•  AFRIKA-UNIE  •  EUROPESE UNIE  •  NOORD-ATLANTIESE VERDRAGSORGANISASIE (NAVO) •  SUIDER-AFRIKAANSE ONTWIKKELINGSGEMEENSKAP (SADC)  •  STATEBOND
• BRICS •  VERENIGDE NASIES

Wêreldstate se
bondgenootskappe en verdrae

’n Sewetal belangrike alliansies van ons tyd en hoe, waar en wanneer hulle tot stand gekom het...

 Hande skud voor die aardbol
Samevoeging van foto’s in openbare besit (“in the public domain”)

 
AFRIKA-UNIE

Klik hier vir afsonderlike Mieliestronk-artikel oor die AU

DIE Afrika-unie (AU), met meer as vyftig lidstate, is ’n tussenregeringsorganisasie waarin feitlik al die state in Afrika en sy eilande verteenwoordig is. Die alliansie is nie so heg soos dié van die Europese Unie nie en dit vorm nie ’n enkele ekonomiese entiteit soos die EU nie (kyk ondertoe).

 

AU-embleemREGS: Die embleem van die Afrika-Unie.
 

 

Die liggaam beywer hom nietemin vir die ekonomiese, maatskaplike en selfs staatkundige integrasie van die vasteland van Afrika. Sy doel is om volhoubare groei te bevorder, armoede uit te wis en Afrika se assimilasie in die wêreldekonomie aan te moedig.

 

Die Afrika-unie beywer hom ook vir vrede. Hy streef daarna om onmin tussen Afrika-lande by te lê en om politieke, ekonomiese, kulturele, wetenskaplike en mediese beleidsrigtings en verdedigingsake te koördineer. Goeie regering en demokrasie word aangeprys.

 

Die AU, wat in 2002 gestig is, se hoofkantoor is in Addis Abeba, die hoofstad van Ethiopië, waar sy voorganger, die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE), ook gesetel was.

Die Pan-Afrikaanse Parlement is in Midrand, Suid-Afrika. Hierdie liggaam bespreek sake wat Afrika in die breë raak en doen aanbevelings aan die staatshoofde van die AU.  Die parlementslede is verteenwoordigers wat uit die vyf streke van Afrika benoem is.

      
EUROPESE UNIE

DIE Europese Unie (EU) is in 1993 in die lewe geroep deur die twaalf lande wat tot die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap behoort het, te wete België, Brittanje, Denemarke, Duitsland, Frankryk, Griekeland, Ierland, Italië, Luxemburg, Nederland, Portugal en Spanje. Die jaar daarop het Oostenryk, Finland en Swede hulle ook by die Unie aangesluit om die getal lidlande op vyftien te staan te bring.

Die totstandkoming van die Europese Unie is bekragtig deur die Verdrag van Maastricht, wat in 1 November 1993 onderteken is.

Vlag van EuropaREGS: Die vlag van Europa.
 

Met verloop van tyd het die EU sy ledetal vergroot en in 2009, toe hierdie inligtingstukkie opgestel is, het die getal lidlande op 27 gestaan. Hulle is België, Brittanje, Bulgarye, Ciprus, Denemark, Estland, Finland, Frankryk, Duitsland, Griekeland, Hongarye, Ierland, Italië, Letland, Litaue, Luxemburg, Malta, Nederland, Oostenryk, Pole, Portugal, Romenië, Slovenië, Slowakye, Spanje, Swede en die Tsjeggiese Republiek.

Met byna vyfhonderd miljoen inwoners onder sy sambreel, is die EU as ’n geheel een van die welvarendste gebiede ter wêreld, hoewel daar in aantal individuele state steeds heelparty minder vermoënde mense is. Die EU het ’n enkele mark ontwikkel deur middel van ’n gestandaardiseerde stelsel van wette wat in al die lidstate geld en wat die vrye beweging van mense, goedere, dienste en kapitaal verseker. Sestien van 27 lidstate van die Europese Unie gebruik die euro (€) as amptelike betaalmiddel.

Die Berlaymont, ’n kantoorgebou in Brussel, België, huisves die hoofkantoor van die Europese Kommissie, die uitvoerende liggaam van die Europese Unie. Straatsburg in Frankryk is die setel van die Europese Parlement. ’n Ander staatkundige sentrum van die EU is Luxemburg.

