
•
Klik hier vir ander Mieliestronk-artikel met
besonderhede van Afrika-lande een vir een
•
Lees
ook Mieliestronk se reeks van vyf hoofstukke oor die geskiedenis van
Afrika
NS eie kontinent is die wêreld se derde grootste vasteland. Die
bevolking is ongelyk versprei: die gebied aan die Middellandse See
en Oos-Afrika is digter bevolk as die woestyne, woude en
grasvlaktes.
Knap duskant ’n miljard (duisend miljoen) mense, só word geraam, woon hier op
’n landoppervlakte van 30 330 000 vk. km—’n bonte vermenging van
duisende etniese groepe wat meer as duisend verskillende tale praat.
REGS:
In Guinee help ’n kind om ’n kleiner kind te versorg—getrou aan die
Afrika-manier van doen in baie gemeenskappe.
Foto: USAID
Gemeenskappe wissel van dié met landelike kulture, waar die kos,
kleding en stamgebruike reeds honderde jare lank feitlik onveranderd
gebly het, tot ander in moderne stedelike omgewings met ’n sterk
Westerse inslag. Ons is dus baie uiteenlopend, maar ons is almal
deel van hierdie dinamiese vasteland. Ons is die kinders van Afrika—en die trotse mense van die reënboog.
Daar is selfs nog baie mense in Afrika wat ’n nomadiese (swerwende)
bestaan voer, byvoorbeeld die Toearegs. Hierdie stam van die
Sahara-woestyn maak ’n bestaan uit handel, handwerk en die teling
van kamele en perde. Die Toearegs lewe in feodaal-agtige
gemeenskappe wat in vier maatskaplike klasse ingedeel is.
Toeareg-tente word van diervelle of tapyte gemaak.
Ook die San (Boesmans) van Suider-Afrika—die erg verskraalde
oorblyfseltjies van ’n antieke volk—is nog nomadies waar hulle
hulle nie onder Westerse invloed tot gevestigde lewenswyses gewend
het nie.
Afrika strek 8050 km ver van sy mees noordelike punt, Kaap Blanc
(Ra’s al Abyad) in Tunisië, tot by sy mees suidelike punt, Kaap
Agulhas in Suid-Afrika. Die maksimum-breedte van die vasteland,
gemeet van die punt van Cap Vert in Senegal, in die weste tot by
Raas Xaafuun (Ras Hafun) in Somalië in die ooste, is sowat 7560 km.
|
REGS: Die baken by Kaap Agulhas by die
mees suidelike punt van die
vasteland van Afrika. Die baken dui ook die grens aan
tussen die Indiese Oseaan en Atlantiese Oseaan.
Foto deur
Dewet (ook bekend onder die
naam
Dewet by flickr),
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye
web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.0-lisensie
|
 |
Die hoogste punt op die kontinent is die altyd besneeude berg
Kilimandjaro (5895 m) in Tanzanië en die laagste is die meer Assal
(153 m onderkant seevlak) in Djiboeti.
Die Sahara-woestyn in Noord-Afrika is die wêreld se grootste
woestyn. Dit is ongeveer 1600 km breed en meer as 5000 lank van oos
tot wes. Die Sahara beslaan altesaam byna 9,1 miljoen vk. km,
waarvan sowat 207 200 vk. km deels vrugbare oases is. Behalwe in die
oases (met veral dadelpalms en ’n soort akasia), is daar omtrent
geen plantegroei in die Sahara nie, hoewel sekere doringstruike in
die Wes-Sahara groei.
In skerp teenstelling daarmee bedek ’n digte, welige reënwoud die
hart van Afrika in die omgewing van die Kongorivier en die gebied
van die groot mere. Die verstrengelde boomtakke keer byna al die
sonstrale af en die klimaat is uiters bedompig. Daar is sandelhout,
mahonie, ebbehout, palms, piesangbome en wortelbome, en die grond is
met varings en orgideë begroei. Allerlei soorte wilde diere lewe in
hierdie groen woud, onder meer luiperds, krokodille, ietermagogs
(skubberige miervreters) en giftige slange.
In andere dele van Afrika is daar weer wuiwende grasvlaktes,
golwende boswêrelde of verlate dorslande, soos ons Karoo.

LINKS
BO en REGS BO: Van dorre vlaktes tot digte woude... Afrika het
alles. REGS: ’n Ou skildery van die landskap in Oos-Afrika.
Foto links bo: U.S. Geological Survey
Foto regs bo: GSFC / NASA
Skildery uit Das Deutsche
Kolonialreich deur Hans Meyer, 1909
Afrika is baie ryk bedeel met minerale, waarvan baie in groot
hoeveelhede gevind word. Hier is baie fossielbrandstowwe, wat
belangrike neerslae van steenkool, olie en aardgas insluit. Die
vasteland het van die wêrelde se grootste reserwes goud, diamante,
koper, aluminiumerts, mangaan, nikkel, platinum, kobalt, radium,
germanium, litium, titaan en fosfate. Ander belangrike minerale
bronne sluit in ystererts, chroom, tin, sink, lood, torium,
sirkonium, vanadium, antimoon en berillium. Hier is ook ontginbare
hoeveelhede klei, mika, swael, sout, natron, grafiet, kalkklip en
gips.
Afrika het dus haar kinders kwistig begunstig, ook met al die
rykdomme wat nog wag om ontgin te word.
Die name van die Afrika-lande is Wes-Sahara, Marokko, Tunisië,
Algerië, Libië, Egipte, Mauritanië, Mali, Niger, Tsjad, Soedan,
Eritrea, Djiboeti, Ethiopië, Senegal, Gambië, Guinea-Bissau, Sierra
Leone, Liberië, Togo, Benin, Ekwatoriale Guinee, Cabinda, Guinee,
Burkina, Faso, Ivoorkus, Ghana, Nigerië, Sentraal-Afrikaanse
Republiek, Kameroen, Gaboen, Kongo, Demokratiese Republiek van die
Kongo, Uganda, Kenia, Somalië, Rwanda, Burundi, Tanzanië, Malawi,
Mosambiek, Madagaskar, Angola, Zambië, Zimbabwe, Namibië, Botswana,
Swaziland, Suid-Afrika en Lesotho.
Omdat dit ons eie
vasteland is, weet baie van ons taamlik goed hoe Afrika vandag
lyk, hier in die eerste dekade van die 21ste
eeu. Maar hoe het ons kontinent in vergange eeue gelyk?
Die lewe in antieke Afrika
•
Lees
ook Mieliestronk se reeks van vyf hoofstukke oor die geskiedenis van
Afrika
VAN ou Egipte met sy magtige farao’s en
skouspelagtige piramides het ons al baie gehoor. Ook van die antieke
Groot Zimbabwe en Mapungubwe dra ons kennis, die fassinerende ou
beskawings van ons eie wêrelddeel. Maar hoe was die res van Afrika
in die gryse verlede?
Duisende jare gelede was die Sahara-woestyn ’n gebied van grasvelde
en mere. Die mense wat daar gewoon het, het ongetemde beeste,
kameelperde, renosters en seekoeie gejag. Toe, omstreeks 6000 v.C.,
het die mense van die Sahara diere begin tem en beeste begin aanhou
pleks daarvan om hulle te jag.
Teen 4000 v.C., weens ’n verandering in die klimaat, het die
grasvelde reeds tot ’n woestyn verdor. Die Sahara-woestyn het Afrika
in twee verdeel en die lewe noord van die Sahara het baie anders
ontwikkel as dié in die suide daarvan.
Honderde jare lank is die koninkryk van Koesj in die Nylvallei deur
die Egiptenare geregeer. Omstreeks 1000 v.C. het die Koesjiete
weggebreek om vry te wees. Hulle het later self Egipte verower. Toe
is ’n nuwe hoofstad by Meroë gebou, waar daar beter landbougrond
was.
Die mense van Meroë het yster gedelf, waarmee hulle wapens en
gereedskap gemaak het. Hulle het ryk geword deur met Indië en die
lande om die Middellandse See handel te dryf. Die konings en
koninginne van Meroë is onder piramides met steil kante begrawe.
In Wes-Afrika was daar weer die Nok-mense, wat teen 500 v.C. reeds
geleer het hoe om yster te gebruik. Hulle het dit in klei-oonde gesmelt
en tot sterk gereedskap omgevorm. Hierdie gereedskap het hulle
suksesvolle boere laat word.
Daarteenoor het die meeste Afrika-bewoners suid van die Sahara
steeds wilde diere gejag en plante versamel om te eet. Omstreeks 500
v.C. het hulle egter suid- en ooswaarts begin beweeg op soek na nuwe
grond. Teen 500 n.C. het van hulle reeds die suidpunt van Afrika
bereik, en boerdery het na die grootste deel van die vasteland
versprei.
Maar daar sou in Afrika nog koninkryke ontluik. Een was die
koninkryk van Aksoem, wat teen nagenoeg 100 n.C. aan die kus by die
Rooi See ontstaan het.
REGS:
’n Ou muntstuk waarop koning Ezana van Aksoem afgebeeld is.
Aksoem het ryk geword deur met Arabië, Indië
en dele van die Romeinse Ryk handel te dryf. Kooplui van ander lande
het by die hawe Adoelis aangedoen.
Omstreeks 340 n.C. het sendelinge die Christelike godsdiens na Aksoem
gebring. Koning Ezana van Aksoem het die eerste Christelike koning
in Afrika geword.
Afrika in die 20ste eeu
— die winde van verandering
IN die eerste vyftig, sestig en meer jare van die twintigste eeu was
talle Afrika-lande nog in die hande van hul koloniale heersers
in Europa. Maar die “winde van verandering” het oor die gewese
donker vasteland gewaai, en een ná die ander het hulle hul
onafhanklikheid geëis—en gekry. Baiemaal was die voorspel tot die
oorgang of die verandering self bloedig, partykeer wel vreedsaam.
Aan die einde van die eeu was daar geen kolonie meer in Afrika oor
nie.
In hierdie afdeling word gekyk na ’n aantal hooffigure uit die tyd van die
sogenaamde vryheidstryde op die kontinent. Verder ondertoe kan jy
lees hoe die aangesig van Afrika ná die Tweede Wêreldoorlog verander
het...
LINKS:
Nelson Mandela.
Foto: U.S. White House Photo (cropped
and mirrored)
•
Nelson Mandela (1918- ) was 27 jaar lank
’n politieke gevangene
waarna hy in die dekade voor die afgelope eeuwisseling die eerste president
van ’n nuwe, nie-rassige Suid-Afrika geword het. Suid-Afrika het in
1910 onder die Britse vlag tot stand gekom met die unifikasie van
Kaapland, Transvaal, die Vrystaat en Natal. Mettertyd het hy saam
met Brittanje ’n gelyke vennoot in die Statebond geword, waaruit hy
later getree het. In 1994 het die land sy lank verguisde
apartheidsbeleid begrawe met die hou van die eerste veelrassige
verkiesing en hom daarna weer by die Statebond aangesluit.
|

LINKS: Jomo Kenyatta.
•
Jomo Kenyatta (ca. 1893-1978) was aanvanklik premier en toe die
eerste president van Kenia. Hy het van 1963 af tot met sy dood
regeer. Kenyatta was voor dit ’n aantal jare in die tronk omdat hy
die Mau-Mau-guerrilla-veldtog teen die Britse bewind in sy land
gelei het. |
LINKS:
Kwame Nkrumah. uitbeeld op ’n ou posseël van die voormalige
Sowjet-Unie. Die onmiskenbare beleid van die Russiese kommuniste
destyds om swart bevrydingsbewegings in Afrika te steun, het
kennelik die Weste in die harnas gejaag en meegehelp om die
bevrydingstryde op ons vasteland só te kompliseer dat dit plek-plek
tot bloedvergieting en ellende gelei het.
• Kwame Nkrumah (1909-’72) het in 1957 die premier van Ghana geword
toe dié land die eerste kolonie in Afrika was wat onafhanklik geword
het. Die koloniale heerser was Brittanje. Nkrumah se bewind is egter
in 1966 in ’n staatsgreep omvergewerp. Hy het aanvanklik in die
kollig gekom toe hy in 1950 ’n veldtog van burgerlike
ongehoorsaamheid en massa-aksie gelei het wat sy land (toe die
Goudkus genoem) tot stilstand gebring het.
|
LINKS:
Harold Macmillan.
Foto: U.S. Libary of
Congress (digitaal verkleur)
•
Harold Macmillan (1894-1986), Britse Konserwatiewe eerste minister
van weleer, het in 1960 die Suid-Afrikaanse parlement toegespreek en
gepraat van die “wind van verandering... wat deur hierdie vasteland
waai”. Hy het Suid-Afrika gemaan het om hom daarby aan te pas. |
LINKS:
Kenneth Kaunda
in 1978.
Foto: PSI / USAID
• Kenneth Kaunda (1924- ) het in 1964 die eerste president van
Zambië (voorheen die Britse Noord-Rhodesië) geword. Nasionalisasie
en die ineenstorting van die koperprys het egter mense laat noustrop
trek, en verset teen Kaunda se eenparty-bewind het in 1991 tot ’n
veelparty-verkiesing gelei waardeur hy van sy amp onthef is.
|
LINKS:
Robert Mugabe.
Foto: Tech Sg Jeremy Lock / US Air Force
•
Robert Mugabe (1925- ) het in 1980 die eerste premier van Zimbabwe
(aanvanklik die Britse Suid-Rhodesië) geword en is in 1987 tot
president verklaar. Voor dit is hy tien jaar lank weens
weerstandbedrywighede aangehou, waarna hy die bevrydingstryd vanuit
Mosambiek gevoer het. In 1988 het Zimbabwe onder sy leiding prakties
’n eenpartystaat geword. Die grondslag is moontlik toe
al gelê vir sy omstrede grondhervormings waardeur baie
blanke boere van hul plase gedwing is wat uiteindelik in die 21ste
eeu die ekonomie van die land
totaal geruïneer het. |
LINKS:
Sam Nujoma.
Foto: Agência Brasil, ’n Brasiliaanse
nuusagentskap; inhoud op dié se webwerf aangedui as Creative
Commons Attribution 2.5 Brazil
• Sam Nujoma (1929- )
was die president van Namibië (van 1990 tot 2005) en
stigter van die bevrydingsbewing Swapo (in 1957). Vanweë Suid-Afrika se destydse weiering om
die beheer prys te gee oor Suidwes-Afrika, soos die land toe genoem
is, het Nujoma met ’n bevrydingstryd begin wat later gelei het tot
’n “bosoorlog” wat vanuit Angola gevoer is. Suid-Afrika het
Suidwes-Afrika (voorheen ’n Duitse gebied) ingevolge ’n mandaat van
die ou Volkerebond bestuur en hom verset teen enige pogings om hom
daarvan afstand te laat doen. Uiteindelik (in 1990) is
onafhanklikheid egter wel aan die land toegestaan.
|
Hoe
die aangesig van Afrika ná die
Tweede Wêreldoorlog verander het |
NÁ die Tweede Wêreldoorlog begin die Afrika-kolonies, net soos die
kolonies in Asië, hul onafhanklikheid eis. Europa, waar die oorlog
groot verwoesting gesaai het, kan sy oorsese besittings nie behou
nie.
Die Franse kolonie Algerië is selfs belowe dat hy ná die oorlog ’n
aandeel in sy eie regering sou kry. Frankryk hou egter nie woord
nie. In 1952 word olie in Algerië ontdek en Franse setlaars, wat
hoop dat dit hulle ryk kan maak, raak des te meer vasbeslote om daar
te bly. Oorlog breek in 1954 uit. Ná agt jaar van bittere
guerrilla-gevegte gee Frankryk in 1962 Algerië sy onafhanklikheid.
Ghana (voorheen die Goudkus) is in 1957 die eerste Britse kolonie in
Afrika wat sy onafhanklikheid verkry.
Maar in ’n land soos Egipte verloop sake weer heelwat anders. Reeds
in 1922, ná nasionalistiese proteste, gee Brittanje erkenning aan
Egipte as ’n konstitusionele monargie, maar behou hy nog sekere
magte, waaronder beheer oor die Soedan. Die Britte wil graag vanweë
die Suez-kanaal nog ’n sê in Egipte hê. Die kanaal (wat tussen 1854
en 1869 gebou is) is naamlik ’n kardinale kortpad tussen die
Middellandse See en die Indiese Oseaan.
In 1952 neem kol. Gamal Abdel Nasser die bewind in Egipte oor. In
1956 plaas hy die Suez-kanaal onder Egiptiese beheer, wat die Britse
en Franse belange bedreig. Later daardie jaar val Israel Egipte
binne, wat Brittanje en Frankryk die kans bied om troepe te stuur om
kwansuis die orde te herstel. Kwaai besware, onder leiding van die
Verenigde Nasies, dwing hulle om hulle te onttrek.
Maar kardinaal in die Afrika-bevrydingstryde is die stryd teen
apartheid in Suid-Afrika. Ná die Tweede Wêreldoorlog word
Suid-Afrika, soos voorheen, polities steeds deur die wit minderheid
bestuur. Hulle is die nakomelinge van veral Nederlandse, Duitse, Franse
en Britse setlaars wat hulle in die vorige eeue hier gevestig het.
In 1948 kom die Nasionale Party aan die bewind. Hy stel amptelik ’n
beleid van apartheid in, met verskillende regte vir die swart mense,
Asiate, bruin mense en blankes in die land. Betogings teen apartheid
by Sharpeville in 1960 lei tot die dood van 67 mense. Apartheid word
jare lank internasionaal verdoem, maar in die jare negentig word dit
deur Suid-Afrika afgeskaf. In 1990 word die swart leier Nelson
Mandela ná 27 jaar in die gevangenis vrygelaat. Hy word in die
eerste veelrassige verkiesing in 1994 tot president verkies. Thabo
Mbeki volg hom in 1999 op.
Dan was daar ook die Rhodesiese stryd. In Suid-Rhodesië (vandag
Zimbabwe) wou die blanke Rhodesia Front Party hê dat die land
onafhanklik van Brittanje moes wees, maar hulle het die Britse eise
verwerp dat hulle die mag met die swart mense moes deel. In 1965
verklaar Suid-Rhodesië hom eensydig onafhanklik. Die blanke regering
bly tot 1979 aan die bewind toe dit uiteindelik ’n swart
meerderheidsregering moes aanvaar. Die land aanvaar in 1980 die naam
Zimbabwe.
Daarteenoor het Marokko se lang stryd om onafhanklikheid van
Frankryk reeds in 1956 geëindig. Marokko het in 1976 feitlik die
noordelike twee derdes van die voormalige Spaanse Sahara (Wes-Sahara
genoem) geannekseer, en die res van die gebied in 1979, ná
Mauritanië se onttrekking. ’n Guerrilla-oorlog waarin die
Polisario-front die sowereiniteit van Marokko bevraagteken het, het
in 1991 tot ’n vuurstaking gelei. ’n VN-georganiseerde referendum
oor Wes-Sahara se finale status is herhaaldelik uitgestel.
Liberië is reeds in 1847 vir gewese slawe van Amerika in die lewe
geroep en is sedertdien onafhanklik. Hier het die burgerlike onrus
van die laaste aantal jare van die 20ste eeu na die 21ste eeu
oorgespoel.
Nigerië het in 1960 onafhanklik geword. Dit was een van die rykste
Afrika-kolonies, maar is polities onstabiel. Die Kongo (Brazzaville)
en Gaboen het in 1960 hul onafhanklikheid van Frankryk verkry.
Die Kongo (Kinshasa), voorheen Zaïre en oorspronklik die Belgiese
Kongo, het in die jare vyftig hewige onluste ervaar. Die land het in
1960 onafhanklik geword, maar min is gedoen om hom daarop voor te
berei. ’n Burgeroorlog het uitgebreek. Die Belgiese Kongo was België
se enigste kolonie in Afrika. Dis tagtig keer groter as België self.
Kenia se blanke setlaars wou nie hê dat die land onafhanklik word
nie. Tussen 1952 en 1960 het die Mau-Mau-rebelle hulle met geweld
teen die Britse heerskappy verset. Onafhanklikheid is in 1963 onder
Jomo Kenyatta verkry.
Angola het ’n lang stryd gevoer om hom van Portugal te bevry.
Onafhanklikheid in 1975 het tot ’n ekonomiese ineenstorting en
burgeroorlog gelei. Zambië (voorheen Noord-Rhodesië) het in 1964
onafhanklik van Brittanje geword.
Namibië was aanvanklik ’n Duitse gebied, maar dit is in 1915 deur
Suid-Afrika beset, wat dit jare lank ingevolge ’n mandaat van die ou
Volkerebond bestuur het. Ofskoon dit streng gesproke geen kolonie
was nie, is dit deur baie mense as die “laaste kolonie” in Afrika
beskou. In 1990 het Suidwes-Afrika (kortweg Suidwes), soos dit toe
genoem is, die onafhanklike Namibië geword.
Die gebied bekend as die Horing van Afrika (Soedan, Eritrea,
Ethiopië en Somalië) het dekades lank gely weens droogte en oorlog,
wat verskriklike hongersnood tot gevolg gehad het. Eritrea het van
1962 tot 1991 ’n onafhanklikheidsoorlog teen Ethiopië gevoer. Sowel
Soedan as Somalië het ’n burgeroorlog beleef.
Baie grense van Afrika-lande is reguit lyne. Dit is omdat Afrika
deur die koloniseerders verdeel is, sonder om op die tradisionele
grense tussen die verskillende stamme ag te slaan. Dit het ná
onafhanklikheid tot probleme gelei omdat baie lande twee of meer
volkere met verskillende tale en godsdienste het. Ná onafhanklikheid
het die state wat deur die Europeërs geskep is, egter oor die
algemeen so gebly.
Afrika vandag
MET die koloniale era van Afrika uiteindelik begrawe teen die einde
van die 20ste eeu, word die vasteland se aspirasies vir die 21ste
eeu gerig deur die New Partnership for Africa’s Development (NEPAD),
’n ambisieuse inisiatief vir onder meer versnelde groei en
volhoubare ontwikkeling.
Die lande van Afrika het hierdie akkoord op 23 Oktober 2001 in
Abuja, Nigerië, aangegaan. Suid-Afrika se gewese president Thabo
Mbeki het ’n deurslaggewende rol in die totstandkoming van NEPAD
gespeel.
|