In die bekende Kaapse moppie lê ’n hele stuk geskiedenis opgesluit...

 

Van wáár kom die Alibama?

 
Dit was eintlik ’n beroemde oorlogskip van die Amerikaanse Burgeroorlog... en vir die liedjie is die skip se naam is net so effens in die Kaapse volksmond vervorm...

 

 CSS Alabama

BO: ’n Skildery van die geroemde CSS Alabama, stoom-en-seilskip van die Gekonfedereerdes (Suidelike state) in die Amerikaanse Burger­oorlog. Dit was in 1864 betrokke by ’n oorlogsdramatjie aan die Kaap... en ’n bekende Afrikaanse tradisionele liedjie sorg steeds kennelik dat dié gebeurtenis nie vergeet word nie.

Skildery: Naval Historical Center / U.S. Navy

 

Agtergrondmusiek Daar kom die Alibama met vriendelike
vergunning van
Ons Blêrkas

 

Kaptein Raphael SemmesREGS: Raphael Semmes (1809–1877), kaptein van die Amerikaanse skip waaroor vandag nog lustig in Afrikaans gesing word.

 

 

K

YK, kyk, kyk, mense kyk, dáár kom die Alibama!

 

’n Mens kan jou maklik die tonele inbeeld.

 

In jou geestesoog sien jy weer die opgewonde Kapenaars wat op Seinheuwel en by Seepunt heentuur oor die see. Hulle kyk uit oor Tafelbaai na die geroemde stoom-en-seilskip wat na die hawe onderweg is.

 

Kort tevore was hierdie toeskouers getuies van ’n oorlogsdramatjie ter see toe die einste Alibama—eintlik Alabama, maar die naam is effens vervorm in die Kaapse volksmond—toe die einste stoom-en-seilskip ’n gewone seilskip genaamd die Sea Bride ingejaag en tot oorgawe gedwing het. Nou is die oorlogskip besig om sy handelskip-prooi in die Kaapse hawe in te bring. Hier gaan dit as oorlogsbuit verkoop word.

 

Op hierdie wintersdag in 1864 besef enkele van die nuuskierige Kapenaars miskien dat hulle besig is om ’n gebeurtenis te aanskou wat nog in die geskiedenisboeke aangeteken gaan word. Maar dat hul nakomelinge nog tot minstens in die 21ste eeu sal sing oor hierdie dag, nou ja, dit kan niemand onder hulle hoegenaamd voorsien nie.

 

Wie die Kaapse moppie (grappige liedjie) gekomponeer het waardeur die koms van die Alibama/Alabama in musiek verewig is, is ook nie bekend nie, maar die “Alibama” was jare later steeds ’n groot besprekingspunt in die Kaap en is glo ook as paaiboelie gebruik om stout kinders mee bang te maak. Nog later het die liedjie ontstaan.

 

Maar wat se skip was die Alabama werklik? Aan wie het dit behoort en hoekom was dit in daardie tyd in die Kaap? Om mooi te verstaan hoe die vurk hier in die hef steek, is dit nodig dat ons iets sal weet van die Amerikaanse Burgeroorlog van 1861-1865...

 

NADAT die Verenigde State van Amerika hulle in hul Vryheidsoorlog van 1775-1783 van Engeland losgemaak het, het Amerika met rasse skrede gegroei. Miljoene immigrante uit Europa—Engelse, Duitsers, Iere en andere—het op die land van soveel belofte toegesak, waar hulle in alle opsigte vryer as in hul geboortelande was.

 

Dié wat in fabrieke wou werk, het hulle hoofsaaklik in die state in die Noorde van die VSA as fabriekswerkers gevestig. Diegene wat wou boer, het in die Suide ’n holte vir die voet gevind waar daar volop grond was.

 

Maar die uiteenlopende wêrelde van die industriële mense en boere sou noodwendig ook tot verskillende prioriteite lei en naderhand tot botsende belange wat selfs in ’n felle haat sou ontaard—iets wat uiteindelik in ’n bloedige burgeroorlog tussen Noord en Suid sou uitbars.

 

Dit het allereers daaroor gegaan dat daar baie slawe in die Suide was—ingevoer uit Afrika om op die plase te werk—terwyl die mense in die Noorde, wat nie slawe gehad het nie, slawerny afgeskaf wou hê. En toe dit vir die Suide (die Gekonfedereerdes) lyk of hulle deur nasionale wetgewing gedwing sou word om hul slawe vry te stel, het hulle besluit om af te stig.

 

Vir die Noorde (die Federale state) was dit onaanvaarbaar. Daar is geredeneer dat die hele “Amerikaanse droom” verydel sou word as die verskillende state maar net toegelaat sou word om na willekeur uit mekaar te spat.

 

Die oorlog is deur die Suidelikes begin, maar hulle moes ook uiteindelik die onderspit delf, onder meer omdat hulle nie soos die Noordelikes fabrieke gehad het om ammunisie en ander voorrade te vervaardig nie. Die keerpunt was toe die Suide se aanvoerder, genl. Robert E. Lee, in die derde jaar van die oorlog by Gettysburg verslaan is. En in April 1865 het Lee sy swaard as teken van oorgawe aan genl. Ulysses S. Grant, die Noorde se bevelhebber, oorhandig.

 

In ’n sprekende gebaar van versoening het Grant die swaard aan Lee teruggegee. Die boodskap was duidelik: die Suide was ook ’n deel van Amerika en die Noorde was nie van plan om hul landgenote daar te verneder en te vertrap nie. Die Verenigde State moes weer werklik verenig wees.

 

MAAR terug by die oorlogskip die Alabama.  Dit was ’n beroemde skroefaangedrewe sogenaamde “sloop-of-war” van die Suidelike state van Amerika en is genoem na die staat Alabama, ook in die Amerikaanse Suide. Die skip se leuse was: Aide Toi, Et Dieu T'Aidera (Help jouself en God sal jou help).

 

Engeland het hom wel neutraal gehou in die Amerikaanse Burgeroorlog, maar sy simpatie het onmiskenbaar by die Suide gelê. Só is die CSS Alabama dan ook in die geheim deur die Britse skeepsbouers John Laird Sons and Company in Noordwes- England gebou.

 

Die Noordelike state het egter hiervan te hore gekom en daarop aangedring dat die bouery gestaak word. Hoe kan Engeland dan maak asof hy neutraal staan as van sy skeepsbouers die Suide só ondersteun, was hul beswaar.

 

Die Alabama is nietemin voltooi. Boonop het die Engelse gesorg dat dit net buite die Engelse seegebied van die nodige kanonne en ammunisie voorsien word.

 

Militêr gesproke het ’n roemryke tyd op die Alabama gewag, ironies genoeg egter nie langs die kuste van Amerika nie, maar elders. Die oorlogskepe van die Noordelikes was immers so oppermagtig in die Amerikaanse waters dat dit as ’t ware selfmoord vir die Alabama sou wees om soheentoe te vaar.

 

Sy teikens was dus handelskepe van die Noorde in ander wêrelddele—skepe rond en bont op die oseane wat dit onverwags moes ontgeld. Hulle is tot sink gebring of met hul vragte gevang, wat dan as oorlogsbuit verkoop is. ’n Verstommende 26 handelskepe van die Noordelikes het die Alabama só ten prooi geval. Die Sea Bride was een van hulle.

 

Só het die stoom-en-seilskip die Alabama dan op daardie dag in 1864 die seilskip Sea Bride naby Tafelbaai verras.

 

Die Kaap in die 1800’sREGS: Die Kaap in die 1800’s.

 

 

Illustrasie (in sigaretpakkie) moes deur versamelaars geplak word in die historiese boek OUR SOUTH AFRICA PAST AND PRESENT, in 1938 uitgegee deur The United Tobacco Cos. (South) Limited. Kopiereg nie aangedui

 

 

Die Sea Bride het probeer wegkom, maar kon natuurlik slegs op sy seile staatmaak om betyds binne vyf kilometer van die kus tussen Robbeneiland en Seepunt te probeer kom. Ingevolge die een of ander internasionale bepaling, of bes moontlik die volkereg, sou dit daar veilig wees en sou die Alabama dit dan nie kon molesteer nie.

 

Die kat-en-muis-spel ter see was groot nuus in die Kaap en ’n mens kan jou die opgewondenheid voorstel van die Kapenaars wat die hele wedloop van die land af aanskou het. Die Sea Bride se wanhopige vlug was tevergeefs. Die Alabama se kanonne het sy bemanning gedwing om oor te gee, en die Alabama het sy prooi die hawe binnegebring en verkoop.

 

Kort daarna is die Alabama weer vort... maar nie sonder dat dit ’n vrolike liedjie in die suide van Afrika agtergelaat het nie.

 

Die uiteindelike lot van die CSS Alabama? Dit is oplaas by die Franse kus by die ingang van die Engelse Kanaal deur die Noordelikes se kruiser Kearsarge ingehaal en gekelder.

 

Die kaptein, die beroemde Raphael Semmes (1809–1877), het egter ontsnap en hy is deur ’n Engelse seiljag opgepik. Laat in die oorlog is Semmes tot admiraal bevorder, en hy was ook kortliks ’n brigadier-generaal in die leër van die Suidelike state.

 

“Kearsarge en die Alabama” deur die Franse skilder Édouard ManetREGS: “Kearsarge en die Alabama” deur die Franse skilder Édouard Manet (1832 –1883).

 

 

Ná die oorlog het die Verenigde State geëis dat Engeland vergoeding betaal vir die skade wat deur die Alabama aangerig is. Engeland het egter geweier om enigiets op te dok. In 1871 is die saak uiteindelik deur ’n internasionale kommissie in Genève, Switserland, besleg wat gelas het dat die VSA wel met ’n paar miljoen pond deur Engeland vergoed moes word.

 

Die “Alibama” het dus nie maar net gekom (en gegaan) nie, maar wel deeglik sy eie stempeltjie op die geskiedenis afgedruk!

 

As iemand ’n mens nou net kan vertel wat ’n nooi en ’n rietkooi met die hele affêre te doen het...
 

  
Daar kom die Alibama

 

Daar kom die Alibama,

Die Alibama die kom oor die see-ee-ee-ee.

Daar kom die Alibama,

Die Alibama die kom oor die see.

 

Nooi, nooi, die rietkooi, nooi,

Die rietkooi is gemaak,

Die rietkooi is vir my gemaak

Om daarop te slaap.

 

Nooi, nooi, die rietkooi, nooi,

Die rietkooi is gemaak,

Die rietkooi is vir my gemaak

Om daarop te slaap.

 

O Alibama, die Alibama,

O Alibama kom oor die see.

O Alibama, die Alibama,

O Alibama kom oor die see.
    

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad