Speletjies vir Afrika!

 

Die pretmakery en ander tydverdrywe van die kinders in tradisionele gemeenskappe in die suide van ons vasteland

 

Dis klippie-gooi en mamba-vang en hoeveel ander maniere om die tyd aangenaam te verwyl. Dikwels ver van die stadsgewoel speel die kinders van Afrika nog van die ou speletjies wat waarskynlik geslagte gelede ook gespeel is. Maar tog het ’n navorsers bevind dat daar deesdae ’n onrusbarende neiging is om die gewelddadige misdade van die moderne tyd ook in speletjies te inkorporeer...

Kinderspeletjies

Kinderspeletjies

Foto’s ter illustasie: U.S. Library of Congress en U.S. National Archives and Records Administration (foto’s gewysig deur Mieliestronk.com)

S

ELFS ons president, mnr. Jacob Zuma, onthou dit goed—hoe hy as jong veewagter aan stokgevegte deelgeneem het in die landelike gebied in Zoeloeland waar hy grootgeword het. Wedywerings met kieries is immers noodsaaklik vir die tradisionele melkbaard-veewagters, soseer dat hulle op vyf-, sesjarige leeftyd reeds sal begin leer hoe om die stok reg te hanteer.

 

Dit is eintlik maar nog net ’n speletjie. Maar met verloop van tyd kan dit ’n baie nuttige vaardigheid word om die jong oemfaans in die veld teen wilde diere te beskerm. As hulle behendig raak met die kierie, sal hulle ook weet wat om te doen indien ander jeugdige veewagters sou probeer om hulle en hul vee van goeie weidingsplekke te verdryf.

 

Dit kan hulle boonop help om hulle vir die volwasse lewe voor te berei. Met speelse kierie-bakleierye word hulle mos gebrei om hulle later in die insiasieskool en as grootmense in die hantering van hul tradisionele wapens te onderskei.

 

Soos in ander kulture weerspieël die speletjies van jong kinders in tradisionele Afrika-gemeenskappe dus baiemaal iets van die grootmenswêreld wat op hulle wag—en die ernstige mededinging wat die bestaanstryd sal kenmerk wanneer hulle die dag hul eie potjie moet krap.

 

Maar in die kindertyd gaan dit gelukkig darem in die eerste plek om pret! En elkeen wat al ooit gesien het hoe ’n groep van, sê, twintig swart kinders “mamba” speel, sal moet erken dat dit sommer vet pret kan wees om jou lyf slang te hou in ’n Afrika-nedersetting!

 

Een van die jongklomp word gekies om die mamba te wees (dis natuurlik ’n lang, giftige inheemse slang). Die speelveld word uitgemeet—vir twintig kinders sal dit min of meer ’n vierkant wees met elke sy nagenoeg die totale lengte van vyf lang mans. Niemand mag die vierkant verlaat nie, maar almal moet probeer om van die grypende mamba af weg te kom sodra die teken gegee word dat die speletjie begin.

 

Wanneer die mamba een van sy prooi gevang het, moet daardie speler hom by die slang aansluit deur sy of haar hande op sy skouers of om sy middel te plaas. Elke nuwe vangs haak van agter by die vorige een aan en word ’n volgende deel van die mamba se lyf, net soos ’n regte slang ook groter word namate hy al hoe meer kos vreet. Slegs die oorspronklike mamba, oftewel die “kop” van die slang, mag die prooi vang. Geeneen van die res van die spelers in die “stert” wat wild agter hom aan kronkel, het die mag om prooi te vang nie.

 

As ’n speler uit die speelveld trap, mag hy of sy nie langer aan die speletjie deelneem nie. Die speler moet op die grenslyn gaan sit en wag totdat die volgende mamba met sy jagtog begin.

 

Die speletjie eindig wanneer al die spelers (almal wat nie die speelveld verlaat het nie) gevang is, en die een wat die laaste gevang word, word die volgende mamba.

 

IN Suid-Afrikaanse tradisionele gemeenskappe is speelgoed wat in winkels gekoop word skaars, omdat dié natuurlik geld kos en die grootmense dikwels eerder noodsaaklike lewensmiddele en klere sal aanskaf wanneer hulle ’n paar rand het om te bestee. Nie dat dit altyd as ’n nadeel beskou word nie. Dit leer naamlik kinders om vindingryk te wees en te speel met dinge wat in hul omgewing te vinde is.

 

’n Swart vrou wat in die Kaap vir hierdie kort navorsingstuk ondervra is, onthou byvoorbeeld hoe hulle kleintyd kru poppies gemaak het wanneer hulle stukkies lap gehad het. Die lap is om ’n klippie gevou en onder vasgebind om ’n kop en rokkie te vorm. Min duur en modieuse Westerse slaappoppe sou beter speelgoed kon gewees het!

 

Heel moontlik het die leser ook al by ’n swart vrou of meisietjie verbygeloop wat plat op die grond gesit en in diepe konsentrasie ’n speletjie met klippies gespeel het. Na vertel word, is tien klippies nodig vir só ’n speletjie. Die speelster het een klippie in haar hand en die nege ander lê bymekaar op die grond.

 

Sy gooi een klippie in die lug op, waarna sy een klippie uit die stapel van nege wegskuif, net om die opgegooide een raak te vang nadat sy die skuif gedoen het. Vervolgens sal sy probeer om met dieselfde handeling twee klippies uit die stapel te verwyder, dan drie, daarna vier, ensovoorts.

 

In ’n ander weergawe van die bogenoemde speletjie word ’n dosyn of meer klippies in ’n kleinerige gat geplaas. Die speler moet ’n groter klip, wat minstens drie keer so groot as die klippies in die gat is, in die lug opgooi en vang terwyl klippies uit die gat gehaal word. Die opeenvolgende handelinge is gooi, verwyder, vang. Nadat al die klippies uit die gat gehaal is, moet hulle weer in die gat teruggeplaas word—eers een, dan twee op ’n keer, daarna drie op ’n slag, en so gaan dit voort.

 

Dalk herinner hierdie eenmens-spel die leser aan die bekende kaartspel solitêr. Maar ’n ander speletjie wat swart kinders speel, laat ’n mens nie slegs aan sy Westerse ekwivalent dink nie, maar is wesenlik dieselfde spel. Net ’n Nguni-naam soos U-ndize verskil van dit wat ons “wegkruipertjie” noem. Dit is afgelei van die vraagwoord ndize? wat “kan ek maar kom?” beteken. Ons plaaslike wegkruipertjie is egter bes moontlik nie van Afrika-oorsprong nie, maar leengoed uit Europa.

 

In ’n ander Nguni-speletjie met klippies (of miskien mieliepitte), ’n speletjie wat wel eie is aan Afrika, sê twee spelers mekaar die stryd aan. Die twee sit bymekaar, en voor die een is ’n stapeltjie klippies of mieliepitte. Hierdie speler oorhandig ’n klippie aan die tweede speler en vra op ’n singerige manier ’n vraag soos: “Watter voël is dit dié?”

 

Speler nommer twee sing dan voort: “Dis ’n tarentaal” of “Dis ’n spreeu” of “Dis ’n pietmajol”, of wat ook al, elke wanneer hy of sy ’n klippie ontvang. Sodra die tweede speler nie meer ’n voël se naam kan sing wanneer ’n klippie ontvang word nie, kry hy of sy al die klippies. Speler nommer twee word dan die vraagsteller en speler nommer een moet op sy of haar beurt kyk hoe vaardig die gestelde vraag beantwoord kan word.

 

IN Afrika-gemeenskappe is musiek en danse baie belangrik en daar is dan ook verskeie soorte dansspeletjies wat deur kinders gespeel word. Party laat die kwêlafluite koer, talle sing so harmonieus in stemme dat dit publiek klink of daar musiekbegeleiding is. Baie kinders is ewe bedrewe met springtoue, waarmee hulle ure lank oefen om werklik ratse eksperte te word.

 

Vele onderskei hulle boonop met die maak van karretjies uit draad, wat nie net hul speelgoed word nie, maar ook aan toeriste verkoop kan word vir ’n uiters welkome klompie rand. Of hulle maak kitare uit paraffienblikke.

 

En dan is die Afrika-kinders versot op sokker. Die sportsoort kom weliswaar, soos die meeste gewilde sportsoorte, uit Europa, maar goeie sokkerspelers wat kan pypkan, korrel en doele kan skop, word afgodies vereer deur die grootmense en is die groot rolmodelle van die jeug. Die kinders speel dus graag sokker in hul vrye tyd. En met elke doelskop skreeu hulle geesdriftig laduma—die Zoeloe-woord vir ’n sokkerdoel!

 

Iets onrusbarends wat egter in die afgelope tyd waargeneem is, is dat getraumatiseerde skoolkinders in Suid-Afrika gewelddadige speletjies speel waarin hulle rooftogte en selfs verkragtings naboots.

 

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het in 2008 in ’n verslag bekend gemaak dat ’n kamma-aanval genaamd “verkrag my, verkrag my”, wat by sewejarige kinders gadegeslaan is, toon hoe endemies seksuele geweld in ons land geword het.  Meer as veertig persent van die jeugdiges wat deur die kommissie ondervra is, was ook reeds die slagoffers van geweld, en die sielkundige steurnisse wat hulle as gevolg daarvan ondervind, vind selfs weerklank in dit wat hulle speel.

 

Dit bied bekommerde sosioloë en regeringsleiers oorgenoeg stof tot nadenke.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad