Die tradisionele (en baie dienlike) rondawel

Huise vir Afrika

REGS: Rondawel-huise in die Afrika-staat Senegal verskil duidelik van dié in ons eie węrelddeel, en die Senegalese dakvorms is veral interessant anders. Die konsep van ronde wonings met grasdakke, dáár en plaaslik, is egter dieselfde.

 

Foto: International Program / U.S. Geological Survey

Rondawel-huise in Senegal

 

Die rondawel-konsep wat in Afrika bedink is om huise te bou, behels ’n uiters vernuftige benutting van boumateriaal uit die omgewing. Ongelukkig is die kuns plek-plek besig om verlore te raak omdat baie van die landelike mense se kinders na die stede verhuis het. Gelukkig is daar steeds baie mense op die platteland wat vir hulle tradisionele huise bou...

 


TRADISIONELE Afrika-huise kom op interessante maniere tot stand—met verskillende boumateriale, soos dit in verskillende gebiede beskikbaar is. Klei, klip, riete, biesies, gras, takke... wat daar ook al in die omgewing te vinde is, word aangewend om die dienlike strukture tot stand te bring.

As voorbeeld gaan ons kyk hoe ’n huis van klei en gras in ons eie węrelddeel opgerig word—op die platteland waar huise baiemaal deur mans sowel as vroue gebou word en wel in die wintermaande wanneer die ploeëry en oestyd verby is.

Só ’n huis is dikwels deel van ’n soort dorp (ook ’n stat genoem) met heelparty huise daarin. Naby die huis word ook kleiner konstruksies vir kosmaak, die brou van bier en vir diere gebou.

 

’n Ronde klei-en-grasdakhuis, soos ons dit ken

 BO: ’n Ronde klei-en-grasdakhuis, soos ons dit ken.

Samestelling: MSKARG. Die skerpsinnige leser sal moontlik opmerk dat dit ’n samegestelde foto is, waarop ’n minder volledige foto van ’n kleihuis digitaal “gerestoureer” is en toe op ’n grasveldfoto gesuperimponeer is. Selfs die wolke is nie eg nie!

 

Nadat die gebied uitgemerk is waar die huis sal staan, bou die vroue eers ’n ronde muur van kleistene. Twee soorte stene kan gebruik word. Nat stene word met die hand gevorm, in hul plekke geplaas en met pleister bedek. Gedroogde stene word in houtvorms gemaak, in die son gedroog en met klei in posisie geplaas voordat dit ook met pleister bedek word.

 

Die muur word sowel binne as buite gepleister met twee of drie lae. Dakbalke word in posisie vasgebind met draad of tou van boombas.

 

Dis die mans van die stat se taak om die hout te versamel en die dak te bou. Die eerste balke word aan die stutpale buitekant die muur van die huis geheg en by ’n sentrale punt aan mekaar vasgemaak. Dunner pale of balke word nou bygevoeg. Partymaal word bykomende steun verleen met ’n sentrale vertikale paal in die middel van die huis.

 

Gras of riete word versamel en in bondels gebind vir die dak. Die bondels word in lae bo-op die  dakbalke uitgesprei en met draad of tou van boombas in posisie geheg. Houtpennetjies aan die onderkant van die balke keer dat die bondels dekstrooi afgly.

 

Binne-in die huis word die vloer opgebou nadat die dak voltooi is. ’n Pleisterlaag word aangewend en met ’n stuk leiklip gelykgemaak. Beesmis word hierna met water gemeng en ’n laag van dié mengsel op die vloer aangebring. Patrone word daarin geteken. In party huise word die vloer met gepoleerde sementpleister bedek.

 

Vroue pleister partymaal die mure van huise met verskillend gekleurde soorte klei vir ’n tweekleur-effek—donkerder onder en ligter bo. Reën laat die muuroppervlak geleidelik verweer en die huise moet een of twee keer per jaar oorgepleister word.

 

Ronde kliphuis in Lesotho

LINKS: In die bergagtige Lesotho, waar klip maklik bekombaar en natuurlik ook baie duursaam is, is ronde kliphuise soos hierdie een algemeen.

   

Slegs ter saaklike detail van ’n veel groter foto deur Tjeerd Wiersma van Amsterdam, Nederland, wat in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web verskyn. Kopiëring word deur Tjeerd Wiersma vergun ingevolge die Creative Commons 2.0 License

  

REGS: Alle tradisionele Afrika-huise het lank nie net die rondawel-vorm nie. Die presiese vorm van hierdie klei-en-grasdakwoning in Tanzanië is nie heeltemal duidelik nie, maar dit is bes moontlik langwerpig. 

Foto: TIST / USAID

’n Klei-en-grasdakwoning in Tanzanië — nie ’n rondawel nie

 

Rondawel-skool in Botswana (word hier deur pres. George W. Bush van die VSA besoek) LINKS: In Afrika word die rondawel-konsep partykeer ook in ander bouwerke as huise toegepas, soos in dié skool in Botswana wat deur die destydse Amerikaanse president George W. Bush besoek is.

Foto: U.S. Department of Health and Human Services

 

REGS: Die raamwerk van ’n sekere soort rondawel, waarvan die dakvorm bo-op ’n kring ingeplante stokke en ’n middelpaal (hier in ligrooi aangedui) aangebring word. As die raamwerk eers staan gemaak is, kan die huis met gras, riete, ens. voltooi word.

 


  
Huise in alle gemeenskappe

WAT is ’n huis ręrig en hoe verskil die tuistes van mense? Ons weet almal dat huise kan wissel van ruwe opslaankrotte tot die weelderigste herehuise, en tog is daar minstens twee dinge wat alle huise gemeen het.

 

Allereers bied hulle skuiling—teen die wind, teen die reën, teen die koue van die winter en die skroeiende hitte van die somerson.

 

Ten tweede bied hulle beskerming teen ongewenste indringers of vyande.

 

Voorts kan huise natuurlik ook ruimte bied vir die gesinslewe—plekke wees waar gesinne saam verkeer en eet en ontspan, en waar hulle hul besittings kan hou. Nog ’n rede waarom mense huise het, is om daarmee privaatheid te verkry.

 

Hoe hulle gebou word, hang van baie dinge af: die klimaat, die terrein, beskikbare boustowwe, tegniese vaardighede en sulke kulturele faktore soos die maatskaplike status en geldelike vermoë van die eienaar of eienaars.

 

Die keuse van boustowwe kan ook afhang van die heersende mode of individuele smake. In moderne geďndustrialiseerde gebiede is kraanwater en binnetoilette algemeen.

In stamgemeenskappe is die huis gewoonlik ’n enkele vertrek waar al die binnenshuise bedrywighede van die bewoners afspeel. Dit het dikwels ’n eenvoudige geometriese vorm—byvoorbeeld rond met ’n kegelvormige dak. Die boustowwe is materiaal wat plaaslik beskikbaar is, soos klei, hout en selfs riete.

In stedelike gebiede kan tuistes enigiets wees van saamgeflanste planke en sakke in informele woonbuurte tot byvoorbeeld paleisagtige strukture aan heuwelhange. Huisagente is baie bedrywig in meer vermoënde samelewings waar die huis deesdae nie net ’n verblyfplek is nie, maar ook ’n statussimbool geword het.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad