|
Afrikaans, ons unieke
erfenis
So groen soos gras, so wit soos was, so
rooi soos bloed, so suikersoet—dis ’n stokou raaisel in die vorm van ’n
volksrympie en dit bevat ’n aantal vergelykings. Die antwoord van die
raaisel is natuurlik ’n waatlemoen... met sy groen skil, wit dop, rooi
vleis en soetigheid. Sonder sy kleurryke vergelykings is Afrikaans maar
net nie Afrikaans nie. Lees hieronder hoe die vergelyking ons taal
verlewendig... |
|
EN jy iemand met lang wenkbroue soos ’n skilderkwas? Met waterige oë soos ’n fonteinpadda en wegstaan-ore soos ’n windskerm? Jy sal waarskynlik wil dink of jy van iemand weet wat aan hierdie grafiese beskrywings voldoen, maar ons omgangstaal is deurspek met sulke kleurryke uitdrukkings. Ons kom immers uit die stal van goeie, landelike mense, wat na aan die aarde gelewe het, maar ook nie altyd met finesse na hul medemens gekyk nie. Die vergelyking vorm gevolglik ’n groot en onlosmaaklike deel van Afrikaans se ryke skat van idiome.
Baie van die vergelykings—plaaslik geskep of uit Europa hierheen oorgeplaas—het soveel ingang gevind en is so wyd gebruik dat hulle tot vaste uitdrukkings in die taal verhef is. Ontelbare ander is miskien een keer deur ’n woordkunstenaar of gesprekvoerder gebruik en het net daar gesneuwel omdat geen leser of toehoorder dit die moeite werd geag het om dit self weer te gebruik nie.
Hier volg lyste van sekere van die bekendste vergelykings in Afrikaans. Dit word gevolg deur ’n handjievol onbekendes wat nietemin baie omtrent die volkshumor verraai.
Bekende vergelykings by byvoeglike naamwoorde
So alleen soos my vinger So bang soos ’n bok vir ’n skoot hael So bang soos die duiwel vir ’n slypsteen So bekend soos die bont hond wees ( = oral taamlik ongunstig bekend wees) So bitter soos aalwyn So bitter soos gal So bleek soos die dood So bleek soos ’n laken So bleek soos ’n lyk So blind soos ’n mol So blink soos ’n spieël So blou soos die hemel So dapper soos ’n leeu So dig soos ’n pot So dikvellig soos ’n renoster So dom soos ’n esel So dood soos ’n mossie So doof soos ’n kwartel So dronk soos ’n hoender So duidelik soos daglig So dun soos ’n plank So fris soos ’n vis So geel soos borrie So geel soos goud So geduldig soos Job So giftig soos ’n geitjie So glad soos seep So gou soos nou So groen soos gras So hard soos ’n klip So hees soos ’n makou So honger soos ’n wolf So hoog soos die wolke So kaal soos ’n rot So kaal soos my vinger So koppig soos ’n muil So krom soos ’n hoepel So lastig soos ’n vlieg So lelik soos die nag So lig soos ’n veer So maer soos ’n kraai So mak soos ’n lam So mal soos ’n haas (moontlik onder Engelse invloed: As mad as a March hare) So moeg soos ’n hond So nat soos ’n kat So oud soos die berge So oud soos die Kaapse wapad So oud soos Metusalem So oud soos my hande, maar nie soos my tande So plat soos ’n pannekoek So reg soos ’n roer So reguit soos ’n kers So rein soos ’n duif So rooi soos bloed So rooi soos ’n kalkoen So sag soos satyn So siek soos ’n hond So skaars soos hoendertande So skeef soos ’n krap So slim soos die houtjie van die galg So soet soos suiker So stadig soos ’n trapsuutjies So stadig soos harmansdrup So steeks soos ’n muil So sterk soos ’n bees So stil soos ’n muis So suinig soos ’n vrek So suur soos asyn So swaar soos lood So taai soos ’n ratel (taai = gehard) So taai soos ’n tameletjie (taai = onaangenaam klewerig of moeilik om te hanteer) So trots soos ’n pou So verstandig soos Salomo So vet soos ’n vark So vinnig soos blits So vinnig soos die wind So vry soos ’n voël (op ’n tak) So vuil soos ’n vark So waar soos padda manel dra So waar soos ek leef So wit soos ’n laken
Vergelykings by werkwoorde
Aanteel soos konyne Bewe soos ’n riet Brand soos ’n kool vuur Drink (suip) soos ’n vis Jaag soos die duiwel Klou soos klits Klou soos ’n neet Lewe soos kat en hond ( = in onenigheid lewe) Lieg soos ’n tandetrekker Neerslaan soos ’n os Opskiet soos paddastoele Pronk soos ’n pou Rook soos ’n skoorsteen Sit soos ’n uil op ’n kluit ( = iewers sit en eensaam, verleë of onnosel lyk) Skop soos ’n volstruis Skree soos ’n maer vark Slaap soos ’n klip Stink soos ’n muishond Swem soos ’n vis Verdwyn soos ’n groot speld (in ’n hooimied) Verskil soos dag en nag Vloek soos ’n matroos Vrek soos vlieë Soveel van iets weet as ’n kat van saffraan Werk soos ’n esel
Vergelykings by selfstandige naamwoorde
’n Geheue soos ’n olifant hê (gesê van iemand wat baie goed kan onthou) Geld soos bossies ( = baie geld) ’n Hart soos ’n klip hê (gesê van ’n ongevoelige mens) Kinders soos orrelpype ( = baie kinders van allerhande groottes in een gesin) Oë soos ’n valk ( = baie skerp oë) ’n Maag soos ’n volstruis hê (gesê van iemand wat alles kan eet)
Vergelykings—nie vaste
uitdrukkings nie, maar koddig
Skurwe hakskene soos ’n vleipatat |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |