|
begeesterde span “hinkepinkendes” deur die jare die medaljes ingeryg het
Ons dapper
|
|
IE PARALIMPIESE SPELE noem hulle dit—die groot byeenkoms waarop atlete met verskillende liggaamlike
gestremdhede vir die węreld wys tot watter ongelooflike prestasies
hulle in staat is. Aan rolstoele gekluister, hinkend op kunsbene, blind,
swaksiende of serebraal gestrem… van regoor die aarde trek hierdie
begeesterde atlete saam om te bewys dat die menslike gees oor haas enige
fisieke belemmering kan triomfeer. Die Paralimpiese Spele gaan werklik van
krag tot krag. Vir die jongste byeenkoms, in September 2008 in Beijing,
China, is voorsiening gemaak vir die huisvesting van meer as 4 200
atlete van 148 lande. Trouens, van ’n nederige
begin van sowat 400 atlete in 1960 het die
byeenkoms gegroei tot die naasgrootste sportgebeurtenis ter węreld. Slegs die Olimpiese Spele is groter, en
die Paralimpiese Spele word as ’n kardinale deel van die Olimpiese
beweging beskou. Die gasheerland van die Olimpiese Spele bied in die reël
dan ook die Paralimpiese Spele aan, twee weke ná die Olimpiese Spele
elke vierde jaar. ("Paralimpies" word beskryf as ’n
sametrekking van "Parallel" en "Olimpies" en is
blykbaar nie ’n kondensering van "Parapleeg" en
"Olimpies" soos baie mense stellig dink nie.) Soos
vir die Olimpiese byeenkoms kan slegs die heel beste atlete in elke
sportnommer vir die Paralimpiese Spele kwalifiseer. Die
eerste Paralimpiese Spele van 1960 is in Rome, Italië, gehou.
Suid-Afrika het volgens ’n amptelike bron toe reeds ook deelgeneem,
maar die telbord vertel ’n ietwat ander storie, soos ons netnou sal
sien. Suid-Afrika is in elk geval daarna goed verteenwoordig tot 1980
toe die hartseer politieke besluit in werking getree het om
Suid-Afrikaaanse gestremdes die Paralimpiese Spele te verbied. Eers in
1992 en daarna kon ons gestremde atlete weer deelneem en hul stem dik
maak deur opnuut die medaljes in te ryg. In
die opsomming hieronder word gekyk na Suid-Afrika se deelname aan en
medalje-oes in die verskillende Paralimpiese Spele oor die jare heen. •
ROME 1960: Sowat 400 atlete uit 23 lande neem deel aan die eerste
Paralimpiese Spele wat in hierdie jaar saamval met die Olimpiese Spele
in Rome. Die enigste gestremdheid wat nog ingesluit word, is besering
van die rugmurg. Suid-Afrika word volgens ’n gesaghebbende tabel nie
eens onder die eerste sewentien lande gelys nie, wat daarop dui dat die
Suid-Afrikaanse verteenwoordiging—indien daar hoegenaamd enige
Suid-Afrikaanse deelnemers was soos ’n amptelike bron aandui —glad
nie groot kon gewees het nie. Daarteenoor eindig ’n land soos Rhodesië
(die latere Zimbabwe) in die vyfde plek met dertien medaljes! • TOKIO
1964: Suid-Afrika se fisiek gestremdes maak nou hul merk en oes
negentien medaljes in op die tweede Paralimpiese Spele wat in 1964 in
Tokio, Japan, gehou word. Ons span bring agt goue medaljes, agt
silwermedaljes en drie bronsmedaljes huis toe. • TEL
AVIV, 1968: Die Paralimpiese Spele van 1968 sou oorspronklik net soos
die Olimpiese Spele van 1968 in die stad Mexiko plaasgevind het, maar
die Mexikaanse regering het vroeër reeds daarteen besluit vanweë
sekere probleme. Die Israeliese regering het toe aangebied om gasheer te
speel vir die Paralimpiese Spele in Tel Aviv, Israel. Suid-Afrika oes 26
medaljes in (nege goud, tien silwer en sewe brons). • HEIDELBERG
1972: Op hierdie
Paralimpiese Spele in Duitsland is Suid-Afrika jou werklik die derde
beste presteerder (ná Duitsland en die VSA) met ’n yslike 41 medaljes
(sestien goud, twaalf silwer en dertien brons). • TORONTO
1976: Die Paralimpiese Spele van 1976 word in Toronto, Kanada, gehou.
Suid-Afrikaanse medaljes: sewe goud, nege silwer, twaalf brons (totaal
28). • ARNHEM,
Nederland, 1980: Die Suid-Afrikaanse span skitter in sy afwesigheid—en sal dit nog vir etlike jare doen. • BARCELONA
1992: Die jare in die spreekwoordelike woestyn het op baie kort
kennisgewing tot ’n einde gekom met Suid-Afrika se hertoelating in
1992 tot die Paralimpiese Spele in Barcelona, Spanje, waar ’n span van
slegs tien individue hulle nie onbetuig gelaat het nie. Hulle het agt
medaljes ingeoes (vier goud, een silwer en drie brons), met drie węreldrekords
en een Paralimpiese rekord. • ATLANTA
1996: Suid-Afrika se Paralimpiese
span van 1996 kies self die grafiese bynaam Amakrokokroko
om na hulself te verwys—maar die naam verval later in onbruik vanweë sterk besware dat dit ’n erg
vernederende beskrywing sou wees.
Die Suid-Afrikaners
wen 28 medaljes in Atlanta: tien goud, agt silwer en tien brons. Hulle
verbeter ook ses węreldrekords en een Paralimpiese
rekord. • SYDNEY
2000:
Die Suid-Afrikaners wen 38 medaljes (dertien goud, twaalf silwer en dertien
brons) en verbeter boonop agt węreldrekords. •
ATHENE 2004: Die Suid-Afrikaners
wen altesaam 35 medaljes: vyftien goud, dertien silwer en sewe brons. Ons span verbeter ook tien węreldrekords
—vier daarvan
deur die swemster Natalie du Toit—en drie Paralimpiese rekords.
•
BEIJING
2008:
Suid-Afrika se gekrenkte eer oor die fiasko van die voorafgaande Olimpiese Spele in die einste Beijing, toe ons span nie-gestremdes met die kous oor die kop en slegs een silwer medalje huiswaarts gekeer het, word grootliks genees deur die wonderlike suksesverhaal van ons span gestremdes in Beijing.
|
|