    
NOORD-ATLANTIESE VERDRAGSORGANISASIE (NAVO)

DIE Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), in Engels die North Atlantic Treaty Organization (NATO), is, soos die naam aandui, 'n verdedigingsalliansie tussen state in die Noord-Atlantiese streek.

Vlag van NavoREGS: Die vlag van Navo.
 

Dit is op 4 April 1949 in die lewe geroep in ’n klimaat van spanning wat deur die ekspansiedrange van die voormalige Sowjet-Unie geskep is. Die oorspronklike ondertekenaars was Amerika, Brittanje, België, Denemarke, Frankryk, Ysland, Italië, Kanada, Luxemburg, Nederland, Noorweë en Portugal.

In 1952 is Griekeland en Turkye tot die alliansie toegelaat, in 1955 Wes-Duitsland en in 1982 Spanje. Die verenigde Duitsland het in 1990 die plek van Wes-Duitsland ingeneem.

In 1999 het Hongarye, Pole en die Tsjeggiese Republiek hulle by NATO aangesluit as die eerste gewese Kommunistiese lande van die ou Sowjet-blok wat tot dié stap oorgegaan het. Die lidstate van die ou Sowjet-blok het vroeër hul eie alliansie gehad, die sogenaamde Warschau-verdrag, wat as 'n regstreekse teenvoeter vir NAVO gedien het. Ontleders sê egter dat die Warschau-verdrag geen werklike militêre verdrag was nie, maar dat dit deur die Sowjet-Unie as 'n instrument gebruik is om sy satellietstate te oorheers.

NAVO het in 2009, toe hierdie inligtingstukkie opgestel is, reeds 28 lede gehad ná die toelating van Albanië en Kroasië op 1 April 2009.

Die NAVO-lede is: Albanië, België, Brittanje, Bulgarye, Denemarke, Duitsland, Estland, Frankryk, Griekeland, Hongarye, Italië, Kanada, Kroasië, Letland, Litaue, Luxemburg, Nederland, Noorweë, Pole, Portugal, Roemenië, Slovenië,  Slowakye, Spanje, Tsjeggiese Republiek, Turkye, die Verenigde State van Amerika en Ysland.

    
SUIDER-AFRIKAANSE ONTWIKKELINGSGEMEENSKAP (SADC)

DIE Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap staan internasionaal bekend as die Southern African Development Community, waarvan die afkorting SADC (spreek in Engels uit “Sadec”) ook as letternaam gebruik word.

Vlag van SADCREGS: Die vlag van SADC.
 

Dit is ’n organisasie waarin vyftien staatsregerings van Suidelike Afrika verteenwoordig word, en sy hoofkantoor is in Gaborone, Botswana. SADC se doel is om sosio-ekonomiese samewerking en integrasie asook staatkundige en veiligheidsamewerking tussen die lidstate te bevorder. Dit vul die rol van die Afrika-Unie aan.

Aan die einde van 2009, toe hierdie inligtingstukkie opgestel is, was SADC se lidstate Angola, Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Lesotho, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, die Seychelle, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe, terwyl Madagaskar se lidmaatskap in Maart 2009 opgeskort is ná die staatsgreep in daardie land.

SADC bestaan reeds sedert 1980, toe dit as ’n losse bondgenootskap van nege buurlande van die destydse Suid-Afrika (onder apartheid) gevorm is met die doel om hul ekonomiese afhanklikheid van Suid-Afrika te verminder. In 1992 is hierdie alliansie in Windhoek, Namibië, in die huidige Ontwikkelingsgemeenskap omgeskep.

  
STATEBOND

DIE Statebond (voorheen die Britse Statebond genoem) is ’n internasionale organisasie van state wat geskiedkundige bande met Brittanje het. Dit het in 1931 tot stand gekom toe Brittanje met die Statuut van Westminister amptelike erkenning aan die dominiums gegee het. Die dominiums was ’n groep semi-outonome lande wat in naam onder Britse soewereiniteit was.

Vlag van die StatebondREGS: Die vlag van die Statebond.
 

Suid-Afrika, ’n stigterslid van die ou Statebond, was in die apartheidsjare verplig om hom daaruit te onttrek. Namate Brittanje onafhanklikheid aan sy verskillende kolonies en ander onderhorige gebiede verleen het, is al hoe meer van hulle tot die Statebond toegevoeg. Dit het die karakter van die Statebond só verander dat ’n land soos die destydse Suid-Afrika eintlik glad nie meer daarin welkom kon wees nie. Suid-Afrika is egter hertoegelaat nadat apartheid beëindig was.

Vandag is die Statebond steeds ’n tussenregeringsorganisasie van meer as vyftig onafhanklike lidstate, waarvan die meeste voorheen ’n deel van die ou Britse Ryk was. Die state werk saam binne die raamwerk van gemeenskaplike waardes en doelwitte soos dit in op 22 Januarie 1971 in die sogenaamde Singapoer-deklarasie uiteengesit is.

Dit sluit in die bevordering van demokrasie, menseregte, goeie regering, die oppergesag van die reg, individuele vryheid, mensegelykheid, vrye handel en wêreldvrede.

Die lidstate aan die einde van 2009, toe hierdie inligtingstukkie opgestel is, was: Australië, Barbuda, Bahama-eilande, Bangladesj, Barbados, Belize,  Botswana, Brittanje, Broenei, Ciprus, Dominica, Kameroen, Kanada, Gambië, Ghana, Grenada, Guyana, Indië, Jamaika, Kenia, Kiribati, Lesotho, Malawi, Maleisië, Maldive, Malta, Mauritius, Mosambiek, Namibië, Nauru, Nieu-Seeland, Nigerië, Pakistan, Papoea-Nieu-Guinee, Saint Kitts & Nevis, Saint Lucia, Saint Vincent & die Grenadine, Salomonseilande, Samoa, Seychelle, Sierra Leone, Singapoer, Sri Lanka, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië, Tonga, Trinidad & Tobago, Tuvalu, Uganda, Vanuatu en Zambië.

Fidji se lidmaatskap is in 2006 opgeskort weens ’n staatsgreep. Zimbabwe se lidmaatskap is in 2002 opgeskort, maar die land het hom in Desember 2003 vrywillig aan die Statebond onttrek.

BRIC word BRICS

DIT is aanvanklik BRIC genoem. Nou heet dit BRICS.
BRIC is ’n letternaam wat gevorm is uit die eerste letters in die landsname Brasilië, Rusland, Indië en China. Met die toetrede van Suid-Afrika tot die alliansie op 24 Desember 2010, is die eerste letter van ons eie landsnaam agteraan toegevoeg.

Die vier stigterslande (wat in 2006 die eerste keer as BRIC vergader het) is op ’n soortgelyke trap van ekonomiese ontwikkeling. Volgens verskeie beduidende aanwysers is Suid-Afrika weliswaar nog op ’n laer sport van die ekonomiese leer, maar omdat dit as ’n poort tot die res van Afrika beskou word, so ryk aan natuurlike hulpbronne is en miljoene verbruikers het, word dit deur die ander lande as ’n besonder waardevolle strategiese vennoot beskou.

Brasilië se bevolking was teen 2010 sowat 193 miljoen, Rusland s’n was nagenoeg 142 miljoen, terwyl sowel Indië as China hoeka heelwat meer as 1000 miljoen (’n miljard) mense het. Getalswyse kan Suid-Afrika nie saampraat met sy minder as 50 miljoen inwoners nie. Maar mag en vermoë lê nie altyd net in getalle nie.

BRICS word in sekere gerekende kringe beskou as ’n simbool van die verskuiwing van ekonomiese mag weg van die G7-ekonomieë na die ontwikkelende wêreld. Die G7 is ’n alliansie van die groep van sewe groot nywerheidslande Amerika, Japan, Duitsland, Frankryk, Brittanje, Italië en Kanada.

 In rooi op die wêreldkaart—die lande van BRICS

BO: In rooi op die wêreldkaart—die lande van BRICS.

Illustrasie: Openbare besit, Wikimedia Commons (“released into the public domain”) / effens gewysig

   
VERENIGDE NASIES

Embleem van die Verenigde NasiesREGS: Die embleem van die Verenigde Nasies.
 

DIE Verenigde Nasies is ’n massiewe “klub” van lande van regoor die wêreld wat sy hoofkantoor in New York, Amerika het. Klik hier en lees die omvattende afsonderlike Mieliestronk-artikel hieroor.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad