Antarktika en die meeste dele van Afrika. Nagenoeg dertig persent van die bekende salamanders is boorlinge van Noord-Amerika.

 

Tipiese kenmerke is slanke liggame, stomp neuse en lang sterte. Hulle het meestal vier tone aan die voorpote en vyf aan die agterpote. Met hul vogtige velle lewe hulle gewoonlik in of naby water of desnoods in klam omgewings. Party soorte lewe regdeur hul lewe in die water, ander sal periodiek in die water plons en weer uitklim, terwyl nog ander as volwassenes slegs op die land lewe.

 

Wat is die verskil tussen ’n molg en ’n salamander? Verskillende verduidelikings is bra verwarrend. Maar soos iemand dit al vereenvoudig het: Alle molge is salamanders,  maar alle salamanders is nie molge nie! Sowat twee derde van al die spesies in die familie Salamandridae staan algemeen bekend as “newts” oftewel molge. Die term is tradisioneel eksklusief gebruik vir salamanders wat in die water lewe.  

 

 ’n Molg

Foto van molg deur Patrick Coin,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge die
Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie

Wurmsalamanders

 

Blou geringde wurmsalamander (Syphonops annulatus)


           Blou geringde wurmsalamander (Syphonops annulatus)          

 

Illustrasie uit ou boek, openbare besit (“PD Old”)

 

WURMSALMANDERS, van die orde Gymnophiona of Apoda, is uitsonderlike amfibieë wat geen ledemate het nie. Gevolglik lyk die kleiner soorte soos wurms, terwyl die groteres, wat tot een en ’n halwe meter lank kan wees, soos slange lyk. Trouens, daar was ’n tyd toe gereken is dat hulle verwant is aan slange of selfs dat hulle ’n groep skublose slange is.

 

Die wetenskaplike naam Gymnophiona is dan ook afgelei van die Griekse woorde gymnos (naak) en ophis (slang). Die verouderde naam Apoda beteken sonder pote.

 

Omdat hulle so verborge lewe—baiemaal ondergronds—is hul orde die mins bekende van al die amfibiese ordes.  Hulle kom meestal in die tropiese streke van die aarde voor, in Suidoos-Asië, Suid-Amerika en die Seychelle-eilande. Daar is ook wurmsalamanders in Midde-Afrika, maar die verspreidingsgebied van ’n aantal Afrika-soorte is nog nie so duidelik afgebaken nie.

 

Wurmsalamanders is blind of so te sę blind (hulle word mos ook blindewurms genoem). Waar sekere soorte klein ogies het waarmee hulle niks meer kan sien as om tussen lig en donker te onderskei nie, het party ander glad geen oë nie.

 

Die vel van ’n wurmsalamander het talle ringgroewe of annuli (enkelvoud annulus), waarvan die getal in ooreenstemming is met die hoeveelheid werwels. Hierdie annuli omkring die hele liggaam en laat dit gesegmenteerd lyk. Die skedel is baie hard en afgeplat, met ’n gepunte snoet waarmee die wurmsalamander sy pad deur die grond of modder baan.

 

Wurmsalamanders vreet waarskynlik meestal insekte en ongewerwelde diertjies in hul donker omswerwinge, maar nie veel is bekend omtrent hul voedselvoorkeure nie. Baie van hulle vreet graag erdwurms.

 

Hulle het tande in die bek sowel as in die verhemelte, tande wat agtertoe staan om die prooi stewig vas te hou. Anders as paddas en ware salamanders, kan hulle nie hul tong uitsteek om hul prooi te vang nie.

 

Longlose salamander Oedipina maritimaDaar is nie baie soorte wurmsalamanders nie, in elk geval nie as ’n mens hul getal van sowat 175 ontdekte spesies met dié van die ruim 6400 soorte amfibieë vergelyk nie.  En hoewel daar ware salamanders is wat op die oog af ook die wurmvorm kan hę, soos die longlose salamander Oedipina maritima op die klein foto’tjie HIERBY, is hulle nie wurmsalamanders nie. Daardie “slangetjies” het immers wel pootjies, al is dié ook hoe klein.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad