|
Kinders met aandagsgebrek-hiperaktiwiteitstoornis—die simptome, die moontlike oorsake, die behandeling
AGHS
(ADHD):
|
||||||
IETMAN is ’n wilde, woelige, wriemelende klein windorrel. Hy is impulsief en doen dinge vinnig sonder om te dink. Hy kan eenvoudig nie stilsit nie, hardloop rond en klouter oor die meubels wanneer die res van sy gesin net rustig wil gesels. En hy babbel aanhoudend oor sy eie dinge terwyl ander mense praat. Gelukkig vir Pietman is sy probleem vroeg gediagnoseer. Baie ander kinders soos hy, wat hul gefrustreerde ouers baiemaal teen die mure kan uitdryf, se werklike beproewing word nog te dikwels nie besef nie en slegs as ’n onhebbelike stoutigheid beskou. Maar Pietman gaan nou die nodige behandeling kry. En die kans is uitstekend dat hy en sy gesin ’n rustiger tyd tegemoet sal gaan.Pietman ly aan AGHS.AGHS of aandagsgebrek-hiperaktiwiteitstoornis—wat internasionaal dikwels ADHD genoem word, die afkorting vir die Engelse attention deficit hyperactivity disorder—is een van die mees algemene stoornisse van die kindertyd.Hoewel dit by kinders voorkom, kan die probleem meermale tot in die puberteit voorduur. En partymaal kom dit ook in die volwasse jare voor—en dan dikwels by totaal ongeorganiseerde ongelukkige mense, wat nie eens weet dat dit die rede is hoekom hulle nie by een werk kan bly of so sleg onthou om afsprake na te kom nie.Maar in hierdie artikel word veral na die sindroom by jong kinders gekyk. Dit ontstaan immers reeds in die vroeë jare van ’n kind—as ’n neurologiese versteuring by nagenoeg vyf persent van die węreldbevolking.Die simptomeONOPMERKSAAMHEID, hiperaktiwitweit en impulsiwiteit is die sleutelkenmerke van AGHS. Dit is normaal by alle kinders om soms onoplettend en ooraktief te wees en onnadenkend op die ingewing van die oomblik te handel, maar by kinders met AGHS is hierdie soort gedrag meer intens en kom dit ook meer dikwels voor.
Om met die stoornis gediagnoseer te word, moet ’n kind ses maande lank of langer die simptome daarvan vertoon en dit boonop in ’n erger graad hę as ander kinders van dieselfde ouderdom.
Dit is belangrik om te weet dat AGHS misgekyk kan word deur foutiewelik te reken dat die jong lyers ander probleme het. Dromers kan lyk of hulle oplet omdat hulle so stil is, terwyl hulle in werklikheid in ’n ander węreld verkeer. En kinders met die hiperaktiewe en impulsiewe vorms van AGHS kan as rakkers beskou word wat bloot emosionele en dissiplinęre probleme het.
Die diagnose moet dus gedoen word deur ’n professionele persoon wat opgelei is in die uitkenning en behandeling van AGHS. Doeltreffende behandelings is beskikbaar, wat gedragsterapie en medikasies insluit.
Wat veroorsaak AGHS?WETENSKAPLIKES is nie seker wat die oorsaak kan wees nie, hoewel baie navorsingsresultate daarop dui dat oorerwing ’n rol speel. AGHS is waarskynlik egter die gevolg van ’n kombinasie van faktore, wat benewens die genetiese straks ook faktore soos breinbeserings, voeding en die maatskaplike omgewing kan insluit. Studies is gedoen wat selfs op ’n potensiële skakel dui wat tussen tabak- en alkoholverbruik tydens swangerskap en AGHS kan bestaan. Maar die teorie dat suiker die stoornis veroorsaak of die simptome vererger, het heel moontlik die meeste aanhangers. Tog word die suikerteorie vandag deur die meeste navorsers as ongegrond beskou. Kinders in studiegroepe van wie sekeres suiker ontvang het, het hulle nie anders gedra en ander leerprobleme ervaar as ander in dieselfde groepe wat met ’n plaasvervangende versoeter gevoer is nie. En kinders wat voorheen breinbeserings opgedoen het, kan sekere gedragspatrone hę wat soortgelyk aan dié van AGHS is. Maar dan is dit ook weer so dat slegs ’n klein persentasie van kinders met AGHS ’n traumatiese breinbesering gehad het. Hoe word AGHS behandel?IN die behandeling van AGHS word deesdae daarop gekonsentreer om die simptome van die stoornis te verminder en funksionering te verbeter. Behandelings sluit in medikasie, verskillende soorte psigoterapie, opvoeding en opleiding of ’n kombinasie van verskillende soorte behandeling. • Medikasie DIE mees algemene soort medikasie vir AGHS word ’n “stimulant” genoem, wat inderdaad ’n kalmerende uitwerking op kinders met die stoornis het. Vir baie kinders help AGHS-middels deurdat dit die hiperaktiwiteit en impulsiwiteit verminder en hulle beter laat konsentreer, werk en leer. Medikasie kan straks ook tot beter fisieke koördinasie lei.
Maar met AGHS kan ’n mens nie sę dat alle lyers dieselfde op alle middels sal reageer nie. Wat vir die een kind werk, werk dalk glad nie ’n ander nie en een kan newe-effekte ervaar wat glad nie by ’n ander een voorkom nie. Partykeer moet verskeie uiteenlopende middels beproef word om een te vind wat die regte een vir ’n bepaalde kind is. Enige kind wat medikasie gebruik, moet noukeurig deur versorgers en dokters gemonitor word. Maar is daar enige medikasie wat AGHS kan genees? Ongelukkig nie. Die middels beheer die simptome so lank as wat die kind dit gebruik. Hulle kan ’n kind help om op te let en sy of haar skoolwerk te voltooi. Dit is egter nie duidelik of medikasie kinders kan help leer en hul akademiese vaardighede kan verbeter nie. Deur die byvoeging van gedragsterapie, voorligting en praktiese steun kan kinders met AGHS en hul gesinne wel gehelp word om alledaagse probleme beter te hanteer. • Psigoterapie VERSKILLENDE soorte psigoterapie word vir AGHS gebruik. Gedragsterapie het ten doel om ’n kind te help om sy of haar handel en wandel te verander. Praktiese steun kan hier nodig wees, soos om die kind te help om take te organiseer, skoolwerk te voltooi of emosioneel moeilike gebeurtenisse te verwerk.
Met gedragsterapie word ’n kind ook geleer hoe om sy of haar eie gedrag te monitor. Voorligting in woedebeheer en hoe om te dink voordat hulle iets doen, is alles deel van die terapie, asook die opstel van duidelike reëls en vasstelling van gestruktureerde roetines. Terapeute kan die kinders maatskaplike vaardighede leer, soos hoe om hul beurt af te wag, speelgoed te deel, om hulp te vra of op tergery te reageer. Onderrig in die interpretasie van gesigsuitdrukkings en die stemtoon van andere en hoe om paslik daarop te reageer, kan ook ’n deel van hierdie opvoeding vorm. • Hoe kan ouers help? KINDERS met AGHS het die leiding en begrip van hul ouers en onderwysers nodig om hul volle potensiaal te bereik en op skool te slaag. Voordat ’n kind gediagnoseer is, kon frustrasie, blaam en woede in ’n gesin opgebou het. Ouers en kinders kan dalk spesiale hulp nodig hę om al die kwade gevoelens te bowe te kom.
Professionele mense in geestelike gesondheidsorg kan ouers onderrig oor wat AGHS is en die impak wat dit op ’n gesin het. Hulle kan ook die kind en sy of haar ouers help om nuwe maniere te ontwikkel om hul onderlinge verhoudings te laat werk.
Kinders moet gehelp word om georganiseerd te bly en opdragte uit te voer. Bly elke dag by dieselfde roetine, van opstaantyd tot slaaptyd. Organiseer deur ’n plek vir elke ding te hę en elke ding op sy plek te hou, soos klere en speelgoed. Wees duidelik en standvastig. Kinders met AGHS het konsekwente reëls nodig wat hulle kan verstaan en volg. Prys of beloon die kind wanneer reëls nagekom word. Hierdie soort kinders word dikwels gekritiseer en hulle verwag dit ook om kritiek te ontvang. Let egter spesiaal op goeie gedrag—en moenie daardie spreekwoordelike kloppie op die skouer vergeet nie.
Bron: Gegrond op ’n artikel van National Institute of Mental Health / U.S. National Institutes of Health |
||||||