ARTY mense sal half
ongeërg luister as jy hulle vertel dat Afrika aan die skeur is.
“Vertel ons iets nuuts,” sê hulle dan miskien met ’n onbesorgde
waai van die hand, “Ons weet mos hoeka Afrika is vol woelige stamme
wat nie altyd langs dieselfde vuur sit nie...”
As jy egter
verduidelik dat dit ’n letterlike uitmekaarskeuring van die
vasteland van Afrika op die wêreldrond is, is daar seker min
mense wat nie verbaas sal regop sit indien hulle nog nie van
hierdie geologiese verskynsel gehoor het nie.
Jy sal moontlik gou
moet byvoeg dat dit ’n uiters, uiters stadige skeuring is.
Wetenskaplikes reken dit is besig om oor soveel bra
onberekenbare millenniums te geskied dat niemand bekommerd hoef
te wees nie. Enige vrese dat ’n kataklismiese aardbewing
binnekort ons kontinent soos die kap van ’n byl gaan halveer, is
dus totaal ongegrond.
En Afrika skeur nie
in twee ewe groot helftes nie; dis net die verre Oos-Afrikaanse
deel wat dreig om weg te brokkel van die res. Die fisiese tekens
dat hierdie skeuring aan die gebeur is, sien ons duidelik uit
beelde wat uit die ruimte van Afrika geneem word. Ons bemerk dit
ook op die grond in die insinkings, vulkane en ander
terreinvorms wat in die betrokke gebied voorkom.
Dit word die
Oos-Afrikaanse Skeur genoem. Vroeër is gereken—en baie mense
dink sekerlik vandag nog—dat die Oos-Afrikaanse Skeur bloot die
suidelike deel van die “Groot Skeurvallei” is wat van die middel
van Mosambiek in Afrika af noordwaarts strek tot in die noorde
van Sirië, in Suidwes-Asië.
Dit was die Engelse
ontdekkingsreisiger John Walter Gregory wat in die negentiende
eeu die naam “Groot Skeurvallei” aan hierdie reuse-trog van
nagenoeg 6000 kilometer in die aardkors gegee het. Geleerdes
reken egter vandag dat dit onjuis is om van ’n aaneenlopende
Midde-Oosters/Afrikaanse skeurvallei te praat. Volgens hulle is
twee afsonderlike, hoewel verwante geologiese breuksisteme hier
aanwesig.
Daar is nietemin ’n
neiging om steeds van die Groot Skeurvallei te praat wanneer
slegs na die Oos-Afrikaanse Skeur verwys word.
Hoe ook al, ’n mens
kan wel wonder wat op aarde—of liewer onder in die aarde—dan
hierdie skeuring in Afrika veroorsaak. Om te begryp wat hier aan
gang is, moet ’n mens die studie van die sogenaamde
plaattektoniek verstaan (kyk ook die stuk oor
Plaattektoniek in Mieliestronk se Laslappie-afdeling).

BO: Die wêreld van die groot skeur soos dit in Kenia lyk.
Foto: Science
NASA
Plaattektoniek
DIE
aarde bestaan uit verskillende lae, soos ’n ui. Daar is drie
hooflae om presies te wees en van buite na binne kry ons:
-
die
aardkors;
-
die aardmantel
met vaste of taai-vloeibaar gesteentes daarin;
-
die kern
(die buitekern en die binnekern) wat uit yster
en nikkel bestaan.
As jy met jou voet op die grond stamp, voel die aarde hard.
Terra firma, heet dit in Latyn—oorgesit die “vaste aarde”.
Maar indien jy nog altyd aan ons planeet gedink het as iets soos
’n ontsaglike harde bal, of miskien ’n kolossale albaster wat
regdeur uit vaste stowwe bestaan, het jy dit baie ver mis gehad.
Wetenskaplikes reken naamlik dat ’n groot gedeelte van die aarde
se kern vloeibaar is. Die temperatuur daarbinne is trouens so
hoog—meer as 5.000°C—dat
alle vaste stowwe daar vanweë die hitte smelt of vervloei.
Tussen die kern en
die aardkors is die aardmantel, waarvan die gesteentes weliswaar
vas is, maar dit word ook taai-vloeibaar genoem omdat dit in der
waarheid soos teer of botter is.
Slegs heeltemal in
die middel van die aardbol—in die sogenaamde binnenkern—is die
druk so enorm dat die yster of nikkel-yster vanweë die geweldige
drukking weer tot 'n vaste vorm stol.
Die buitenste laag
van die aarde heet die litosfeer en dié bestaan uit die aardkors
en die boonste stukkie, die harde bolaag, van die aardmantel.
Die litosfeer is geen groot, aaneenlopende dop of skil soos, sê
maar, die skil van ’n lemoen nie, maar bestaan uit massiewe
brokstukke wat plate genoem word. Hierdie plate dryf as.’t
ware op die taai-vloeibare gesteentes van die aardmantel, net
soos ys op water dryf. Die plate is natuurlik oral oor die
aardoppervlak versprei, hetsy as dele van vastelande of onder
die see.
Dit
is die konveksiestrome
in die aarde se taai-vloeibare aardmantel wat noodwendig
drukkings op die plate van die litosfeer uitoefen, soos ons ook
op die illustrasie onmiddellik hieronder kan sien. Die aardmantel
se konveksiestrome beweeg weliswaar stadiger as die
konveksiestrome in die vloeibare buitekern dieper ondertoe, maar
die beweging is genoeg om groot spanninge te bewerkstellig in
ons dun lagie “vaste aarde”, soos waar twee konveksiestrome wat
in teenoorgestelde rigtings wentel mekaar ontmoet.

BO: Die verskillende plate of brokstukke van die litosfeer
(daardie deel van die aarde wat bestaan uit die aardkors en die
boonste stukkie, die harde bolaag, van die aardmantel). Daar is ’n
duidelike onderskeid tussen die Afrika-plaat en die Arabiese
plaat, sodat ’n mens nie werklik die “Groot Skeurvallei” as een
aaneenlopende terreinvorm op een plaat kan beskou nie. Wat
eenmaal as die voortsetting van die Oos-Afrikaanse Skeur tot in
Sirië in Suidwes-Asië beskou is, is in werklikheid die
plaatgrens tussen die Arabiese plaat en die Afrika-plaat. (Let
voorts daarop dat die Indiese en Australiese plate soos hierbo
aangedui nie verdeel is nie, maar saam die Indo-Australiese
plaat vorm).
Illustrasie deur “OR”, wat dit by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the
public domain”)
Die studie van
hierdie plate en hul verskuiwings word plaattektoniek genoem.
Omdat die plate op ’n laag van gedeeltelik gesmelte gesteentes
dryf, beweeg hulle inderdaad. Maar die harde “dop” kan selfs 75
km dik wees en boonop is die verskuiwings so ontsettend stadig
dat ons dit nie opmerk nie.
Waar die verskillende
plate egter bymekaarkom, is daar baiemaal groot seismiese
onbestendigheid. Die wetenskaplikes praat van sulke
bymekaarkomplekke as “breuke” (“faults” in Engels). By die
breuke bots of skuur die verskillende plate teen mekaar of beur
uitmekaar of skuif onder mekaar in. Spanning word opgebou totdat
die vaste gesteentes aan die rande van die plate skielik
“spring” of meegee—en die gevolg is
aardbewings op land of miskien
tsoenami-vloedgolwe wat kusgebiede en eilande meedoënloos
vanuit die see binnerol.
Die skeur in die Afrika-plaat

BO: Hierdie kaart van Oos-Afrika toon sekere van die histories
aktiewe vulkane (rooi driehoekies) en die Afar-driehoek
(ingekleur in die middel), ’n drievoudige bymekaarkomplek
waar drie plate besig is om van mekaar af weg te beur. Die
drie plate is naamlik die Arabiese plaat en die twee dele
van die Afrika-plaat (die Nubiese en die Somaliese
protoplate). Die twee dele van die Afrika-plaat is besig om
langs die Oos-Afrikaanse Skeur-sone uitmekaar te splits.
• Dis ook belangrik om daarop te let dat die
Oos-Afrika-Skeur-sone uit twee hoofvertakkings bestaan, te
wete die Oostelike Skeurvallei en die Westelike Skeurvallei.
Illustrasie:
U.S. Geological Survey / via Wikipedia
WAT
kennelik aan die gebeur is met die plaat wat as die Afrika-plaat
bekend staan, is dat die westelike deel, die sogenaamde Nubiese
sektor van die plaat, en die oostelike of sogenaamde Somaliese
deel besig is om uitmekaar te beur. Dit staan ook bekend as die
Nubiese en Somaliese subplate of protoplate.
Die meeste aktiewe
plaatskeure is in oseaniese korsdele en onder die see, maar die
Oos-Afrikaanse Skeur is ’n opmerklike uitsondering en een van
die min aktiewe vastelandse korsskeurings op ons planeet.
Eintlik bestaan
hierdie skeur uit twee hoofvertakkings, te wete die Oostelike
Skeurvallei en die Westelike Skeurvallei. Alles getuig van die
enorme kragte wat binne-in die aarde aan die gang is om
bestaande vorms te verwring en dramaties uit mekaar te skeur—net
om te herskep.
Ontwikkelende
tektoniese plaatsplitsings soos dié in Oos-Afrika gebeur
nietemin, soos ons hierbo gesien het, ontsettend stadiger as
trapsuutjies-stadig. Trouens, iemand het al genoem dat die
gemiddelde verskuiwing van die tektoniese plate op die aarde
vergelyk kan word met die groei van menslike vingernaels, dus in
’n tempo van slegs sowat twee sentimeter per jaar! (Volgens ’n
ander berekening is dit darem vyf sentimeter.)
Waar die plate
uitmekaar beur, word nuwe gesteentes van onder af in die skeur
ingedruk, met die gevolg dat die gesteentes naaste aan die
plaatgrens jonger is as die gesteentes ver weg op dieselfde
plaat. Maar daar is ook ’n insinking van die aardkors ál met die
skeur saam.
Die Oos-Afrikaanse
Skeur het hom as ’n belangrike bewaarder van fossiele bewys. As
gevolg van die verwering van die wande van die vallei, is
sedimente in die dal neergelê waarin baie reste gepreserveer is
uit ’n tyd toe die aarde nog baie jonger was.
En, soos verwag kan
word, is daar ’n aantal vulkane in die streek, rustend sowel as
aktief. Een baie belangrike onaktiewe stratovulkaan is die berg
Kilimandjaro in Tanzanië, met sy drie vulkane en op 5895 meter
die hoogste berg in Afrika. Nog vulkaanberge is onder meer die
berg Nyiragongo en die berg Kenia. (Lees ook die kort artikel
oor die indrukwekkende
Ngorongoro-krater in Tanzanië in Mieliestronk se
Laslappie-afdeling.)
Die aktiewe Ol Doinyo
Lengai-vulkaan in die noorde van Tanzanië is baie interessant
omdat dit nie, soos die meeste vulkane, lawa uitspuug wat ryk
aan silikaatminerale is nie. Pleks daarvan is dit tans die aarde
se enigste vulkaan wat sy omgewing met die skaars lawa
karbonatiet verryk, wat baie meer vloeibaar as die
silikaatlawas is. Karbonatiet bevat skaars minerale van
natrium- en kaliumkarbonaat (ons ken mos natriumkarbonaat as
gewone wassoda). Hulle
sê die landskap om Ol Doinyo Lengai lyk soos niks anders op
aarde nie.

BO: Lawa spetter aan die bopunt van ’n kegeltjie op die
kraterbodem van die Afrika-vulkaan Ol Doinyo Lengai. Dat
die kegel darem nie só klein is nie, word gestaaf deur die
grootte van die mensefiguur aan die voet daarvan. Die swart lawa aan die
linkerkant van die kegel is vars (dis binne die voorafgaande
uur uitgespuug), terwyl die wit stof regs ook swart lawa was
wat oor etlike maande wit geword het. Dit is wat met Ol
Doinyo Lengai se karbonatiet-lawa in die buitelug gebeur.
• Karbonatiet is letterlik die koudste lawa op aarde. Dit
bars by 500 tot 600 grade Celcius uit, vergeleke met
byvoorbeeld die betreklik onlangs gemete 1160 grade Celsius
van die Kilauea-vulkaan in Hawaii. Kilauea is teenswoordig die mees
aktiewe vulkaan op ons planeet.
Foto: Celia
Nyamweru / U.S. Geological Survey
REGS:
Ol Doinyo Lengai bars uit, hierdie unieke vulkaan van die
Oos-Afrikaanse Skeur in die noorde van
Tanzanië.
Foto: Gordon
Davies, met vergunning van Celia Nyamweru, St.
Lawrence-Universiteit, Canton, New York / U.S. Geological Survey